Chris van der Merwe skryf hierdie bespreking spesiaal vir leeskringe. Bederfwaarskuwing: Lesers wat nog nie die boek gelees het nie, moet bewus wees daarvan dat die teks hieronder gedeeltes van die intrige verklap.
Die kleinste ramp denkbaar
Francois Smith
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624089988
- Inleidend
Francois Smith se roman Die kleinste ramp denkbaar speel af van ’n Vrydag tot ’n Sondag, en in hierdie bespreking wil ek die belangrikste ontwikkelinge oor die drie dae nagaan, vanaf "’n Begin", deur die Vrydag, Saterdag en Sondag, tot by "nog ’n begin" aan die einde. Die feit dat die gebeure van die Vrydag tot die Sondag strek, is nie sonder betekenis nie. Dit skep ’n parallel met die Paasverhaal, en die aanwending van die Paasmotief suggereer dat hier ook sprake kan wees van ’n dood wat tot nuwe lewe lei. Dit is inderdaad die geval, maar Smith wend die tradisionele motief op ’n unieke manier aan. Dis ’n ander soort dood en ’n ander soort lewe wat hier uitgebeeld word.
Die hoofkarakter, dr Gustav van Aardt, is die fokalisator in die verhaal, maar daar is ook ’n eksterne verteller aan die woord; met ander woorde, die derdepersoonsvorm word gebruik om Van Aardt se gedagtes en belewenisse weer te gee. Hierdie perspektief is besonder funksioneel. Daar is ’n mate van afstand van die gebeure deur die gebruik van die eksterne verteller, maar alles word ook subjektief weergegee. Sy ervaringe, sy motorritte en sy wandeltogte word alles vanuit sy gesigspunt vertel. Wat die leser in werklikheid meemaak, is Van Aardt se innerlike reise, en die uitdaging vir die leser is om Van Aardt se subjektiewe weergawe objektief te beoordeel.
Vroeg in die roman maak die polisieman Frans Schuin sy verskyning in Van Aardt se spreekkamer. Volgens gerugte is hy ’n geweldenaar en ’n skurk wat saam met sy kollega, Portia Klaas, allerlei afskuwelike dinge aangevang het. Die raam word skynbaar geskep vir ’n genre wat alte populêr geword het: die misdaadroman. Die leser se nuuskierigheid word geprikkel om meer uit te vind oor hierdie man, wie se teenwoordigheid as "die grootste ramp denkbaar" beskou sou kon word. In die roman word egter tong-in-die-kies op die misdaadgenre gereageer. Wat hier uitgebeeld word, is ’n ander soort ramp – nie ’n sensasionele katastrofe nie, maar ’n "klein" ramp wat afspeel binne die psige van ’n enkele hoofkarakter. En tog is dit ’n groot ramp wat vernietigende gevolge vir die hoofkarakter kan inhou. ’n Skynbaar klein ramp kan ’n groot ramp wees.
- ’n Begin
Hier word die "essensiële konkrete besonderhede" (10) van die verhaal gegee. Daar word vertel hoedat Gustav van Aardt, ’n geneesheer, jare tevore teruggekeer het na die dorp waar hy grootgeword het en waar sy voorgeslagte ook gewoon het. Nou wil hy weg uit die dorp, want dit het vir hom soos ’n gevangenis geword. Hy wil vlug van sy persoonlike verlede, maar ook ontslae raak van sy band met die voorouers, sy pa en sy oupa, wat albei op ’n plaas buite die dorp geboer het.
Die vertelling is besonder kripties hier, en die "essensiële besonderhede" wat beloof word, bevat nie die meeste van die werklik essensiële besonderhede van die verhaal nie – iets word wel geopenbaar, maar veel meer word verswyg. Van Aardt onthou sy verhouding met ’n Engelse meisie, hoe hy gretig was om haar "groen skoolbroekie" te sien (13). Dit is waarskynlik die persoon wat later sy vrou sou word, maar dit noem hy nie; hy vertel ook niks van haar geaardheid nie. Dit berei ons voor op sy gebrek aan persoonlike betrokkenheid en sy seksuele obsessies wat later in die roman na vore kom.
Hy noem terloops dat sy vrou, Trish, glad nie in die dorp wou kom woon nie (16), maar daaraan steur hy hom nie as hy sy besluit neem nie. Sy selfgesentreerdheid word gesuggereer, maar nie deur hom erken nie.
Van Aardt wil na die buiteland gaan om "geweldswonde" te behandel (9). In die loop van die verhaal sal dit duidelik word dat hý die een is wat vir "geweldswonde" behandeling nodig het – die emosionele wonde van pynlike verlies en gevoelens van skuld. Wanneer hy vertel van sy geboorte (10), maak hy die vreemde stelling dat hy moontlik gebore is in die kamer waar Schuin gelê het. Heel subtiel word hier die eerste suggestie gewek van ’n ander tipe geboorte wat sou kon plaasvind – ’n hergeboorte.
- Vrydag
Twee belangrike ontwikkelinge vind op die Vrydag plaas wat grotendeels in Van Aardt se spreekkamer afspeel: Hy het ’n nuwe ontvangsdame, Luna, en hy vind die polisieman Frans Schuin in sy spreekkamer in ’n kritieke toestand as gevolg van ’n bosluis wat hom gebyt het. Schuin se naam, Frans, is moontlik ’n indirekte verwysing na die voornaam van die skrywer, en die van, Schuin, het ’n assosiasie met die Nederlandse woord schuin – schuine moppen is onfatsoenlike grappe, meestal met ’n seksuele suggestie. Daar is tekens dat Schuin se siekte iets met seksualiteit te make het. Die bosluis het Schuin tussen die bene gebyt (31), die uitslag is van die dye af op (47), daar is iets aan die onderbroek wat Van Aardt intrigeer (49), en Schuin se kous is soos ’n "pap penis" (28). Daar is ook die suggestie van ’n verband tussen seksualiteit en denke – die gevaar bestaan dat Schuin breinskade opgedoen het as gevolg van die vergiftiging (28).
’n Spel word met die leser gespeel. Die indruk word gewek dat Schuin ’n gewetenlose misdadiger is, en dat die dokter die goeie persoon is wat hom moet gesond maak. Wanneer ’n mens die roman tot aan die einde gelees het, besef jy die belangrikheid van die parallelle tussen Van Aardt en Schuin – die polisieman wat oortreders moet vang, maar self oortree, is soos die geneesheer wat mense gesond moet maak, maar self genesing nodig het. Van Aardt het ’n "schuine" manier om na vroue te kyk; hy stel steeds daarin belang om te sien wat onder die klere is. Die suggestie word gewek dat Van Aardt ook as ’t ware "tussen die bene gebyt" is – hy het ’n seksuele obsessie. Inderwaarheid is Schuin ’n simboliese vergestalting van die donker kant in Van Aardt se psige.
