Aanspreeklikheid: ’n onderhoud met Jaco Fouché

  • 2

 

Aanspreeklikheid
Jaco Fouché
Human & Rousseau
ISBN: 9780798178334



Jaco Fouché praat met Naomi Meyer oor sy boek Aanspreeklikheid, wat in 2018 naaswenner was van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd.

NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2018: Wenners aangekondig

Jaco, baie geluk met hierdie aardskuddende boek. Aanspreeklikheid is ’n misdaadroman in murg en been. Terwyl ek dit gelees het, het ek gedink: Kan enigiets in hierdie land oplaas iets anders wees? Die timbre van spanning, alomteenwoordig, selfs snags op die radio. Wat is jou gevoel?

Dankie, Naomi. Ek moet bieg dat ek erge publikasieberou gehad het na die verskyning. Was spyt oor alles en nog wat wat in die boek staan. Miskien vra ’n mens jou met die skryf van ’n storie af: Is ek en my donkerte orraait? Ek dink ook aan “verkennende veralgemenings”, dit wil sê die manier waarop ’n mens ’n scenario aanbied om te hoor wat ander mense daarvan dink, omdat jy glad nie gerus is oor jou eie opinies nie. Ek bedoel, ek is wit en Afrikaans en oor die vyftig jaar oud en het sekere idees in my kop. Ek kom tog sekerlik met baie bagasie na ’n kunspoging? Dis nodig dat ek uitvind wat mense dink van my moontlik verwronge blik op die lewe.

Ek dagdroom dat ek iets skryf wat uitstyg bo al hierdie dinge wat ons so vrees en ons so besig hou. Of dit kan, weet ek nie. Het te min politieke insig. Ook word ek te meegevoer deur dingetjies. I miss the forest for the trees. Eintlik verkwis ek baie tyd deur te knies en te kwel oor dit wat ek nie kan verander nie. Maar ja, daar skryf ek toe iets oor die misdaad en moord en geweld en agteruitgang wat so baie mense pla. ’n Misdaadroman. En dit voel uiteindelik na heel die regte boek vir die tyd.

Jou hoofkarakter is skrywer, onbetroubare getuie, slagoffer en misdadiger. Is jou hoofkarakter, Jaco, ook jy, Jaco? Ek weet dis ’n onregverdige vraag.

Ja, hy is ek. In voornaam, in sy preokkupasie met Fouché, die minister uit Napoleon se tyd, in sy negatiewe emosies. Nie in daad nie, wil ek sê, maar in gevoel. Ek het nie moord gepleeg nie, maar die sterk gevoelens wat ek probeer uitbeeld, dit ken ek maar te goed. Ken jy Mark Gungor, die motiveringspreker? In een van sy praatjies oor die huwelik sê hy mans ervaar een of twee emosies in ’n dag, maar ’n vrou beleef ’n honderd. Ek is dan soos ’n vrou, want my gevoelens speel wipplank met my. Daarby kom vlae paranoia, en saam met die vrese en woedes het ek dit als in die boek probeer plaas.

Ook is die boek in die eerste persoon geskryf en daar is heelparty besonderhede uit my lewe in: skryf, Hermanus, Bellville. Dis ’n selfportret, maar soos deur iemand wat grafiese romans teken.

Aanspreeklik het natuurlik ’n ander betekenis as “skuldig”. Uit regsoogpunt, maar ook soos wat mens dieper en dieper in die verhaal en die land se alledaagse, daaglikse narratief ingrawe. Waar het die titel begin, en die eerste toneel?

Die titel was eers Die aandadigheid. Toe vra my vrou Lorraine se ma my oor die boek uit. Ek vertel dit gaan oor iemand wat deel voel van die misdaad en verval om hom. En sy sê, nee, dis nie aandadigheid wat ek beskryf nie, dis aanspreeklikheid. Maar dit het wel ’n regskonnotasie: misdaad wat gestraf moet word. Aanspreeklikheid vir jou optrede as burger in ’n regstaat. Vrae oor die doeltreffendheid en selfs relevantheid nog van daardie regstaat.

Die eerste toneel het na my gekom soos ’n paar stories nou al gekom het, as ’n reaksie op die lewe in ’n woonstelblok. Hier woon verskillende soorte mense. Hier was al baie drama in die twaalf jaar wat ek saam met Lorraine is. Dis egter ’n wonderlike plek ook, waar ons al spesiale tye saam met mede-inwoners gehad het. Maar in ’n misdaadroman sal ’n mens op misdaad fokus – vandaar die eerste toneel.

Hermanus (foto: Pixabay)

Die rat verwissel aan die einde van afdeling een. Eers was daar nog hier en daar gemoedelikheid wat soos son deur die wolke op Hermanus se see val. Maar hier verander die toonaard. Nie van majeur na mineur nie; hierdie is ’n baie kontemporêre komposisie. Die gedagte is nie om te sus en te streel nie. Het jy hierdie manuskrip eers neergesit en ’n paar maande laat lê voordat jy kon terugkeer? Hoe keer mens terug na ’n manuskrip ná ’n afdeling soos afdeling een? Of maak mens soos ons almal in die land, soos jou karakter ’n paar keer uitwys: Ons gaan maar aan?

Die weergawe vir die kompetisie het in drie fases gekom: vier maande se werk voor ek daaraan gedink het om die boek in te skryf, toe twee maande, toe weer so twee maande. Ek het die karate-dele in ’n ander weergawe gehad en wou dit weer gebruik, want ek was as kind mal oor die sportsoort en wou weer daarmee speel, al was ek die wêreld se lompste karateka.

Die eerste deel het ek stadig geskryf. Ek het nog rondgevoel vir die storie, dalk daarom die gemoedelike toonaard en die afdraai na besienswaardighede. Daarby wou ek Hermanus ’n bietjie vertoon. Soos jy noem van die wolke op die see, is dit ’n mooi plek hierdie. Behalwe die see is daar ook die berg om in te stap, maar nou ja, dis deesdae oral gevaarlik. Op ’n stadium is mense in die berg aangeval, soos ook op die seepaadjies gebeur. Dink darem dinge is nou weer stil. Maar dan hoor ’n mens weer van bejaardes wat op straat aangerand word, soos pas twee weke gelede. Die foto’s van ’n bebloede oom maak ’n mens kwaad. Jy kan nie anders as om ’n bitter verhaal te skryf nie.

