Resensie: Die getuienis deur Francois Smith

  • 0

Titel: Die getuienis
Skrywer: Francois Smith
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624092353

Francois Smith se derde roman, Die getuienis, slaan ’n interessante nuwe rigting in, weg van sy twee vorige romans Kamphoer en Die kleinste ramp denkbaar waarmee hy reeds vir hom ’n beduidende plek in die Afrikaanse lettere oopgeskryf het.

Die getuienis vertel die verhaal van Retha en Gerbrand wat saam met hulle twee seuns by ’n Christelike bedieningsentrum êrens tussen Naboomspruit en Bela-Bela woon en werk. Retha behartig die sentrum se administrasie, spyseniering en kommunikasie op sosiale media; Gerhard bedien die Woord en lei seminare. Hulle beland per toeval daar nadat hulle lewe in Pretoria ineengestort het en hulle al hulle aardse besittings verloor het. Die woord “toeval” pas egter nie in hulle manier van dink en praat nie; wat hulle betref, is alles voorbeskik en deel van God (na wie hulle deurentyd verwys as “Vader”) se plan met hulle lewens.

Die motoriese moment van die verhaal kom wanneer Gerbrand ’n uitnodiging van ’n ou skoolvriend kry om te gaan deelneem aan ’n Christelike seminaar op Ventershoop, ’n dorp naby die Swartvlei-gevangenis waar hy grootgeword het. Die roman is Retha en Gerbrand se “getuienis” van alles wat op die reis na Ventershoop en terug met hulle gebeur het. In die proses onthul hulle natuurlik veel van hulleself en van hulle lewens voor én nadat hulle mekaar ontmoet het.

Die getuienis word aangebied as twee afsonderlike verhaallyne, die een vertel deur Retha, die ander deur Gerbrand. Die verhale wissel mekaar voortdurend af sodat ’n mens ’n soort lopende kommentaar op gebeure tydens die reis kry. As literêre tegniek is dit besonder interessant, omdat ’n mens kan sien hoe verskillend die twee karakters dieselfde gebeure ervaar, hoe hulle met mekaar in interaksie tree en presies hoe die bedrading van hulle verhouding loop. Die twee vertelstemme word ook mooi van mekaar onderskei: Retha se diskoers, wat dig sit van Engelse woorde soos “amazing” en “awesome” asook die neiging om ’n rooskleurige tint aan sake te gee, staan teenoor Gerbrand se manier van praat wat getuig van ’n sensitiewe en diep gekwelde belewing van die wêreld (soos wat blyk uit sy gevoeligheid vir Satan se teenwoordigheid in die wêreld om hom en sy waarneming van sekere bonatuurlike elemente wat sy vrou nie raaksien nie). Alhoewel die optrede van die twee karakters soms na die ekstreme neig (soos wanneer Gerbrand by ’n vulstasie hardop bid dat die Bloed van Jesus die petrol moet suiwer van die joggie met die bokvelarmband se sataniese invloed), is daar geen sweem van ’n satirisering van die karakters van die kant van die skrywer nie. Die leser word ook betrek omdat jou oordeel oor watter karakter werklik eerlik is, watter een reg optree in ’n bepaalde situasie, en waar die magsbalans hê, voortdurend verskuif.

...
Die verhale wissel mekaar voortdurend af sodat ’n mens ’n soort lopende kommentaar op gebeure tydens die reis kry. As literêre tegniek is dit besonder interessant, omdat ’n mens kan sien hoe verskillend die twee karakters dieselfde gebeure ervaar, hoe hulle met mekaar in interaksie tree en presies hoe die bedrading van hulle verhouding loop.
...