Die ander verandering in Van Aardt se omstandighede is die koms van ’n nuwe ontvangsdame. Haar naam is Luna, en hy verbind haar in sy gedagtes met Prada Luna Rossa (84), ’n parfuum met ’n lieflike geur. Haar geur kontrasteer met die stank van die lyk wat Schuin en Portia (glo) in die kattebak van hul motor het. Luna bring iets verfrissends na die spreekkamer; sy sit byvoorbeeld ’n bak met ’n wit blom op die toonbank (81). Dit roep assosiasies op met die lotusblom, ryk aan simboliese betekenisse. Volgens JE Cirlot se Dictionary of symbols dui "the unfolding of a flower on the surface of the waters" op die "realisation of potentialities". Is daar ’n moontlikheid dat Luna so ook vir Van Aardt kan help om sy potensiaal te verwesentlik? Die naam Luna hou verder verband met die maan, wat as gevolg van sy sikliese gang simbolies verbind kan word met sterwe en weergeboorte. Dis interessant dat Van Aardt later, wanneer hy in die dieptes van ellende verkeer, die maan sien as "half en verlep en betekenisloos" (262).
Van Aardt word van twee kante beïnvloed, deur Schuin en Luna, ten kwade en ten goede. Luna is ’n vrou sonder ’n man, maar met ’n kind – soos wat hy ’n man sonder vrou is, met ’n kind. Sy is die eerste van ’n hele aantal alter ego’s van Van Aardt in die roman; hy projekteer steeds sy eie ervarings op ander en fokus op moontlike parallelle met sy eie situasie. Alles word gekleur deur sy eie pyn. Haar geur bring ’n herinnering by hom voort. Hy kan nie sy vinger daarop lê nie, maar daar is iets (84) – herinner sy hom dalk aan Trish? Van Aardt is nie in staat om ’n afstand van sy ontvangsdame te handhaaf nie; sy fassineer hom en prikkel hom seksueel. In sy onbewuste verbind hy Luna waarskynlik met sy mislukte huwelik en sien hy in haar die moontlikheid van ’n "tweede kans". Dis tipies van ’n getraumatiseerde persoon om te soek na genesing deur terug te keer na die wond wat hy ontvang het en te probeer om die trauma te herhaal, maar met ’n gelukkiger afloop. Daar word gehoop om sodoende genesing te ontvang, maar dit kan ook lei tot irrasionele, ongepaste optrede, soos wat telkens met Van Aardt gebeur.
Die leser maak ook kennis met Thys Teise, "die Landbousentrum se algemene werker, stuurman, nutsman en, as dit moet, medic" (27). Hy lyk na ’n onbelangrike newekarakter, maar later speel hy ’n sleutelrol in Van Aardt se lewe. Reeds in hierdie beskrywing blyk dit dat hy hom nie beperk tot een spesifieke taak nie – hy is ’n "algemene werker", ’n "nutsman", iemand wat in enige geval van nood nader geroep kan word. Hy is ’n "stuurman" wat nie net gestuur kan word nie, maar ook jou lewe in die regte rigting kan stuur; en hy is ’n "medic" wat genesing kan bewerkstellig. Hy word gevra om te help om die sware liggaam van Schuin na die ambulans te dra; so dra hy ander se laste, letterlik en figuurlik, en help hy die dokter om van sy aanstootlike pasiënt ontslae te raak.
Van Aardt vloek maklik, en "fokken" word oordadig gebruik (41) – dis ’n teken van sy frustrasie en woede. Hy is duidelik ook deurmekaar, want hy dink dat hy, ’n medikus, tot die teologiefakulteit behoort! (38) En inderdaad, dit blyk later dat sy probleem met die lewe ’n teologiese kant het. Saam met sy eerste pasiënt van die dag kyk hy na ’n landskapskildery van Trudie Klein, ’n skildery wat Van Aardt "God se donker boom" noem (53). Hierdie benaming herinner sterk aan reëls uit Totius se gedig "Die Godsbesluit":
Bo al u donker bome, o Heer,
Groei my ’n enkele reus’boom uit:
Dit is die wag-’n-bietjie-bos van u besluit.
Dit blyk dus dat Van Aardt werklik ’n teologiese belangstelling het!
Van Aardt se "behandeling" van die pasiënte wat hom in die spreekkamer besoek, word die een na die ander uitgebeeld. Wat opval, is die vervlegting van verlede en hede. Steeds weer dring sy verlede in die hede in, wat sy blik op die huidige realiteit laat vervaag. Die buitelyne van die werklikheid word wasig (21), en die pasiënte word gesien deur die lens van sy eie pyn.
Die eerste persoon wat hy behandel, is ’n vrou wat hy nooit saam met haar man sien nie (52), soos wat hy nooit meer saam met sy vrou is nie. Soos hy, het sy net een kind. Sy kom na hom met ’n sinusprobleem, maar hy is seker haar probleem is meer as ’n fisieke probleem – sy het "tam [...] hare", sy dra ’n "tragediemasker", en depressante word oorweeg.
Die konsultasie met die vrou word afgesluit sonder dat sy die kans kry om te vertel waarom sy na Van Aardt gekom het – hy is net in haar man geïnteresseerd, die afwesige man wat ’n parallel met hom vorm. Hulle gesels ook oor Schuin, met wie Van Aardt behep is. Sy vertel hom dat sy Schuin van naby gesien het, "van aangesig tot aangesig, soos ek en jy nou sit en praat", en dat sy hom op haar wandelpad ontmoet het, soos wat sy Van Aardt later op dieselfde pad ontmoet (56). Die leidrade wat van Schuin na Van Aardt lei, word al hoe meer.
Tussendeur kommunikeer Van Aardt met sy seun Stephan, wat in die buiteland is, maar dit is baie gebrekkige kommunikasie. Hulle kommunikeer met kort SMS’e, en dit blyk dat Stephan baie krities teenoor sy pa is, en sy pa teenoor hom. Gereeld vryf hulle mekaar verkeerd op (50). Tereg sê Stephan sy pa is "afgesny van die werklikheid" (39), en dit geld ook vir sy verhouding met sy kind. Inderwaarheid het Van Aardt nie net sy vrou verloor nie, maar ook sy seun – Stephan is vir hom soos ’n gestorwene.
Gewoonlik ry Van Aardt eers huis toe voordat hy sy rondes by die hospitaal doen, maar op hierdie dag gaan hy eers hospitaal toe (61). Maar dan, onverwags, is hy tog by die huis. Daar is ’n "opwarreling van die verlede", en hy weet dit het iets met Schuin te make (63). Hy onthou hoe sy vrou gesukkel het met die veiligheidshek by die oprit, en die hek wat nie wil oop- en toegaan nie, lei tot sy gedagtes aan "die ontoeskietlikheid van haar lyf" (64). Hieruit vloei ’n herinnering wat heelwat van hulle verhouding openbaar. Sy vrou streel die kat, maar as hy haar voet wil streel, trek sy dit weg. Die kat se poot beland tussen haar borste, waar hy nie meer mag kom nie, en dan sê sy vrou aan die kat: "Dis jou huis, Bast" (67). Van Aardt se huis, en sy vrou, behoort nie meer aan hom nie.
