Ronelda Kamfer tree later vanjaar op by die Festival voor het Afrikaans. Sy het in Amsterdam met Annemarié van Niekerk gesels. |
In 2008 debuteer Ronelda Kamfer met Noudat slaapende honde. Die titel is ’n halfvoltooide sin met verkeerde spelling. Dit trek aandag. Dis anders. Mens wil meer weet. Ronelda Kamfer, nou reeds ’n gevestigde digter in die Kaap, is ook so: onkonvensioneel, onpretensieus, sonder enige fieterjasies. En mens wil meer weet. Ook haar tweede bundel, Grond/Santekraam (2011), se titel sit mens aan die wonder oor haar poësie en oor haarself. Met die bekendstelling van die Nederlandse vertaling van hierdie bundel het haar uitgewer, Podium, haar einde verlede jaar genooi vir ‘n gasskrywerskap in Athenaeum se Skrywershuis in Amsterdam.
Dis hier waar ek Ronelda, haar man Nathan (cartoonist by die Cape Times) en hulle babadogtertjie, Seymour, gaan haal vir ’n kuier.
Dis ’n ongewoon sonnige dag en die ruim kombuis-eet-sitkamer van die Skrywershuis is deurspoel van onverwagse sonlig, en die café-terrasse wat van bo af op die Spui te sien is, is gepak met dorstige sonsoekers. Ons kyk vir ’n plekkie by De Zwarte, maar hulle is vol. Daar is gelukkig ’n tafeltjie vry langsaan by Hoppe, die “vyand”. Terloops, dis hoe die verdeling hier op die Spui werk: skrywers en kultuurmense by De Zwarte, en besigheidsmense by Hoppe, and never the twain shall meet. Maar vandag heul ons met die vyand. Om in Amsterdam ’n bietjie son op jou vel te voel, heul jy met enigiets of enigiemand.
Dis in elk geval ’n goeie uitkykpos, sê Nathan. “Hier op die Spui sien mens vreemde dinge gebeur. Dis een van die besigste pleine van Amsterdam. Die anderdag het ons ‘n middeljarige man met sy fiets sommer so in die middel van die straat sien staan terwyl hy min gepla ’n laaaang, raserige gesprek op sy selfoon gevoer het … en dan was sy onderbroek ook nog so klein.”
“Hoe weet jy sy onderbroek was klein?” wil ek weet.
“Behalwe sy skoene is dit al wat hy aangehad het,” vertel Nathan.
Met Seymour stroopsoet op haar skoot vertel Ronelda van ’n klompie ou mans wat die ander dag sommer heeltemal kaal op hulle fietse verbygery het “en die mense het nie regtig eens te verbaas opgekyk nie”.
Die Skrywershuis was nie net ’n skryf- en werksplek vir Ronelda nie, maar was eintlik ook so bietjie ’n wittebroodsplek vir haar en Nathan: “Dis die eerste keer wat ons alleen wegkom – dis regtig soos ’n honeymoon. Behalwe vir die geleentheid om Nederland te sien, die kans om hier in die hartjie van Amsterdam te woon en te werk op ’n plek waar ander Suid-Afrikaanse skrywers soos Marlene van Niekerk, Etienne van Heerden en Dido gewerk het, is dit lekker om die kans te hê om saam as ’n couple maar ook saam as ‘n gesin te wees,” verduidelik Ronelda.
“By die huis was dit vir my moeilik om met Seymour te bind, want die familie is altyd in die rondte, almal is mal oor haar,” beaam Nathan. “Hier het ek en Seymour ’n hegte band ontwikkel; sy’t selfs hier leer loop.”
Terwyl ons bier bestel, en Ronelda lemoensap omdat sy nog borsvoed, vertel sy oor haar besige program. “Ek het omtrent 15 optredes hier in die Lae Lande gehad … in Antwerpen, Amsterdam, Utrecht, Den Haag, Haarlem, orals oor. En dan was daar seker so ’n stuk of 10 publikasies in die pers oor my werk terwyl ek hier was. Veral onderhoude, ook ’n radio-onderhoud. Dit was van die een ding na die volgende.”
“En was daar darem tyd vir skryf?”
“Ja, ek het lekker geskryf, “ sê Ronelda terwyl Seymour met haar groot bruin oë die wêreld om haar bekyk. “Nathan ook. Ons is besig om twee boeke te skryf. Die een is ‘n storie oor die Anglo-Boereoorlog waarmee ons hier begin het. En dan is ons ook besig met ‘n graphic novel gebaseer op my bundel Santekraam.”
