Die kleinste ramp denkbaar
Francois Smith
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624089988
1.
Francois Smith se tweede roman is ’n reusagtige sprong vorentoe ná sy indrukwekkende debuut, Kamphoer. Dit is ’n roman van ons tyd, maar een waarin die verlede daagliks spook. Ek is oortuig daarvan dat dit ’n spesifieke plek van betekenis binne die ontwikkelingslyn van die Afrikaanse letterkunde sal hê.
2.
In Die kleinste ramp denkbaar lei ’n bosluisbyt tot ’n tydperk van verwarring by ’n algemene mediese praktisyn op ’n plattelandse dorp in Suid-Afrika. Die verwarring lig mettertyd, en die dokter (Gustav van Aardt) aanvaar sy lot en sy plek op aarde. Hy is van hierdie aarde, soos sy van suggereer, maar so ook sy aard. Hy dink agterna daaraan as “’n storie oor ’n goeie dokter en ’n slegte polisieman”. Hy sê ook dat hy nie kan uitkom by presies wat gebeur het en hoekom dit so ’n groot uitwerking op hom gehad het nie. Later nog, in die “Nog ’n begin”-deel aan die einde van die roman, weerspreek hy sy aankondiging in die “’n Begin”-deel in die begin van die roman waarin hy sê dat die gebeure hom laat besluit het om die land te verlaat.
Die titel van die roman kan op baie dinge slaan; een van die belangrikste vertolkings daarvan binne die raamwerk van die verhaal is dat dit dui op die verlies van alle sekerheid, selfs op die kleinste vlak.
3.
Sekerheid is iets wat mens tog wel kan vind in Die kleinste ramp denkbaar. As mens al die dotjies verbind, om Pravin Gordhan aan te haal, kan die leser ’n beeld vorm van die lewensweg van Gustav van Aardt, van sy huwelik, van die probleme wat ontwikkel het, van die bosluisbyt wat sy lewe kom deurmekaar krap het.
Gustav se wedervaringe en sy insigte is egter net die katalisator vir insigte wat die leser verwerf; baie daarvan kom nooit self by hom op nie. Hy is ’n fyn-opgevoede mens met ’n vreemde benadering tot kommunikasie. Hy sien besonderhede, maar het nie die vermoë om volledig buite patrone te dink nie.
Indien hy ooit die kans het om lang gesprekke met mense te voer, word min daarvan in die roman gerapporteer. Die een wat hy teen die einde met Teise het, is ’n vreemde poging om sin te maak van wat Teise vir hom probeer sê. Gustav is agterdogtig, vermoed deurentyd ’n subteks, of versweë kennis. Dit sou nie heeltemal korrek wees om te sê Gustav is ’n paranoïese mens nie, maar dele van sy gedrag neig daarna.
Soos in die boek geteken, is hy een van die volrondste personasies wat ek in baie jare in ’n Afrikaanse roman raakgeloop het, en wat so heerlik is van hierdie ontmoeting, is die besef dat hy ’n feilbare, onsekere volwassene is. Ons sien deur sy oë – maar soos ons mettertyd agterkom, is daar nie werklik uitsluitsel oor die dinge wat hy sien nie. Is dit drogbeelde of werklike visuele waarnemings?
Binne die dorpsverband is hy sekerlik ’n redelik gesiene mens, maar onder die mikroskoop van hierdie vertelling blyk sy feilbaarhede alte duidelik. Die belangrikste hiervan is dat hy die impuls het om agter die kap van die byl te kom oor die moontlike misdadigheid waarby Schuin (die polisieman wat deur ’n bosluis gebyt is, en in lewensnood by Gustav se spreekkamer opdaag) betrokke is, maar nooit aandring op behoorlike antwoorde wanneer hy vrae stel en mense hom ontwykend antwoord, of gewoon ignoreer nie. Die verhaal word oorgedra vanuit sy perspektief, maar mens kan boekdele oor hom lees in die manier waarop ander mense teenoor hom optree.