Dit maak hom woedend, en sy reaksie is om te vertel hoe katte op "die tradisionele manier" gekastreer is – die kat word in ’n sak gestop sodat hy nie kan krap nie, met ’n klein gaatjie in die sak "waardeur jy die kat se knaters kan bykom" (68). Van Aardt projekteer sy eie woede en magteloosheid op ’n kat wat gekastreer word en wat wil krap, maar gevange is in ’n sak terwyl die kastrering plaasvind. Hierdie toneel, wat Van Aardt oproep terwyl hy in die motor sit, is vir hom so naby soos die knars van die aansitter wat hy so pas gehoor het (68) – verlede en hede vloei ineen.
En dan, sonder om uit te kom by die hospitaal waarheen hy op pad was, is hy terug in sy spreekkamer en by die pasiënte wat hy vroeër in die dag gesien het. Die volgende pasiënt is Dannhauser van Heerden, ’n vee-inspekteur – iemand wat weet hoe gevaarlik bosluise kan wees. Hy weet ook watter gevaarlike man Schuin is, en daarom waarsku hy Van Aardt om die deur na die apteek, waar Schuin lê, toe te hou (70). Schuin is volgens hom soos ’n pofadder (72); daarmee verbind hy die gif van die bosluis met die giftigheid van Schuin. Van Heerden vertel ook van die nare reuk wat uit die motor gekom het waarin Schuin en Portia gery het, en hy skakel die bosluis met die duiwel self (73). Van Heerden is ’n aangename man wat Van Aardt aan sy pa laat dink, en die skakel tussen die twee is die verwydering van ’n bosluis van een van die diere op die plaas (73). Van Heerden sou ’n reddende vaderfiguur vir hom kon word, maar Van Aardt is nou nog te selfgesentreerd hiervoor. Hy peins oor die etimologie van die woord kattebak wanneer hy aan sy pasiënt behoort te dink, en wanneer Van Heerden vertrek, is dit oor Schuin dat hy in die pasiënt se lêer skryf (76).
Ná ’n afdwaling in sy gedagtes na Luna se eerste dag in die spreekkamer is Van Aardt weer terug in sy spreekkamer, en die volgende pasiënt van wie vertel word, is mev Kgware, die swart vrou met die rooi baret. Weer is daar allerlei skakels met Van Aardt se eie situasie: Sy het nie ’n man nie, soos Luna; haar dogter het weggeraak, soos Van Aardt se seun; en sy het ’n wond wat behandel moet word. Van Aardt kom agter dat die vrou oor meer as haar fisieke wond wil praat. Hy besef dan "nie alle wonde bloei sigbaar nie" (89), soos wat hy ook wonde het wat hy verberg. Dis vir hom of mev Kgware "om en om ’n ding praat waarvoor sy nie woorde het nie, en dit is sy taak om agter te kom wat daar in die middel is" (89), maar hy kan haar nie goed begryp nie. Hy self ontwyk egter ook die dinge waarvoor hy nie woorde het nie, en sy eintlike taak is om homself te ondersoek en agter te kom wat die wortel van die kwaad is wat hom treiter. Die geneesheer moet homself genees.
Van Aardt verbind alles wat hy sien, met Schuin, en dink mev Kgware se toestand het miskien iets met Schuin te make (91). Sy waarsku hom dat Schuin en Portia in ’n mens se huis kyk (88), en dit is ’n opmerking wat skuldgevoelens by hom wek, sodat hy voel hy moet hom verontskuldig: "Is dit kwansuis sy skuld dat Schuin daar agter lê?" (91). Dit is inderdaad so dat die aankoms van Schuin vir Van Aardt stimuleer om in "sy eie huis" te kyk en van sy skuldgevoelens kennis te neem. Schuin begin te praat, en Van Aardt kom agter dat hy ’n probleem het wat met ’n vrou te make het (92). Schuin se geprewel is soos ’n stem uit Van Aardt se onbewuste, en hy onthou nou, Schuin was al ’n keer as "ondersoekbeampte" by sy (Van Aardt se) huis, om ’n "ding of twee" met hom uit te klaar (100). Wat Schuin wou weet, is: "Waar is jou vrou, dokter?" (100) Die suggestie is dat daar iets in Van Aardt se huwelik is wat ondersoek verg, iets waaroor hy skuldig voel.
Vroeër in die roman is terloops genoem dat Thys Teise gehelp het om Schuin na die ambulans te dra (27). Hierdie gebeurtenis word drie maal weer vertel, met elke keer ’n nuwe nuanse. In die eerste van die drie beskrywings is dit Thys en die ambulansbestuurder wat die swaar man dra (95); in die tweede beskrywing neem Van Aardt die inisiatief om vir Schuin by die ambulans te kry, en hy help dra (105). Dit suggereer die ontstaan van ’n verantwoordelikheidsin by Van Aardt, ’n besef dat hy die verantwoordelikheid moet neem om Schuin uit sy spreekkamer te kry, sodat die pasiënt na die hospitaal geneem kan word om die behandeling te kry wat hy nodig het. In die derde vertelling van die gebeurtenis dra hy en Thys vir Schuin agter Luna aan na die ambulans, en hy sien hoe die soom van haar rok afskuif oor haar kuit (117). Dit bevestig sy seksuele obsessie met haar, maar suggereer miskien ook dat Luna ’n rol kan speel in die verwydering van Schuin uit sy lewe en sy gevolglike genesing. Luna het "iets solieds" in haar (119); sy roep hom telkens terug na die werklikheid wanneer hy hom irrasioneel gedra. Soms is haar opmerkings ’n gids tot heling. So byvoorbeeld het sy kort vantevore vir Van Aardt gewys op die betekenis van die kleur geel – dit is die kleur van "cowardice en deceit" (103). Hierdie waarskuwing het Van Aardt nodig, omdat dit lafhartigheid en misleiding is wat hom innerlik siek maak; wat hy nodig het, is psigiese dapperheid en eerlikheid om die pynlike waarheid oor homself te konfronteer.
