Die kleinste ramp denkbaar
Francois Smith
9780624089988
Tafelberg
Hoe op aarde volg ’n skrywer ’n boek soos Kamphoer op?
Daar is ’n ou sêding in die bedryf: Jou tweede boek is die moeilikste. Veral as jy ’n helse goeie debuut gemaak het.
Arundhati Roy se God of small things het van haar ’n internasionale ikoon gemaak, deels ook weens die Booker-prys wat sy hiermee verower het. Dit het 21 jaar geneem voor haar tweede roman, The ministry of utmost happiness, verskyn het. Hierdie roman was ontdaan van enige “happiness”, maar dié van ons wat die moeite gedoen het om deur die boek te werk, kon nie anders as om nog meer bewondering vir hierdie sonderlinge skrywer te kry nie. Maar die woorde moeite en werk is beskrywend van wat nodig was.
Francois Smith se tweede roman het ook werk gekos, dalk effens minder moeite as dié van Roy, maar steeds was dit glad nie ’n maklike leestaak nie. Dit is stadig en die algehele afstandelikheid waarmee die vertellende instansie die wêreld beskou, maak die leeservaring swaar. Tog, uiteindelik het Smith weer getoon dat hy kán skryf.
Ek het die boek op ’n aantal uitgelese leeskringe se leeslyste gehad, maar is nie na een genooi om hieroor te praat nie. Wat jammer is, want dis die soort boek wat by uitstek geskik is vir ’n dieptegesprek.
Goed, maar dit is moeilik.
Deon Meyer se nuutste, Donkerdrif, het ook geel op die voorblad, maar is waarskynlik die teenpool van Smith se Die kleinste ramp denkbaar.
Of is dit?
Ek wil voorstel dat Die kleinste ramp denkbaar as ’n speurroman gelees moet word. Bennie Griessel sou dalk weer begin drink as hy gedwing sou word om hierdeur te lees, maar vir die regtig ernstige leser kan hierdie boek ’n besonder interessante leeservaring word.
Donkerdrif is soos ’n plak ontwerpersjokolade waarin growwe sout uit die Kalahari saam met die suiker meeding vir die tong se attensies. Dis donker genoeg, baie lekker, heeltemal onvoorspelbaar, maar met genoeg suiker om dit toeganklik te maak. Die kleinste ramp denkbaar is soos Lindt se 99%. Dis bitter. Punt.
Daar is gelukkig vreemde mense, soos ek, wat vrek oor Lindt se 99%, daarom het ek ook uiteindelik veel genot geput uit Die kleinste ramp denkbaar. Maar dit is nie almal se tongtippietoets nie.
’n Gesprek vir leeskringe
Ek gaan moeite doen om leeskringe se belangstelling te prikkel vir Die kleinste ramp denkbaar. Dit is helaas nie die soort boek wat geskryf is vir die ligte leser nie, maar diegene wat hulle graag ophou met boeke van internasionale standaard ... wel, ek daag julle hiermee uit om ’n plak 99%-sjokolade te koop, ’n goeie, ou rooiwyn oop te maak en hierdie een weer ’n keer te oorweeg.
Dit is, helaas, nie ’n roman wat ’n mens lees soos ’n whodunnit nie. Tensy jy weet waarna om op te let. Die kleinste ramp denkbaar is soos ’n Franse kunsfilm. Stadig, beeldskoon en totaal ontdaan van enige poging om die leser/kyker in te slurp in enige aksie, maar, uiteindelik, is al die beeldskone beelde die klein leidrade wat soos broodkrummels gevolg moet word – voordat die voëls, ’n belangrike leitmotif in hierdie roman, dit opvreet.
Die basiese storielyn
Die einde van die storie word reeds op die eerste bladsy vertel. ’n Mediese dokter wat vir 27 jaar op sy geboortedorp praktiseer, verkoop alles en gaan locum in die buiteland. Daar het jy dit. Einde van storie, maar dit is ook die begin.
Gustav van Aardt is die huisarts op ’n klein dorpie; in Engels is hy die “family doctor” (sien bladsy 255).
Een oggend lê die logge lyf van ’n plaaslike polisieman, Frans Schuin, in sy wagkamer. Die man het sy bewussyn verloor en niemand weet wie hom hier neergesit het nie. Die pasiënt se koors is gevaarlik hoog.
Van Aardt stel ondersoek in en besef dat ’n bosluis die polisieman gebyt het. Schuin het nou bosluiskoors. Hier lê reeds ’n aanduiding van ’n klein, klein ramp wat ’n enorme impak op ’n mens se lewe kan hê. ’n Piepklein bosluisie kan ’n baie groot man plattrek.
Van Aardt stabiliseer die pasiënt en boek hom in by die plaaslike distrikshospitaal, waar ’n Kubaanse dokter na die staatspasiënte omsien, terwyl Van Aardt ’n paar sale het waarheen hy pasiënte kan verwys.
Tussendeur praat Van Aardt met pasiënte en probeer hy uitvind wie die polisieman ingebring het. Hoe meer hy met van die dorp se inwoners probeer gesels oor die man, hoe meer kom hy agter dat die kêrel erg ongewild is; niemand wil openlik oor hom praat nie en niemand wil verantwoordelikheid neem vir hom nie.
Wanneer die pasiënt uit die hospitaal verdwyn (hy boek homself uit ná hy beter voel), gaan Van Aardt op ’n vreemde, doellose soektog na hom.
En dis omtrent die storie.
