Die wenners van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd is pas aangekondig. Die eindbeoordelaars was Ena Jansen, Alfred Schaffer en Steward van Wyk.
Die wenners in die kategorie vir gepubliseerde skrywers is:
Eerste prys: "Die troebel tyd" deur Ingrid Winterbach
Tweede prys: "Die aanspreeklikheid" deur Jaco Fouché
Derde prys: "Die boek van gelukkige eindes" deur Debbie Loots
Die wenner in die debuutkategorie is:
"Die Seepunt-insident", Gerhard Greyvensteyn
Oor die wenners skryf die beoordelaars:
1) Die troebel tyd
Die troebel tyd bring onvergeetlike karakters en in ’n besonder vertroulike leeservaring word ’n mens meegevoer met ’n boek waarin karakters in al hulle alledaagse absurditeit subliem en oortuigend geteken word. Die roman handel oor talle verskillende karakters en hulle obsessies en is dikwels só snaaks alhoewel dit baie ernstige kwessies soos depressie aanspreek. ’n Web van verbande tussen mense en gebeure word geweef wat deurentyd verras asook alledaags is. Wat beleef word is tegelykertyd baie privaat en ook ’n registrering van die hedendaagse geskiedenis: depressie, die gevoel van nutteloosheid en beheptheid met sosiale media, die prositute langs die snelweg, die waterskaarste en die karakters se onvermoë om ’n houvas op die werklikheid te kry. Die dialoë is skitterend, en die roman is deurspek met heerlike humor en vlymskerp ironie.
2) Die aanspreeklikheid
Die aanspreeklikheid is ’n intelligente en goed verwoorde roman wat aanvanklik verras weens ’n ongebruiklike buitestander-karakter, ’n paar interessante kinkels en diverse verhaallyne. Die uitbeelding van die hoofkarakter, wat telkens na kleiner dorpe en dan na die stad verhuis, is besonder goed gedoen. Die titel kry betekenis as mens agterkom dat dit gaan oor hoe ’n indiwidu aanspreeklikheid moet aanvaar vir sy lewe en keuses in ’n wêreld van sosiale en politieke verwildering. ’n Wêreld waarin die mens lukraak uitgelewer is aan geweld, psigopatiese persoonlikhede en irrasionele gedrag. Die verhaal het ’n ritme wat telkens lyk of dit op die onafwendbare afstuur. Dit is vlot en bedrewe geskryf met genoeg intrige om jou aan die raai te hou.
3) Die boek van gelukkige eindes
Die boek van gelukkige eindes span ’n introspektiewe sielkundige as verteller in. Die manuskrip vat iets raak met die ondersoek na die eksistensiële krisis van ’n moderne middelklas Afrikanerman wat finansieel suksesvol is, maar sukkel omdat vaste sekerhede rondom sy seksualiteit en viriliteit weggeval het. Die intrige rondom die lesbiese verhouding van sy eksvrou is ’n nuwe en interessante invalshoek om die patriargale manlike psige aan verdere kritiese ondersoek te onderwerp. Dit doen die verteller met skerpsnydende dialoog en argumente, slim ontginning van terapeutiese taal en opset.
Debuutprys: Die Seepunt-insident
Die Seepunt-insident is ’n knap-uitgewerkte misdaadroman met ’n interessante klompie karakters, elkeen vanuit ’n moderne, kosmopolitaanse wêreld: ’n vegan-sjef, ’n vroue-speurder, en ’n real estate mogul. Die intrige verdiep soos die karakters se onderlinge verhoudinge met mekaar blootgelê word. Die gevatte dialoog laat blyk iets van ’n binnekennis van die Kaapse nouveau riche in die Seepunt-omgewing, en tesame met die Hongkong- en Sjanghai-omgewing gee dit ’n gelaagde ruimtelike en kulturele sfeer vir die verhaal. Die plekke van handeling is realisties en interessant geteken, die plot is oortuigend en die slot uiteindelik ook verrassend.
Met ’n eerste prys van R200 000 is NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd die grootste Afrikaanse literêre prys. Die tweede prys is R70 000, die derde R40 000 en die debuutprys R40 000. Die wenners is op Maandagaand 26 Maart 2018 by ’n private funksie op Nasdak, Kaapstad aangekondig.
Kommentaar
Baie geluk, Ingrid, Jaco, Debbie en Gerhard. Ek kan nie wag om te lees nie!