Hulle reis na Ventershoop het ’n wankelrige begin: Hulle het ’n ou motor wat nie die reis van 800 km ver sal oorleef nie, en ook geen geld vir petrol, verblyf of enige ander behoeftes nie. Hulle vertrou egter op Vader om vir hulle te voorsien – iemand leen vir hulle ’n klein motortjie en hulle kry in die loop van die reis hier en daar klein bedrae geld wat hulle help. Dit is betekenisvol dat die uitnodiging kom van ’n ou skoolvriend van Gerbrand (getroud met die meisie op wie Gerbrand op skool verlief was) en dat die reis hulle sal terugneem na die plek waar hy ’n ongelukkige jeug deurgebring het. Besonderhede in verband met die geweldenaar-stiefpa van sy jeug, die dood van sy ouer broer Johnny en die spanning met sy skoolvriend Pierre tree geleidelik na vore om ’n beeld van sy kinderjare te teken. Dit word aangevul met die onthulling dat sy skoonpa gekant was teen sy huwelik met Retha en dat hulle as betreklik welgestelde Pretorianers neersien op sy beskeie herkoms. Verder vind ons uit wat daartoe gelei het dat hulle al hulle aardse besittings verloor het en met hulle twee kinders na Naboomspruit moes trek.

Veral vir Gerbrand is dit ’n reis terug na die verlede en die omgewing wat hom gevorm het. Hulle besoek op pad sy ma wat nou saam met haar derde man op Winburg woon, en in die Ventershoop-omgewing sy oorlede broer se weduwee en seun, asook ’n neef en ou skoolvriende. Die vervallenheid van die dorpe waar hulle aandoen en veral van Ventershoop, wat vir Gerbrand lyk soos ’n plek wat afgebrand het of ’n afgekapte woud, roep die troosteloosheid van sy verlede op.

Wat veral na vore tree uit hierdie gedeelte van die vertelling is die sfeer van geweld en trauma rondom die mansfigure. Gerbrand gee min van die spesifieke besonderhede van sy verlede prys, sodat dit duidelik is dat daar dinge is wat hy nog onderdruk. Daar is egter verwysings na die geweld van sy stiefpa, oom Bouwer, van wie daar herhaaldelik gesê word dat hy “’n verskriklike man” was. Daar word ook gesuggereer dat geweld voortgeplant word na dié wat dit moes ervaar, soos Gerbrand se broer Johnny en dié se seun Ferdie wat aan skisofrenie ly, asook sy skoolvriend Pierre, wie se pa uit selfverdediging deur sy jong boetie doodgemaak is.

Die indruk van trauma, verbind met ’n aggressiewe en verwoestende soort manlikheid, word bevestig deur die verwysings na Gerbrand en Pierre se tyd as soldate in die grensoorlog. Veral Pierre het veel onderdrukte woede en jaloesie in hom, soos wat blyk wanneer hy Gerbrand op byna gewelddadige manier konfronteer oor die aangetrokkenheid wat daar op skool tussen Gerbrand en sy vrou Inge was. By sy neef Lourens in Swartvlei ontmoet Gerbrand vir Simon wat sy eie kerk gestig het, met sterk bowetone van rassisme en geweld (een van die vroue noem dit ’n “oorlogsbende” omdat hulle wapens bymekaar maak vir ’n moontlike konflik). Binne dié konteks word daar met minagting gepraat van iets soos die posttraumatiese stres waaraan talle van hulle ly –  “Glo jy daai pot kak?” vra een van Gerbrand se ou vriende vir hom.

Hierteenoor staan die byna teer portrette van enkele ander mans in die vertelling, veral dié van oom Ras, die man met wie Gerbrand se ma getroud is. In Retha se oë slaan hy ’n verslonste, byna patetiese figuur, maar hy is die een wat vir Gerbrand ’n derde van sy beskeie maandelikse pensioen gee vir hulle reis. Wanneer oom Ras by Gerbrand se terugkeer van Ventershoop af agterkom dat hy diep ontstel is deur wat hy daar ervaar het, bied hy aan om vir Gerbrand tee te maak. “Hy het hartseer geraak, ek kon dit sien, en toe vra hy of hy vir my tee kan gaan maak. Net dit. ’n Mens moet lank daaraan dink om dit regtig te verstaan, om te verstaan wat dit regtig beteken as iemand soos oom Ras, of enige iemand anders, vir jou vra of hy vir jou kan gaan tee maak,” sê Gerbrand (127).

