Die verevrou
Jan van Tonder
Uitgewer: NB-uitgewers
ISBN: 9780798170505
Na ses jaar verskyn daar weer ’n roman uit die pen van Jan van Tonder: Die verevrou. En watter epiese verhaal is dit nie!
Die verevrou vertel twee verhale wat afwisselend maar gelyklopend vertel word, naamlik die verhale van Liora Papalato en Candice Amat. Saam met hierdie verhaallyne wat oor twee sterk vrouekarakters handel, is daar die verhale van ander sterk maar ook weerlose vrouens: Liora se ma, Charlotte; haar tante, Alessandra; die doktersvrou, Odette; die skilder, Maja; Candice se ma. Die verevrou is Liora Papalato, wie se verhaal van bykans 40 jaar vanaf Algerië na Parys na Oudtshoorn aan die leser vertel word, maar dit is ook die verhaal van Candice Amat. Dit is in De Rust waar die twee verevrouens se lewens ineengevleg raak.
Die roman begin in 1948 in Algerië en eindig in 1992 in De Rust. Die verhaal van Liora begin in 1948 op Finisterre, ’n volstruisplaas in Algerië. As jong kind neem sy kinderlik die wêreld om haar waar, maar bly naïef onbewus van die bedreiging en gevare van die oorlog en geweld wat op haar en haar familie wag. Die eerste gedeelte fokus op die verhouding tussen haar pa, Emile, van Korsika en haar Franse ma, Charlotte en die Joodse man van Oudsthoorn, Moshe. Liora se verhouding met haar pa is nie goed nie en Moshe is meer die pa-figuur in haar lewe – die rede waarom sy dan later na Oudtshoorn reis. ’n Ander belangrike karakter is haar tante, Alessandra, wat met die vere werk en dit voorberei – wat later, ten spyte daarvan dat sy ’n gewelddadige slagoffer word van die geweld wat in Algerië uitbreek, tog ’n sterk karakter bly. Liora werk later as verpleegster midde-in die gewelddadige tydperk in Algerië en moet in 1962 na Parys vlug, waar sy haar daarop begin toespits om as pluimbereider opgelei te word.
Candice se verhaal begin in 1976 in De Rust – ook in ’n volstruisomgewing, waar haar pa op volstruisplase werk. Sy raak, nes Liora, ’n tipe van ’n verewerker en ondergaan ook hartseer op vele gebiede, maar as gevolg van die feit dat sy verlief raak op die wit seun, Walter, gaan sy oorsee. Sy keer later terug na De Rust en maak vereprodukte wat sy aan toeriste verkoop. Die raakpunt tuusen Liora en Candice se verhale is die volstruisvere en dit lei tot ’n vriendskap wat alle grense oorskry. Tog verwoord Candice die belangrikste verskil tussen hulle: “Jy moet net weet dat ek nie Liora Papalato is nie – ek wil my eie goed ontwerp en maak, nie die verlede herhaal nie.”
Die roman oorspan bykans 40 jaar se vertelling wat belangrike historiese gebeure insluit en kontinente oorbrug. Van Tonder slaag meesterlik daarin om die historiese gebeurtenisse beeldryk en emosioneel te beskryf en is nie bang om die gewelddadigheid – veral teenoort vroue – te verwoord nie. Daarmee skakel Van Tonder met een van die temas van die roman: geweld, en veral geweld teenoor vroue – ’n tema wat vandag nog steeds relevant is. Ander belangrike temas is kwesbaarheid, liefde in al haar fasette, ouer-kind-verhoudings, paternalisme en seksuele identiteit. Die tema van vlug is ook ’n belangrike motief in die roman: Liora en haar ma vlug van Finisterre af; Liora vlug later Parys toe; Candice vlug Londen toe; en karakters soos Candice en Walter vlug selfs weg van mekaar.
Die verskillende ruimtes wat Van Tonder ontgin, dra by tot die veelvlakkige verhaal. Die oorbrugging van die kontinente word meesterlik uitgebeeld: van die dorre Sahara met sy warm sirokkowind (“uur na uur, nagdeur hou dit aan, met die wind wat so erg aan die vensterhortjies en dakplate stamp en pluk dat dit klink of dit gaan losskeur en wegwaai”) tot die beeldryke en skone Parys, tot die droë Karoo en die majestueuse Meiringspoort (“Die kloof vernou steeds, met bruin en geel en blou en oranje kranse weerskante van die pad”). Die ruimtes ondersteun die karakters en die tematiek en dra by tot die ontknoping van die verhaal.
’n Ander belangrike motief in die roman is die beeld van geskende liggame soos vergestalt deur Liora self, maar ook Chrestien en Maja. Nog ’n deurlopende leitmotief en interteks is Albert Camus se Die pes – wat later vergestalting kry in die oorlog en anargie in Algerië, maar die boek bring veral vir Liora troos wanneer sy ten slotte ’n afsluiting van haar eie verhaal vind: “Sy wat gebore is in ’n land sonder voorvaders en sonder geheue, sy met haar passie vir die lewe wat nou met die dood gekonfronteer word; sy wat nou voel hoe die lewe en jeug en mense haar ontglip.”
Dan is daar die motief van die swaai wat vanaf die voorblad en die eerste bladsy in die roman belangrik is tot die einde van die roman: “Sy vergeet om haarself te maak swaai en elke swaaislag word kleiner totdat sy skaars nog beweeg”; “Sy vlug na die skoppelmaai waar sy gaan sit en met bewende hande ’n sigaret opsteek”; en “Moshe staan op die skoppelmaai, buig sy bene, maak reguit. Buig.” Dit vind sy teenpool in die stelte wat Candice dra: “As jy dan so gelukkig is, vir wat hou jy jou so uitwêrelds, doer in die lug op jou pale, weg van almal af.” Die swaai en die stelte is beide motiewe van ontsnapping en wegkom van die realiteite.
Die verevrou is ’n epiese verhaal van bevryding wat waarskynlik in die slottonele ’n hoogtepunt bereik met die religieuse element van die Goeie Vrydag-optog waarin daar genesing vir etlike karakters kom: moontlike versoening tussen Candice en Walter en vir Liora: “Sedert haar deelname aan die Goeie Vrydag-optog het sy vreugde in dit wat nooit aan haar kan behoort nie” totdat sy bevrydend in die swempoel “oopvlerk op pad” sweef bo almal uit soos Moshe aan haar as kind gesê het: “Eendag sal jy bo ons klomp gewone mense sweef, my engel.”
Jan van Tonder se oeuvre bereik ’n hoogtepunt met Die verevrou. Dit is ’n moet-lees vir diegene wat van verweefde karakters en storielyne en motiewe hou.
Kommentaar
Het dieselfde gewaarwording ervaar, baie goed vewoord!