Nathan kyk na Ronelda: “Jy’t ook mooi gedigte geskryf terwyl jy hier was. Soos die gedig oor jou ma.”
Hy vertel: “Dit was haar eerste gedig oor haar ma. Sy’s einde verlede jaar oorlede, kort voordat Ronelda na die Festival voor het Afrikaans in Amsterdam sou kom, waar sy saam met skrywers soos Breyten Breytenbach, Marita van der Vyver, Etienne van Heerden en Dido sou deelneem. Maar sy’t besluit om by die huis te bly en by haar familie te wees. Dit was ‘n moeilike tyd vir almal. Ons is baie familievas en so iets slaan hard.”
Ons gesels oor die balansering tussen familie verantwoordelikhede en die tyd en aandag wat geverg word vir ’n skrywersloopbaan. Ek wil weet hoe haar familie en haar skryfwerk by mekaar aansluit.
“My stories kom van die huis af, van my mense af, van my plek af. Ek kom uit ’n tradisie van orale vertelling. Die familiestories is van die een generasie na die volgende oorgedra. En ek is die gelukkige een met ’n aanleg vir woorde en ’n talent vir skryf. Ek maak dan daardie stories in gedigte vas. Daarom is dit ook vir my belangrik dat my gedigte toeganklik moet wees vir my mense … vir gewone mense. As my suster ’n gedig van my geniet, dan weet ek dat dit werk … So judge ek of ’n gedig reg is of nie.
“Die Afrikaanse letterkunde was vir té lank net bedoel vir die elite. Nie regtig vir gewone mense nie. As ons meer mense wil laat belangstel in die letterkunde, moet ons nie die lesers probeer verander nie, maar die skrywers … Ons as skrywers moet op ’n ander manier skryf, dis óns wat moet verander. Ek het byvoorbeeld toe ek jonger was, baie van Dylan Thomas gehou - sy makliker gedigte het met my gepraat. En so het ek ’n behoefte ontwikkel om ook sy moeiliker werk te lees en daarmee te worstel tot ek dit kon verstaan. Die een lei tot die ander. Dis ons plig as skrywers om daardie proses vir ons lesers te fasiliteer.
“Eintlik is my mense baie sensitief vir woorde. By ons werk dit só: fisiese bakleiery word gou vergewe, maar seermaak met woorde pla lank. So het ek van kleins af die krag van woorde geleer … Mense wat nie educated is nie, sien nie digterlike dinge of dubbelsinnighede in woorde nie; vir hulle sê ’n woord presies wat hy sê. Niks minder en niks meer nie. Daarom leer jy om mooi te dink voor jy praat; elke woord slaan hard; daar’s niks voor of agter hom wat hom sag maak nie. Dis eintlik hierdie respek vir woorde wat vir my die deur na die poësie oopgemaak het.”
Ons praat oor woorde en taal en die andersheid van Nederland en ek wil weet of daar nuwe dinge is wat hulle in hierdie nuwe omgewing ontdek het.
“Ons het groot kunstenaars soos Van Gogh se oorspronklike werk hier vir die eerste keer gesien. Mens besef hoe beperk die kunswêreld in Suid-Afrika is as mens eers hier in Europa was. Dit was fantasties om face-to-face met die werk van die ou meesters te staan. Maar tog was dit op ’n manier nie so inspirerend soos wat ek gedink het dit sou wees nie, dat ek dadelik daaroor wou skryf nie. Ek weet nie hoekom nie, maar dis asof die kunsmuseums nie ’n gevoel van intimiteit het nie: mens bly half soos ’n vreemdeling daar staan. Maar miskien gaan dit nog alles intrek en kom dit later uit in my gedigte.”
Nathan voeg by: “Eintlik is dit die klein local bookshops wat die ding vir ons gedoen het, ons geïnspireer het … vir Ronelda om te skryf, vir my om aan my cartoons te werk. Vir ons is kuns nie iets grands wat iewers onaantasbaar teen ’n muur hang nie, liewer iets waarmee jy op ’n persoonlike manier in aanraking is.”
Ronelda knik, Seymour glimlag vir haar pa met ’n gesiggie vol vroeë wysheid.
