Jan Rabie & Marjorie Wallace-lesing: Soos ’n koeipaal op die plaas

  • 1

Ronelda Kamfer (foto verskaf)

Die Jan Rabie & Marjorie Wallace-beurs vir 2016 was aan die digter Ronelda Kamfer toegeken. Die beurs het haar in staat gestel om ’n jaar voltyds aan ’n skryfprojek te wy. Die beurs word deur die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) geadministreer. Ronelda deel haar lesing aan die einde van die beurstermyn met LitNet se lesers.

Grabouw

Die laaste keer wat ek Kaapstad besoek het, was op uitnodiging van die Woordfees, die Afrikaanse literêre fees wat jaarliks in Stellenbosch gevier word. Dit was om my digbundel Hammie te launch, wat gehandel het oor die lewe en dood van my ma. Vandag voel dit soos baie leeftye gelede.

Om die Kaap te enter deur Stellenbosch se wingerde en wynplase, laat my voel soos ’n ruimtekapsule wat terug val aarde toe deur die aarde se atmosfeer. Dit brand, my vel skeur en my bene wys. Ek het opgegroei op plase soos hierdie, in Grabouw. So ek kan nooit deur Stellenbosch ry sonder om aan Grabouw te dink nie. Dis soos wanneer ek my niggie langs die pad raakloop, sal ek altyd vir haar sê “Stuur groete vir jou ma.” Die een gaan met die ander.

Verder is dit onmoontlik vir my om aan Grabouw te dink sonder om aan my ouma te dink, en as ek eers aan my ouma dink, verlang ek na my ma. Ek is derde-generasie over-expected-expectations-achiever in my familie, ’n matriarchy van uiteenlopende astrantheid.

My ouma is nou doof in al twee haar ore. En ek, asof ek altyd met een voet in my ouma se wêreld moet staan, is besig om heeltemal doof te raak in my een oor. My ma is dood nou, doof en stom die ewigheid in. Ek dink so, want my ma praat nie met my vanuit die graf nie – óf dit, óf sy fluister in by die verkeerde oor. My ouma praat met my, maar ek trek haar deur my tande, en maak asof ek haar nie hoor nie.

Noudat slapende honde wakker is

Ek het 10 jaar gelede my heel eerste digbundel geskryf en gepubliseerd gekry. Die aand toe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns my op my pa se werk phone bel, het ek dramaties op die grond neergeval en aangekondig: “Maaamie! ek het die Eugène Marais- prys gewen!” My ma het die rooi doppe van haar pakkie R5-peanuts afgeskil en gesê: “Hoeveel betaal Gene Marais?”

Ek is die eerste vroulike ontvanger van die Jan Rabie/Marjorie Wallace-beurs en ek is die eerste swart ontvanger van die beurs. Ek verbeel my soms wat my ma sou gesê het as sy daar was om te hoor – ek lê somtyds in die bed en sit die woorde in haar mond.

My begin in die Afrikaanse letterkunde was op die verkeerde voet, soveel so dat ek gevoel het ek sou nooit my balans kan vind nie. Ek het eenkeer gaan voorlees in Stellenbosch en het ’n lift saam met my pa gevat in die council trok – ek wou nie vir die wit mense wys ek was arm nie en dat ek nie kan kar ry nie. Of dat my pa vir die city council werk nie. Of dat my ma overtime moes werk sodat ek einde van die maand ’n mooi jersey kon het as ek by ’n private boekklub vir ryk huisvrouens in Durbanville gaan gedigte voorlees nie, en sodat ek taxi fare kon het tot by UWK, waar ek ná ’n voorlesing in ’n gesprek met prof van Wyk beland het en hy gevra het of ek belangstel in verdere studie.