Die vertelling werp beelde van ’n vergange era op, in skrille kontras met die dinge wat Gustav sien en belewe. Gustav is ideaal geplaas om te sien presies hoe die ou kulturele sfeer verdwyn, en hoe dit vervang word deur ’n nuwe kultuur. Dit gaan nie alleen oor die orde van die verlede en die chaos van die hede nie; vanweë sy posisie as voorheen bevoordeelde wit man en tans sieketrooster verlang hy na iets opbeurends (wat hy probeer bewerkstellig deur die aanstelling van Luna in sy praktyk) wat die lewe weer vir hom opwindend kan help maak, maar vind dan net dat die res van die dorp skynbaar van mening is dat hulle in die afgeskaalde, verarmde omgewing alles gevind het wat hulle ooit beskore sal wees.
Sekerlik sou mens kon sê dat Die kleinste ramp denkbaar ’n beeld ophou van die verwording en agteruitgang van Suid-Afrika. Die kulturele bakens van pre-1994, en die simbole daarvan op haas elke terrein, is afgetakel en weens ’n gebrek aan instandhouding feitlik disfunksioneel: die hospitaal met sy Kubaanse dokter en swak-opgeleide personeel; die rigtinglose, gesaglose, korrupte polisie; die oorblywende wit dorpenaars naas die swart bevolking wat nou saam en tussen hulle woon; die gevolge van swak munisipale bestuur.
4.
Wat van die ander karakters? Met ’n hoofpersonasie wat niekommunikatief is, en in sommige gevalle ander daarvoor verkwalik dat hulle so kortaf met hom is, is dit ’n fyn spel wat met die ander karakters gespeel word. In watter mate val die fokus op hulle, en wat gebruik Francois Smith om hulle meer aan dimensie te laat wen?
Ek moet sê dat ek baie beïndruk is deur die manier waarop Gustav dermate in die fokale middelpunt geplaas is dat hy volkome gemotiveerd is in die wyse waarop almal betrek word – deur sy aksies, en dus ook die ontwikkeling van die narratief. Meer is nie nodig nie. Gustav vorm eensydige beelde van almal met wie hy in kontak is: Frans Schuin is meestal in ’n diepe slaap weens die bosluiskoors (ja, die schuin bedrieg!); Portia Klaas (die ander geregsdienaar en moontlik Schuin se minnares/medepligtige) jak Gustav af en bly op ’n afstand; Luna Fraser, ’n mulatto, wat as ontvangsdame oorneem by die rassistiese mevrou Troskie, hou Gustav op ’n afstand en is agterdogtig oor enige tekens van vriendelikheid by hom; Thys Teise, die jantjie-my-kneg van die dorp, help Gustav dikwels wanneer hy om hulp vra, maar uiteindelik raak Gustav agterdogtig oor hom.
Sodra mens aanvaar dat die roman wat personasies betref, oor Gustav van Aardt handel (sy aksies én sy gedagtelewe), is dit nie nodig dat die ander personasies meer ontwikkelingstyd kry nie. Dit is nie belangrik nie – wat wel is, is dat ons volledig bewus is van die aard van hul interaksie met Gustav, en die dimensies wat dit verleen aan die tekening van sy personasie.
Die wyse waarop die skrywer Gustav lewe gee, is deur sy handeling, deur sy gedagtegang, en deur die houding en aksies van ander, waardeur ’n oordeel oor hom geïmpliseer word. In ’n stadium, vroeg in die roman, lees ons: “Hy werk met die fisieke manifestasies van menslike weerloosheid, met vasstelbare simptome en sigbare wonde. Wat buite hierdie parameters lê, is doodgewoon morsig. So morsig soos hierdie dorp met sy rommel, sy verval, sy onkunde, sy armoede, sy kleinlike politiek, koöperasie-mentaliteit, SuperSave-moraliteit en algemene veragtelikheid.” Vanuit daardie morsigheid is daar ook menings wat oor hom gevel word. Dit word nie verwoord deur die personasies self nie, maar hul mentaliteit, hul houdings spoel uit in die wyse waarop hulle hom hanteer – sommige met geduldige respek, ander met arrogante verveling en agterdog. Veral by die hospitaal. Dit is vir my ’n uiters belangrike aspek van hierdie skepping, omdat dit die literêre tradisie oproep waarin Die kleinste ramp denkbaar staan.
5.
