Kompoun: Ronelda Kamfer en Annemarié van Niekerk práát

  • 0

Annemarié van Niekerk in gesprek met Ronelda Kamfer oor Kompoun waarvoor sy onlangs die NIHSS-prys gewen en vir die UJ-prys 2022 en ook vir die Hertzogprys benoem is.

Foto van Ronelda Kamfer: verskaf

Ek en Ronelda kom al ’n lang pad saam. Ek het haar en Nathan vir die eerste keer in Stellenbosch aan ’n Woordfees-skrywerstafel ontmoet – dit was iewers tussen haar tweede en haar derde bundel, en sy was swanger met Seymour, maar dit sou ek eers later hoor. Ons het dié aand baie gepraat en iewers het daar iets tussen ons vasgeknoop, ’n knoop wat, ten spyte van die afstand tussen Suid-Afrika en Nederland, waar ek woon, steeds hegter geword het. Haar deelname aan skrywersbyeenkomste in Europa het dit vir ons moontlik gemaak om die lang kuiers wat in Stellenbosch, Kaapstad en Makhanda aan die gang gesit is, in Nederland en Frankryk voort te sit. Een van die kuiers wat uitstaan, is ’n magiese aand by Kapitein Zeppos in ’n klein stegie in Amsterdam met die naam Gebed zonder End – ’n aand waaroor Nathan later ’n gedig sou skryf. En die nag wat die laatste geword het, dink ek, was in Oktober 2013 in ’n klein binnehof van die Maison des Écritures et Centre Intermondes aan die Rue des Augustins in La Rochelle waar Ronelda writer-in-residence was. Benewens diep gesprekke dié aand onthou ek ons onbedaarlike gelag en die geur van geroerbakte garnale uit die kombuis waar Nathan agter ’n pan gewerskaf en soms in die kombuisdeur wat op die binnehof oopmaak, verskyn het om ’n stuiwer in die armbeurs te gooi. Toe die garnale lankal op was, ’n paar bottels wyn ook, en die stad nagstil (behalwe vir die sagte geruis van die oseaan in die verte), was ons nog lank nie uitgepraat en uitgelag nie. Dis sulke nagte en gesprekke wat mense aan mekaar bind.

Toe Ronelda en Carolyn Meads (van Kwela) my in 2017 vra of ek die redigering van Hammie wou doen, het ek en Ronelda ook begin om saam te wérk. Omdat ons mekaar toe al so goed geken het, was dit maklik – ek kon enige iets vra, voorstel en kritiseer; ek kon jubelende of tranerige voice notes los as ek nogmaals diep geraak was deur haar pragtige en pynlike woorde, beelde en taalspel. Sedertdien het ek al haar boeke geredigeer, ook Kompoun, asook Nathan se bundels Alles het nuut kom wôd (2017) en Oolog (2019). Via Ronelda, Nathan en Carolyn het ek ook die redigering van Ryan Pedro se Pienk ceramic hondjies (2020) gedoen. Maar eerlik is eerlik: Deur dié redigeringswerk het ek veel meer by hulle geleer as wat hulle ooit by my sal kan leer. Dis wonderlik om met jong, vernuwende, en ontsettend deurtastende skrywers te werk, skrywers wat die taal soos ’n musiekinstrument bespeel.

...........
Deur dié redigeringswerk het ek veel meer by hulle geleer as wat hulle ooit by my sal kan leer. Dis wonderlik om met jong, vernuwende, en ontsettend deurtastende skrywers te werk, skrywers wat die taal soos ’n musiekinstrument bespeel.
..............

Maak nie saak hoe lank ’n mens mekaar ken en hoe baie gesprekke jy al gevoer het nie, daar bly steeds vrae wat jy wil vra en antwoorde wat jy nog nie het nie. Daarom het ek en Ronelda nou weer gesels, dié keer oor Kompoun, al ken ons albei elke bladsy daarvan op die punte van ons vingers. Ek vanaf Vlissingen (Nederland) aan die Schelde en sy vanaf my geliefde Oos-Kaap, waar ek gebore en getoë is.

https://www.litnet.co.za/nuut-by-kwela-kompoun-deur-ronelda-kamfer/

In 2008 het jy met die digbundel Noudat slapende honde gedebuteer. Daarna het nog drie digbundels gevolg, die een so suksesvol soos die ander. Literêre erkenning het nie net uit Suid-Afrika gekom nie, maar ook uit Nederland en Frankryk waar jy in vertaling gepubliseer is – lowende artikels oor jou en onderhoude met jou verskyn gereeld in die Nederlandse pers. Met Kompoun (2021) skryf jy jou eerste roman. Hoe het jy die oorgang van poësie na prosa ervaar? Was dit moeilik om jou eie stem in prosa te vind?

Die oorgang was maar net technical, goed soos konteks, dialoog en karakters; ek het jare aan Kompoun gewerk – dit was probably die grootste aanpassing. Met my digbundels kies ek ’n tema en dan is daar x amount van gedigte wat ek kan skryf. Vir Kompoun het ek baie navorsing gedoen, ure se video’s en honderde foto’s gevat. Kompoun het vir my baie meer geduldig gemaak.