As jy coloured is of swart is en jy betaal black tax, generational skuld, en iemand offer vir jou die geleentheid om te kom study, is dit so goed soos Edgars en Foschini wat al jou ma se skuld afskryf. Dis ’n clean slate. Dis iemand wat sê: “Hier, ek gee jou dieselfde kans as wat ander mense kry.” My ma het uit die werk uit gebly net sodat sy kon werk toe bel en sê sy moet saam haar dogter University of the Western Cape toe gaan vir registration. Vir haar was dit die validation van wat ek verdien het vir al my jare se gedigte skryf.

Prof Van Wyk, ek skuld jou ’n sak appels wat my ma eendag vir jou gestuur het wat ek te skaam was om saam my in ’n Bellville-taxi te dra.

Toe ek my eerste manuskrip saamgestel het, het ek nie ’n computer gehad nie. My pa het iemand geken wat computers opgebou het – in elke township is daar ’n man wat computers opbou. En in keeping met die tradisie van township mans wat computers opbou, het hy in sy ma se yard in ’n Wendy-house gebly en computers opgebou terwyl hy op dieselfde tyd besig was om sy ma se huis aan te bou.

Ek het ’n computer gekry by hom en my pa het ’n sak vol floppy disks van die werk af gebring. Ek het Noudat slapende honde op die computer getype en op die floppies gesave. Ek het nie geweet hoe om Microsoft Word te gebruik nie en toe my uitgewer laat weet ek moet my korreksies aanbring, het ek nie geweet ’n mens kan copy en paste nie. So ek het elke keer die volle manuskrip oorgetik. Ek het my niggie wie by ons gebly het daai tyd gevra om tien gedigte te type in die dag wanneer sy huis toe gekom het na die night shift, en my vriendin wie toe net begin verslaaf raak het aan tik en eager was vir die repetitive werk, om ook tien gedigte op te type. Ek sal vir ewig dankbaar wees vir hul hulp.

Ek het nooit gedink toe ek daardie gedigte geskryf het dat dit my so ver sal dra nie. Ek sou nooit gedink het in standerd 9 toe ons Ek het jou gemaak gelees het vir voorgeskrewe werk, dat my lewenslyn en dit van Jan Rabie en Marjorie Wallace sou kruis nie, maar ek is ongelooflik dankbaar daarvoor.

Ronelda Kamfer (foto: Harriet Box)

Ek en my ouma is uit een lap geknip, sy het self die lap geknip (’n paar woorde van acknowledgement)

Toe ek klein was, het my ouma eendag opgedaag op ons voorstoep soos Gandalf the Grey in Hobbiton, en sonder om te veel te verduidelik het sy vir my ’n pakkie klere gepak, en saam haar Grabouw toe gevat. Ek sou nou saam met haar en my oupa op die plaas bly.

Ek weet nie hoekom my ma niks gesê het nie, maar sy het niks gesê nie. Dit is soos een van daai dinge wat jy self die leë gate moes vul omdat niemand regtig tyd gehad het om dinge te verduidelik nie. Ek was nie my ma se kind nie, ek was my ouma se kind, en moes my plek op die plaas op klein maniere vind, meestal deur my ouma na te aap.

So klein soos ek was, kon jy my altyd op die voorstoep kry besig om vloeke uit te deel aan elke verbyganger vir een of ander sonde wat ek gevoel gepleeg was.

My familie is diep gelowig, maar glo in vloek soos hulle glo in sout oor die skouer gooi as hulle na 12 in die nag in die huis in steier. “Jy moenie kom staan en jou gat dronk suip elke naweek dan wil jy die hele plaas kom omkrap nie, Pietie! As ’n mens drink dan drink jy vir jouself en gaan slaap agterna moerskonner!”, en so aan en so voorts het ek tekere gegaan.

Ek en my ouma het huis skoongemaak, en ek het gehelp kos maak. Ek was soos my ouma se skaduwee, wat dinge moeilik gemaak het later met my ma, want my ma het haarself weg van die plaas af gevat, juis omdat sy uit my ouma se skaduwee wou kom.

