Die verevrou deur Jan van Tonder – ’n bespreking

  • 0

Chris van der Merwe skryf hierdie bespreking spesiaal vir leeskringe.

Die verevrou
Jan van Tonder
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798170505

Verhaal

In die bespreking van ’n roman waarin die intrige met soveel kinkels en draaie voortbeweeg, is dit verstandig om met ’n opsomming van die verhaal te begin.

Daar is in werklikheid nie net een verhaal nie, maar twee, wat later wel met mekaar verbind word. In die eerste verhaal is Liora die hooffiguur. Sy word groot op ’n volstruisplaas in Algerië, waar sy saam met haar ma, Charlotte, haar pa, Emilio, en haar tante Alessa woon. Hulle kry van tyd tot tyd besoek van Moshe uit die Klein Karoo, ’n man vir wie Liora baie lief is, en daar is kennelik ook ’n spesiale verhouding tussen Moshe en Charlotte. Liora het ’n goeie verhouding met haar ma en haar tante, maar tussen haar en haar pa is daar baie spanning. Hy is ’n onsimpatieke mens; hy skiet byvoorbeeld die volstruis dood waaraan Liora so geheg was, omdat dit uitgebroei het uit ’n eier wat sy van Moshe present gekry het. Emilio is jaloers op Moshe, en nie sonder rede nie, want Moshe en Charlotte is baie lief vir mekaar, en daar is ’n suggestie dat Liora hulle twee se kind is.

Wanneer haar neef, Eugenio, op besoek kom, lei dit tot die ontwaking van haar seksualiteit. Die twee ry op kamele die woestyn in, en het dan seks op een van die kamele (dit wil gedoen wees!). Hulle raak baie lief vir mekaar, maar Emilio is teen die romanse – skynbaar omdat hulle neef en niggie is, maar in werklikheid is daar ’n dieperliggende rede: Hy gee Liora die skuld vir die dood van Isabelle, ’n beeldskone niggie van Liora wat ’n keer op besoek gekom het en deur Arabiere vermoor is. Eugenio swig voor die druk van Emilio en skryf vir Liora dat hy haar nie meer liefhet nie. Emilio word met verloop van tyd al hoe meer van ’n wreedaard. Hy neem Liora op ’n rit met sy motorfiets, met haar in die syspan, en ry doelbewus onverskillig, sodat die motorfiets omslaan en aan die brand raak. Liora word ernstig beseer, haar hare raak aan die brand en sy moet vir die res van haar lewe ’n pruik dra. Vir die vader is dit wraak; vir Liora beteken dit die finale breuk met haar pa.

Die gebeure speel af tydens die onafhanklikheidsoorlog in Algerië, en die lewe op die plaas word al hoe onveiliger. Liora se ouers emigreer na Parys; Liora gaan na Algiers, waar sy as verpleegster werk; Alessa bly agter by die boerdery. Een van Liora se pasiënte is die Franse soldaat Chrestien Blanc, wat gruwelik vermink is deur Algerynse opstandelinge. Sy ellende gryp Liora aan, en ’n liefde ontwikkel tussen hierdie twee geskende mense: Liora, met littekens, sonder hare en met ‘n onvroulike vagina, en Chrestien, sonder neus, ore en ’n penis.

Alessa, alleen op die plaas, word aangeval deur rebelle onder leiding van Amid, wat vroeër op die plaas gewerk het. Hulle martel haar, Amid steek gate in haar lyf en druk volstruisvere in die wonde – as ‘t ware met die gedagte: Steek jou vere in jou gate! Alessa kry ’n mes van ’n getroue werkster en maak daarmee ’n einde aan haar lewe om haar teen verdere marteling te bewaar. Moshe, wat na die plaas gekom het om haar teen moontlike aanvallers te beskerm, kan haar nie red nie; en Chrestien, wat ook tot haar redding wou kom, kom op die plaas aan wanneer Alessa reeds dood is.

Die Algerynse opstand bedreig nou alle Franse wat in Algerië agtergebly het, en ook hulle werkers, wat harki’s genoem word – ’n skeldnaam vir die Arabiere wat nie aan die opstand deelgeneem het nie en steeds met die Franse saamgewerk het. Chrestien gee sy paspoort aan Liora en oorreed haar om per boot na Frankryk te vlug. So beland sy in Parys, waar sy met haar ouers herenig word. Emilio gaan al hoe gereelder na Korsika, waar hy eiendom besit, en dan gebruik Moshe die kans om by Charlotte te kom bly.

’n Ongemaklike verhouding ontwikkel tussen Liora en Odette, ’n dokter met wie sy saamgewerk het in Algiers en wat ook na Parys uitgewyk het. Odette bied aan Liora ’n woonplek en is verlief op haar, maar dis ’n besitlike liefde wat vir Liora benoud maak. Tevergeefs probeer Odette om Liora te manipuleer om by haar te bly, maar wanneer sy besef dat Liora haar nie liefhet nie, keer sy na Algiers terug. Daar sterf sy in kruisvuur tussen twee groepe vegtende Algeryne, die FLN en die Islamiste. Haar hele boedel laat sy aan Liora na.

Liora het intussen in Parys werk gekry as ’n veerpluimer. Sy besluit nou om die Klein Karoo te besoek, die plek waar Moshe met volstruise geboer het en waarvan hy haar soveel vertel het. Hierdie besluit bring die twee verhale bymekaar.