Ons praat oor die sjarmes van Amsterdam. “Dis ’n lekker gemaklike stad,” sê Ronelda, “everything goes. Hier is konstante beweging, dit hou nooit op nie en tog voel jy altyd en oral veilig. Die manier waarop mense mekaar hier behandel het ons ook opgeval. Almal word op equal footing behandel, daar’s geen verskille nie. Ook geen patronising nie. Wat ook nice is, is dat die Nederlanders nie so ‘n celebrity culture het soos wat dit in die VSA bestaan nie. Maar ek moet bysê dat hulle tog hulle eie local celebrities worship, iemand soos Adriaan van Dis, wat amper soos ’n god is hier.” En ek onthou hoe Ronelda onlangs vir Adriaan op sy plek gesit het by ’n openbare onderhoud. As daar een ding was wat Ronelda nie toegelaat het by enige van haar optredes nie, was dit om mense te laat wegkom wat hulself as Suid-Afrikaanse deskundiges voorhou terwyl hulle kennis of begrip van die Suid-Afrikaanse situasie tog vol gate is.
Ons begin gesels oor huis toe gaan en ek wil weet wat hulle die meeste gemis het van die huis.
“Ons familie,” sê hulle gelyk.
En dan knipoog Nathan en voeg by: “Violence.”
“Jy kan nie ernstig wees nie?!” wil ek weet.
Ronelda verduidelik: “Nee weet jy, dis baie complicated. Dit was die lekkerste ding van hier wees: om nie altyd bang te wees nie, om te weet dat hier nie juis geweld is nie. Maar die vreemde ding is dat mens steeds daardie spanning binne-in jou dra, asof dit deel is van jou, soos asemhaal. En as daar dan niks gebeur nie, is dit op ’n baie weird manier ’n leemte.”
Ronelda lag half verleë: “Ek het eintlik ’n diep-gewortelde woede wat ek in my saamdra. En ek raak soms gefrustreerd as my woede nie uitkomplek kry nie. Ek het al ’n paar keer probeer om mense hier kwaad te maak, soos die ander dag toe ek aspris met die pram teen ‘n man voor my se hakskene vasgery het. Maar hulle wil nie kwaad word nie. Dis nogal irriterend, want dan kan jy ook nie terugbaklei nie.”
Ronelda vertel verder: “Die ander dag het twee vrouens met hulle fietse hier in mekaar vasgery. Dit was ’n helse crash, maar as mens na die reaksie van die mense gekyk het, sou jy gedink het niks het gebeur nie. Niemand het geraas nie. Dit was doodse stilte. ’n Paar mans het nader gekom om die vrouens se goeters op te tel en hulle op te help. Alles was rustig. Maar toe kom twee Amerikaanse toeriste verby en roep: ‘Oh my god’ en ’n klomp ander uitroepe. En dít, kon ek sien, het die Nederlanders van stryk gebring, baie meer as die ongeluk self. Hulle is nie so vir ’n bohaai nie.”
“En hoe het die Nederlanders op jou as digteres gereageer?”
Sy lag: “Hulle het ’n rock ‘n roll poet verwag, ’n rebel, ’n bad arse. En wie kry hulle toe? ’n Mamma-poet! Soos mens se lewe aanbeweeg, verander mens se rol ook. Ek het nou ’n gesin en dit is my eerste prioriteit. Ek het Nathan en Seymour laat saamkom omdat dit vir my belangrik is om hulle by my te hê. Seymour het ook saamgegaan na alle optredes van my. As die mense Ronelda-die-poet wil hê, kry hulle nou ook Ronelda-die-mamma. Seymour is part of the package. Ek dink baie mense hou nie so baie daarvan nie. Hulle wil nie poets in hul gewone rolle sien nie, hulle soek iets out of the ordinary. Daarom is ’n poet soos Ingrid Jonker so gewild. Behalwe vir haar goeie poetry is dit veral ook haar donker kant wat mense fassineer. Maar dit help nie mens probeer ’n image voorhou wat nie jouself is nie. Poetry is nie alles in my lewe nie; my familie hou my aan die gang. Vir my is dít die regte ding.”
“En wat is die eerste ding wat jy gaan doen as jy weer terug is by die huis?” wil ek by Ronelda weet.
Nathan antwoord: “Huil.”
Ronelda knip met haar groot bruin oë en ek sien al klaar ’n waterigheidjie: “Ja, ek gaan huil as ek my suster sien. Heel eerste van alles, gaan ek huil. Van blyheid om my mense weer te sien, van blyheid om weer by die huis te wees.”
En nou is dit amper tyd vir Ronelda om weer Nederland toe te kom, want sy is hierdie jaar weer uitgenooi vir die Festival voor het Afrikaans. Sy is besig om vir haar ’n paadjie hier in Nederland uit te trap.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.