...
Onder die aanslag van die herinneringe uit sy verlede raak Gerbrand se gewaarwordings nóg meer sensitief vir dit wat hy as die teenwoordigheid van Satan sien. Hy word byna oorweldig deur die indruk dat daar ’n vloek op alles rus.
...

Onder die aanslag van die herinneringe uit sy verlede raak Gerbrand se gewaarwordings nóg meer sensitief vir dit wat hy as die teenwoordigheid van Satan sien. Hy word byna oorweldig deur die indruk dat daar ’n vloek op alles rus. By geleentheid wonder hy of “ons op een stukkie grond kan loop waar daar nie bloed vergiet is nie. Hierdie hele land dra die vloek, en ons kan maar net biddend lewe” (86). Ook aan Swartvlei dink hy in apokaliptiese terme – hy verwys na “die Kaïnsmerk van Swartvlei, die merk van mislukking, van God se oordeel” (115).

Een van die mees wesenlike aspekte van die reis en Gerbrand se getuienis is sy kwelling oor sekere grondslae van sy geloof. Hy word veral gekwel deur die vraag waarom God vir Abraham gevra het om sy seun Isak te offer op die berg Moria (dit is opmerklik dat een van die kerke wat Gerbrand in Ventershoop aantref, die Moria Family Church genoem word). Dit is ’n vraag waarmee teoloë en filosowe soos Martin Luther, Immanuel Kant, Søren Kierkegaard en Jacques Derrida hulle al besig gehou het. Gerbrand se praatjie op Ventershoop gaan daaroor en dit duik weer op wanneer hulle terug is by die huis. Volgens sy eie getuienis het hy dit vroeër gelees as ’n aanduiding van wat geloof vereis en dat Abraham blindelings vertrou het dat God sal voorsien. Ná wat hy op die reis ervaar het, wonder hy opnuut oor hierdie Skrifgedeelte in Génesis 22: “Dit is nou vir my asof God ook gekwes was, asof Hy seergemaak was, asof hy eintlik aan posttraumatiese stres gely het, toe reeds, lank voordat sy Seun so verskriklik aan die kruis gesterf het” (155). Hy worstel hiermee totdat sy vrou en seun hom uit sy dilemma wegredeneer met meer konvensionele reaksies op hierdie Bybel-passasie. Retha raai wel dat sy verwarring en ontsteltenis hieroor iets te doen het met die geskiedenis van sy gewelddadige stiefpa, maar daar is aanduidings dat sy seun Ruan (wat vertel hoedat hy ’n wonderwerk gedoen het deur ’n veldbrand te stop én hoe hy sy geliefde hondjie verkoop het) dalk gaan ontwikkel in die soort man wat Gerbrand op sy reis gesien het.

Die getuienis lyk op die oog af na ’n eenvoudige verhaal in twee stemme. Tog skuil daar veel onder die oppervlak om te oorweeg en ontleed. Dit is nie net Gerbrand se interpretasie van Abraham se situasie op Moria wat stof tot nadenke bied nie, maar ook ander aspekte van die roman. Daar is byvoorbeeld die rol van geslag en klas in die karakters se ervaring van geloof, trauma en verlies; die impak van geloof op mense se opvattings oor siekte, ook geestesiekte, seksualiteit en politiek; die rol wat charismatiese kerke in die samelewing speel; en op meer persoonlike vlak die drome en visioene (van veral Gerbrand) en die verwysings na hom as ’n valk.

Die getuienis lig op heel besonderse wyse ’n bepaalde snit uit die Suid-Afrikaanse samelewing om aan die leser te toon. Die subtiele, empatiese en onderbeklemtoonde manier waarop Smith te werk gaan, slaag egter daarin om die roman se vrae oor liefde, geweld en geloof ver buite die grense van ’n bepaalde plek en tyd te laat resoneer.

Lees ook:

Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith: ’n bespreking

Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith: ’n bespreking

Francois Smith se Kleinste ramp denkbaar gaan boei, terroriseer

LitNet Akademies-resensie-essay: Kamphoer deur Francois Smith

Tien vrae: Francois Smith oor Kamphoer

Biebouw-resensie: Kamphoer deur Francois Smith

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top