In die tweede verhaal is die bruin meisie Candice die hoofkarakter. Sy word groot in Blomnek, ’n bruinmensgebied in Oudtshoorn, en raak verlief op Walter, ’n blanke jongman wat vir die kinders konsert hou en stories vertel. Walter is ook vir haar lief, maar hul liefde is verbode, want dit is die tyd van apartheid. Wanneer Candice swanger raak en ’n miskraam kry, gooi sy die fetus in ’n puttoilet af en vertrek met die bystand van haar vriendin Maja oorsee, eers na Engeland en dan na Parys. Walter is steeds lief vir haar en weier om die verhouding te verbreek, soos wat sy pa eis. Daarom word hy onterf en gaan hy op ’n plasie woon waar hy vryelik sy skilder- en beeldhoukuns kan beoefen.

Na ’n verblyf van ’n paar jaar in Parys, waar sy modelleerwerk gedoen het, keer Candice terug na die Klein Karoo, waar sy geld verdien deur op stelte te loop en goedjies te verkoop. Dit is 1992, en apartheid is aan die verbygaan. Sy en Walter gee nog baie vir mekaar om, maar hulle word tog nie versoen nie. Candice is kwaad dat hy haar nie oorsee kom opsoek het nie, terwyl hy op haar versoek gewag het om te kom en nie druk op haar wou plaas nie. Intussen het hy wel vir haar die huisie naby Oudshoorn gekoop wat sy so lank begeer het. Twee karakters in die Klein Karoo is vir Candice ’n toevlug en ’n hulp: Maja, ’n taamlik eksentrieke kunstenares wat dit geniet om by maanlig kaal in die rivier te swem, en Jaco, ‘n simpatieke jong Katolieke priester wat hom nie aan rasseskeiding steur nie. Ook Liora word met hulle bevriend wanneer sy in die Klein Karoo kom bly.

Liora ontmoet Candice wanneer sy die Klein Karoo in ’n bus binnekom: Candice is op stelte en loer by die tweede verdieping van die bus in, waar Liora sit. Die volstruisveerwaaier wat Candice in haar hand het, skep dadelik ’n band tussen die twee. Hulle word vriende, en Liora leer vir Candice hoe om vere te pluim. Soos wat sy beplan het, besoek Liora vir Moshe, maar hy ly nou aan demensie en word deur Rosa, ’n gewese geliefde, versorg. Dan kom Charlotte ook op besoek in die Klein Karoo aan. Hoewel sy en Emilio nou permanent apart woon, kan die verhouding met Moshe nie tot volkome vervulling lei nie, vanweë sy demensie; boonop is hy Joods en Charlotte is Katoliek, en geeneen wil hul identiteit prysgee nie. Nogtans is hulle steeds baie lief vir mekaar; wanneer Moshe aggressief raak, is dit Charlotte wat hom troos, en wanneer Moshe sterf, verloor Charlotte alle lus om te lewe en sterf sy ook.

Candice is geheg aan die seun Richard, wat in Blomnek woon en deur sy wrede pa, Sylvester, mishandel word. Wanneer Candice se stelte verdwyn, verdwyn Richard ook, maar later is die stelte weer in haar huis. Skynbaar het Richard, gedwing deur sy vader, die stelte gesteel om te verkoop, maar toe het Richard tog weer die stelte teruggebring na Candice, wat hom altyd so simpatiek behandel het. Walter soek saam met Candice na Richard, maar hulle hervat tog nie hul liefdesverhouding nie. Sylvester vind vir Richard en slaan hom verskriklik.

Jaco reël een keer ’n jaar, op Goeie Vrydag, ’n prosessie wat die lydensweg van Jesus voorstel. Die prosessie wat plaasvind, bring ’n belangrike wending mee by die sentrale karakters. Candice neem deel en sorg dat vier jongmans vir Antie Moos dra sodat sy ook aan die optog kan deelneem – sy is te swak om self die afstand te loop.

Candice raak nou meer betrokke by die mense van haar dorp, van wie sy haar vroeër gedistansieer het. Jaco besluit ná die prosessie om die dorp te verlaat. Dit blyk dat hy verlief is op Candice, maar hy gee haar prys omdat hy nie tussen haar en Walter wil kom nie, en hy reken ook dat hy die Here meer heelhartig sal kan dien as hy nie naby Candice woon nie.

Ook vir Liora het ’n tyd van aflegging aangebreek. Sy het twee mense vir wie sy baie lief was, haar ma en Moshe, aan die dood afgestaan, en sy is nou bereid om die Via Dolorosa te loop. Sy is gereed vir die totale aflegging van haar vroeëre drome en verlangens; daarom besluit sy om haar veerpluimery te staak. Sy stem toe om saam met Maja en Candice by maanlig in die rivier te swem. In die jas van haar moeder gaan sy die rivier in by ’n waterval. Sy, wat in die woestyn gootgeword het, kan nie swem nie, en skynbaar stort sy by die waterval af en sink – of miskien word sy juis deur die dood opgehef en vrygemaak.