Tot watter mate is die roman gebaseer op en geïnspireer deur jou eie verhaal en omgewing?

Behalwe vir die geography is Kompoun ’n work of fiction. Ek het ’n box vol notebooks en het vir ’n jaar net gesit en karakters ontwikkel, Die enigste ander ding wat ek sal sê uit my lewe uitkom, is die taal – ek het altyd my ma se manier van storytelling admire, die amazing way hoe sy metaphors gebruik het in ’n casual conversation. Ek moes myself somehow in ’n ander tyd en space imagine en die taal in die boek probeer weave dat ek ’n klein bietjie van haar stem kon incorporate. Die weirdest ding wat gebeur het, was die bry wat ek nog steeds sukkel om te shake en dit is purely omdat my ma se stem stuck geraak het. Ek bry nou al even as ek Engels praat. It needs to stop.

Julle woon nou al ’n paar jaar in die Oos-Kaap. Dit beteken ’n nogal groot geografiese afstand van waar jy grootgeword het. Bring dié afstand ook nuwe perspektiewe op die Wes-Kaapse mense en omgewing waaroor jy skryf?

...........
Ek is lucky in ’n way dat ek in enige space kan skryf. Dit is alles in my kop en ek en Nathan is gewoond aan boeke skryf in die middel van chaos – ek is nie iemand wat my omgewing romanticise nie – die wêreld is op die oomblik ’n terrible plek en ek dink mense moet hul tender en sagte feelings save vir mekaar en nie vir plekke nie.
.............

Ek is lucky in ’n way dat ek in enige space kan skryf. Dit is alles in my kop en ek en Nathan is gewoond aan boeke skryf in die middel van chaos – ek is nie iemand wat my omgewing romanticise nie – die wêreld is op die oomblik ’n terrible plek en ek dink mense moet hul tender en sagte feelings save vir mekaar en nie vir plekke nie.

Wat van die Kaap mis jy?

Iemand wat saam met my op skool was, is ’n paar maande gelede in die straat voor sy ma se huis doodgeskiet. Dit is wat ek aan dink as ek aan die Kaap dink.

Jy skryf priemend oor armoede en die sosiale verwonding wat dit in ’n familie en gemeenskap bring, oor die letsels. Deel van die letsels is die leuens wat mense lewe – leuens wat vir Xavie en Nadia, die kleinkinders van ouma Sylvia McKinney, die “stammoeder van lieg” in Kompoun, ondraaglik word. Probeer hulle hierdie leuens te ontsyfer, of hoe beskou jy hul verhale, hul terugblik?

..........
Ek dink nie hulle probeer iets ontsyfer nie, die narrative is maar net hoe hulle twee dieselfde experiences onthou en hoe jou memory, distorted or not, uiteindelik in jou daily life deurkom. Ek dink dit hang af van die leser, hoe hulle die storie ervaar.
..............

Ek dink nie hulle probeer iets ontsyfer nie, die narrative is maar net hoe hulle twee dieselfde experiences onthou en hoe jou memory, distorted or not, uiteindelik in jou daily life deurkom. Ek dink dit hang af van die leser, hoe hulle die storie ervaar. Ek het die boek geskryf, so ek het my eie antwoorde, die ding met enige tipe familietrauma is dat jy nooi weet of jou bonds met mense genuine is nie en of dit maar net is wat jy gewoond aan is nie.

Wat is ontdraaglik as dit vir jou normal is?

Hoe verskil Xavie en Nadia in die manier waarop hulle hul verhaal vertel? Waarom het jy vir hierdie twee uitgangspunte gekies?

Die mees obvious is die female stem as aggressive en die male stem as passive, wat vir my maklik was om in beheer van te bly. Nadia is ’n brilliant verteller, want sy shape die storie vir die leser, en Xavie as verteller beheer weer wat Nadia sê.

Het die skryf van Kompoun vir jou ou wonde oopgekrap? Was die skryfproses pynlik?

Glad nie, dit was exhausting. Ek het ’n paar versions van die boek geskryf en ’n paar maande voor deadline het ek alles geskrap en oor begin aan die final draft, daar was nie tyd vir enige iets anders nie. (Nathan se expression toe hy sien ek sit en skryf oor, gaan ek eendag op my arm tattoo.) Wonde bly oop, ek is nie ’n groot believer in healing nie, ek is bang vir al die toxic positivity. Ek dink dit is oukei om te sukkel met die broken bits van jou experience, om heeltemal eerlik te wees met jouself oor jouself.

...........
Wonde bly oop, ek is nie ’n groot believer in healing nie, ek is bang vir al die toxic positivity. Ek dink dit is oukei om te sukkel met die broken bits van jou experience, om heeltemal eerlik te wees met jouself oor jouself.
.............

