1. Vertel my ’n bietjie meer van die skryfprojekte waarmee jy jou die afgelope paar jaar besig hou.
Ek doen 'n bietjie vertaling (tussen Afrikaans en Engels) en skryf af en toe resensies vir Volksblad, iets wat ek vreeslik geniet, ook omdat dit my boeke laat lees wat ek andersins nie sou nie. Verder het ek 'n kortverhaalbundel wat hopelik eendag sal verskyn, en het ek drie korterige skryfsels klaargemaak (almal 40 000+ woorde), waarvan een in Julie 2007 verskyn, 'n ander vir 'n kompetisie ingeskryf is en die derde nog op my rekenaar sit. Ek is opgewonde oor die boek wat gaan verskyn. Dis nogal negatief (die keurder het die woord deprimerend gebruik), maar daar is snaakse tonele in. So hoop ek! Ek hou van 'n pessimistiese atmosfeer, want dan kan 'n mens die positiewe dinge ordentlike staanplek gee, soos mooigoedjies wat 'n mens op 'n doek uitstal.
2. Petra Müller het glo in ’n keurverslag na jou skryfstyl as “demonies ontwykend” verwys. Ek hoop altyd ek verstaan alles, maar ek vrees die teenoorgestelde. Stel my asseblief gerus.
Ek hoop Petra se keurverslae word eendag gebundel. Praat van inspirerend. Sy stuur 'n mens om die boeke te gaan lees wat jy nog nie het nie en het geweldige leeservaring en weet als van skryf af.
Ek weet wat jy bedoel oor die verstaan. My ou vrees is dat ek in werklikheid nie 'n idee het wat in letterkunde aangaan nie. Ek onthou op skool lees ons The Go-Between van LP Hartley in die Engelse klas (dis die roman wat begin: "The past is a foreign country; they do things differently there") en die onderwyser begin praat oor 'n beskrywing van 'n swemtoneel in 'n rivier. Daar is drie kleure wat op die water speel en hy wil weet wat is die beduidenis hiervan. Toe vra hy vir my, en ek sit daar en stamel iets oor drie groot ruimtes in die storie wat in die kleure weergegee word – Ted se plaas, die huis waar Leo tuisgaan vir sy vakansie, en die skool waar die storie begin. Die onderwyser het dit aanvaar, maar daar het ek die idee gekry dat heelwat van wat in die naam van kuns bedryf word, 'n kansvattery is. Of nie 'n kansvattery nie, maar so ontsettend plooibaar en oop vir allerhande vertolkings dat 'n mens kan verstaan hoekom geleerdes soms praat van 'n "nuwe lees", 'n nuwe vertolking van ou werk. Niks is vas nie, als is water.
Ken jy daardie reeks boekies The Bluffer's Guide to ...? Een van hulle is The Bluffer's Guide to Literature en dit verskaf aan die leser kort opmerkings oor bekende boeke in wêreldliteratuur om mense mee te beïndruk. So kan jy dertig sekondes lank ingelig klink oor Catch-22 of Don Quixote en daarmee wegkom, solank jy dan net sorg dat jy haastig aanbeweeg na 'n volgende onderwerp. Wanneer jy jou die dag verbeel dat jy met kuns te make het, moet jy bereid wees om die feit te ignoreer dat die koning net 'n onderbroek aan het.
Maar ek klink nou sinies. Miskien moet ek net sê 'n mens laai alles wat verband hou met 'n storie in daardie storie, maar ek dink nie dis 'n baie bewustelike proses nie. Ek skryf goed neer omdat ek dink dit "pas in" op 'n spesifieke plek, maar ek wonder nie juis hoekom juis daar en nie elders nie. Op skool het juffrou Nel eendag gesê dit gebeur nie gereeld dat goeie skrywers goeie kritici maak nie, en ook nie dat goeie kritici goeie skrywers maak nie. Dis seker prosesse wat drasties verskil. Nou die dag het jy iets soortgelyks oor Martin Amis gesê, dat hy 'n fenomenale kritikus is, maar dat sy geleerde aanslag nie altyd werk in sy romans nie.
3. Vir my is jy die ultimate good guy. Sou jy in jou skryfwerk ’n gewetenlose psigopaat kon skep, of draai jou verbeelding briek aan wanneer jy jou in daai geweste bevind?