Die manuskrip het ’n paar keer gelê, ook na die kompetisie. Die deel in Bellville was eers baie lank en het ’n privaatspeurder en die kroeg Jake’s Place bevat. Ook het ek die nuwe weergawe van die hele boek so oorgeskryf dat dit 167 000 woorde lank was – volgens die uitgewer ver te lank en uitgerek. Ek het daarna volgens lesersvoorstelle veranderings aangebring. En toe ek eers die karategegewe begin ontgin, was ek bly oor die nuwe rigting. Maar dit als het lank geneem. Op ’n stadium moes ek vir ’n paar maande die skryfwerk heeltemal laat staan, wat die eindproduk se maak uitgestel het. Ja, soos jy sê, ons gaan maar aan. En die een of ander tyd is jou boek klaar en die ding is 66 000 woorde lank, waarmee ek seker tevrede moet wees.

Reg aan die begin is jou karakter nog onseker oor sy eie medepligtigheid. Maar nou is ek kwaad as ek die openingsparagraaf lees, want hy het toe al geweet, vooraf, dat hy aanspreeklik sou wees. Aandadig. En tog, hier begin dit onskuldig en onseker. En glashelder en trefseker:

Ek skat ek is aanspreeklik. Dis ’n lastige vermoede, die soort wat ’n mens voortydig met verwagtinge na verpligting opsaal, en tog ook die soort gedagte wat nie vreemd behoort te wees vir ’n vyftigjarige man nie. Met die jare stapel die slegte gevoelens op, saam met die slegte herinneringe. Eers het ek nie so gedink nie. Ek was maar net ’n getuie van die lewe, ’n gemaklike omstander, spesifiek in hierdie geval bloot iemand in die omgewing van die tipe gebeurtenis waarmee die wêreld redelik bekend is, niks meer nie. Maar nou word ek meer en meer onseker oor my rol. Om tot bedaring te kom lees ek Spreuke. En sien uit na koeler dae en dan die winter.

Ja, die vuilgoed. Hy weet van sy medepligtigheid. Maar hy wil nie sy hart teenoor sy leser oopmaak nie. Die gegewe het nogal moed geverg om te skryf. Ek wou doelbewus die selfportret inbou om kommentaar oor skryf te lewer soos ek dit ervaar, en ek wou oor die negatiewe emosies skryf, maar ek was lugtig oor die moordgegewe. Jare en jare terug in Huisgenoot was daar ’n artikel oor ’n Russiese misdaadskrywer wat briljante moordtonele geskryf het. Toe kom dit uit hy het werklik die moorde gepleeg en dit dan neergeskryf. Stranger than fiction. So my skrywer is self so half misleidend, miskien.

Kon jy jou hierdie tyd indink toe jy die boek geskryf het? Dink mens jou altyd ’n ander tyd in ten tye van die skryf van ’n boek? Maar gaaf, hierdie een dan, spesifiek. Die boekebedryf soos wat dit is. Die soort stories. Die geldelike impak. Die geweld wat nog meer toegeneem het, toe daar in jou boek nog net "loom rewolusies is wat die post-Apartheid-Suid-Afrika kenmerk".

My boek se atmosfeer kom uit die laaste Zuma-jaar of wat. Toe het dinge reeds glad nie goed gelyk nie, maar natuurlik nie soos nou nie. Toe Cyril Ramaphosa die leisels oorneem en almal so verlig voel, het ek gedink: Wel, dis dan dit vir my boek se geloofwaardigheid: nou is dit verouderd. En ek het gehoop miskien kan mense goedgunstiglik daaraan dink as ’n foto van die Zuma-denkklimaat. Het my hoegenaamd nie hierdie tyd ingedink nie. Maar natuurlik kon enige mens in 2017 en vroeër voorsien dat die revolusie lank nie verby was nie. Dalk wou ’n mens nie so ver dink nie.

Tog vreemd om hieroor te praat. Dit voel asof ek ’n kans waag, asof ek voor stok gekry gaan word vir politieke inkorrektheid. Want ek verbeel my dis ’n baie witmenskyk wat ek het. Hoe sou ’n bruin skrywer die boek geskryf het? Sou hy dit dalk “Ons tyd” genoem het en ’n baie positiewer ervaring neergepen het? Party dae wonder ek of ek my eie vooroordeel en bevoorregting eenvoudig nie raaksien nie.

Oor die boekebedryf kan ’n mens nie uitgepraat raak nie. Iewers op een van die ou LitNet-platforms se SêNet behoort nog ’n brief van my te sit waarin ek iets noem oor die skryf van ’n Afrikaanse psycho wat sou gaan oor ’n skrywer wat mededingers of rolspelers afmaai of iets, ek kan nie meer onthou nie. So die idee kom al ’n ruk by my aan.

Jy praat van die geldelike impak. ’n Skrywer soos ek moet natuurlik dankie sê vir die misdaadskrywers en die liefdesverhaalskrywers en soortgelyke mense, want dit is hulle goeie verkope wat my toelaat om ’n soort loopbaantjie te volg, buitenissig soos dit miskien is.

“Haar gelaatstrekke bly vir my wit, onkundige oog, adellik lyk.” So slim verwoord, in hierdie dae waartydens gesprekke handel oor kulturele toe-eiening (wel, voordat gesprekke oor die virus bygekom het). Is daar dan hoegenaamd ’n ander vertrekpunt as die eie? Hoe skryf mens nou oor die Ander? Sonder om te Other? Kan dit, kan dit nie?