Die volgende besoekers in die spreekkamer, mev Malherbe en haar dogter, skakel in verskeie opsigte met Van Aardt. Beide die ma en die dogter is in geel geklee, ’n kleur met simboliese konnotasies, soos reeds genoem. Die gesprek roep wel enkele positiewe suggesties op: Die Malherbes se plaas heet Immortel, wat dui op die moontlikheid om die dood te oorwin; en dit is geleë op die Winnaarpad (108–9), wat die hoop inhou dat Van Aardt die oorwinning sal behaal in die stryd teen Schuin. Die meisie is 11 jaar oud, maar sit die hele tyd op haar ma se skoot; dit sluit aan by suggesties dat Van Aardt met ’n moeder-fiksasie te kampe het, soos die meisie. Hieroor later meer. Die kind wat sterk aan die moeder gebonde is, met ’n vader wat afwesig is, kom ook ooreen met Trish en haar seun wat skynbaar ’n verbondenheid het, met hom daarbuite. Dit berei voor op die episode wat net hierna vertel word. Van Aardt onthou hoe die paadjie in die vliegtuig vir hom van Trish en Stephan geskei het; hy het gevoel dat die kind aan Trish behoort en nie aan hom nie. Trish sit in die vliegtuig met haar bene botstil bymekaar, en hy probeer tevergeefs om met haar kontak te maak. Volgens hom vertroetel sy haar irritasies, maar hy het nie die moed om iets daaroor te sê nie (113–4). In dié opsig is hy ook skuldig.
Wanneer Van Aardt later vir Schuin in die hospitaal besoek, vind hy tot sy onsteltenis uit dat die Kubaanse dokter Odeja die behandeling van Schuin oorgeneem het. Dit blyk dat Schuin nou al hoe meer praat – onophoudelik, volgens Odeja. Die Kubaan glo dat dit God is wat met Schuin praat; sy aanhoudende gepraat is die reaksie op God wat met hom praat. Odeja verduidelik dat God met jou praat wanneer jy slaap; dan kan die onderdrukte waarhede uit die onbewuste ontsnap (132–3). Dit lyk of daar iets met Schuin aan die gebeur is wat heling kan meebring. Odeja is een van die betroubare gidse wat Van Aardt uit sy ellende wil help, maar Van Aardt verset hom daarteen; hy is neerbuigend en onredelik teenoor die Kubaanse dokter.
Sy innerlike konflik word ook gesuggereer deur sy houding teenoor Schuin. Hy haat Schuin, die donker kant van homself, en dink: "Wat is dit wat in hierdie septiese tenk van Schuin se kop etter?" Hy kan Schuin egter nie langer ignoreer nie; ook uit sý onbewuste kom daar stemme, soos by Schuin. Daarom, wanneer hy in die motor saam met Odeja is, "voel dit vir hom asof die polisieman reg by hom in sy nek asemhaal" (137).
Odeja, anders as Van Aardt, gee werklik om vir sy pasiënte, en hy bied aan om ’n pasiënt wat nie vervoer het nie, na haar woonplek in die township te neem. Van Aardt meen die dokter kan nie alleen na so ’n "gevaarlike" plek ry nie en bied aan om saam te ry. Odeja vertel dat hy sy bakkie by Van Heerden, die vee-inspekteur, gekoop het. So word ’n band geskep tussen hierdie twee wyse figure, Van Heerden en Odeja.
Die gesprek wat tussen Van Aardt en Odeja ontwikkel, is in verskeie opsigte van belang, want die Kubaanse dokter sou vir hom ’n helende rolmodel kon wees. Odeja het ook ’n geliefde verloor, soos Van Aardt, maar hy praat net mooi oor haar – volgens hom is sy die interessantste persoon in die hele wêreld. Hy wys daarop dat die verlede belangrik is, maar dit is ook belangrik om die mooi dinge in die verlede raak te sien. Odeja het die pyn van die verlede verwerk deur 20 jaar meditasie te doen sodat hy homself kan leer ken. Die volgende stap, toe hy homself beter leer ken het, was om iets met sy kennis te doen. Hy het besluit om as dokter diens te lewer, en dit het hom na Suid-Afrika gelei.
Van Aardt neem die woorde in en voel ná die rit dat dokter Odeja hom ’n guns bewys het, en nie hy vir Odeja nie; die Kubaan was vir hom "die een of ander toergids" (148). Tog is hy nie iemand wat maklik verander nie; hy verset hom teen wat hy besig is om te leer. Hy vertel aan Odeja ’n valse verhaal van Suid-Afrikaanse soldate wat ’n Kubaanse soldaat lewend begrawe het. Daarmee wil hy moontlik die Kubaanse dokter in sy onbewuste "begrawe", om ontslae te raak van die woorde wat tot sy gewete spreek.
Die vertelling oor die Vrydag sluit af met Van Aardt se diagnose, in sy gedagtes, van die Malherbe-meisie. Dis ’n somber diagnose, maar sonder duidelike rasionele gronde: Die meisie het favisme, die favaboonsiekte. Hy maak dan ’n paar wilde assosiasiespronge – hy onthou dat die boerboon in Egipte en Rome ’n simbool van dood en ontbinding was; en hy onthou ook dat Pitagoras geglo het dat om bone te eet, is soos om die wangvlees van jou ouers te verorber (154). Sodoende eindig die dag met ontbinding en ouermoord. Vrydag is, volgens die Paasmotief, immers die dag van sterwe; dit word gevolg deur "stil Saterdag", die dag van dood en doodsheid. So verloop dit ook in hierdie roman.
Maar dan volg ’n interessante ontdekking: die bladsy wat Schuin in sy hand gehad het in die spreekkamer, lyk net soos die bladsye in die koöperasiedagboekie wat Van Aardt se vader gebruik het. Dit blyk daar is, figuurlik gesproke, ’n bladsy uit sy vader se boekie waaraan hy aandag moet gee. Die sakboekie is die sneller wat hom lei na die verhouding met sy ouers, na ’n openbaring wat nodig is om dood en ontbinding vry te spring.
- Saterdag
Die Saterdag word gekenmerk deur doellose wandeltogte. Die eerste een is ’n staproete wat ’n "dowwe sirkel" vorm (159) en tot geen sinvolle bestemming lei nie. Dis ’n wandelpad waarop hy al vroeër gestap het, ’n pad waar hy die vrou met die sinuskwaal kan ontmoet. Dis ’n irrasionele wandeling, bepaal vanuit sy onbewuste, gerig deur ’n nagtelike droom oor ’n vrou. Terwyl hy die vrou se spoor volg, onthou hy die inseminasie van ’n koei wat hy as kind gesien het. Op ’n sekere manier is dit wat hy besig is om te doen – hy wil sy saad in ’n vrou stort sonder dat daar die moontlikheid van ’n intieme seksuele verbintenis bestaan. Hy ontmoet dan ook die sinusvrou, soos hy gehoop het, en hy lei die gesprek, soos te verwagte, na Schuin, waarop sy hom die verstandige, vanselfsprekende raad gee om na die polisiekantoor te gaan om klarigheid oor Schuin te kry. Op ’n simboliese vlak beteken dit selfkonfrontasie vir Van Aardt. Die vrou wys hom daarop dat hy geen vriende het nie, en sy laat blyk dat hy nie by haar intimiteit moet soek nie (165). Haar "spiesagtige ring" (169) suggereer dat sy op ’n pynlike wyse sy illusies prik en die werklikheid by hom wil laat indring. Haar hond blaf dreigend vir Van Aardt, soos wat dit vroeër vir Schuin geblaf het, ’n seker teken dat Van Aardt / Schuin van haar moet wegbly. Dis tyd dat hy ’n ander wandelroete kies.