O gaats, 'n kompliment! Tyd om verbouereerd te raak ... Nee, ek is geen ultimate good guy nie. In werklikheid is ek waarskynlik net vervelig of te in my dop gekruip om gou aanstoot te gee. Op papier het ek 'n groterige mond. Oor die skep van 'n gewetenlose psigopaat … ek weet nie. Ken jy American Psycho van Bret Easton Ellis? Oor die yuppie reeksmoordenaar? Briljante storie, maar ek moet erken ek het van die vuilste beskrywings oorgeslaan. Ek kan ook nie eintlik rillers kyk nie, want ek slaap nie daarna nie. So het ek seker net vyf minute van The Ring gekyk en toe geweier om verder voor die skerm te sit, tot groot vermaak van die vriend wat my die prent wou laat kyk. In my boek wat Juliemaand uitkom, is daar 'n ou met 'n nare misdaad in sy verlede, maar hy het op die ou end my gunsteling-karakter geword en ek het hom met baie simpatie benader. Ek het hom berou gegee om sy dae mee te verwyl, terwyl ware psigopate hulle seker nie aan berou steur nie. So ja, ek draai seker briek aan en bly weg van die volle impak, dalk tot nadeel van die storie; maar ek hou eintlik meer van die nadraai van 'n situasie as van die situasie self, as ek sin maak.
Daar's mos daardie fliek A Straight Story, oor die ou man wat met 'n grassnyertrekkertjie oor Iowa ry om met sy broer te gaan vrede maak. Dit vat hom weke om daar te kom. Op 'n stadium sit hy in 'n kroeg en praat met 'n jonger man, toe vertel hy hoe hy 'n sniper was in die Tweede Wêreldoorlog en hoe hy later 'n regte bakleigat was. "I was mean," sê hy in sy kalm stem, en 'n mens sien hom as 'n ou man met 'n vol maar nogal hartseer lewe agter hom en jy vergewe die ou bokker daar en dan al die droogmaak. Ek sal graag eendag 'n miserabele ou sondaar se lewe wou vat en iets goed daaruit wou laat ontstaan. Ek bedoel goed in al sy betekenisse: eties, godsdienstig, esteties.
4. In die dae voor Ryk van die Rawe was jy ’n kroegman en bestuurder van ’n pub, wat nie meer jou temperament sal pas nie. Het jy ’n deel van jou sosiale lewe met opset laat vaar sodat jy op jou skryfwerk kan fokus, of vlug jy net vir die bier?
Deesdae vlug ek vir die bier. Dronkenskap is 'n jongmensbedryf. Na 30, of selfs 25, begin dit darem verdag raak. Die tyd in die kroeg (dit was geen pub nie, dit was 'n kroeg kompleet met vuisgevegte en mense wat drank steel en seks in die toilette) is vir my deesdae soos oorlogherinneringe vir 'n veteraan. Ek wou nooit daar gaan werk nie, maar ek moes en het toe my tyd daar gepes, maar tog was daar heerlike aande en goeie vriende ook. Die een man, Frans, was die snaaksste ou wat ek in 'n lang tyd raakgeloop het en ek het hom en sy sêgoed eenkeer in 'n storie ingeskryf. En daar was 'n kelnerin, Petro, wat nog maar in matriek was, maar my voete onder my uitgeslaan het, maar op 'n platoniese wyse (ek weet nie of jy my glo nie). Verder het aangeklamde meisies by my geflikflooi (wat ek kan aanbeveel vir 'n lae selfbeeld), en een ou wou my tot bekering bring wanneer hy genoeg gedrink het. Ek het baie mense leer ken en ek mis dit soms, maar dan dink ek net weer aan die man wat my een aand met sy stewel in die maag geskop het omdat die ander ouens sy pistool vasgehou het en dan is ek maar te bly ek lewe nog!
Maar dit was daardie dae. Deesdae is ek nie meer lus vir sosiale goed en rinkink nie. Baie lekkerder om TV te kyk en vroeg te gaan slaap. So een keer in 'n aantal jaar gaan kuier ek by ou vriende (ook by jou) en dan haak ons 'n bietjie uit.