Om aan te sluit by die vorige antwoord, moet ek sê dat ek self wonder oor toe-eiening. Ek het ’n jeugverhaal, Somer, uit die oogpunt van ’n bruin seun probeer vertel. Mag ek dit doen? Eintlik dink ek ja, ek mag. En dis nie net dat ek mag nie, dis belangrik dat ek moet. Ek moet na ander mense kyk en hulle probeer verstaan. Daar is ’n wonderlike aanhaling in Graham Greene se een outobiografie dat ’n skrywer homself in die vel van ander mense moet kan plaas. Dit gesê, is dit natuurlik die goeie reg van die ander mense wat uitgebeeld word om kommentaar en kritiek te lewer. Dis net so belangrik. Dis ’n proses van wisselwerking en leer. Eendag kan iemand dalk genoeg weet om ’n boek te skryf wat die hele spektrum sonder vooroordeel of onkunde van enige aard verteenwoordig.

En hoe eienaardig dat ons al eeue saam aankom in dieselfde land en mense probeer mekaar nou leer ken? Ek dink party bruin en swart mense lag hulle papies vir die wit mense wat nou, asof vir die eerste keer, die gemene grond ontdek.

Ek het ook al meer as een storie met ’n vroulike hoofkarakter geskryf en glo ’n mens kan oor die Ander skryf. Dis goed vir die eie ek om jou in ’n heel ander gedaante in te dink.

Jou karakter se leuens reg van die begin af ... Hoor hier: “Soveel omtrent die saak is onduidelik vir my, wat swak is vir ’n skrywer, maar ek het nie die moed om ondersoek in te stel nie en tot dusver nie die drang om betrokke te raak nie.” Maar jou karakter stel ondersoek in; jy luister alles af, beloer die omgewing, gee dit woordeliks weer. Jy raak betrokke, want jy is nie heeltemal los van waar jy jou bevind nie. Nou is dit nie meer net “jou karakter” nie. Dis jy. Kan jy die twee skei – die karakter en jy self?

Soos ek sê: Ek het erge publikasieberou gehad. Ek het laas met my eerste boek so gevoel. Die uitgewer het indertyd vir my gesê, toe die boek drukkers toe gaan: “Nou gooi ek jou vir die wolwe.” Ek het nie heeltemal verstaan wat hy bedoel nie, maar ek onthou dat ek in die laaste maand of twee voor publikasie weemoedig gevoel het omdat ek geweet het dinge sou verander vir my. Hoe erg dit sou wees, het ek nie geraai nie. Daardie hele bisarre ding van in ’n kantoor probeer werk as ’n klerk met ’n lae posgraad terwyl daar ’n onderhoud met jou in De Kat is, het my ondergekry. Bekendheid is bedenklik.

En Ryk van die rawe was nie ’n ligte lees nie. Dit was ’n boek wat sommige mense met weersin gevul het. Ek moes meer as een keer verduidelik dat ek nie regtig in Londen sulke mense soos Black Edna ontmoet het nie. Ek het ook niemand verkrag nie. ’n Speurder wat ons ken, het my uitgevra oor die manier waarop Cathy se lyk in die uitgrawing agter die Blue Parrot begrawe is. Daardie boek het gegaan, onder meer, oor misoginie en manlikheid. Dit wou ek uitbeeld en dit wou ek straf, so ’n korrektief in my gedagtes aanbring. Maar ’n gedagte-eksperiment is tog iets vir die verstand, nie vir jou eie biografie nie. Of dis hoe ek redeneer het. Mense is soms erg wantrouig oor jou, veral as jy so naïef en onskuldig voorkom soos ek blykbaar het, maar sulke wilde tonele prakseer.

As skrywer is ’n mens jou karakter ook. Ek wou myself nie in Ryk van die rawe of Aanspreeklikheid distansieer van misdaad nie. Dit sou oneerlik wees, aan die een kant, en aan die ander kant sou ’n derdepersoonvertelling na ’n apologetiese benadering gelyk het, so ’n flou, onwaarskynlike ding.

Dit moenie nodig wees vir ’n skrywer om te sê: Ek is nie soos die karakter nie. En terselfdertyd is jy natuurlik inderdaad soos daardie maaksel van jou. Jy plaas jouself in die vel van iemand wat seker boos is. Jy lig jou eie boosheid na die lig en staar deur die dun porselein na die son.

Praat met my oor die proses van jou skryfwerk: Is dit soos wat jou karakter skryf? Ek is jaloers op hom en op sy tyd (aanvanklik, voor die einde van deel een). Maar skryf is nie net iets wat werk soos met ’n kassetspeler nie, is dit? (Jou karakter sal verstaan wat ek bedoel – ek sien hy’s vyftig; vra hom oor kassetspelers.) Mens sit dit nie net aan en af nie. So, kom die skryf vir jou (of vir jou karakter) maklik – of moeisaam? Soos met die afloer van die ander karakters in die woonstelblok. En al die ander, later. By nagklubs, in die hospitaal, te midde van die karate, in strate van Durbanville. Hy kan dit nie verhelp nie. Hy blom nou maar waar hy geplant is, soos hy sekerlik Bybels sou aanhaal.

Ek hou van daardie “blom nou maar waar hy geplant is”. Hy is ’n passiewe karakter. Hy laat dinge met hom gebeur tot hy self van tyd tot tyd optree, en dan drasties. Ek het self ’n ding dat ek geneig is om te lank te wag voor ek tot aksie oorgaan. En dan, op ’n dag, as ek weer sien, trek ek van Bloemfontein af Hermanus toe en hoop maar ek doen die regte ding.

Nee, dis nie soos ’n kassetspeler nie. Oftewel, as ’n mens so begin opneem, sit jy gou met hoeveel bladsye wat nie mooi bymekaarkom nie. Vroeër jare, veral voor ek begin publiseer het, het ek met ’n swart Croxley-notaboekie en pen rondgedwaal en oral gaan sit en aantekeninge maak oor lig en wind en temperatuur en mense om my. Ek is deesdae te selfbewus. Maar ek het nog so tien van die boekies met inligting oor treine en restaurante en die Tuine en so aan. Daarby dink ek het ek geleer om meer gekonsentreerd te skryf. Dis nie nodig om ’n hele toneel in fyn besonderhede te beskryf nie; dit lees te moeilik. Skets die affêre in minder woorde. Wel, eintlik probeer ek deesdae meer plotgedrewe werk. Dit bly ’n leerproses. Storie-vertel is nie maklik nie.

