Somer deur Jaco Fouché: ’n onderhoud

  • 0

Somer
Jaco Fouché

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798175340

Jaco, is Somer ’n jeugroman? En, indien wel: hoekom ’n jeugroman skryf? Werk dit verskillend van die skryf van ’n roman vir volwassenes? Indien nie: watter soort roman is Somer?

Ja, Somer is ’n jeugroman, hoewel ek dink ouer mense mag ook daarvan hou. My belangstelling in jeugfiksie is iets wat weer opgevlam het toe ek met Lorraine getroud is. Sy gee Afrikaans by die Hoërskool Hermanus en het my baie van die kinders vertel. Ek het ook van die voorgeskrewe boeke nadergetrek. Veral iets soos Krismis van Map Jacobs van Adam Small het ’n groot indruk op my gemaak. Ook het ek van my eie gunstelinge uit my kinderjare weer bekyk. En wat gewoonlik gebeur, is dat die lees van ’n goeie boek my lus maak om my eie een te probeer skryf.

Skryf vir die jeug is anders in die sin dat ek meen ek eerliker skryf. Of miskien moet ek sê meer reguit. Daar is minder suggestie en woordspelings en liriese sinne en ’n mens ondergrawe nie dinge soos jy in volwassene-fiksie maak nie. Dis ’n terugkeer na ’n tyd toe ’n mens nie so sinies was nie.

Somer kan ’n vrolike titel wees, ’n seisoen om na uit te sien. ’n Vakansie, in hierdie halfrond. Maar die voorblad is nie net vrolik of selfs net nostalgies nie. Vertel iets van die titel, as jy wil.

Ja, somer is vakansietyd. Dan is jy as skoolleerder klaar met die jaar en kan (hopelik) doen wat jy wil vir ’n paar weke. Dis die tyd om mense te leer ken en dinge te waag. Dis ook die tyd vir besef die jaar wat verby is, kom nooit weer nie. Die voorblad het so ’n iets van kindertyd wat verby is. Dis die soort beeld wat ’n mens op ’n ou foto sien en dan wonder jy meteens: Waar is daardie meisie deesdae? Of hoe is dit dat jy nie meer vir jou groot vriend sien nie?

Wie is jou karakters? En wat is hulle stories?

Maison is die verteller. Hy is ’n bruin matriekseun wat van rugby hou en nie van die akademie nie. André is dieselfde, maar meer welaf en wit. Hulle tree aanvanklik in konflik met mekaar, maar word vriende wat saam die somer geniet. Albei ervaar frustrasie en hartseer in hulle gesinslewens en reik uit na ’n vriend. Dis iets wat ek van my eie jong jare onthou, dat ’n mens in ’n mate jou gesin verloën om jou vriende aan te hang. Vir my het dit soms skuldig en verward laat voel, want my vriende was ontsettend belangrik vir my en ek besef vandag ek het te veel van hulle verwag.

En somer gaan altyd verby. Daar is ’n bewustheid hiervan in die boek. Is hier ’n tema van verganklikheid en onsekerheid, of hoe sou jy dit beskryf?

Daar is natuurlik iets hartseer aan die begrip somer. Vir my is dit dat die vrugte begin oorryp raak en van die bome val, dat die afwagting van die lente verby is, dat ’n mens moet inspring en werk. Dis ook die seisoen van mense wat buite is, op die strande, in die boorde, op die boupersele. Jy brand jou gaar in die son en onthou dan daardie spreekwoord: van vrolikheid kom olikheid. Dis ’n volwasse seisoen en terselfdertyd verkneukel jongmense hulle daarin – al die ure in die water; warm, laat aande met braai en die wyn wat hulle ontdek kort voor hulle moet gaan studeer of werk. Dis vir my ’n tyd wat hartseer voorafgaan.

Jy woon in die Hermanus-omgewing. Is somer en somervakansie ’n deurlopende bewustheid waar jy bly, en ’n noodwendige invloed op hierdie verhaal?

Ek het hier skoolgegaan en dis daardie jare wat ek mis. Deesdae se Hermanus is vir my vreemd. Ek sien nie meer kans om alleen in die berg te gaan stap soos ek so graag op skool gedoen het nie. En by die see onthou ek net weer skooldae en dis nie altyd ’n goeie nostalgie nie, want hoe moet ’n mens nou daardie dae terugkry? Jy kan dit net in ’n mate deur skryfwerk doen. Daarby het omstandighede in die dorp verander. Hier is nou baie wagte, in die woonbuurte ook, met fiets en radio. En op die kuspaadjies kom jy hulle ook teë. Ook hier loop die duiwel deesdae rond, soos in die res van die land. Die strande besoek ek eerder in die herfs of winter wanneer dit stil en koel is.

Jy gee erkenning aan kinders van die Hoërskool Hermanus. Was hulle vir jou ’n inspirasie?