My ouma het my geleer om die heeltyd te baklei. Ek het nooit besef dat hulle plaaswerkers was nie. In my kinderlike begrip van plaaswerkers was hulle nie trots of nugter nie.

Bry

Voor ek op die plaas gaan bly het, het my ma hard probeer dat ek moes Engels praat. Sy het altyd probeer my naam mooi uitspreek – “Row-nel-da” of “Roo-nel-de”. Teen die tyd wat my ouma klaar was met my, het ek so gebry dat my ma maar heeltemal van die Engels vergeet het.

Jy verloor nooit jou bry nie, dit bly ingevleg in jou DNA, soos die eilandjies wat my ouma in my hare gevleg het vir skool, so styf jy kon deur ’n warrelwind loop en nie ’n haar sou uit sy plek wees nie. Na al die tyd vat dit my omtrent vyf minute op die plaas om weer te begin bry.

Ek dink ek kry my obsessie met akkurate representation van my ouma en ma af – enige iemand wat bekend is met die Overberg weet dat jy is nie net van die plaas nie, jy is van die plaas en die plaas het ’n naam – Molteno, of Appelthwaite – of jy bly in Pineview of in Pineview-Noord.

Jy het nie ’n naam van jou eie nie, jy is Trei se kind of oom Tom se kleindogter. Elkeen het ’n storie, elke familie het ’n geskiedenis en ongeag hoe jy jou lewe leef, is daar iemand wat jou ken en wie jou storie vir jou kan oorvertel. Hierdie tradisie was die inspirasie vir my tweede digbundel, Grond/Santekraam.

In ’n klimaat van land claims en vrae oor wie die regmatige eienaars van die land is, was dit vir my belangrik om uit die stemme in my familiegeskiedenis die oorvertel vas te probeer vang.

My grootouers het nog nooit hulle eie huis besit nie, hulle het gewerk op die plaas, en toe hulle nie meer kon werk nie, moes hulle trek.

My oupa, wie se hande hard en vol eelte gewerk was, is in ’n koue hospitaalbed dood in Karl Bremer se noodeenheid, met twee snye droë bruinbrood en ’n beker flou koffie langs sy bed. Grond/Santekraam was vir almal soos hy die ou mense wat vandag in hokkies in Wesbank en Delft moet bly omdat hulle in hulle jeug die grond vir ander goed gemaak het.

Soos ’n koeipaal op die plaas

Daar was ’n koeipaal op die plaas in Grabouw, maar geen koeie nie. Net appels – baie, baie appels. Vir dié wat nie weet nie, ’n koeipaal is die melkpos waaraan die astrante koeie vasgemaak word wanneer hulle gemelk word.

Ek het gehou daarvan om te sit en die paal dop te hou, sonder om te wonder hoekom. Ek het vir jare my plek op die plaas gesoek en toe eendag besef ek terwyl ek staar na die koeipaal, ek en die koeipaal is dieselfde – ek was daar, maar daar was geen nut vir my tussen die appels nie, maar niemand wou my uitkap of weghaal nie, omdat hulle klaar besluit het ek behoort daar, maar ek het nie regtig daar behoort nie, en toe my pa begin werk by Waterwerke (nie seker of daai departement nog bestaan in die Kaap nie) en hulle ’n council huis in Blackheath kry, het ek ook nie daar behoort nie, en toe ons Eersterivier toe trek het my gemaklikheid met nie inpas nie vir my normaal geword – oral waar ek al ooit gewoon het, het gevoel soos net tydelik, en al rede wat ek kan aan dink, is dat ek gesien het wat gebeur met mense sodra hulle te veel begin glo in waar hulle behoort.

In 2008, toe ek my heel eerste gedigte vir Noudat slapende honde begin skryf het, het die eerste drie gedigte in die bundel gekom uit die drie wêrelde wat my gevorm het: “Waar ek staan” was vir my ma; “Baas van die plaas” was vir my ouma; en “Klein Cardo” was vir my suster en Eersterivier.

Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer en hul dogter Seymour (foto: Harriet Box)

A farewell to arms

Ek is 16 jaar oud en ek sit in my kamer in Eersterivier en lees A farewell to arms deur Ernest Hemingway. Ek skryf die woorde neer in my notebook waarin ek poetry skryf wat ek vir niemand wys nie:

The world breaks everyone and afterward many are strong in the broken places. But those that will not break it kills. It kills the very good and the very gentle and the very brave impartially. If you are none of these you can be sure it will kill you too but there will be no special hurry.

Dit herinner my aan my oupa – hy was good, gentle en brave. En hy is vroeg dood – hy het nie die hardheid gehad wat die Kaap van ’n mens verwag nie. Hy was nie ’n swak mens nie; inteendeel, hy was ’n baie sterk, trotse mens. ’n Sterk man, soos wat van mans verwag word. ’n Sterk man laat nooit mense toe om hom te verneder nie.

Ek dink dis hoekom my oupa 20 jaar al begrawe lê en my ouma nog buk-buk deur die lewe gaan. Hulle lewens was een lang vernedering. Toe my oupa te oud word, en nie meer kon werk op die plaas nie, toe trek hulle Kaapse Vlaktes toe, waar die wêreld vaal was en almal mekaar heeltyd wil indoen. In die Kaap het hulle in ’n klein slaapkamer gebly met my uncle en sy hele familie.

My ouma kon daarmee saamlewe, want ’n sterk vrou word gedefinieer deur hoe baie vernedering sy kan verdra. ’n Sterk vrou word nie toegelaat om te graduate vanaf dogter na vrou totdat sy totaal en al verneder was nie.

Vir mans is en was dit anders, maar veral vir my oupa. Hy was nou weg van die plaas en die status wat sy geskiedenis vir hom gegee het. Hy was nou deel van ’n groep mense en sy kinders en kleinkinders het almal hulle eie name gehad en ek dink wat swaar vir hom was, was dat hy nie meer kon sê wie hy was nie.

Die ironie van my oupa se lewe was dat alhoewel hy met sy kop omhoog kon stap in Grabouw, was hy ver van hoog geag. Hy was exploited en sy trots was vals en sy patriargie was vals en ek wens ek kon dit vir hom sê.

Steward van Wyk (medeprofessor en voorsitter van Departement Afrikaans Nederlands aan die UWK, asook lid van die bestuurskomitee van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-beursfonds), Ronelda Kamfer en Tyrone Pretorius (rektor van die UWK). Voor Ronelda staan Seymour, haar dogter (foto verskaf deur die UWK).

Skype

My ouma het deur die Tweede Wêreldoorlog gelewe, apartheid van begin tot einde gesien. Sy was ’n kind in ’n tyd voor TV, ’n tyd voor alles behalwe boeke, dink ek soms, en sy kon nie regtig lees nie.

Ek sou nooit kon gedink het dat my ouma sou weet wat die internet is nie, maar sy wil saam my Skype of Snapchat, en op haar WhatsApp profile photo het sy ’n fur coat aan.

Sy bly nie meer in die Kaap nie. Sy bly by haar dogter wie jare gelede besluit het sy maak haar familie groot ver weg van my ouma en al die drama wat saam haar kom. Dit klink asof haar lewe kalmer is. Dit klink asof haar lewe nou net haar eie is.

Ek en sy, net soos ek en my ma, was altyd kwaad vir mekaar en meeste van die tyd het ons vergeet presies waaroor. Nou is sy sieklik, en sy sê sy wil vrede maak voor sy gaan, maar toe sy wou Skype of Snapchat, toe sê ek nee ek is nog kwaad vir haar. Toe stuur sy vir my antie ’n voice note om te sê “Daai blerrie klimmeid is harregat” en lag: “Ek het haar reg groot gemaak.”