Struktuur

Die roman het ’n komplekse struktuur met twee verhale wat naas mekaar verloop en die leser se aandag op twee fronte hou. Hierdie tegniek dra daartoe by om jou nuuskierigheid te prikkel. ’n Mens wonder hoe die twee verhale, wat vir ’n lang tyd apart ontwikkel, met mekaar verbind sal word; dit gebeur eers laat in die roman wanneer Liora die Klein Karoo besoek, Candice ontmoet en haar leer hoe om vere te pluim. Die vere is een van die motiewe wat die twee verhale verbind, en die titel, Die verevrou, kan na Liora sowel as na Candice verwys. Daar is ook heelwat temas wat die twee verhale aan mekaar koppel: temas van liefde en pyn; van politieke onrus en geweld; van drome, teleurstellings en afleggings. Aan hierdie skakels sal ek die grootste deel van my bespreking wy.

Nie net is die struktuur kompleks omdat twee verhale naas mekaar ontwikkel nie, maar die struktuur word verder gekompliseer deur ’n voortdurende wisseling tussen tye en plekke. So byvoorbeeld speel die eerste afdeling in Algerië in 1948 af, en dit word gevolg deur ’n afdeling oor die Klein Karoo in 1992. Hierdie tipe tegniek, wat volgehou word, dra by tot die spanning wat gewek word. Gedurig is daar by die karakters herinneringe aan gebeurtenisse waarvan die leser nog nie die besonderhede ken nie. Liora dink byvoorbeeld aan die oorlogsgeweld wat sy ervaar het (bl 46), maar die leser weet nie wat gebeur het nie; ons vind vroeg uit (23) dat sy in 1962 na Parys moes vlug, maar weet nie wat die rede was nie. Jy kom agter dat daar iets met Liora se liggaam verkeerd is, maar weet nie wat nie – dit word eers teen die einde geopenbaar. So word die leser as ‘t ware deur raaisels aan die lees gehou; raaisels wat dan met verloop van tyd opgelos word.

Daar is ’n dubbele spanning in die intrige: Aan die een kant wonder die leser wat gebeur het, aan die ander kant wat gaan gebeur – dus ’n spanning gerig op die verlede en ook op die toekoms: Wat het gebeur? En: Wat gaan gebeur? In die laaste gedeelte staan die verhaal stil by die jaar 1992 – dié jaar kan beskou word as die vertelhede, die basiese tyd van die roman, met die vroeëre vertellings wat aan die gebeure van 1992 sy volle betekenis gee. ’n Mens moet nogal jou kop bymekaar hou met al die wisselinge van tyd en plek, maar dit help as jy agterkom Liora is in 1941 gebore, en Candice in 1966.

Politieke onrus en geweld

Die romangebeure in Algerië en Parys speel af teen die agtergrond van die Algerynse onafhanklikheidsoorlog. Om die besluite en reaksies van Liora en haar familie te begryp, moet hierdie agtergrond van wreedheid en geweld in gedagte gehou word (inligting uit Wikipedia verkry).

Die Algerynse Oorlog was ’n oorlog tussen Frankryk en Algerië, vroeër ’n kolonie van Frankryk. Die oorlog is op 1 November 1954 deur die Front de Libération Nationale (FLN) begin en het uiteindelik daartoe gelei dat president De Gaulle op 18 Maart 1962 die verdrag onderteken het wat aan Algerië onafhanklikheid besorg het. In die Slag van Algiers, wat in 1957 plaasgevind het en op bl 127 van die roman genoem word, het die Franse weermag wel ’n oorwinning behaal.

Tydens die oorlog, en selfs daarna, is ontsettende wreedhede aan beide kante van die stryd gepleeg. In 1961 het die FLN ’n demonstrasie in Parys georganiseer waaraan 30 000 Algeryne deelgeneem het. Die Franse polisie het die demonstrante uiteengejaag, 14 000 mense gearresteer en 200 doodgeskiet, van wie ’n groot aantal in die Seine gegooi is. Aan die Franse kant het 17 500 soldate in die oorlog gesterf, by die FLN 300 000. Oor die aantal Algeryne wat in die skermutselinge gesterf het, wissel die skattinge tussen 350 000 en 1,5 miljoen.

Ná die onafhanklikheid het Frankryk die sogenaamde harki’s, Algeryne wat aan die kant van die Franse was, aan hul lot oorgelaat. Die FLN het die harki’s as kollaborateurs geskou, en tussen 30 000 en 150 000 van hulle is vermoor. Sommige van hulle is lewend verbrand, ander is gekastreer of in stukke gesny, waarna hul liggame aan die honde gevoer is. Sowat 91 000 harki’s het Algerië verlaat en hulle in Frankryk gevestig, waar hulle meestal ’n armsalige bestaan gevoer het.

Dit is die geskiedkundige agtergrond van die moord op Isabella en op Alessa en haar werkers, en ook van Moshe se verwonding deur die Franse polisie.

Wat die Suid-Afrikaanse historiese agtergrond betref, is daar ’n suggestie van geweld wat hier kan uitbreek, soos dit in Angola gebeur het. Ook hier is daar spanninge wat in groepsgeweld kan oorgaan. Wanneer Liora haar ma uit Oudtshoorn bel en haar verseker dat alles rustig is, is haar ma steeds onrustig en antwoord sy: “So was dit in 1954 ook, nè, aan die begin van die oorlog in Algerië” (46). Met ander woorde, dieselfde dinge kan ook in Suid-Afrika gebeur.