Ja, my karakter het tyd, en ek seker ook, maar ek moet sê noudat ’n paar tydskrifte toe is weens die inperking, het ek te veel tyd en te min opsies. Ek sou nie die lewe van ’n wandelende vryskut aanbeveel nie, tensy jy nie bevoeg is om in kantore te oorleef nie. Ek het daarmee gesukkel, erg ook. Nou gaan dit rustiger. Praat ek met programmeerders wat ek nog van Bellville af ken, val dit my op dat ek ’n minder stresvolle lewe as hulle het, maar ek het ook nie die mooi kar en die huis en die gereelde vakansie in ’n eksotiese plek nie. Hulle verseker my ook daar is verskuilde frustrasies.

Jou boek is profeties. Jy skryf oor die tyd voor Covid. Toe was daar reeds protes in die strate, bande wat brand, krake in die samelewing. (Die krake is nou klowe.) Jou bevoorregte hoofkarakter ry verby, neem teësinnig waar. Hy vermy oogkontak (maar dis nie ’n onbetrokke waarneem nie – dit kan nooit wees nie).

Ek is natuurlik sterk in die versoeking om die profetiese mantel om my te hang. Maar dis veels te ambisieus. In werklikheid is ’n boek die produk van persoonlike patologie. Selfs Orwell se 1984 was ’n baie persoonlike visie. Winston Smith se situasie kom wat my betref omtrent net so uit Orwell se vorige boeke soos Keep the aspidistra flying. Dis seker waar dat ’n skrywer oor en oor dieselfde boek skryf.

Daar is ’n pragtige aanhaling. Die skrywer Nabokov het van die skrywer Gogol gesê dat Gogol op sy gelukkigste is wanneer hy aan die rand van sy private afgrond steier. Dit maak vir my baie sin. ’n Mens ploeter die duisternis is. Ek weet nie mooi hoekom nie, behalwe dat ’n mens iets wil gaan haal wat jou lewe in die lig aangenaam of draaglik maak of bloot regverdig. En jy wil op stuk van sake ook iets moois, of dan treffend, maak.

Die krake is nou klowe, ja, en ons hoop maar die kontinent skeur nie en dryf in stukke uitmekaar nie. Nou ja, as ’n mens regtig sinies wil wees, kan jy sê dat daar ook oor so ’n scenario ’n boek te maak is.

Die gesprek met Betsy: Dek dit die tafel vir jou hele roman? “Wat my aantrek, is hoe hy hom na die heersende winde kon skik. Hy was ’n man wat ’n situasie kon lees. Telkens het hy hom in prominensie ingewerk, ongeag wie aan bewind was.” Die storie handel oor mans en mag. Maar jou karakter, die ewige buitestander, is nie deel daarvan nie. Bloot aandadig. Of hoe sou jy dit beskryf?

Ek dink hy is tog deel van die mag. Of hy was. Maar hy distansieer hom so goed hy kan. My gevoel is dat hy hom skaam vir daardie mag wat so onverdiend in mans se skote val en so dikwels onverstandig aangewend word. En tog oefen hy dit natuurlik uit.

Die tonele met Betsy hou ek van. Die gesprekke met haar reflekteer wel op die res van die boek. Dis vir my mooi, die vrou wat so half by hom aanlê en wat hom oor sy lewe uitvra al stel sy seker nie werklik in boeke belang nie. En hy stel haar dan teleur, wat my skuldig laat voel. Maar as hy iets met haar aangeknoop het, was sy dalk dood. So miskien het hy haar begenadig.

Die skrywer begin dalk doelbewus onbetrokke. (Komaan, jou skrywer wat hom kastig so uit alles hou, sien alles raak. Die duur huise met die dakke wat gedurende die revolusie in vlamme sal opgaan.) Skryf hy dit net neer, pen hy dit neer, die waarnemings, soos Anne Frank voordat haar gesin uitgewis word? Wat dink jy?

Ja, skrywers. Wesens vol knoppe en duike. Private aches soos bunions.

My skrywer, en ek, sien seker baie raak en verlustig ons in ons vaardigheid om dit te kan beskryf terwyl ons in ons studeerkamers skuil en net uitkom vir die pryse en ook nie altyd dan nie. Maar onthou, dis ook ons vrese wat ter sprake is. Dis ook ons lewens wat geraak word, nie net ander mense s’n nie. Die vlamme gaan dalk aan ons eie dakke ook lek.

’n Mens skryf omdat jy bang is, ook soms omdat jy verdag is. Jy skryf as die slagoffer wat sy grief openbaar maak. Of jy skryf as die boelie wat die nuwe outjie in die skool bygedam het omdat hy slim, sterk, mooi of gewild is. Jy wou hom op sy plek sit omdat jy self ’n dom oaf is wat nou berou het. Of jy skryf as ’n ouer man wat die kop skud oor sy gedrag as jonger man.  En dis maar die private goed.

Kyk ’n mens na die wyer wêreld, sien jy die vele onreëlmatighede en onreg raak. Verontwaardiging laat jou skryf. Skuldgevoelens! Good grief, hoe laat skuldgevoelens jou nie skryf nie.

Hoe moet jy oor al hierdie dinge verslag doen? Die materiaal is dikwels so strak en bitter, dis hoe jy dit moet beskryf ook. Dan is jy dalk akkuraat en eerlik en vol van die soort integriteit wat jou lidmaatskap van uitgelese organisasies besorg.

Wel, nee, dis sommer nonsens. Die ding is darem sekerlik persoonliker en edeler as dit. ’n Skrywer het ’n plig om op te teken wat hy of sy waarneem, voel ek. Jou dokument is ’n tydsdokument. Maar meer as dit, wil jy tog iets maak wat mooi kan lyk op die kaggelrak of in die glaskas met die porseleinhondjies en -harlekyne en jy moet jou materiaal iewers kry en waar beter as in die lewe en wêreld om jou?