Een van die heerlikhede van die lees van hierdie roman is die manier waarop die magdom inligting oor die fisiese omgewing betrek word. Dit voel asof alles wat Gustav dink en doen, gerapporteer word. Dinge waaroor ’n skrywer normaalweg sou skeer, of verswyg ten einde die fokus op aksie te plaas, sorg nou dat ’n mens die grein van Gustav en sy bestaan kry. Dit herinner sterk aan die skryfwyses van die Amerikaanse skrywers John Barth en Robert Coover – met een belangrike verskil: Waar hul eksperimente met uitputtende oorlading van inligting uiteindelik verveeldheid tot gevolg gehad het, Francois Smith die klem steeds geplaas op volledigheid van inligting, maar met ’n sterk geneigdheid tot realisme. Die benadering is in ’n paradoksale sin minimalisties.
Bring ’n mens die fokus nader, na die plaaslike tradisie waarin Die kleinste ramp denkbaar staan, raak dit nog meer interessant. Die roman sluit aan by die realisme en ’n tradisie wat begin by JFW Grosskopf se drama As die tuig skawe (1926) en die prosa van veral J van Melle se Bart Nel (1936).
Gustav ondervind probleme met die dorpenaars en die hospitaalpersoneel. In sy reaksie daarop toon hy ooreenkomste met Bart Nel: Hy sal ter wille van sy nering en die verpligtinge wat hy daardeur teenoor die samelewing het, alles in die stryd werp om die raaisels rondom Schuin op te los. Maar wanneer hy begin faal, word hy soos Bart se Fransina – ’n pragmatis wat sake hul loop laat neem, nie ’n finale opklaring rondom Schuin vind nie, en die belangrikste nog, sy verklaring in die begin dat hy die land gaan verlaat, ongedaan maak deur te besluit om te bly, danksy die belewenis van die natuurskoon, dus ’n element totaal buite die raamwerk van menslike stommiteite.
Mens kan nog ander raakpunte met die Afrikaanse literêre tradisie aandui; vir my is die belangrikste daarvan romans waarin daar ’n sterk fokus op een tema is, maar ’n wasigheid en onduidelikheid oor die dinge daaromheen. Ek dink hier veral aan Etienne van Heerden se aanwending van hierdie procedé in Asbesmiddag en Die wêreld van Charlie Oeng, asook John Miles se Donderdag of Woensdag, Die buiteveld en Okker bestel twee toebroodjies, waarin dit met groot vernuf hanteer word. In dele van die natuurbeskrywings is daar ook eggo’s van Karel Schoeman se Verliesfontein.
Daarbenewens staan Die kleinste ramp denkbaar in skrille kontras met sowel die ou Afrikaanse plaasromans uit die tydperk van die realisme (jare dertig tot vyftig) as die skrywers wat later daarop gereageer het: DF Malherbe, CM van den Heever, FA Venter, en dan later Etienne Leroux, André Brink, Chris Barnard, Karel Schoeman, Eben Venter en Marlene van Niekerk (Agaat).
Waar dit egter nuwe veld betree, is in die mate waarin dit die transformasie van die land uit die oogpunt van ’n hoogs gekultiveerde wit man beskou. Gustav van Aardt dolwe in sy poging om die raaisels rondom Schuin en Portia op te klaar, geweldig baie kulturele kodes oop. Gustav (die naam is van Skandinawiese oorsprong, wat beteken “gesiene gas”) vind dat Portia en die magsorde wat sy versinnebeeld, nie so aantreklik is as haar beroemde naamgenoot in The Merchant of Venice nie, en boonop nie die vermoë het om genuanseerd te kommunikeer nie. Anders as in Chris Barnard se Mahala (waaraan Die kleinste ramp denkbaar in sommige opsigte herinner) is daar geen oomblik van oplossing/afrekening nie, en is daar ook nie ’n skisofreniese belewenis van Afrika nie: Van Aardt is die figuur waarin die nuwe ervaring van die troebel kontinent saamgetrek en beliggaam word.