Op hierdie tema word egter nie in die roman uitgebrei nie. Belangriker hier is die sistemiese geweld van apartheid. Dit plaas ’n verbod op die liefde tussen Candice en Walter; dit maak dat Candice die land verlaat en dat sy en Walter nie by mekaar uitkom nie. Die rassisme waarop die apartheidsisteem gebaseer is, laat ook op Walter sy letsels. Sy pa kap die beeld stukkend wat hy van Candice gemaak het en onterf sy seun.

Hierdie historiese agtergrond van wreedheid en geweld, in Algerië en ook in Suid-Afrika, bind die twee verhale aan mekaar en verklaar waarom daar by al die karakters so ’n sterk verlange is na troos, ontvlugting en transendensie. Almal worstel met die vraag: Hoe kan ’n mens in so ’n harde werklikheid oorleef?

Onvervulde liefde

In albei verhale speel die liefde ’n belangrike rol. Die liefde bring troos maar ook pyn; dit bring geliefdes in hul gebrokenheid bymekaar en verskaf heling. In geeneen van die liefdesverhoudings is daar egter volkome vervulling nie – onvervulde liefde en liefdesverlange is steeds die dominante aksent. Dikwels is daar ’n onsimpatieke persoon of anders ’n wrede politieke stelsel wat tussen die geliefdes kom.

Dit sien ons baie duidelik in die verhouding tussen Charlotte en Moshe. Emilio, Charlotte se man, is wel lief vir haar, maar dit is ’n besitlike liefde wat haar nie gelukkig maak nie (250). Tussen haar en Moshe is daar ’n opregte liefde, maar hy is verplig om die derde posisie in te neem in hierdie driehoeksverhouding, omdat Charlotte met Emilio getroud is. Boonop woon hy in die verre Klein Karoo en kan hulle mekaar net nou en dan sien. Verder is sy Katoliek en Moshe Joods, en geeneen wil hulle geloof prysgee nie (152).

Hulle liefde veroorsaak troos sowel as verlange. In Parys, terwyl Emilio in Korsika is, kry Moshe kans om by Charlotte te bly, en wanneer hy ernstig deur die Franse polisie verwond word, is dit Charlotte wat sy heling moontlik maak (156). Later, wanneer hulle mekaar in die Klein Karoo ontmoet en Moshe soms erg aggressief raak teen “God met sy donnerse fokken oorloë” (271), bring Charlotte hom tot bedaring. Charlotte en Emilio bly teen hierdie tyd permanent apart, maar Moshe ly so aan demensie dat volkome liefdesvervulling nie vir hom en Charlotte moontlik is nie. Tog is hul liefde die een ding wat aan die lewe betekenis gee; daarom dat wanneer Moshe sterf, Charlotte geen lewenslus meer oor het nie en ook sterf.

Liora is in verskillende verhoudings betrokke, en almal word deur onvervuldheid gekenmerk. As jong meisie vind sy seksuele opwinding en liefde by Eugenio, maar haar pa kom tussenbeide. Hy oorreed Eugenio om die verhouding te laat vaar, en die jongman swig voor sy oom se druk. Emilio is die nare persoon in hierdie verhaaldraad. Nie net skiet hy Liora se volstruis dood (uit jaloesie teenoor Moshe) en bring hy skeiding tussen Liora en Eugenio nie, maar hy is ook daarvoor verantwoordelik dat Liora se skoonheid geskend word deur die motorfietsongeluk wat hy veroorsaak. Dus word die jong liefde van Liora en Eugenio gekontrasteer met die wreedheid van Emilio, die liefdesvernietiger.

’n Besondere verhouding ontwikkel in Algiers tussen Liora en Chrestien Blanc, wie se naam hom as blanke Christen tipeer, as deel van die groep vir wie die Algerynse rebelle as vyand beskou. Hy word erg deur hulle vermink, en wanneer Liora hom moet verpleeg, word sy ontroer deur sy ellende. Sy bied dan die enigste emosionele troos wat vir haar moontlik is – sy vertel hom van haarself en skep so ’n band tussen hulle; sy ontbloot haarself in ’n figuurlike sin. En dan gebeur die wonder: Haar woorde dring tot hom deur, dit word “iets waaraan hy kan vasklou” (167). Hulle twee word lief vir mekaar, afhanklik van mekaar.

’n Aangrypende toneel volg wanneer hy haar in die nag by haar tuiste kom besoek (184–5). Hy is ontslaan uit die hospitaal, maar is nog ’n geskende persoon, sonder neus en ore, en met ’n penis wat soos labia lyk (170). Hy ontklee Liora en streel haar oor haar hele liggaam op die enigste manier wat vir hom moontlik is: met sy asem. Sy laat haar dit welgeval: “Heel naak, sonder pruik, staan sy voor hom; onbeskaamd, al is daar geen duim van haar wat sy oë nie aftas nie.” Dan trek Liora sy klere uit, sodat hy ook naak is. Hulle is albei geskendes, maar steek niks vir mekaar weg nie en aanvaar mekaar in hul verwondheid. Juis die aanvaarding versterk die liefde, en Liora streel hom dan met die mooiste en sagste ding wat sy ken: ’n waaier van volstruisvere. Hierdie verhouding, wat geen fisieke vervulling meebring nie, besit tog ’n eie heerlikheid. Wanneer die son opkom, bring dit ’n lig oor Chrestien wat simbolies as ’n tipe stralekrans geïnterpreteer kan word: “Agter hom sien sy die son opkom, maar dat ook hý verlig is. Sy verstaan dit nie, tot sy besef dit is die oggendson se weerkaatsing van die ruit af waaragter sy vir hom bly staan en kyk wat op haar Chrestien skyn” (185).