(Dit lyk ineens baie laag en gemeen om fiksie van nood te maak. Ek troos myself dat dit deel van ’n terapeutiese proses is. En ek probeer in gedagte hou dat elke anti-oorlogboek ook ’n pro-oorlogboek is.)

Foto van Jaco Fouché: verskaf

As jy Jaco is (die skrywer), wie is Peet (byvoorbeeld)? Ook regte name, die ander karakters? Regte mense? Praat met my oor jou eie aandadigheid aan hierdie storie en die mense daarin, dié wat jou pad gekruis het? Ek neem aan hulle was ook aandadig (almal medepligtig – dis immers wat die woord beteken).

Van die karakters is op mense gebaseer, ander nie. Ek is ’n kleinserige tipe wat sy klein seer in stories inwerk. Maar die verhaal is fiksie. Wat wel waar is, is die plekke in die storie. Ek was omtrent in al die plekke wat ek beskryf. Sommige onthou ek nie meer so goed nie, ander wel. Die karateklub is byvoorbeeld die een wat ek op skool in Strandstraat, Kaapstad besoek het. Dit was ’n fenomenale plek met sulke skouspelagtige samoerais teen die mure geverf. Die werklik ervare karateka was my helde, een en almal, selfs wanneer hulle my slae gegee het.

Die Charlie-karakter is deels op so ’n karateka gebaseer. Die man was ’n jaar of drie ouer as ek en het karate in Japan gaan leer. Toevallig het ek hom in die army weer raakgeloop. Hy was iets verhewe. Hy was onwrikbaar en edel en dapper. Het nooit reguit na my gekyk nie, het seker my heldeverering opgemerk en dit afgemaak. Vandag sien ek is hy ’n sesde dan en steeds my meerdere in die sportsoort waaroor ek so mal was. So daar is nog ’n voorbeeld van kleinserigheid wat in diens van my skryfwerk staan.

Peet is ook op iemand gebaseer wat ek geken het. Ek het lank gevoel hy het my ’n onreg aangedoen, maar dis in my kop uitgesorteer. Al wat oorbly, is die ervarings en die skryfwerk.

Dalk is jou boek nie ’n profesie nie. Dis oor apartheid. Jou boek is ’n aanklag. Ons het gesien, ons het niks gedoen nie. Steeds. Of: Ons het gesien, ons het meegedoen. Dis wat ons steeds doen.

My grootste swakheid as skrywer en as mens is dat ek nie die integriteit het wat baie skrywers het nie. Dit het al dikwels gebeur dat ek in geselskap sit, by mense oor wie ek erg is, en dan word dinge gesê wat ek voel nie stryk met die waardes van ’n goeie burger nie. Dus laat ek rassisme, misoginie, homofobie, ableism en die Goeie Vader weet wat als maar verbygaan. En tog beland dit dikwels later in stories. Ek hoop ek spreek my op daardie manier darem in ’n mate uit. Ek moet my egter afvra of iemand soos André P Brink so op sy bek geval sou gewees het soos ek. Kon ek maar so gedurf skryf het soos hy op sy dag. Kennis van die aand bly vir my ’n teksboekvoorbeeld van hoe ’n aktuele roman moet lyk.

Soveel werk moet nog gedoen word in hierdie land – die belangrikste werk seker in elke mens se eie hart. En dit raak moeilik. Net gister sien ek ’n foto van drie beskuldigdes in ’n moordsaak. Dis drie bruin mans wat ’n wit vrou vermoor het. Die mans lyk vir my wreed en aaklig en gevaarlik daar in die hofsaal. Ek dink oor wat hulle gedoen het en stel my voor ek skiet hulle een vir een. Dan, amper dadelik, voel ek sleg oor my gemene fantasie. Sou ek so gevoel het oor die dood van ’n swart vrou? Sou ek so gevoel het as die mans wit was? Ek weet nie. Dis baie verwarrend. Ek kan myself nie ontknoop van my vooroordele nie.

Ek ken mense wat nog praat van “meneer Vorster” en “doktor Verwoerd”, met groot agting. Hulle maak ’n redelik oortuigende saak uit vir daardie figure se inbors. Of jy hoor dat die era van die wit mens verby is en dat die era van die swart mens aangebreek het. Of jy hoor mense verklaar: “Dis ons tyd”, en jy weet daardie tyd sluit jou nie in nie.

Of sluit dit jou wel in? Is daar ’n hand wat na jou uitgereik word wat jy bloot hoef aan te gryp? Ek weet nie, ek weet nie, ek weet nie. Wat ek wel weet, is van daardie integriteit wat ek graag sou wou gehad het. My stories moet duideliker standpunt inneem, voel ek. Maar presies wat moet die standpunt wees? ’n Mens moet seker in gedagte hou dat mense oor vyftig jaar, as jy nog gelees word, die kop gaan skud oor jou stommiteite. Maar ek dink nie iemand sal kan vinger wys teen Brink nie. Polities gesproke was sy hart in die regte plek, lyk dit my amper vyftig jaar na Kennis. Die geskiedenis is voorlopig aan sy kant.

Foto: Pixabay

Die liedjie oor kokkerotte, Jaco. Die vrees dat iets vreesliks met ons almal gaan gebeur? Wanneer het jy die boek geskryf? Watter maande, hoe lank, was die virus al met ons? (Nee, dit kon tog nie. Die boek het reeds in 2018 ’n prys gewen.)

Die laaste afronding is, dink ek, in Desember 2019 gedoen, maande voor ek en baie ander ons hoegenaamd gesteur het aan die gerugte uit China oor ’n virus.

Die liedjie oor kokkerotte. Mense word soms slegte dinge genoem. Toe ek eenkeer laat petrol ingooi, het die petrolman my “inja” genoem, wat “hond” beteken. Ek het niks teruggesê nie, maar sy woede was onmiskenbaar, die woede van ’n swart man teenoor ’n wit man in ’n land met ’n grys verlede.

