Persverklaring: Kortlyste vir die 2022-UJ-debuutprys en die 2022-UJ-prys

  • 0

Erkenning: Aurobindo Ogra, Wikimedia Commons, https://creativecommons.org/licenses/by-sa/3.0/, /File:University_of_Johannesburg.jpg

Altesaam 66 boeke het vanjaar meegeding om die 2022 UJ-prys. Die kortlys vir dié prys sowel as dié vir die 2022 UJ-debuutprys word hiermee aangekondig.

Die kortlys vir die 2022 UJ-prys is (in alfabetiese volgorde volgens skrywers):

Kompoun – Ronelda S Kamfer (Kwela)

Dol heuning – SJ Naudé (Umuzi)

Die getuienis – Francois Smith (Tafelberg)

Voorouer. Pelgrim. Berg. – Ingrid Winterbach (Human & Rousseau)

Die beoordelaarspaneel het ook melding gemaak van die besondere bydraes en omvangryke historiese navorsing in Marinda van Zyl se Veldhospitaal 12 (Tafelberg) en Nicol Stassen se Van Humpata tot Upingtonia (Protea).

Kamfer verras en beïndruk wat tegniese aanbod betref en met ʼn hoë vlak van vakmanskap, meen die beoordelaars. “Die narratief in die roman is achronologies, gesplete en gefragmenteerd, en tog bly die verhaallyn van begin tot einde kristalhelder en is elke storiekomponent styfgespan soos die drade van ʼn spinnerak. Die taalgebruik is rou, organies en lê gemaklik in die monde van karakters.”

Deur Naudé se “genuanseerde verkenning van ʼn wye spektrum emosies bied hy uiteindelik troos vir die onherbergsaamheid van vandag se wêreld wat deurgaans in die bundel kortverhale na vore kom,” lui die beoordelaars se verslag. “Die prosa in Dol heuning is liries, soepel en by tye poëties, met elke kortverhaal wat voorsien is van sy eie delikate, tóg leefbare atmosfeer.”

Smith se novelle is beskryf as “ʼn meestersklas in die karakterroman”. Sonder om te oordeel of bespotlik te maak, dissekteer Smith met fyn gevoeligheid die binnewêreld van twee karakters en neem hy die leser op ʼn innerlike reis tydens ʼn geografiese reis. “Die getuienis is ʼn bewys dat ʼn mens soms aansienlik meer met minder kan doen.”

Winterbach bied volgens die beoordelaars ʼn roman met ʼn ryk netwerk intertekste en verwysings, slim karakters, ʼn onortodokse narratiewe aanbod met sy eiesoortige klem op reis, onderwegwees en ʼn soeke na dit wat onverkrygbaar blyk te wees.

Uit die 20 debuutwerke wat meegeding het, het drie boeke die kortlys vir die 2022 UJ-debuutprys gehaal. Dié boeke is (alfabeties volgens skrywer):

Swatland – Ashwin Arendse (Kwela)

Man op ʼn fiets êrens heen – Frederik de Jager (Protea)

Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte – Aryan Kaganof (Naledi)

Volgens die beoordelaarspaneel bring Arendse se debuut ʼn blik op die Malmesbury-leefwêreld. Die leser word gedwing om die klank van die taal uit dié streek in die gedigte te erken met dié dat die gedigte die eerste leksikale weergee van die bry-klank in die Afrikaanse letterkunde aanbied. Arendse se verse is dringend en onsentimenteel.

De Jager vestig hom met dié debuut as een van die heel beste essayiste in Afrikaans, het die paneel geoordeel oor dié bundel waarin De Jager die vensters wyd oopgooi vir ’n wye blik op wêrelde, tale, kuns en kunstenaars en geskiedenisse. “Hierdie bundel tydskrifrubrieke lees – as ʼn geheel én van rubriek tot rubriek – steeds op dieselfde vlak as van die beste korter fiksie wat daar te vind is in Afrikaans.” 

“Om Kaganof se bondige teks in een genre of kategorie te plaas, is om soos met hoeksnyers te goël (juggle),” is die mening van die beoordelaars. Die teks is eksemplaries van sogenaamde abjekte letterkunde deurdat literêre konvensies ondermyn en oorskry word. Die grense tussen genres vervaag en boonop ondermyn Kaganof taal- en spelreëls en skroom hy nie om te eksperimenteer en uit te daag nie.

Die UJ-pryse vir Afrikaans word sedert 2000 jaarliks toegeken aan skrywers van uitsonderlike Afrikaanse boeke. Waar die UJ-prys vir Afrikaans ʼn oop kategorie is vir boeke van enige genre wat in Afrikaans geskryf is deur niedebutante en wat verskyn het tussen 1 Januarie en 31 Desember van die voorafgaande jaar (2021, dus, in hierdie geval) is die UJ-debuutprys geoormerk vir debute. Altesaam 86 titels is ingeskryf waaronder 20 debute.

Die paneel beoordelaars vir die 2022 UJ-pryse vir Afrikaans was Frederick J Botha (SPU), Karen de Wet (UJ) – voorsitter, Sonja Loots (UK), Ryan Pedro, Marné Pienaar (UJ) en Jo Prins.                          

Die wenners word op 18 April aangekondig.

Lees ook:

Ronelda Kamfer (1981–)

Die getuienis: ’n onderhoud met Francois Smith

Resensie: Die getuienis deur Francois Smith

Dol Heuning deur SJ Naudé – ’n lesersindruk

Swatland deur Ashwin Arendse: ’n onderhoud

Swatland deur Ashwin Arendse: ’n resensie

Frederik de Jager: ’n Herd wat knetter met stories

Nuut by Naledi: Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte deur Aryan Kaganof

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top