Chrestien bly dan ook getrou aan haar. Hy onthou wat sy hom vertel het van haar tante Alessa wat onveilig is op die volstruisplaas, en probeer (tevergeefs) om haar te red van die wraak van die Algerynse rebelle. En wanneer die situasie in Algiers handuit ruk, offer hy sy paspoort vir Liora op sodat sy na Frankryk kan vlug. Daarmee word hulle finaal van mekaar geskei.

Die verhale van Liora en Candice word deur die liefdestema verbind. In albei gevalle is daar ’n liefde wat nie tot vervulling lei nie. By Liora is dit ’n onsimpatieke vader en oorlogsgeweld wat liefdesvervulling onmoontlik maak; by Candice is daar ook ’n onsimpatieke vader, die vader van Walter, en die geweld van ’n onregverdige politieke bestel.

Candice word groot in Blomnek, ’n gebied vir bruin mense, en droom daarvan om weg te kom uit die omgewing van armoede (178). Dan kom Walter in haar lewe – die blanke jongman wat so mooi viool speel en stories vertel. Hy bring vir haar hoop, die hoop op ’n beter lewe, al is dit dan deur die verbeelding. Soos hy aan die kinders van Blomnek sê: “Een ding moet julle altyd onthou: partykeer is ’n mens se lyf nie waar jy wil wees nie, maar in jou kop kan jy gaan waarnatoe jy ook al wil” (55). Candice raak lief vir hom, en hy vir haar, maar dit is ’n liefde wat deur die wet verbied word. Daarom moet Candice dit geheim hou wanneer sy swanger raak, en moet sy stilletjies in ’n toilet van die fetus ontslae raak.

Hierna vertrek Candice oorsee, en vir ’n paar jaar woon sy en Walter ver van mekaar. Hulle gee wel nog vir mekaar om, maar behou nie kontak nie. Wanneer Candice na die Klein Karoo terugkeer, is die tyd van apartheid aan die verbygaan, en liefdesvervulling lyk moontlik. Candice vind uit dat Walter vir haar die huis gekoop het wat sy so lank begeer het, en boonop het hy vir die huis ’n behoorlike fondament gegrawe. ’n Mens sou dink dat versoening nou binne bereik is, maar dit gebeur nie. Die laaste wat ons van Walter lees, is dat hy Candice se huis verlaat. Vir my is die intrige hier nie volkome oortuigend nie. Waar daar in Liora se verhoudings ’n noodwendigheid in die skeiding tussen die geliefdes is, lyk die dinge wat vervulling hier verhinder, taamlik onbenullig. Dit is asof die skrywer die verhaal wou dwing om in te pas by die tema van onvervulde liefde.

Twee steunpilare

Die roman is vol teenstellings tussen goed en kwaad. Die simpatieke Moshe word gekontrasteer met die onsimpatieke Emilio; die onselfsugtige liefde van Chrestien met die besitlikheid van Odette. Twee karakters wat in die roman verteenwoordigers van die goeie is, is Maja en Jaco. Hulle is steeds daar om te help in nood; op verskillende maniere is hulle beoefenaars van ’n mistiek wat van die wêreld ’n beter plek maak.

Hoe om te oorleef te midde van ’n wrede werklikheid – dit is die vraag. Maja gee hierop ’n betekenisvolle antwoord. Sy ken die waarde van kunsbeoefening en kunservaring. Wanneer Candice by haar op besoek kom, hoor sy luide musiek wat na haar “aangestorm kom” en sien sy “verskeie esels [met] onvoltooide skilderye” (63). Maja word ook deur die mistiek geïnspireer. As dit volmaan is, swem sy naak in die rivier. Deur haar naaktheid ontbloot sy haarself; sy swem in die reinigende water en word gevul met verwondering oor die skoonheid van die maan – dit is ’n tipe natuurmistiek. Haar mistiek is egter nie wêreldvreemd nie; sy is ’n ware helper in die nood. Sy troos Candice ná haar pa se dood (177) en help haar om ná haar miskraam Engeland toe te gaan en daar huisvesting te vind. Sy gee ook verstandige advies aan Candice: ‘Die waarheid is dat jy in die wolke wegkruip eerder as om jou met Walter te versoen. Kom van die stelte af en doen wat reg is’ (64).

Jaco is bevriend met Maja – sy is vir hom “’n engel wat op my pad gestuur is” (111). Maar hy is self ook ’n engel op aarde. Waar daar nood is, bied hierdie jong priester hulp en troos – hy help byvoorbeeld vir Walter deur ’n moeilike tyd (223). Candice lê hom na aan die hart; hy ken geen rassisme nie en kom graag in die gebiede waar die bruin mense woon. Sy teenwoordigheid bring vir Candice ’n “vredigheid” (41); wanneer haar pa sterf, troos hy haar en maan haar om nie te sterk te wees nie, dit is goed om te huil (177). Soos Maja, bedien hy haar van goeie raad – hy moedig haar aan om nie te vergeet van die kinders van Blomnek nie (150–1) en sê ook dat sy en Walter by mekaar moet uitkom (151). Dit terwyl hy self op haar verlief is – maar hy dink in die eerste plek aan haar beswil.

