Lesersindruk: Die verevrou deur Jan van Tonder

  • 0

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het.

Titel: Die verevrou
Skrywer: Jan van Tonder

Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780798170505

Daar is, soos dikwels met goeie boeke die geval is, ’n interessante mengsel van kritiek op Die verevrou. In ’n lesersindruk skryf Sonja van der Westhuizen byvoorbeeld op LitNet dat die boek “’n ambisieuse verskeidenheid onderwerpe en omgewings [dek] wat moontlik die aandag kan aftrek van die ontwikkeling van stewiger karakters”. Daar is “te veel potensiële storielyne en karakters … wat my met onopgeloste vrae gelaat het.”

Daar steek vir my ’n mate van waarheid in Van der Westhuizen se kritiek. Wat gesê word, kan nie eenvoudig net weggewens word nie. En tog is daar baie boeke wat so wemel van karakters. En net soos Van der Westhuizen, is ook ek, alles in ag genome, einde ten laaste heel tevrede met Die verevrou. Op die laagste punt van die kurwe van kritiek sou ek sê dat ek al baie erger gesien het. Op die hoogste punt sou ek sê die boek is ’n lekker eksotiese roman. Dit is geskryf uit die oogpunt van die vroue – uit eie reg lekker verfrissend en indrukwekkend, gegewe dat skrywers heel dikwels uit die oogpunt van hulle eie gender skryf, en dat die skrywer ’n man is. Hoewel daar moontlik te veel karakters is, is dit duidelik wie die hoofkarakter is: Liora, wat op ’n plaas in Algerië grootword. Die storie speel af in Algerië, Suid-Afrika en Frankryk. Dit maak dit uit die staanspoor eksoties. Algerië is ’n plek waarvan die meeste van ons as Afrikaanse lesers nie juis iets weet nie. Volgens Van der Westhuizen is die verhaal ook dalk soms sensasioneel seksueel en gewelddadig eksplisiet – dit was egter glad nie my ervaring van die boek nie.

In Suid-Afrika wentel die storie rondom Oudtshoorn en die volstruisverebedryf. En met die prys van petrol vandag is selfs Oudtshoorn ook maar ’n eksotiese plek vir die deursnee-Suid-Afrikaner – tensy jy dalk self in daardie omgewing woon, of dalk welaf is en kan petrol koop soos jy wil. Die verhaal spring rond tussen die verlede en die hede, en skynbaar ook heel arbitrêr. In Algerië woed ’n bloedige oorlog, waarby Liora betrokke raak. Sy leer egter later die kuns om volstruisvere te bewerk. Heelwat besonderhede van hoe die verhaal ontvou, vloei uit die kinkels van die verhaal, wat mens nie hier wil verklap nie, maar dit word uiteindelik duidelik dat die hoofkarakters hulleself almal met ’n plan in Suid-Afrika in die 1990’s kom vestig.

Dit is hier in Suid-Afrika waar die mees menslike aspek van die verhaal vir my inkom, en waar die storie werklik momentum begin kry. Sonder om die storie te verklap kan mens sê dat dit wat in Suid-Afrika afspeel, glad nie is wat die karakters in gedagte gehad het toe hulle hierheen verhuis het nie. So is dit mos in die lewe – dat die mens planne beraam en die toekoms visualiseer, maar dit speel heeltemal anders uit as wat ons ooit verwag. So was dit ook in Die verevrou.

Hierdie boek gaan nog baie golwe veroorsaak. Ten spyte van die geldige kritiek wat teen die boek bestaan, is dit ’n aangename, verfrissende verhaal. Dit is miskien so dat die karakters nie sterk genoeg ontwikkel nie. Die storie is moontlik te vlietend geskryf. Maar deurdat die verhaal nie drentel nie, word die leser se aandag dalk beter behou. So sal mens in sirkels kan redeneer oor hierdie boek. Ek kan net namens myself praat – ek het die boek boeiend en heel stimulerend gevind. Die verevrou bied iets ongewoon in Afrikaans en geniet reeds ’n groot aanhang onder heelwat lesers. Ek het geen twyfel dat dit nog in baie lesers se harte sal inkruip en lank onthou sal word nie.

Lees ook:

Die verevrou deur Jan van Tonder: ’n lesersindruk

Die verevrou beeld wêreld van volstruise epies uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top