Van Aardt klim in sy motor en ry by die kerk aan – sal hy miskien hier hulp kan ontvang? Hy wil in die kerk ingaan, maar die deur is toe en die sleutel is elders. Hy onthou die skuldgevoelens wat die kerk nog altyd by hom gewek het (175); dis dan ook geen wonder nie dat die kerk by hom die assosiasie wek van die slegte reuk uit Schuin en Portia se Opel (176). Hy ry vinnig van die kerk weg, maar sien dan die dominee voor hom in die pad op sy fiets. In sy nood is hy gretig om die dominee se aandag te trek en doen moeite om die predikant te laat stop; en die man stop wel, maar is haastig, meer geïnteresseerd in die spoed waarteen hy op sy fiets kan ry as in die nood van die man by hom. Die dominee pas kennelik nie die rigsnoer van die kerk toe nie: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself" (176). Hy is geïrriteer deur die oponthoud, haastig om weg te kom. Dit word duidelik hier is geen uitkoms vir Van Aardt nie.
By die hospitaal aangekom, probeer Van Aardt ’n gesprek met Schuin voer, maar dit lei nie tot enige openbarings nie. Hy wil Schuin uitvra oor die papiertjie wat hy in die spreekkamer in sy hand gehad het, die bladsy uit die koöperasiedagboek, maar Schuin gee geen antwoord nie. Dan kom daar egter ’n betekenisvolle verbinding in sy gedagtes tussen Schuin en sy pa, wat dieselfde tipe dagboekie gebruik het, maar met ’n belangrike verskil: die geluid as sy pa ’n bladsy uitskeur, was ’n sagte geluid, "soos dié van die heel kleinste voëltjie se vlerk [...] soveel anders as dit wat hier voor hom is, wat in sy bot swygsaamheid, sy dampende, gevoellose massaalheid alle klein geluidjies doodmaak" (183–4). Die tekens is daar dat Van Aardt se ontmoeting met Schuin hom na sy vader sal lei, maar wat hy daar sal vind, is sagtheid en teerheid en nie die angs oor oortreding en skuld wat Schuin by hom wek nie.
Van Aardt raak nou al hoe meer irrasioneel, tot die punt van waansin. Hy dink, sonder enige gronde, dat Schuin ontslaan sal word om vir Portia in die hospitaal plek te maak (186). Hy besluit om Portia te gaan soek. Hy het geen idee waar sy woon nie, maar gaan op ’n dwase soektog na haar in die township. (Later blyk dit sy woon nie in die township nie.) Hy word mislei deur ’n ou man wat as sy "gids" na Portia se huis optree, maar as hulle by die huis aankom, is sy nie daar nie – en dan rig hy die vreemde versoek dat Portia hom moet bel, hoewel sy tot dusver geen belangstelling in kontak met hom getoon het nie.
Dit blyk al hoe meer dat al die karakters in die verhaal inderwaarheid projeksies van Van Aardt is. Vir Luna verbind hy veral met sy seksuele frustrasies, vir Portia met sy skuldgevoelens. Die binnewêreld en die buitewêreld van Van Aardt versmelt, sodat ’n mens nie meer weet wat "werklik" gebeur het en wat versinsel is nie. Al wat die leser weet, is wat in die gedagtes van Van Aardt plaasvind. Hy keer nou terug na die spreekkamer, nogal met sy tekkies aan, en Portia besoek hom daar – wat baie onwaarskynlik is. Sy verskyn in ’n polisie-uniform, en hy voel soos ’n aangeklaagde, terwyl hý eintlik vir háár sou wou aankla (202). Portia en Trish word nou volkome in sy gedagtes verstrengel. Terwyl Portia by hom in die spreekkamer is, onthou hy die keer toe Trish sy spreekkamer binnegekom het. (In werklikheid of in sy verbeelding?) Trish het hom seksueel uitgelok, maar hy het dit ervaar as indringing in sy magsgebied. Sy belaglike reaksie is om aan haar ’n aspirien te gee, terwyl haar "kwaal" duidelik van ’n ander aard is.
Sy ontoereikendheid teenoor Trish word gevolg deur Portia se beskuldigende toon (207). Die gesprek tussen hom en Portia lewer niks positiefs op nie, onder andere omdat hy so lieg – hy sê byvoorbeeld hy het nie geweet dat Schuin ’n polisieman is nie. Hy herhaal telkens dat hy "weet" van dinge waarvan hy nie kan weet nie, soos dat daar ’n onbehoorlike verhouding tussen Schuin en Portia is; en hy dink aan ’n toneel tussen Schuin en Portia, met seksuele konnotasies, wat ’n totale skepping van sy verbeelding moet wees (211–2). Hy stel veral belang in Portia se kurwes (210); alle vroue blyk, in mindere of meerder mate, projeksies van sy gefrustreerde gemoed te wees – Portia, Trish, Luna en die vrou met die sinus.
Van hier af raak die gedagtegange van Van Aardt al hoe meer verward. Hy gaan weer op soek na Portia se huis, hoewel hy nie weet waar sy woon nie (222); hy is "seker" die ou man vir wie hy in die township ontmoet het, is ’n pimp; en hy "weet" die baba wat hy daar gesien het, is Schuin se kind (226). Daar is twee passasies wat duidelik toon dat Van Aardt nou volledig in sy onbewuste afdaal om die obsessies en frustrasies te ontmoet en te reflekteer in sy vertellings van wat "gebeur" het.
Op bladsy 216 word sy afdaal in die onbewuste as volg beskryf:
Hy laat sy oë rus op die skildery, Die Godsbesluit, die donker boom. Hy probeer ’n verbinding bewerkstellig tussen hom en die boom sodat hy opgeneem kan word deur die boom, kan voel hoe hy deur die wortels ingesuig word, deur die haarvate sypel, op, op, op in die ruwe stam styg, verknot, vertak en verdonker word en dan losgelaat word, vrygestel word in daardie verskriklike lug met sy woedende wolke.
Soos wat hy opgeneem word deur die donker boom, ingesuig word deur die wortels, versmelt die buitewêreld met sy ervaring van die "donker boom", met die Godsbesluite oor sy lewe. Hy word losgelaat in die "verskriklike lug" van alles wat hom pyn aangedoen het, en die lewe word "weggeskroei" (217). Dit is soos ’n sterfproses waarin die buitewêreld vergaan en alles verinnerlik word. Daar kom ’n droefheid oor hom, en hy weet dat die res van die dag leeg sal wees (217).