Deur sy geloof beoefen Jaco ook ’n vorm van mistiek. Hy reël elke jaar op Goeie Vrydag ’n prosessie wat die lydensweg van Jesus gedenk; vir die deelnemers is dit ’n rituele belewing van die navolging van Christus. Die prosessie het ’n belangrike invloed op Candice en op Liora – en ook op hom. Ná die prosessie besluit hy om na ’n ander gemeente te vertrek, sodat hy, wat heimlik verlief op Candice is, nie tussen haar en Walter sal kom nie, en ook sodat hy sy Here beter kan dien. Hierdie besluit bevestig sy onbaatsugtigheid.

Simboliese motiewe

Daar is ’n aantal motiewe wat baie prominent in die roman is en dien tot simboliese ondersteuning van sentrale temas. Ek wil hier aan vier daarvan aandag gee: die skoppelmaai, die stelte, die vere en die loop op die water.

Op die voorblad is daar ’n voorstelling van Liora wat op ’n skoppelmaai ry. Dit sluit aan by die vertelling, vroeg in die roman, van hoe sy al hoe hoër swaai, “elke swaaislag hoër”, totdat sy laat los en deur die lug trek en “met ’n slag op haar maag land en winduit bly lê” (13–4). Dit is asof sy op die skoppelmaai wil vlieg, hoog bo die aarde. Dit sluit aan by Moshe wat haar herhaaldelik “engel” noem, en wat haar laat hoop dat sy kan vlieg. Maar die mens is nie ’n voël nie. Die skoppelmaai is simbool van ontvlugting uit die aardse leed, maar as jy te hoog wil vlieg, wag daar noodwendig teleurstelling. Later in haar lewe kom sy tot ’n besef van die “onhaalbare vliegery” (68). Dit is ook interessant dat Moshe sterf omdat hy “te hoog geswaai” het (272). Hy het geswaai totdat “die pendulum sy uiterste draaipunt verbysteek”. Miskien het hy, in die dood, sy diepste val, maar ook sy uiteindelike troos gevind. Sy geliefde Charlotte glo dat hy “getroos gesterf” het (273).

Die motief van die stelte kom ooreen met dié van die skoppelmaai. Albei bevat die idee van hoër wees. Wanneer Liora die eerste keer vir Candice sien, is Candice op haar stelte en kan sy by die venster op die tweede verdieping van die bus inkyk. Die stelte is, soos die skoppelmaai, ’n simbool van die begeerte om bo die aardse ellende uit te styg, maar ook van die inherente gevaar van wêreldontvlugting. Candice klim op haar stelte om weg te kom van alles waarvoor sy nie kans sien nie (161); sy wens sy kan vir ewig op die stelte bly (108). Maar om die hele tyd op stelte te bly, maak jou moeg (37) – jy moet die een of ander tyd afklim.

Simbolies beskou, neem die stelte haar weg van die mense aan wie sy verbind is. Liora is reg wanneer sy die verhouding tussen Candice en Walter op die volgende manier beskryf: “Sy bly doer in die wolke terwyl hy haar op die grond wil hê” (264). Die stelte skei haar ook van die mense van Blomnek, die mense wat haar nodig het, en haar ma verwyt haar: “Vir wat hou jy jou so uitwêrelds, doer in die lug op jou pale, weg van almal af?” (290). Dan gee Candice ’n goeie uiteensetting van die rede waarom sy so geheg is aan haar stelte: “Jy kan nie die een liefkry op wie jy jou hart verloor nie, jou vriende moet sus lyk, of só, en jou eie ma wil jou in ’n kraal ja waar jy volgens haar hoort. Dis hoekom ek my stelte nodig het, en hoekom ek op hulle gaan blý loop” (291).

Maar net na hierdie vasberade woorde val haar stelte om en sak sy plat op die tuinpaadjie neer. Dit is ’n voorteken van wat sal volg. Die seun Richard, vir wie sy baie omgee, steel haar stelte op bevel van sy pa. Nou moet Candice sonder haar stelte regkom. Saam met die stelte verdwyn Richard ook, en Candice is besorg oor hom en neem deel aan die soektog na die seun. Dit is ’n teken dat sy haar afstandelikheid begin prysgee. Tydens die prosessie is daar nog ’n teken van ’n nuwe betrokkenheid wanneer sy vier jongmans vra om antie Moos te dra sodat sy aan die prosessie kan deelneem. Antie Moos herinner haar daaraan: “Jy hoort hier by ons” (304). Candice kry later haar stelte terug, en nou is die vraag of sy weer op haar stelte gaan klim. Dit is ’n vraag wat nie in die roman beantwoord word nie; die motief het ’n oop einde.