En dit is hoekom ek altyd terug sal skryf plaas toe. My nuwe boek, Kompoun, is meer as net ’n huldeblyk, dit is my manier vir al die mense wie voor my gekom het om saam met my deel te wees van Afrikaanse letterkunde. Kompoun is die vars blomme op die graf van almal wat vir eeue lank in stilte bestaan het, maar dit is ook ’n dankbetuiging aan die paar mense wie my net op my skryfvermoë geoordeel het; Antjie Krog wie my forseer het om Raka hardop te lees as ’n vorm van cruel en unusual punishment omdat sy my wou leer dat ’n skrywer net kan skryf as hy of sy alles gelees het wat voor hom of haar geskryf was, en ek het alles gelees en ek hou nog altyd nie van Van Wyk Louw nie.

Anastasia de Vries het, toe sy Rapport-boekeredakteur was, my bundel en my gesig op die boekeblad se voorblad gesit en tot vandag toe dink ek dit was een van die grootste gestures of defiance.

Iemand het my onlangs gevra wat dink ek van die klomp bruin skrywers wat nou gepubliseer word, toe sê ek ek dink dis te min en ek dink daar moet meer wees, daar moet báie meer wees.

Die Duitse skrywer en filosoof Goethe het gesê: “He who cannot draw on three thousand years is living hand to mouth”, en ek dink daar is min wie enige begrip van die waarde van idees, kennis, ondervinding en geskiedenis het wie nie sal saamstem met daardie sentiment nie, maar ek wonder soms waar dit ons los, as bruin mense in Suid Afrika, want daar is so baie van ons geskiedenis wat nie oopgeskryf is nie.

Ons is ’n gemeenskap wat nie net materially arm is nie, maar wie ook spiritually van dag tot dag lewe. Almal uit ons gemeenskap wat suksesvol word, is die uitsondering, en ons sukses kan net behaal word deur afsondering van ons eie gemeenskap. En ek glo dit is so omdat ons niks geskiedenis het om van krag te trek nie, want so baie van ons geskiedenis is van die rekord geskrap – ons herkoms, ons bydrae tot die veg teen apartheid, ons historiese pyn en humiliation, ons bydrae tot die kos en kultuur van die land.

Daar is so baie lewens, ondervinding en kennis wat reeds verloor is. Daar is so baie van ons kultuur wat reeds uitgesterf het. En daar is geen monumente van klip, marble, brons of op papier vasgevang in die literatuur vir toekomstige generasies om dit weer te ontdek nie.

Ek dink aan Kassiesbaai, en hoe tydens my navorsing vir Kompoun my oupa se laaste oorlewende neef, oom Hendrik, vir my sit gemaak het en toegelaat het om ons gesprek op film op te neem, omdat hy een van die laastes was wie ook sit gemaak was en ons hele familiegeskiedenis vertel was.

Hy het geglo dat as jy nie weet waar jy vanaf kom nie, gaan jy dink jy kom van niks af.

Ek dink aan al hierdie stories wat grootouers oorvertel het en hoe dit verlore gaan en al wat oorbly is Afrikaanse volksliedjies wat soos die taal herskryf word sonder die ware geskiedenis.

Ons geskiedenis is afgekap, fragmented. Hele gemeenskappe is geskuif na die sykant in hul eie verhaal, hele lewens reduced na footnotes.

Baie van ons hier is die afstammelinge van een van die oudste groep mense op die planeet, maar hierdie geskiedenis is geskryf in sand.

 

  • UWK, April 2018

ABSA Ketting: Ronelda Kamfer gesels met Antjie Krog

Ronelda Kamfer (1981–)

Ronelda Kamfer in gesprek met Annemarié van Niekerk

“poetry oo die liewe annie anne kant” – Ronelda Kamfer gesels met Nathan Trantaal oor Chokers en Survivors

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top