En ek het vir Nathan om my uit te call op my bullshit – dit is maklik om te wees hoe jy conditioned is om te wees en baie meer werk om te wees hoe jy wil wees.

Jy skryf met ’n enorme dringendheid. Uit jou derms uit. Jou onderwerpe is rou en pynlik – dinge soos geweld, veral geweld teen vroue, slopende verslawings, immense armoede, verwaarlosing en mishandeling van kinders, psigiese beskadiging, rassisme. Met ’n byna titaniese dryfkrag skryf jy … maar sonder histerie, woede of vergeldingsdrang. Liewer afgemete. As Kompoun ’n gesigsuitdrukking was, was dit deadpan, selfs tydens die hilariese tonele. Die leser sien nie die effek aankom wat die roman op hom of haar gaan hê nie. En bly nog lank daarna verwilderd agter, soos iemand wat skielik besef dat hy in ’n desolate woestyn alleen agtergelaat is. Hoe doen jy dit?

Ek dink dit is cultural. Cultural dynamics is iets wat jy nie kan of need om te explain nie. Alles is funny of sad depending op jou perspective. Ek save die dramatics vir die ouetehuis.

Een van die treffendste temas in jou werk is verlies en die leemte wat dit in ’n mens agterlaat. Wat is die grootste verlies in jou eie lewe?

Ek dink as ’n mens die eerste keer verlies ervaar, bly dit in jou bloodstream. Elke disappointment en loss daarna gaan sit maar net op dit. Daar is ’n lyric in ’n song van Elbow, “Jesus is a Rochdale girl”: “I have a single heartbreak I celebrate and mourn,” Dit express hoe ek voel. Ek dink ek sit al die deaths en losses saam. Ek allow myself wel, so nou en dan, om sad te voel dat my ma nie hier is om te sien dat ek alles doen wat ek gesê het ek gaan doen nie.

Sien jy jouself as iemand wat namens ’n gemeenskap of ’n generasie of ’n saak praat?

That would be arrogant. Ek skryf boeke.

Jy en Nathan is albei skrywers – hoe reageer julle dogter Seymour op die feit dat sy te midde van sulke enorme kreatiwiteit grootword?

Sy het ’n desk langs Nathan s’n waar sy teken en skryf, maar sy het my horrible habit aangeleer van op die vloer lê en lees. Dit is amazing om boeke en films saam met haar te experience.

Wat is vir jou die lekkerste werk? Poësie of prosa? En is jy al weer besig met ’n nuwe skryfprojek? Dalk in ’n nuwe genre?

Ons werk aan ’n versamelbundel met ’n klomp nuwe skrywers, so ek was forced om weer gedigte te skryf. Op die oomblik skryf ek aan ’n boek waaroor ek baie opgewonde is, maar ek is in general opgewonde oor storytelling. Daar is so baie stories en temas wat ek nog wil explore.

Baie van die jong skrywers praat oor die baanbrekerswerk wat jy vir hulle gedoen het – “Ronelda is ons trailblazer”. Jy, én Nathan natuurlik, het inderdaad die motor van die Afrikaanse poësie (en nou ook prosa) na ’n ander rat oorgeskakel en daarmee ’n nuwe generasie in julle slipstream die moed gegee om hul eie unieke stemme in hul eie beautiful taal te laat hoor. Ek sien ook die wonderlike resultate van Rhodes-universiteit se MA in Creative Writing, waarby Nathan betrokke is – al die wonderlike nuwe werk in Kaaps.

...........
Ons kom uit ’n gemeenskap van skrywers, stories wat uitbrand rondom die braaivuur, hulle het maar net nie boeke gepublish nie. Ek kan nie glo dat daar ’n tyd was toe Kaaps shameful was nie.
............

Ons kom uit ’n gemeenskap van skrywers, stories wat uitbrand rondom die braaivuur, hulle het maar net nie boeke gepublish nie. Ek kan nie glo dat daar ’n tyd was toe Kaaps shameful was nie. Hoe baie leerders het in Standaardafrikaanse lesse gesit met teachers wat vir jou sê jy is dom of minder net omdat jy gesit en sukkel het om jou taal te translate tot dit pas in die mould van mense wat jy nie ken nie.

Hoe sien jy die ontwikkeling van jou eie skrywerskap sedert jy in 2008 gedebuteer het tot vandag?

In die begin het ek baie gesukkel en myself surround met mense wat writing nie dieselfde way as ek ervaar nie. Nou gee ek nie om om te weet wat aangaan nie. Ek is baie kinder toward myself en meer confident in my thinking.

Lees ook:

Ronelda S Kamfer: Pijn is voor iedereen hetzelfde

Fotogalery: Ses skrywers skryf tesame op Somerset-Oos

Jan Rabie & Marjorie Wallace-lesing: Soos ’n koeipaal op die plaas

Ronelda Kamfer in gesprek met Annemarié van Niekerk

“poetry oo die liewe annie anne kant” – Ronelda Kamfer gesels met Nathan Trantaal oor Chokers en Survivors

 

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top