Verbonde aan die motiewe van die skoppelmaai en die stelte is die herhaalde vermelding van die gedagte om op die water te loop, soos wat Jesus op die water geloop het. As jy op die water kan loop, kan jy nie sink nie, dit dui op ’n wonderwerk – maar dit hou ook die gevaar in dat ’n mens bomenslik wil wees, soos Liora wanneer sy te hoog wil swaai en Candice wanneer sy op haar stelte wil bly. Verlangens en teleurstelling, hoë drome teenoor harde werklikheid gaan saam in die roman. Wanneer Jaco aan Candice vertel dat die biskop hom verbied het om haar in haar woonbuurt te besoek, val hy gesig eerste in die water wanneer hy vertrek (148). Jaco behou tot die einde sy geloof in God, maar hy het sy menslike beperkinge leer ken en skryf aan Candice: “Ek probeer nie meer op die water loop nie” (307). Maar dan, wanneer Walter vir die laaste keer in die roman van Candice vertrek, sien sy hom “oor die stroom loop” (307 – my kursivering). Ek is nie seker watter betekenis daaraan geheg moet word dat Jaco nie meer op water probeer loop nie, maar dat Walter wel oor die stroom loop.

Volstruisvere is ’n simboliese motief wat help om die twee verhale te verbind. Liora word groot op ’n volstruisplaas, en as sy Candice mekaar ontmoet, het Candice ’n waaier van volstruisvere in die hand, wat dadelik ’n band tussen hulle skep. Vere is ’n sentrale motief, en dit kom reeds vroeg in die roman na vore wanneer Moshe met ’n “kosbare vrag” as geskenk uit die Klein Karoo kom – volstruisveerpluime. Alessa maak die pakkie versigtig oop, en “blinkswart pluime gaan soos ’n groot blom oop” (10). Die vere is ’n simbool van skoonheid en skoonheidskepping – vanuit doodgewone vere van ’n volstruis word iets gemaak wat die skoonheid van ’n blom het. Moshe is “die beste meesterpluimbereider in Afrika” (10); hy spesialiseer in die vervaardiging van pluime wat skoonheid en troos in ’n wrede wêreld bied. Liora besef die waarde van die volstruispluime, en sy versier op ’n keer haar skoppelmaai met volstruisvere wat sy van haar tante Alessa gekry het (95) – hiermee word die skoppelmaai- en die veremotief verbind.

Wanneer Alessa deur die rebelle aangeval word, steek Amid vere in haar wonde – dit is ’n manier om haar te pynig en te verneder. Maar die vere in die wonde verbind pyn met skoonheid. Alessa besef dit; daarom vra sy vir Moshe, wat by die plaas aangekom het, om haar te beskerm: “Hoe lyk ek vir jou met my pluime, Moshe?” Sy wil weet of sy mooi lyk; sy verlang dat Moshe vir haar moet sê: “Jy is mooi, Alessandra” (196). Met die begrawe van haar lyk word “bondels vere op Alessandra [laat val] tot daar niks meer van haar naaktheid sigbaar is nie” (199).

Hierdie verbinding van skoonheid en pyn is simbolies in ooreenstemming met die res van die roman, maar die dialoog is hier nie vir my oortuigend nie – dat Alessa, wanneer sy sterwend is, vir Moshe versoek om te sê dat sy mooi lyk met haar pluime. Ek dink so ’n versoek pas meer in ’n rustige plaaswoning as by ’n vrou met messteke wat op sterwe lê.

Die vere, soos die skoppelmaai en die stelte, hou verband met die tema van aflegging, wat aan die einde van die roman sterk na vore kom. Soos wat Jaco afstand moet doen van sy gemeente en sy geliefde Candice, en Candice moet leer om van haar stelte af te kom, so ook moet Liora haar veredroom aflê. Candice, vir wie sy leer om vere te pluim, waarsku dat daar iets egoïsties in Liora se veredroom mag wees: “Die duiwel wil hê dat jy besig is om my op te lei sodat ek jóú droom kan uitleef [...] Omdat jy nie meer self daarvoor kans sien nie” (285). Die woorde vind ingang by Liora, en sy neem kort daarna afskeid van haar vere en gee die taak aan Candice oor: “Ek is klaar met die vere, maar jy nié.” Sy trek die leerhouer se strik los, rol dit oop en lê haar gereedskapstukke bloot. “Hiermee, Candice Amat, verklaar ek jou bekwaam om pluime te berei,” sê sy en stoot die gereedskap na Candice toe.

Die finale aflegging lê nog vir Liora voor; dit kom aan die einde van haar lewe.

Liora se verliese en afleggings

Die tema van aflegging en verlies neem ’n sentrale posisie in teen die einde van die roman. Nie net neem Liora afskeid van haar veredroom nie, maar sy verloor ook die twee mense vir wie sy die liefste is: Moshe en haar ma. Sy voel dat sy by die afsluiting van haar verhaal gekom het (308). Moshe het in haar die droom gewek dat sy eendag bo die gewone mense sal sweef, “maar nou glo sy nie meer aan eendag nie”. (308). Die motiewe van die engel, die skoppelmaai en die stelte word hiermee afgesluit.