Net hierna volg ’n tweede toneel met ’n soortgelyke strekking. Hy maak sy oë toe en die buitewêreld vervaag (221). Die vrou met die sinusprobleem kry ’n "wasagtige gesig" (221), wat die droomsfeer en gevoel van doodsheid versterk. Soos wat sy ervaring van die werklikheid volledig vanuit die onbewuste bepaal word, word sy gedrag al hoe meer irrasioneel. Hy beweeg heen en weer met verskillende besoeke aan verskillende mense, reise sonder doel of sin. Alles word gekleur deur sy obsessies en sy onverwerkte pyn.
’n Ligpunt verskyn met die intrede van Van Heerden aan die einde van die Saterdag-afdeling. Hy is ’n gestalte van hoop, iemand wat ’n aangename "geur" agterlaat selfs wanneer hy nie teenwoordig is of meer leef nie:
Hy dink daaraan dat Van Heerden se reuk nog in sy ou bakkie sal wees nadat hy reeds weg is, dat sy gees sal bly vasklou aan die plekke waar hy eenmaal was, terwyl die liggaam reeds besig om weer grond te word. (218)
Hy besluit om Van Heerden te besoek, maar voordat van die besoek vertel word, lees hy ’n SMS van sy seun oor Mahler. Stephan is krities oor die komponis: Het wel weer gedink oor Mahler, and sorry to say but he was fckn neurotic (229–30, sic; oorspronklike kursivering). Van Aardt dink dan na oor Mahler, onder andere oor sy beroemde simfonie, Das Lied von der Erde (Die lied van die aarde). Die skakels tussen Van Aardt en Mahler word duidelik – hulle het albei die voornaam Gustav, en die naam Van Aardt herinner aan "von der Erde". Mahler het deur intense pyn gegaan toe hy Das Lied van der Erde gekomponeer het. Hy is gedwing om te bedank as direkteur van die Weense Hofopera, sy dogter Maria het gesterf van skarlakenkoors, en ’n ernstige hartkwaal is by hom gediagnoseer. Das Lied van der Erde is dan ook deurtrek van somberheid, soos bevestig deur die herhaling van die frase: "Die lewe is donker, donker is die dood." Van Aardt dink ook oor die spanning tussen Mahler en sy vrou Alma, en verbind dit met Mahler se negende simfonie. Dis ’n simfonie wat langsaam eindig, met lang tussenposes tussen die note – byna soos ’n laaste uitblaas van die asem. Dit alles hou verband met Van Aardt se pyn en verlies, en met die sterfproses wat by hom aan die gang is.
Waar Gustav van Aardt se naam en van na Mahler verwys, het Van Heerden se naam en van ander konnotasies. Sy naam Dannhauser verwys na die hoofkarakter in Wagner se drama Tannhaüser. Tannhaüser was, soos Van Aardt, ontoereikend in die liefde, maar hier is ook sprake van ’n ander, onbaatsugtige liefde wat vergifnis moontlik maak, en van nuwe lewe wat uit die dood kan ontspruit. Waar Van Aardt "van die aarde" is, is Van Heerden "van den Heer". Die hemelse verlossing wat Van Aardt nie by die dominee kon kry nie, word deur die vee-inspekteur aan hom gebied.
Die besoek aan Van Heerden se huis is soos ’n besoek aan sy eie huis. Daar is ook ’n voordeur met riffelglas en ’n veiligheidshek. "Daai voordeur is eintlik maar presies soos syne, dink Van Aardt" (236). Van Aardt is op reis na die huis waarin hy grootgeword het, en Van Heerden is soos sy vader. Die gasvrye Van Heerden bied hom ’n whiskey aan, en hy spreek die woord net so uit soos wat Van Aardt se pa dit gedoen het (238). Die besoek laat hom ook dink aan sy verhouding met sy ma. Dit blyk dat sy nogal ’n dominante rol in sy lewe gespeel het, iets wat hy tot dusver verswyg het. Sy keuse van ’n beroep het hy met haar bespreek, nie met sy pa nie. "Dit is iets tussen hom en sy ma, het hy gevoel, sy pa is nie deel daarvan nie, hy moet hom uithou daaruit" (238). Terwyl hy ietwat ongemaklik met sy pa oor sy beroepskeuse praat, sien hy hoe hulle hond ’n vreemde hond bestyg; die saambring van die gesprek met die dekking van die hond suggereer dat sy verhouding met sy ouers iets met seksualiteit te make het. Die dominante invloed van sy ma word ook aan die einde van die hoofstuk gesuggereer – hy het sy naam van sy pa gekry, maar sy beroep van sy ma (255). Deur die invloed van Van Heerden, ’n vaderfiguur, sal Van Aardt se eie vader sterker na vore tree.
Van Heerden is heeltemal anders as Van Aardt. Hy is nie, soos Van Aardt, afgesny van die werklikheid nie. Dit blyk dat hy weet waar Luna woon; hy weet dus meer van Van Aardt se ontvangsdame as Van Aardt, wat allerlei irreële drome oor haar het. Hy weet ook waar Portia woon, die vrou met wie Van Aardt ’n obsessie het sonder dat hy weet waar om haar te vind. Skynbaar was Van Heerden se seun, soos Van Aardt, in die weermag, maar die seun het ’n glimlag op sy gesig (239–40), anders as die sombere Van Aardt.
Van Heerden is vir Van Aardt ’n vaderfiguur sowel as ’n moontlike rolmodel. Anders as Van Aardt, leef hy in harmonie met sy geskiedenis:
Hy is tuis in sy stem. Dis ’n oeroue stem. Dis al daardie gesigte op die portrette wat deur hom praat. Hy praat met die woorde en frases en sentimente wat geslagte lank kom (242).
Van Heerden gee ’n jaggeweer met nagsig aan Van Aardt, met die aanmoediging om deur die geweer se teleskoop te kyk. Hy wil hom leer om deur die teleskoop te kyk in plaas van om met die geweer te skiet – sy aggressie moet vervang word met kennis. Van Heerden lei Van Aardt se blik na ’n huis op die hoek, die huis waar hy grootgeword het, en van daar na die slaapkamer, maar Van Aardt kan niks daar sien nie. Dit kan op meer as een manier geïnterpreteer word. Dit kan daarop dui dat die verlede verby is, "leeg" is, en dat Van Aardt moet leer om die verlede agter hom te laat, dat dit nie die hede moet domineer nie. ’n Tweede interpretasie is ook moontlik (en die twee hoef mekaar nie uit te sluit nie): dat hy nie wíl sien nie; Van Heerden weet dat daar iets in die slaapkamer is wat Van Aardt nie bereid is om te konfronteer nie (250).