Natuurlik is dit miskien uitsonderings, maar dit is algemeen genoeg om ’n mens bekommerd te maak. Wat kan ’n mens aan, of met, jou vrees doen? Dalk moet ’n mens dit in die groter prentjie sien. Die wêreld was nog altyd gevaarlik, en mense die ene nyd. Dalk het ons bloot ’n respyt geken van ’n paar dekades, ’n soort hemel. Maar tog ook nie. Ek onthou groot onsekerheid in die laat tagtigs en vroeë negentigs. In September 1989 is my kar met ’n baksteen gegooi dat die stukkies glas in my hare gesit het terwyl ek wit van die skrik aanry en die twee belhamels laggend wegdraf. Miskien is al wat ’n mens moet sê dat jy nie ’n vervelige lewe in hierdie land gaan lei nie.

Word alle mans by geweld betrek? Ek dink nie ek vra jou meer oor die boek nie, maar dalk vra ek jou nou vir jou persoonlike opinie. Laat ek eerder jou Jaco-karakter vra. Wat dink hy oor mans en geweld – moet hy altyd ondergeskik wees?

In Amerika is daar ’n naam vir ’n bedremmelde man. Hy is ’n milquetoast. Ek hou baie van die woord en ek hou van sulke karakters: min of meer soos ’n mens aantref in Woody Allan se flieks of James Thurber se cartoons. Daardie bedremmeldheid is, dink ek, dikwels ’n dekmantel vir donker onderstrominge en gewelddadige neigings wat onder die regte (of is dit die verkeerde?) omstandighede na vore sal kom. My Jaco-karakter is op die oog af gedwee. Maar daar is daardie oomblikke van uitbarsting, iets primitief en oud en manlik, iets begeerlik. Joyce Carol Oates skryf in ’n boek oor boks oor die verlore manlike godsdiens wat meer treffend en veelseggend is juis omdat dit deesdae verlore is.

Ek dink dis in ’n man se aard om gewelddadig te wees, maar dit word deur jou opvoeding getemper. Ek kan self onthou dat ek as seun soms woedend en naar teenoor my jonger broer was. Ek het hom op sy plek gesit. Maar hy het ook karate gedoen en eendag het hy my ’n ongenadige skop toegedien. Ek moes die res van die middag depart to my rooms. Daarna het ek nie weer met hom gesukkel nie. Dis deel van ons geaardhede, en tog moet dit eenvoudig beheer en onderdruk en beveg word. Sport is ’n wonderlike uitlaatklep, ook vir toeskouers. As dit by vermaak kom, geniet ek romantiese komedies, maar daar is ook heelwat te sê vir die kyk van rofstoei of mixed martial arts. Dis nie altyd ’n slegte ding nie, maar dit moet bestuur word, daardie aggressie. Jy kan tog nie werklik heeltemal daarvan ontslae raak nie.

Toe die roomie intrek. Die indring. Dis die onverwoordbare. Menseregte is ’n geveinsdheid. Daar is nie reg en verkeerd nie. Daar is krag en swakheid. Hulpbronne en hulpeloosheid. Ek weet nie hoe om hierdie stelling ’n vraag te maak nie. Ek sluit aan by vraag een. Daar is in hierdie land net dinge wat mense mekaar aandoen – of is daar iets anders ook?

In die inperking was ek en Lorraine in Wellington. Genadiglik kon ek gaan stap wanneer ek wou. Een Saterdagmiddag het ek onder ’n paar dennebome gaan lê van waar ek oor ’n stuk wingerd en ’n pad kon uitkyk. Daar het voëls kom sit en weer gevlieg. ’n Vrou het verbygeloop en ’n uur later terug. ’n Trop skape is verbygejaag. Bo my in die bome het bye gewerskaf, om sulke bruin stringetjies amper soos iets op ’n troue. Dit was die dennebome se blommetjies daardie. Ek was verstom om dit te sien. Dis iets om ’n mens op te beur.

Ja, daar is ander dinge as wat mense mekaar aandoen. Staan stil en waardeer iets in jou omgewing. Daar is goeie dinge tussen mense ook. Gewoonlik wanneer ek gaan petrol laat ingooi, is dit trouens ’n goeie ervaring, al bly die keer my by toe die man my inja genoem het. Om die een of ander rede het ’n hele paar van die mans wat ’n mens help, al gedink ek het geestelike bearbeiding nodig. Dan praat ons geestelike sake.

My gevoel is dat die Christelike deel van ons geskiedenis vandag nog van groot waarde is. Daardie sendelinge van weleer, van Engeland of Duitsland, het baie vir hierdie land gedoen. Ons pluk vandag die vrugte van ’n invloed, ’n seën wat op ons rus as jy wil, omdat ons voorsate, of ten minste die sendelinge, gelowig was. Dit glo ek, al weet ek dit klink vreemd komende van iemand wat ’n boek oor ’n moordenaar skryf. En al weet ek daardie einste voorsate kon maar nare goed aan hulle medemens doen en al weet ek baie van die sendelinge is verguis deur die wit bevolking. Ek glo dit vas van daardie seën.

Die seën, of invloed, sal voortwerk as ons generasie daarmee werk. Ek voel dus dat ons lot in ’n mate in ons eie hande is. Dit is ’n tyd vir omgee en liefde, dit is belangriker as in lang jare. Ons moet nou by mekaar uitkom in die belang van die toekoms, van menselewens.

Daarby moet ek sê dat dit tog heerlik ook is om ander mense te ontdek. Al is dit so ’n skande dat ons mekaar eers na honderde jare mooi raaksien. Tog … dis ook nie waar vir almal nie. Daar was in die verlede al hegte vriendskappe en verhoudings, al was dit dan nie amptelik of openlik nie. Of altyd heeltemal wettig nie.

Jy verwys na gesprekke oor diensplig. Dis nog deel van ’n man in sy vyftigs se herinneringe, dis deel van ons geskiedenis. Ons is aandadig. Raak dit ooit iets van die verlede?