5. Jou kreatiwiteit het ’n neiging om jou soos ’n tsunami te tref ná lang droogtes. Is dit opwindend of jaag dit jou op hol?
Nee, dis nogal opwindend. Maar ek kom agter dat dit gereeld gebeur dat die stukke wat ek sonder inspirasie skryf, miskien moeiliker skryf maar makliker lees. Onder inspirasie raak 'n mens soms te skeppend, liries amper, en dan lees die werk moeilik. Ek wil hê 'n boek moet so moeiteloos as moontlik lees. Lees moet lekker wees of al minder mense gaan dit doen, wat sal beteken ons boekskrywers sal almal vir TV moet gaan skryf. Niks fout met skryf vir TV nie, maar die boek verteenwoordig vir my iets wat 'n TV-program nie sal kan nie, tensy dit The Sopranos is, of dalk The Apprentice (is dit nie fassinerend nie?), of een of ander opvoedkundige program oor die elf dimensies waardeur ons ons weg moet baan. TV is oor die algemeen spookasem. Ek vrek daaroor, maar ek weet dis 'n bietjie nadelig vir 'n mens.
Oor kreatiwiteit gaan ek nou iemand waarskynlik verkeerd aanhaal, maar Graham Greene het iets gesê soos: "I suppose in the course of writing a book one has a few days when one feels: 'My God, this page has really come off.' The rest is a discipline and a sense, sometimes, of extreme failure, when one really begins to see why Hemingway put a bullet through his head." Dis baie teatraal gestel, maar dis hoe ek ook voel.
6. Ek’s ’n speel-speel Afrikaanse skrywer en jy’s ’n regte een, maar ons al twee sukkel ’n bietjie om vat te kry aan Afrikaanse boeke. Wat is jóú verskoning?
Jy is nie 'n speel-speel skrywer nie. Jy is net 'n skrywer wat nie nou skryf nie, dis al. Maar jy het jou skilderbedrywighede wat ek weet vir jou baie belangrik is.
Oor Afrikaanse boeke … nou met die resensies lees ek weer Afrikaans en dis lekker om te sien hoe ons deel vorm van 'n spesifieke tradisie. 'n Mens sien die ooreenkomste en weet ons worstel oor die algemeen met dieselfde engele en duiwels, soos noemenswaardig die misdaadsituasie en die toekoms van die wit mens in Suid-Afrika. Maar ek sien uit na nog 'n boek soos Kontrei, iets wat die stoerheid in ons weer 'n bietjie omverwerp en die saak vir die Nuwe Suid-Afrika stel. Ons wonder te min oor die positiewe sy van die aanvaarding van die swart bestel. Daar is een. Te veel boeke bly lojaal aan die ou Suid-Afrikaanse vlag en te min wonder hoe dit sal wees om eendag bruin kinders en swart skoonfamilie te hê, wat tog sekerlik die logiese uiteinde van saamwoon in Suid-Afrika sal wees? Ek maak nou 'n grap, maar dis 'n groot deel van wat baie wit mense vrees wat Suid-Afrika betref, dat hulle hulle brose standaarde en beginsels oorboord sal moet gooi. Ek dink dit was in 'n Hennie Aucamp-kabaretliedjie dat iemand gekla het: "Moet ek op my oudag 'n skepsel staan en groet?" Sal dit verder nie gaaf wees as iemand iets soos 'n Afrikaanse Psycho skryf nie? Die hoofkarakter kan op SêNet boer en daar sy slagoffers uitsoek en in sy vrye tyd literatuurteorie opswot.
7. Laastens humor: jou briewe is skreeusnaaks, maar in jou fiksie is dit meer subtiel. Kom dit vanself of werk jy dit in ter wille van die storie?
Ek werk dit in. ’n Mens moet. Nee, eintlik moet ek sê 'n mens wil dit inwerk. Maar dit moenie hardop-lag-humor wees nie, wat ek baie moeilik vind om te bedryf en wat in elk geval net een keer snaaks is en dan irriterend raak. Jy moet jou kop skud daaroor of hoogstens glimlag en iets daaraan moet jou weer laat lees. Maar dit gesê, sou ek graag wou skryf soos Bill Bryson, wie se boeke jy nog die eerste keer vir my gegee het om te lees. Dis nou humor wat die moeite werd is om hardop voor te lag.