Aanvanklik beskryf hy die verhaal as “’n storie oor ’n goeie dokter en ’n slegte polisieman”. Sy speurtog stroop hom uiteindelik van sy sekerhede – die meeste van die insigte wat hy kry, kom in oomblikke wat hy dinge sien in ’n toestand wat ten beste as koorsagtig beskryf kan word. Hierdie woorde oor Van Aardt is betekenisvol: “Hy kon sien hoe Schuin se teenwoordigheid as ’t ware die mense se simptome oorneem. Hoe hy hul siekte word.” Schuin word dus simbool van die malaise wat die dorp (en daardeur die land) tref. Gustav ken die wêreld, maar hy is vreemd daarin. Dis asof dit hý is wat koors het, wat nagmerries helder oordag sien, wat sukkel om met mense te praat.
Die laaste gedeelte van die roman, waarin Van Aardt met die hulp van ’n gerookte Thys Teise op ’n vergeefse en laaste soektog na Schuin reis, is tekenend van die groter verval van die ou beskawing en die marginalisering van die ou statusfigure (soos Van Aardt). Hul gesprek beier van kant tot kant; hulle maak nie konneksie nie, maar skynbaar volg hulle mekaar se verkrummelde logika.
Teise is die ondersteuning vanself, maar ook die stem van ’n ouer kultuur met vreemde bygelowe, die brug tussen Van Aardt en die nuwe orde. Maar uiteindelik is daar vir Van Aardt geen sekerhede oor nie. Agterdog word sy verstekposisie. Sy impuls om pad te gee uit die land is verstaanbaar.
7.
Die somtotaal van Die kleinste ramp denkbaar is een van ’n klein deel van die totale bevolking (die Afrikaners) wat hulself in ’n fase van kulturele transformasie bevind. Hulle word in die groter bevolking geassimileer, en hul getalle word uitgedun. Die roman speel in op wat oral in Suid-Afrika sigbaar is. Daarom is dit vir my so heerlik om ’n Afrikaanse roman van hierdie formaat te lees in ’n tyd waarin doemprofete voorspel dat die Afrikaanse taal uitsterf.
Met die tweede lees van die roman is ek opnuut beïndruk deur die deeglike beplanning wat die geheel onderlê. Ek was meegesleur in die leesproses en erg geïnteresseer deur die manier waarop Francois Smith doelbewus teen die bou van spanning in geskryf het. Dit is nie ’n speurverhaal hierdie nie, ofskoon ’n soort speurtog aan die kern daarvan lê. Vir my is dit ’n karakterstudie, ’n ontginning van ’n personasie wat nie ’n verhewe, geïdealiseerde mens is nie. Gustav van Aardt verryk ons letterkunde; die omwenteling wat die beskrewe naweek in sy lewe bring, maak nie van hom ’n nuwe mens nie. Soos Bart Nel is hy steeds hy wanneer hy sy besluit neem om in die land aan te bly; hy het net geen illusies meer oor sy aard binne hierdie geografiese konteks nie. Hy verstaan dat hy nie alles kan – of wil – verstaan nie.
Lees ook:
Francois Smith se Kleinste ramp denkbaar gaan boei, terroriseer
Kommentaar
Sonder om ʼn berg van ʼn molshoop te wil maak, moes ek tweemaal aanloopbaan toe voor die storie behoorlik kon vlerke kry. Die psige van die protagonis, dokter Gustav van Aardt, oortuig eers volledig in die doodsnikke; tot dan knaag die gedagte dat die boek probeer om hom van sy leser te vervreem. Aftakeling, vervreemding, vereensaming, agteruitgang en verhoudings word onder die loep geneem en deur Van Aardt se oë ervaar ‒ soms ʼn frustrerende belewenis. Die skrywer se gelykmatige opbou tot die bevredigende ontknoping verg ongetwyfeld ʼn hoe vlak vakkundigheid. (Ek hou steeds nie van ʼn oormaat vergelykings nie.) Met net drie dae oor om te leef en die versugting om vir oulaas ietsie te lees, sal ek ander leesstof aanbeveel. Andersins, en vir ʼn meer eiesoortige leeservaring: vat dit rustig, van begin tot einde, en kyk wat gebeur.
Ek lees nie genoeg Afrikaanse boeke nie, maar is dankbaar dat Francois Smith 'n 2de en wel 3de boek na Kamphoer geskryf het. Dr van Aardt weerspieël uitstekend die soektog, lompheid van soek na doel en rigting in die "nuwe" Suid-Afrika. Die angstigheid, klem om die hart - "Waarheen toe?" beskryf Francois Smith briljant.