Dan begin Van Heerden ’n verhaal te vertel oor sy ma wat sieker en sieker geword het, sonder dat die dokter iets kon doen om haar te genees (250). Die een krisis na die ander verhinder die dokter om haar te help, en dan, as ’n "laaste wanhoopspoging", besluit hulle om ’n dokter uit Kroonstad in te roep. Die verhaal word nie afgesluit nie, maar die leser weet dat die huwelik net agt jaar geduur het (250); die moeder het waarskynlik nie lank daarna geleef nie. Van Heerden bring die slaapkamer waarna Van Aardt kyk, in verband met sy (Van Heerden se) ouers se huwelik en sy ma se siekte. Wat hy van sy ma vertel, herinner aan die siekte en sterwe van Van Aardt se moeder (13–4). So lei die besoek aan Van Heerden vir Van Aardt na sy pa en sy ma, en die suggestie is miskien dat Van Aardt se moeder in sy gedagtes moet "sterf" sodat die vader sy regmatige plek daar kan inneem.
Wanneer hy terug by die huis is, word sy seksuele onvermoë beklemtoon – hy wil homself bevredig, maar sy geslagsorgaan bly "halfmas". Hy worstel steeds met Trish se pyn en woede teenoor hom, en die klipharde afstand wat tussen hulle ontwikkel het, maar "nog groter as die pyn, nog groter as die woede, was die onvermoë" (257) – en dit gaan hier sekerlik oor die seksuele onvermoë. Net hierna word weer daarna verwys: "sy penis wat slap en leweloos tussen sy vingers hang, soos ’n voëltjie wat met ’n windbuks geskiet is" (258). Hy dink daaraan dat die badkamer van sy huis basies net so is soos wat sy ma-hulle dit laat bou het; dit is "soos ’n relik uit ’n seksmuseum". Dan word die eintlike relik uit sy seksmuseum opgeroep: "die een keer dat hy sy ma kaal gesien het" (259). Dit is ’n herinnering wat hy waarskynlik tot nou toe wou verswyg, want dit bevat die suggestie dat hy ’n seksuele fiksasie op die moeder het, en dat sy eie seksuele vermoë daardeur belemmer is. Daarmee is die diepste, die pynlikste van sy herinneringe gekonfronteer, en hy is soos die sterwende Jesus wie se piëta hy eenmaal gesien het (256–7). Die maan is, soos reeds genoem, "verlep en betekenisloos"; maar die maan kan weer vol word. Daar is ’n mot op sy voorarm – en ’n mot, wat uit ’n kokon kom, is ’n simbool van hergeboorte.
- Sondag
Wanneer Van Aardt die hospitaal besoek, vind hy uit dat Schuin homself ontslaan het. Die feit dat Schuin uit die hospitaal is, is ’n positiewe teken – dit dui daarop dat hy uit Van Aardt se lewe gaan verdwyn. Maar daar is ook negatiewe tekens. Van Aardt is woedend; hy wil nie van Schuin afstand doen nie, hy wil die skadukant in hom vertroetel. Hy bel vir Luna om Portia se nommer in die hande te kry; hy "kan sy kop op ’n blok sit" dat Portia en Schuin hul streke sal voortsit sodra hulle bymekaar kom (272) – maar vroeër was hy seker Portia se plek is in die hospitaal bespreek. Hy glo dat Schuin "beslis" dorp toe sou gaan (272) en gaan soek hom in sy spreekkamer – maar hoekom sou Schuin daarheen wou gaan? Dan neem hy ’n nog vreemder besluit: om Schuin op Immortel, die Malherbes se plaas, te gaan soek (274). Hy is nou behoorlik die kluts kwyt, maar sy plan om na Immortel te gaan, bevat tog ook ’n suggestie dat hy op soek na nuwe lewe is.
Op die pad ontmoet hy lede van ’n Afrika-kerk, maar hy wil van hulle wegkom (275); soos die dominee met wie hy vroeër gesels het, bied hulle aan hom geen hoop nie.
Hy raak toenemend ontwrig. Hy soek na Schuin en na Portia; dan is hy weer op pad na Immortel; en dan gaan hy na Luna se huis (maar hy weet nie waar sy woon nie). Die verskillende vroue in sy lewe word met mekaar verstrengel: Portia, mevrou Malherbe, Luna – en almal is aan Trish verbonde. Hy is nog steeds die gevangene van sy verlede, en dit lei by hom tot waansin, ’n waansin gebore uit wanhoop. Sy ontmoeting met die mense van die Afrika-kerk lei in sy gedagtes tot ’n herhaling van sy troue met Trish, maar hy loop met sy enkels in kettings, "want hy weet wat vir hom wag" (276). Hy weet wat hy moet doen, dat hy "die troue moet stop" (276), maar kan tog nie van Trish wegkom nie. Om die troue te "stop", sou beteken dat hy innerlik van Trish moet afstand doen, maar in sy gedagtes bly hy steeds met haar "getroud".
En dan, "asof dit uit sy onbewuste spring", kom hy by Luna se huis aan. Alhoewel hy nog nooit daar was nie, vermoed hy presies hoe dit lyk – die veiligheidshek, die gang, en die vrou en die kind wat daarbinne is (276–7). Inderwaarheid het hy weer ’n keer by sy eie huis beland.
Dit word nou duidelik Van Aardt se vertellings het geen objektiewe werklikheid nie; sy reise is almal innerlike reise. Die vrou wat die deur oopmaak, is Luna, maar hy is "ook nie seker of dit wel Luna is nie" (277). Sy praat Engels met hom, en hy antwoord in Engels (278) – sy gesprekke met Luna was hoofsaaklik in Afrikaans, terwyl Trish blykbaar Engelssprekend is. Luna is nogmaals ’n vrou in wie Trish gestalte kry, en hy verbeel hom sy is kaal – hy kan net nie van sy seksuele obsessies ontslae raak nie. Hy wil van haar weet waar hy Schuin in die hande kan kry, en dit lei tot ’n gesprek waarin Trish/Luna hom kwaai teregwys: "’Is this procedure?’ vra sy. ’I mean, that you go chasing after patients like you do? Op ’n Sondag nogal?’" (279).
Steeds obsessioneel, vra hy haar uit oor die pa van haar kind, maar sy laat hom streng weet: "It’s got nothing to do with you." En klap die deur voor hom toe (280).
Dis of hierdie vrou se reaksie iets van die werklikheid by hom laat deurskemer – hy besef die vrou dink hy is gek; hy weet dat sy diep bedenkinge oor hom het (279). Hy stap daar weg in die lig van "die verblindende son" (280), en dit voel vir hom of "Luna se blik" op hom rus (280). Sy irrasionele reise het hom voor ’n toe deur en in die helder sonlig gebring, en in sy radeloosheid neem hy ’n verstandige besluit: om Thys Teise op te soek (281), iemand wat hom nie sal wegwys nie.
Hy laat Thys by hom in die motor klim. Van Aardt het geen duidelikheid waarheen hy wil reis nie, en hy kan Thys dus nie inlig oor hul bestemming nie, maar die simpatieke Thys vergesel hom nogtans op die pad. Wanneer hy voortgaan met sy irrasionele praatjies oor Schuin en Portia, lag Thys en skud sy kop, maar hy bly by Van Aardt (282).