Beslis. Die storie het ontstaan toe Lorraine my vertel van ’n vriendskap tussen ’n wit en ’n bruin seun. My swaer het ook eendag aan my gesê dat ek in Hermanus bly maar nooit daaroor skryf nie. Die kinders aan wie ek erkenning gee, het die episode in hoofstuk 13 beleef toe ’n toeris na hulle verwys as ’n “mixed breed”. Die twee was baie ontsteld daaroor. Tersia Smit, ’n onderwyseres, het my daarvan vertel en dit het my getref op ’n wyse wat my skaam gemaak het. Ek bedoel, ’n mens ry verby Hawston en Mount Pleasant en wat jy gewoonlik dink, is dat dit swaar moet gaan hier en wat het jy met die Chris Rea-CD gemaak? Maar daar woon mense daar en wonderlike mense ook. Ek het met ander skoolkinders ook te doen gekry, soos eendag toe Lorraine hekdiens by die rugby doen saam met twee bruin kinders en ek vir hulle koeldrank bring en ons ’n bietjie gesels. En ek het al in die skoolbussie gery saam met kinders, en na ’n uur vergeet hulle van die oom wat net voor hom sit en uitstaar en te skaam is om iets te sê en dan begin die stories oor hulle lewens vertel word. Daar is baie sulke voorvalle, miskien op hulle eie te klein om oor te vertel, en tog tel hulle op tot ’n geheelindruk.

Wat het verdere inspirasie gebied tot die skryf van hierdie storie?

Die idee van werk staan my aan. Op skool het van my skoolpelle in tuine gewerk, huise geverf en hout gesaag vir sakgeld. Ek self het ook naweke en vakansies gewerk, meestal aflewering en rakke pak by ’n besigheid. En nog altyd wou ek daardie dae herroep en ek wou nie eintlik oor my eie werk skryf nie, want om met ’n kettingsaag te werk is darem baie aantrekliker vir ’n leser as ’n ou wat produkte rondgestoot en afgelewer het, hoewel ek darem self ’n paar voorvalle beleef het wat besonders was en seker nog iewers neergeskryf kan word. Verder het ek ook baie tyd in die biblioteek en die dorp se boekwinkel deurgebring. By die boekwinkel het ’n tannie my boeke op haar rekening laat koop omdat sy afslag gekry het. By die biblioteek kon ’n mens ’n middag laat verbygaan en jy het gemeen dis ’n baie vrugbare besoek wanneer jy met jou drie boeke daar uitloop. Die bibliotekaris was ’n eksentrieke man wat kaalbolyf op straat verskyn het en my een vriend van rare boeke voorsien het wat hy maar kon hou. Daar was puik leesstof, sulke stokou uitgawes wat soms self uitgegee en glad nie goed versorg was nie. Een van daardie boeke is deur ’n De Villiers geskryf en het oor die ruimte gegaan. Dis gebaseer op sy dekade lange amateurwaarnemings vanuit sy agterplaas waar ek een aand was om deur die teleskope te kyk. Op ’n keer het daar ’n nuwe bibliotekaresse by die biblioteek begin werk en al die wonderlike ou boeke uitgewerk sodat daar plek kan wees vir nuwe publikasies. De Villiers se boek is ook weggemaak. Dit was erg, maar seker net nog ’n les oor die tydelikheid van alles.

Wat kom na die somer vir jou karakters?

Ek dink nogal aan ’n opvolg, maar dit sal afhang van die verkope van die boek. Ek sal daarvan hou as Maison ’n welaf jong man word en ’n soort filantroop.

Wat kom vir jou na die somer? Anders gestel: Is jy besig om aan ’n volgende storie te skryf?

Ek het in Januarie aan nog ’n kinderverhaal begin skryf wat toe ’n somber sprokie geword het wat kinders seker nie van sal hou nie. Miskien verskyn dit weldra en dan vir volwassenes. Ek is nogal in my skik daarmee, want ek het heelwat moeite met die styl gedoen. Maar hier brag ek al weer.

Wat was jou gunstelingboeke as jong volwassene?

My gunstelingboeke was werk van Stephen King, Wilbur Smith, James Clavell en Eric van Lustbader. My gunstelingjeugboeke was SE Hinton se verstommende stories. Sy is bekend daarvoor dat sy die Young Adult-genre omtrent op haar eie gevestig het met The Outsiders. Ek het dit twee jaar gelede weer gelees en erg terugverlang skool toe. Ek het ook van die Just William-boeke van Richmal Crompton gehou. Dit aan oor ’n elfjarige seun, maar ek het dit tot matriek nog gelees en vier jaar gelede weer een van hulle aangeskaf. Dan was daar Huckleberry Finn wat ek die eerste keer in die Afrikaanse vertaling gelees het. Dis vandag omstrede weens die rastema, maar dís nou ’n grootse boek as ek al een gelees het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top