Sjoe, diensplig is ’n tameletjie. Soveel as wat ek die twee jaar diensplig verpes het, soveel verlang ek nou daarna. Ek is te jonk army toe. Ek moes drie jaar of wat later gegaan het. Dan sou ek nie so geskrik het vir alles en almal om my nie.

Maar natuurlik wonder ’n mens of dit moreel regverdigbaar is om in die eerste plek by die army-kamp op te daag, laat staan nog 35 jaar later terug te verlang. Ek kan nie diensplig afsweer of verloën nie. In my oë was dit ’n geleentheid om ’n geharde man te word, ’n man van waarde. Miskien is dit so aan ons verkoop, ek is nie seker nie. Ek onthou wel een aand op hoërskool toe ons ’n army-fliek kyk en al die seuns opgewonde is oor wat voorlê. ’n Skoolmaat van my het sy ma getreiter deur haar te vertel hy gaan ’n recce word, want hy wil aksie sien.

Dan onthou ek egter ook ’n keer ná die army toe ek ’n paar stewels wou laat versool voordat ek ’n kamp gaan doen. Die bruin man by die skoenplek het geweier om my te help. Ek kon dit nie verstaan nie. Vandag dink ek hy wou nie die apartheidweermag ondersteun nie. En ek verstaan dit nou, glo ek. Hy het ’n heel ander kant van die army as ek geken, waarskynlik.

Wat maak ’n mens vandag met die ervaring? Dis nie asof ons Nazi’s was nie. Of is dit? Redeneer ek myself uit die warm water uit? Op hierdie stadium kan ek nie sê nie. Dit sluit aan by wat ek wens ek was, ’n mens van integriteit wat duidelik kan sien waarteen hy hom moet uitspreek.

Die verwysings na godsdiens. Tekste waarmee jou karakters in gesprek tree, so baie van hulle. Die boek is deurtrek hiervan, en dan is daar bloedoffers ook. Daar is gesprekke oor God, met God, verdraaiings van mense. Ook deel van die grein van jou wit, vyftigjarige, manlike karakter se geskiedenis. Ek wys al hierdie eienskappe uit, soos wat jy dit ook doen in die verhaal. Kan dit dan nou anders as om dit voortdurend uit te wys as jy inderdaad deesdae wit, vyftig en manlik is en skryf? ’n Tydsdokument, in daardie opsig?

Sekerlik ja, ’n tydsdokument soos enige boek en ook in die konteks wat jy ophaal. My karakter sou soos ek in die NG Kerk opgevoed gewees het, as kind elke Sondag met nog ’n Bybelversie gewapen, en uiteindelik voorgestel as agtienjarige. Dus ’n Belydende Christen, soos die term gelui het onder mense wat dit in ons katkisasieboek gestel het dat die AGS ’n sekte is. Dit het my gepla, want van my familie het aan daardie kerk behoort.

Self dink ek dat die eerste Christene in werklikheid charismaties was. Dit word in die Bybel beskryf. Hulle het immers die Heilige Gees ontvang, in tale gepraat, mekaar die hande opgelê. Dis ’n ernstige saak om tot bekering te kom, om werklik diep in die ding in te gaan. Ek waag dit nie so diep nie, miskien tot my nadeel.

Ek het al probeer wegbreek van godsdiens. Op skool het ek onder die invloed van karate ’n boek oor Boeddhisme gelees en my tot daardie godsdiens bekeer. Dit het ’n uur gehou, toe kom daar so ’n groot vrees vir die verdoemenis oor my en ek is so gou soos nou terug in die Christelike kudde. Ek het nagmerries oor skryf en kuns gekry en hoe dit my weglei van die Here.

Daarna as jong man het ek erg weggedryf, maar een Sendingweek in Stellenbosch voor mense opgestaan met die plan om sendeling te word. Dit het nooit gebeur nie. Vervolgens het ek my verskeie kere opnuut beywer om iets te doen vir die Here, maar dit bly onduidelik wat. Ek was op 31 ingeskryf by ’n Bybelskool toe ek ’n paar dae voor die tyd besluit ek gaan nie. Vandag is ek spyt. En ek weet dat ek nie kan of wil wegkom van die Christelike geloof nie, selfs al is ek kwalik sterlingmateriaal. Kan ’n kunstenaar werklik sterlingmateriaal in enige aspek van die lewe wees?

Ek skryf graag oor godsdiens – ek dink dis belangrik om dit te doen. Dit voel vir my reg. Natuurlik stem ’n mens nie altyd saam met alles wat hierdie of daardie kerk voorstaan nie en dit raak meer en meer ’n persoonlike saak vir my. Ek verkies byvoorbeeld om my nie aan Bybelprofesieë te steur nie. Dit maak nie vir my sin dat ’n boek uit die Ou Testament op vandag se geopolitiek van toepassing is nie. Maar ek moet byvoeg dat ek miskien moet ag slaan op die vrou wat my by ’n kerkdiens genader het om te sê: “Moenie die leuen glo nie.” Dis ook sy wat my vertel het van hoe ’n demoon haar “gegooi” het toe sy iemand die hande oplê. Nou ja, dis iets buite my ervaringsveld. Ek glo maar my eenvoudige glo. Kind van my tyd.

Geslagsgeweld, nog ’n belangrike tema. Jammer om daarmee af te sluit, of is dit dan ook ’n soort begin omdat dit van sulke groot belang is? Altyd die ding, die man wat my domineer. Is alle seks dan verkragting? Jou karakter is ’n man, maar hy is ’n ewige buitestander, in sy eie manlikheid. Karate, die werk soek ná vyftig. ’n Middeljarekrisis wat anders lyk as die middeljarekrisisse van ander mans met vrou en kinders. Om weg te kom van die self en al die bagasie en die dinge wat jou aankleef. Die onmoontlikheid om dit te doen.