Dan word dit duidelik waarheen Van Aardt op pad is:
... op die Daspoortpad wat gaan na Vergunning, of wat die plaas se naam nou is, waar hy grootgeword het en waar sy pa-hulle begrawe lê. Dis waarheen hy op pad was, dis daar iewers waar Schuin-hulle kak maak, en dis waar sy pa-hulle begrawe lê. (285)
Hy is op weg na ’n konfrontasie met sy grootwordjare, met sy verhouding met sy ouers, en ook met die donker kant van sy lewe wat op die plaas ontstaan het. Anders as die doellose reise wat hy tot dusver onderneem het, is hier ’n reis met ’n sinvolle bestemming, na ’n plaas waar hy moontlik die "vergunning" van ’n nuwe lewe kan kry.
Langs die pad ontmoet hy een van sy pasiënte, die meisie met die geel klere, en sy help hom op sy pad na heling. Sy lei hom na die erkenning van sy ware probleem, dat sy vrou hom verlaat het, en praat simpatiek met hom daaroor (288). Die meisie se sin vir die werklikheid, haar "speurende oë" (289), sowel as haar mededoë bring hom tot ’n besef van die leegheid van sy bestaan, en dit laat sy oë traan (289–90). Vir die eerste keer is hy eerlik oor die betekenisloosheid van sy lewe en die rede daarvoor:
Net verder in die fokken niks in [...] Om jou desperaatheid, jou weerloosheid, jou ellendigheid so ten toon te stel [...] Daar is eintlik niks nie. Sy is net weg. Haar goed gevat en geloop. (290)
Hy word verder gehelp op weg na die werklikheid deur die telefoonboodskap van Trish/Luna: Please, don’t ever do that again (290; oorspronklike kursivering). Hy maak nie eers die boodskap oop om dit te lees nie, hy weet sommer wat daarin staan; dis ’n boodskap van binne eerder as van buite. Hy besef dat sy irrasionele swerftogte tot ’n einde moet kom, dat hy die waarheid nie langer kan ontwyk nie.
Van tyd tot tyd, al reisende saam met Thys, steek die irrasionaliteit wel weer kop uit, maar wanneer sy verbeelding die oorhand kry, gebeur dit op ’n sinvoller manier. Hy hoor die stem van Van Heerden, en dit gaan oor na ’n herinnering aan sy pa – Van Heerden is immers ’n vaderfiguur vir hom. In vergelyking met wat hy vroeër oor sy pa vertel het, dat sy pa eintlik ’n mislukkeling is (11–4), is hy nou veel meer positief oor sy vader. Hy onthou dat sy pa ’n gemeenskapsleier was wat allerlei leiersposisies vervul het (297). Gestimuleer deur Van Heerden, word sy beeld van die vader gekorrigeer.
Dan volg die belangrikste toneel in die hele roman, ’n toneel waarheen alles wat voorafgegaan het, lei. Ek wys net op enkele van die belangrikste aspekte hiervan sonder om dit te bespreek.
Thys en Van Aardt kom by die hek van die plaas aan, en Van Aardt wil oor die hek klim, maar dis ’n nuwe hek, en hy hoor "die polsslag van partytjiemusiek" (299). Die plaas behoort nou aan ander mense, en die verlede waaraan hy wil vasklou, is verby. Lank sit Van Aardt op die hek, "op die draad" as ’t ware, en dan wil hy oorklim, hoewel hy weet dit is ontoelaatbaar. Maar Thys kom tot sy redding. Hy waarsku Van Aardt om die dooie mense te laat staan (308), oorreed hom om van die hek af terug te klim en help hom om dit te doen:
Met sy kop onderstebo staan hy nader en dan druk hy sy hande onder die dokter se voorarms in, soos wat hy maak wanneer hy ’n pasiënt ambulans toe moet vat. (309)
Hiermee word ’n duidelike parallel getrek tussen hierdie toneel en die vroeëre een waar Van Aardt en Thys vir Schuin na die ambulans dra.
Nou kom daar ’n wending in Van Aardt se lewe: ’n wegkeer van die koestering van die verlede en ’n toekeer tot die hede, met die moontlikheid van ’n nuwe toekoms. Die opstanding het uiteindelik plaasgevind op die Sondag.
- Nog ’n begin
Die afsluiting, getitel "Nog ’n begin", kontrasteer sterk met "’n Begin", die eerste afdeling in die boek. Albei afdelings handel oor die begeerte vir ’n nuwe begin, maar daar hou die ooreenkoms op. In die eerste afdeling word vertel van Van Aardt se plan om oorsee te vertrek en so weg te kom van sy bestaan op die dorp; maar dit dui ook op ’n ontvlugting van die werklikheid. Die laaste afdeling vertel van ’n terugkeer na sy dorp, as ’n ander mens, een wat homself leer ken en aanvaar het. Op pad terug van Vergunning sien Van Aardt ’n plaat geel onkruid. In die roman simboliseer die kleur geel misleiding en lafhartigheid, soos reeds gemeld, maar die geel onkruid verkry ’n skoonheid wanneer hy nader kom. Hy steek sy hand uit en vat een van die hofies aan die stingel vas, net onder die kelkblare, en voel ’n ligte prik.
Vir die eerste keer speel sy gevoelsintuig ’n rol – vroeër kom ’n mens veral agter wat hy sién, en in ’n geringer mate wat hy hóór of ruik. "Gevoel" sluit sowel die tassintuig as die gevoel van emosies in; Beide tree in werking slegs as jy naderby kom, letterlik of figuurlik. Van Aardt kom nader aan die geel onkruid; so het hy ook nader aan homself gekom en sy misleiding en lafhartigheid leer ken. Daarmee het die kleur geel se betekenis verander; in die konteks van sy helingsproses het dit ’n tipe skoonheid verkry.
Hy sit in die "onverbiddelike son", waarvan hy niks kan wegsteek nie, en hy wag "dat hy iets sou voel". Hy vlug nou nie meer van die realiteit deur allerlei projeksies en illusies nie, maar erken die noodsaak om sy pyn te aanvaar en te verwerk. Vir die heling van sy trauma is dit ’n essensiële stap – Van Aardt se nuwe lewe het begin.
Die kleinste ramp denkbaar lyk aanvanklik na ’n misdaadroman, en die leser se belangstelling word gewek om uit te vind wat die twee misdadigers, Schuin en Portia, alles aangevang het. Langsamerhand word jy egter na ’n ander, fassinerende speurtog gelok, na die dieptes van die hoofkarakter se geheime pyn en die weg tot sy genesing.
Die kleinste ramp denkbaar is ’n roman wat vra om gelees te word – meer as een keer.
Lees ook:
Francois Smith se Kleinste ramp denkbaar gaan boei, terroriseer
Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith: ’n bespreking