Die verevrou deur Jan van Tonder: ’n lesersindruk

  • 4

Die verevrou
Jan van Tonder
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798170505

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

In 1997 begin Jan van Tonder werk aan ʼn roman oor die bloeitydperk van Oudtshoorn se volstruisbedryf.* Sewe-en-twintig jaar later verskyn Die verevrou en word Liora en Candice se verhaal uiteindelik vertel.

Vir lesers wat Jan van Tonder se topverkoper, Roepman, geniet het, behoort sy jongste roman ʼn waardige opvolger te wees. Soos met Roepman kom seksuele ontwaking, ongewenste swangerskap en ʼn homoseksuele verhouding weer ter sprake, maar dié keer is die hoofkarakters vroue.

Liora word groot op ’n volstruisplaas in Algerië, maar sy is nie die enigste verevrou nie. Duisende kilometers weg, in die Suid-Afrikaanse dorpie De Rust, hang Candice se bestaan af van die verkoop van vereprodukte, en per toeval kruis die twee vroue se paaie jare later danksy ʼn woordelose gesprek met ʼn verewaaier.

Beide Liora en Candice leef met hulle koppe in die wolke in ʼn poging om hulle realiteit te ontduik. Liora se skoppelmaai word ʼn simbool van haar behoefte om te vlug van haar pa en die onrus in Algerië. Candice se stelte verwyder haar van die grond en Blomnek, ʼn wêreld wat sy nie wil konfronteer nie.

Oor die bestek van 320 bladsye verskaf verskeie ander karakters kleur aan Liora en Candice se lewens. Sommige, soos Moshe Habib, speel ʼn beslissende rol in Liora en haar ma se lewens; ander kom en gaan sonder enige wesenlike indruk.

Walter, Candice se verbode liefde, het ongetwyfeld ʼn impak op haar lewe, tog is hy ʼn eendimensionele karakter met wie ek nie kon simpatiseer oor sy verliese nie. Al wat ons van hom weet, is dat hy ʼn kunstenaar is uit ʼn ryk, wit familie. Liora se kortstondige minnaar, Chrestien Blanc, maak ʼn vinnige verskyning, terwyl Odette, Liora se minnares, probeer vastrapplek kry in die storie, maar vinnig vervaag weens haar knaende drang om aandag.

Die roman dek ʼn ambisieuse verskeidenheid onderwerpe en omgewings wat moontlik die aandag kan aftrek van die ontwikkeling van stewiger karakters. By tye het dit gevoel of daar te veel potensiële storielyne en karakters is wat my met onopgeloste vrae gelaat het.

Daar word byvoorbeeld gesinspeel op Moshe se biologiese verwantskap met Liora, sy “engeltjie”, maar dit word nooit duidelik bevestig nie. Ook Liora se skynbaar abnormale seksuele ontwikkeling word aanvanklik deur haar ouers bespreek, maar eers laat in die roman duik dit weer op. Die verwagting word verkeerdelik geskep dat dit ʼn belangrike deel van die storielyn gaan uitmaak, maar dit word ʼn syspanstorie wat die pad ook byster raak soos Liora se pa se motorfiets.

Die leser reis saam na die plaas, Finisterre, na Algiers, De Rust, Parys en Oudtshoorn en leef die politieke omstandighede en oorlog in Algerië, Frankryk en Suid-Afrika in die 1960’s en vroeë 1990’s mee. Hoewel die roman tussen dekades rondspring, is daar aktuele raakpunte wat in 2018 ook relevant is, onder andere godsdienstige onverdraagsaamheid en rassespanning.

Berei jouself ook voor op ʼn paar gewelddadige tonele en ʼn sterk fokus op die vroulike anatomie en seks. In sommige gevalle is hierdie gedetailleerde beskrywings belangrik vir die storielyn. In meer gevalle voel dit onnodig en kan die leser met rede wonder of dit nie bloot vir sensasiedoeleindes is nie.

Die verevrou is nie ligte leesstof nie, en dis goed so. Nie alle romans hoef lig en donsig te wees nie. Ons het nodig om, soms onder protes, uit ons gemaksones gesleep te word.

* Bron: https://af.wikipedia.org/wiki/Jan_van_Tonder

  • Sonja van der Westhuizen het, voordat sy NB-Uitgewers en PEN Afrikaans se resensiewerkswinkel by die US Woordfees 2019 bygewoon het en as deel van haar deelname aan hierdie werkswinkel, haar indrukke van Jan van Tonder se Die verevrou geskryf.

  • 4

Kommentaar

  • Henning Janse van Vuuren

    Dit sal ʼn ramp wees as beuselagtigheid soos ‘appropriasie’ ʼn kunswerk soos Jan van Tonder se 'Die verevrou' verhinder. Die skrywer verleen ʼn kragtige stem aan verskillende ras, geslag/gender en ouderdom. Die milieu strek oor anderhalf eeu van oseaan en woestyn tot in die Klein-Karoo waar die verhaal as vlinder vlerke oopvou. Die boek is ʼn drama (Bildungsroman) en die hoofkarakter, Leora Papalato, se intrige word met skalpel tot die been gesny. Ek oordryf geensins as ek sê die skrywer is ʼn plumassier van wêreldgehalte nie. Volstruisveer en stelt dien as metafoor vir ontvlugting en herinner my aan Ikarus (Pieter Bruegel) se veervlerke en hoe ʼn kind voor jou oë uit die hemel in die see kan val en verdrink. Die lewe is so onstuimig soos die see en om kop bo water te hou, moet jy kan swem. ʼn Verskeidenheid karakters kom aan die bod en elkeen speel sy rol met oortuiging en substans ‒ verdere inmenging deur newekarakters sou onnodige sub-plot skep en die fokuspunt toewasem.

    Ek lees in ʼn boekie oor psigopate deur Kevin Dutton: “... it should also be remembered that the marriage between neuroticism and creativity is an enduring one. Some of art and literature’s greatest offerings down the ages have been mined, not in the shallow waters of the brain’s coastal perimeters, but in the deep, unchartered labyrinths of the soul.”

    My punt is net, die storie kom van ver af - dankie Jan van Tonder.

  • Lizanne Kruger

    Fantasties! Ek "sien" elke toneel. Geografiese verwysings slim gedoen. Die "ek-kan-nie-boek-neersit-nie"- effek is daar! Heelwat gewelddadige situasies, maar respekvol en briljant uitgebeeld.
    In Van der Westhuizen se resensie word Liora se lesbiese verhouding met die dr. genoem, maar ongelukkig in die boek kom mens dit nie juis agter nie. Haar en haar pa se ongeluk is ook net as iets verbygaande aangebied.
    Maar ek het myself ingeleef en was dit n wonderlike boek om die vakansie op Hentiesbaai se strande te lees!

  • Diana v heerden

    'n Boek wat jy net nie kan neersit nie - dit boei die leser van die begin tot aan die einde.
    Was baie teleurgesteld toe ek besef ek is op die laaste bladsy. Nogal gehoop vir versoening tussen Candice en Walter ...
    Die boek behoort aan my matriekseun - hul voorgeskrewe boek.
    My kind kon nie glo toe sy ma dit in 'n dag klaar gelees het nie ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top