Soos ek white guilt het, het ek ook male guilt. Dis asof ’n mens vroue iets baie groot skuld. Is dit die heersende denkmodes wat my so laat voel? Hoe ontsettend ongemaklik raak ek nie oor die #MeToo-beweging nie. My eie vrou sê ek is geneig om vroue op ’n pedestal te plaas. Sy wil nie anders behandel word net op grond van haar geslag nie – dis nog diskriminasie.

Wel, diskriminasie is nie geweld nie en daarteen moet ’n mens jou onomwonde uitspreek. My karakter pleeg dit wel, maar dit is so dat hy mans ook bydam. Ek was nogal huiwerig oor die toneel waar die een vrou vol meswonde lê, want dit is baie grafies uitgebeeld. Maar dit is so dat die hoofkarakter op daardie stadium nog die leser miskien probeer flous oor sy afwykings en hy beskryf die toneel byna soos ’n gefassineerde getuie sou.

My karakter se middeljarekrisis is vreemd. Soos jy sê, hy hoef nie van vrou en kinders weg te kom nie, want hy het nie so iets nie. Hy begewe hom wel in nuwe situasies. Soos om ’n skoonmaker by ’n karateklub te word.

Ek wonder baie oor wat ’n mens in jou lewe te doen staan. Moet jy betekenis vir jouself skep? Of is betekenis iets wat jy moet ontdek? Moet jy iets studeer? Indien wel, watter dissipline? Dit lyk vir my tans asof die teoretiese fisici en sterrekundiges die sinvolste werke op aarde het, maar ek dink dis juis omdat ek wil wegkom van myself en daardie bagasie wat jy noem – sommer ver weg, tussen die sterre in waar mense ewig jonk is en mans skadeloos. En ’n mens kan die tog beskryf en dit maak tog sekerlik van die letterkunde ’n belangrike en relevante dissipline.

Wie se skuld was dit, oplaas? Dis wat ek uiteindelik van die boek oorhou: hierdie bloed wat daagliks vloei in die land ... ons almal is aanspreeklik.

Die skuld moet natuurlik op die bywoorde gepak word, wil ek ewe gladdebek sê.

Dis treffend hoe die begrip “die sondes van die vaders” by ’n mens opkom. JM Coetzee skryf in Disgrace oor die “chickens coming home to roost”. En toe trek die man Australië toe en nou “there ain’t nothing here but us chickens”, soos die dief gesê het toe hy in die hoenderhok skuil. Maar hoewel ek saamstem dat ons te blameer is vir iets, moet ek sê ek weet nie altyd mooi vir wat nie. Die menslike aard?

Is ons wel te blameer? Kan ons iets daaromtrent doen? Het ons werklik die insig en die morele verhewenheid om onsself van die gedrag te vrywaar wat ons dierlike aard aan ons opdwing? Kan ons so oor onsself oordeel? Om weer ’n Christelike gedagte te gebruik: Dit sal wees soos die geestelike mens (na bekering) wat oor die natuurlike mens (voor bekering) probeer oordeel. Hindsight is twenty-twenty en vroomheid aan die orde van die dag. Natuurlik kan ’n mens die gedagte te ver voer en almal vrywaar van blaam vir hulle optrede, daardie drie moordenaars in die hof inkluis.

Soort soek soort en mense verskil met ’n rede, hoor ek soms. Daarby is ons hierdie hoogoonde hormoon en selfsug en slegte bedoeling. ’n Fliek wat vir my regtig baie van die menslike aard sê, is die Mafia-prent GoodFellas. En dit gaan oor ’n spul skurke, die een so bedenklik soos die ander, maar die fliekganger volg wat hulle doen en wil daarmee simpatiseer.

Sjoe, ek kan nie jou vraag beantwoord nie. Miskien word ek weerhou van ’n mening deur ’n morele swakheid. Miskien is ook ek deurtrek van die korrupsie, soveel so dat ek dit nie herken nie.

Laat ek dan net sê: Daar is soveel werk wat gedoen moet word aan infrastruktuur, werkloosheid, gesindhede, die sosiale sy van ons bestaan. Maar die gedagte aan die groot taak moet ’n mens nie lamlê nie. So verskriklik as wat die geskiedenis is, moet ons onthou: Dit is nog nie verby nie. Dit is nog lank nie klaar nie. Ons kan daaraan werk. Ons kan iets doen aan ons krisis. Ek glo dit is aan die gebeur. Miskien sal die verligting nie gou hier wees nie, maar dit sal kom.

Ook weet ons dat mense kan verander. Ek het dit al in kerkverband waargeneem, en ook by Alkoholiste Anoniem. Die grootse wreedaard kan aangeraak word en sy gesindheid verander. Dit kan in groepsverband ook gebeur. Die sleutel is selfinsig, miskien.

Weer wonder ek wat my eweknieë uit ander groepe oor hierdie vraag sou sê. “Ons tyd” is miskien al wat hulle sou opper terwyl hulle voorberei vir die groot werke van die nuwe fase in die geskiedenis.

Intussen is daar die daaglikse lewe om mee voort te gaan. En wie het ooit gesê dit sal maklik wees?

  • 2

Kommentaar

  • Juliana Coetzer

    'n Uitstekende onderhoud. Die eerlikheid van die skrywer beïndruk my en die antwoorde getuig van diep nadenke. Baie dankie hiervoor.

  • Thank you for this interview. I've just finished the book and I must admit, although it is brilliantly written, I continued reading against my own better judgement at a certain point. I understand the unreliable main character as a genre (Catcher in the Rye, etc) but I did feel misled, as the author admits he did, into believing in the character before he revealed himself (the same way the character's neighbours believed in him). This was intentional for a purpose and it was successful, but not in a good way necessarily.

    I felt like there should be a warning of sorts for sensitive readers, to be honest. A novel can be very intimate especially when the reader feels that much of the character's feelings are/were the author's ‒ as he admits here in this interview.

    You only continue then because you must know the ending, but you have lost any "medevoeling/empatie" with any character and therefore it's disappointing.

    However, this may only be one viewpoint, as obviously there are those who are fascinated with the mind of a serial killer and it's the subject of a lot of literature and films.

    Thank you for the excellent prose, though, there were some good literary moments.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top