By die tema van aflegging speel die prosessie op Goeie Vrydag ’n belangrike rol. Liora voel dat die verlies van haar veredroom, en van Moshe en haar ma, haar gereed gemaak het om aan die prosessie deel te neem (299). Aan die voet van ’n Christusbeeld lees sy die teks uit Johannes 11:25: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.” Dit is miskien ’n vooruitwysing na Liora se dood. Sy word ingetrek in die Via Dolorosa en word grondig daardeur verander. Dit lei tot die aflegging van al haar laste en maak haar vry om vreugde in doodgewone dinge te ervaar: “Sedert haar deelname aan die Goeie Vrydag-optog het sy vreugde ervaar in dít wat nooit aan haar kón behoort nie: vlieswolke met die laaste sonlig daarop; ’n streep kondensasie agter ’n straler ver bo die Swartberg op pad na plekke waar sy nooit weer sal wees nie; die koel aandwindjie ná ’n snikhete dag” (308).

Nou is sy gereed om die rivierwater aan te durf. Sy, wat van die woestyn kom en nie kan swem nie (287), vertrek na die plek waar Maja gereeld swem, en Candice ook. Dit is die mooiste plek om dood te gaan, het Maja haar vroeër verseker; dit is geleë in ’n poort “halfpad tussen twee pragtige wêrelde” (286). Hiermee kry die swemplek ’n simboliese lading: Dit is ’n deurgang van een pragtige wêreld na ’n ander. Dit is hierdie deurgang wat aan die einde van die roman beskryf word. Liora, wat in Finisterre grootgeword het, kom deur die dood by haar simboliese “Finisterre” uit – die naam beteken “die einde van die aarde”. Die swem word vir haar ’n simboliese onderdompeling, ’n sterwe wat toegang tot ’n ander lewe bied.

Liora klim op tot by die waterval, tot by “die laaste krans” (312). Is dit ook die laaste krans van haar lewe, voordat sy by die waterval afval – ’n val wat miskien die voorspel tot ’n opstanding is? Sy sien ’n draaikolk van malende waters en flenters van die maan, wat die suggestie van dood versterk – die maan val as ‘t ware uitmekaar vir haar. Sy sien die maan “wat alleen die nag inseil” en dink: “Nou ek.” Soos die maan, moet sy haar persoonlike nag inseil. “Haar vingers glip van die kant los” – blykbaar val sy by die waterval af na onder. Sy doen dit omdat sy “vry wil gaan”. Sy het die verejas aan wat sy vir haar ma gemaak het, en sy blaas die kroonveertjie wat sy lank gelede van Candice gekry het, in die rigting van waar Candice na die watergat sal kom. So bevestig sy haar band met hierdie twee vroue. Die klip wat sy in haar hand geneem het, trek haar na onder, en “sy sal boontoe dryf of stadig sink” (312) – of miskien sal sy sink voor ’n finale styging? Sy asem “in en uit, in, uit”, wat die suggestie bevat van aflegging en opneem. Sy kan nie swem nie, en sy dink: “As ’n mens nie kan swem nie, verdrink jy. Dit is goed so.” Sy is gewillig om te sterf.

Dan volg verrassende woorde: “Ek het iemand liefgekry van wie ek met my laaste asem moet wegvlug” (313). Die “iemand” is waarskynlik Candice. Op bl 287 is daar ’n toneel waar sy Candice nakend uit die swemgat sien kom en die handdoek in haar hand nie dadelik vir Candice wil aangee nie – “sy wil die oomblik laat duur.” Daar is ook die suggestie van ’n erotiese reaksie by Liora. As dit Candice is van wie sy moet wegvlug, dan volg sy Jaco na, wat ook van Candice afstand gedoen het. Dit is ’n liefde wat Liora nie kan of wil bekend maak nie.

Die roman eindig met Candice wat iets op die water sien dryf “soos ’n voël”. Dit is Liora se verewaaier, “oopvlerk op pad”. Miskien het Liora uiteindelik reggekry wat in die lewe vir haar nie moontlik was nie: om te vlieg met die vlerke oop, vry soos ’n voël. In die roman word die plekname De Rust en Geluksfontein ’n paar keer genoem, name wat uitdruklik spreek van rus en geluk. Miskien vind Liora by haar dood uiteindelik die vrede en geluk wat haar haar lewe lank ontwyk het.

Slotsom

Die verevrou is ’n roman wat tegelyk ontstellend en ontroerend is. Dit bevat baie aangrypende tonele – maar miskien effens te veel tonele. Daar is episodetjies waarvan ek gedink het dit kon maar liewer gesnoei gewees het; daar is ’n oordadigheid in die intrige wat die aandag weglei van die sentrale ontwikkelinge. Voorbeelde is Moshe wat vir Jaseena skiet om haar van marteling te red, Rosa wat ’n verhouding met Moshe het en hom seksueel bevredig, Liora wat op Candice verlief raak, en die skone Isabella wat vermoor word. Daar is ook enkele onoortuigende dele, reeds genoem, soos Alessa wat mooi wil lyk met vere in haar wonde, en Candice en Walter wat net nie tot versoening kan kom nie. Die roman is soos ’n lappieskombers – daar is pragtige lappies bymekaar, maar miskien te veel, en enkele van hulle het los getorring. Dit bly egter ’n baie mooi kombers wat skoonheid en warmte bied in ’n wêreld wat dikwels koud en onbarmhartig is.

Lees ook:

Die verevrou beeld wêreld van volstruise epies uit

Die verevrou deur Jan van Tonder: ’n lesersindruk

Lesersindruk: Die verevrou deur Jan van Tonder

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top