Groot Romanwedstryd 2018: Jaco Fouché

  • 0

Jaco Fouché (Foto: Christine Cronjé)

Jaco Fouché het pas tweede prys ontvang in die Groot Romanwedstryd 2018. Hy gesels met Naomi Meyer oor sy wenverhaal.

Jaco, baie geluk met die groot toekenning! Jy is aanspreeklik vir Die aanspreeklikheid. Vertel asseblief iets hiervan. Van jou karakter(s) en jou storie.

Baie dankie, Naomi! ’n Mens weet eenvoudig nie of jou maaksel iets beteken tot jy die stempel van goedkeuring kry nie en dit het ek nou gewis. Die boek word in die eerste persoon vertel deur ’n skrywer met ’n verlede en ’n paar ongure neigings. Die verhaal gaan oor hoe sy lewe in die dorp Hermanus tot ’n einde kom en dan in Somerset-Wes, Bellville en Kaapstad voortgaan, altyd teen die agtergrond van spanning en konflik. Dit beeld sy gesukkel om homself as skrywer te hervestig uit, en ook daardie ongure neigings, waaroor hy soms skuldig voel, dikwels nie. Die temas waarvan hy bewus is, is wetteloosheid, immoraliteit, bloedlus, maar ook kreatiwiteit en ondernemingsgees. En dis hopelik snaaks hier en daar.

Die keurders verwys na jou ongebruiklike buitestander-hoofkarakter. Dink jý hy is ongebruiklik? Of wil jy iets van hom vertel, van hoe jy hom sien, of vanuit sy vel, as jy daarin ingeklim het, hoe hy die wêreld beskou?

Ek het bekommerd gevoel dat ’n verteller wat so swig onder die druk van sy omgewing dalk nie simpatie by die leser sal wek nie, maar die commendatio by die prys stel my meer gerus dat die uitbeelding werk. Ongebruiklik? Miskien, as jy hom as ’n ordentlike en goedaangepaste burger wil sien. Maar dit is hy nie. Hy is die produk van onrus en geweld en vrees in die nag dat hy doodgeslaan of verneuk gaan word en van wantroue in sy medemens. Hy is ’n wrak en ’n geweldenaar en gefolter deur die verlede. Praat van vel – Graham Greene het gemeen ’n skrywer moet in staat wees om hom in die vel van die kommunis en die ongelowige te plaas. Dit is hoe ek onder die hoofkarakter se vel beland het. Ek moet seker droogweg bysê dat nóg kommuniste nóg ongelowiges vandag juis buitestanders is, but you know what I mean.

Ek het jou baie onlangs oor jou jongste jeugroman (vir vroeë volwassenes) uitgevra. Wanneer het hiérdie boek dan gebeur? Hoe, hoekom? Het jy die een boek klaargemaak en dadelik met die ander een ingespring, of was dit ’n proses met twee (dalk meer) parallelle skryfprosesse langs mekaar?

Die jeugroman het ek al so vier jaar terug begin skryf, maar dit wou eers nie vlot nie en toe laat staan ek dit vir ’n ruk. So ’n jaar gelede was dit klaar. Natuurlik moet ’n manuskrip in ’n ry inval om uitgegee te word en dit help nie ’n mens is haastig nie. In Februarie verlede jaar het ek aan my inskrywing vir die romanwedstryd begin skryf en dit vroeg in Mei gepos. Dit het dus so drie maande geneem om te skryf, alhoewel ek omtrent 20 000 woorde uit ’n ou geskrif gaan haal het om aan te pas en by te voeg. Ek werk nie vreeslik metodies aan ’n boek nie en sit met baie notas en fragmente en paragrawe wat dalk nooit gepubliseer sal word nie. Sommige werk wel iewers – ek meet en pas en dwing maar in. Ongelukkig beteken so ’n deurmekaar werkwyse dat ek partykeer ’n hele dokument liewer sal oorskryf as om verder met die kraaines te sukkel. Kon nog nooit heeltemal die probleem oplos nie. Ek kan ook byvoeg dat die boek die produk is van die hol kol op ’n mens se maag in die middel van die nag wanneer jy dink daar is iemand by die deur en vannag is dit jou beurt om deur te loop. Miskien is dit onvanpas om pas na so ’n persoonlike vreugde soos die prys oor landsake te mor, maar dis deesdae asof daar geen ander sake hoegenaamd is nie en dis op ’n manier die kern van die boek, al is die uitgangspunt dan so persoonlik.

Groot Romanwedstryd 2018: Ingrid Winterbach

Groot Romanwedstryd 2018: Debbie Loots

Groot Romanwedstryd 2018: Gerhard Greyvensteyn

NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2018: Wenners aangekondig

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top