’n Dokter moet na stories kan soek
Van Aardt is ’n huisarts. Dit is ’n belangrike leidraad. ’n Huisarts word opgelei om na ’n pasiënt te luister. Baie dikwels sal ’n pasiënt presenteer met ’n vae pyn, maar uiteindelik is daar ’n huishoudelike kwessie wat eintlik deur ’n maatskaplike werker opgelos moet word. Die mediese dokter is egter die een wat die pyn moet “oplos” deur die pasiënt te verwys. Die dokter is dus dikwels die eers een wat moet luister.
My geliefde is ’n spesialis in huisartskunde en lei jonger dokters op in hierdie veld. Terwyl ons in Venda gebly het, was daar ’n gereelde klagte by haar: “Daar is ’n slang in my maag ...” Sy het gou geleer dat dit ’n noodkreet is en dat die pasiënt uiteindelik die leidrade sal gee as sy goed genoeg luister.
’n Goeie huisarts is dus in die eerste plek ’n goeie ontleder van stories. ’n Goeie huisarts is ook ’n speurder, want die kleinste ramp denkbaar kan ’n pasiënt in die spreekkamer laat beland met ’n vae klagte, maar een wat opgelos moet word.
Die stories wat aan huisartse vertel word, maak nie altyd sin nie en die leidrade is dikwels vals. ’n Dokter in die platteland het ook nie duur toerusting waaraan ’n pasiënt gekoppel kan word nie; dáár is ’n stel goeie ore die heel belangrikste diagnostiese instrument.
Dalkies sou Bennie Griesel hier saamstem. ’n Goeie speurder moet kan luister, moet kan raaksien en hóór wanneer ’n persoon een ding sê en iets anders bedoel.
So, wat ís die kleinste ramp denkbaar? Ek dink ek weet, maar dalk moet ons eers vra: Wat is die grootste ramp wat ’n huisarts kan oorkom?
Hierdie roman wil klaarblyklik vir ons wys dat Van Aardt nie meer kan hoor wat mense sê nie. Daar is nie fout met sy ore nie, nee. Hy het bloot die vermoë verloor om mense se stories te kan verwerk. Dit wil voorkom asof hy al hoe meer wegdryf van die pasiënte wat hom kom spreek. Vir ’n huisarts is dit ’n ramp. ’n Fatale ramp.
Kyk wat sê die vertellende instansie self:
Dit is die situasie breedweg geskets, en uit die staanspoor het hy geweet hy moet probeer om by die essensiële konkrete besonderhede uit te kom; by niks meer of minder nie. As hy dit nie regkry nie, sal hy nooit kan uitpluis wat dit is wat met hom gebeur het nie, en hoe dit gebeur het nie. (10)
Ook, soos die verteller self sê wanneer hy die einde van die storie op die eerste bladsy uitlap: “Dit is ’n soort funksionele begin. Waarby hy eintlik wil uitkom, is by wat hom uiteindelik in staat gestel het om die dorp te verlaat waar hy grootgeword het” (9).
Die leser weet dus wat die uiteinde van die verhaal is. Van Aardt moet padgee.
Dink nou weer aan ’n goeie ’n speurverhaal: Ons weet gewoonlik aan die begin van ’n Deon Meyer-roman wat die probleem is. Die vraag is egter: Hoe de dinges het dit gebeur? En hoe gaan Bennie alles oplos?
Bennie moenie begin drink nie, so ons gaan nie hierdie boek vir hom gee nie. Ons as leserspeurders moet dus uitvind wat op aarde (um) aangaan met Van Aardt.
Regdeur die boek is daar leidrade wat die leserspeurder sal lei om ’n diagnose van dokter Van Aardt se probleem te probeer maak.
Van Aardt as buitestander
Op die eerste paar bladsye besef die leser al dat Van Aardt se pa ’n problematiese, afstandelike figuur was wat in sy whisky ontsnap het. Sy ma het uiteindelik kanker gekry, maar was ook vasgevang in depressie.
Dit is die huis waarin hy grootgeword het.
Van Aardt het gaan medies swot omdat sy ma kanker gehad het, maar haar skynbare afwesigheid in sy kleintyd had niks met kanker te doen nie.
As puber is hy toe weggestuur na ’n belangrike skool waar hy “die handdruk sou leer waarmee die skool se old boys mekaar groet”; om in te pas, dus; om te kan kommunikeer. By die skool pas hy egter nooit in nie, maar word ook van enige vriende in sy tuisdorp vervreem weens die skool waar hy nou is.
Van Aardt was sy lewe lank alleen.
Die een enorme voordeel van dié skool is dat hy een aand ’n meisie ontmoet wie se “romp omtrent ’n sentimenter onder haar kleurbaadjie se soom uitsteek”. Sy buk dan so laag dat hy “die ligte hoendervleis waar boud en binnedy en broekie bymekaarkom” kan sien. Wanneer hy haar jare later weer sien, word dié meisie sy vrou.
Die manier waarop hy die meisie die eerste keer sien, gereduseer tot ’n stukkie vlees waar die broekie eindig, is dalk nie vreemd vir ’n onskuldige jong man nie, maar let daarop dat hierdie gedrag, om klein dele van mense se anatomie te bestudeer, maar vanaf ’n afstand, regdeur die boek voorkom. Daar is iets byna outisties aan die manier waarop hy besonderhede waarneem sonder om betrokke te raak by die liggaam.
Gustav van Aardt het nooit geleer om emosies te kommunikeer nie.
Sy ouers was emosioneel afwesig. Op skool was hy nooit betrokke nie.
Hy het die ore, die mond, die brein, maar nie die sosiale vaardighede nie.
En tog ... tog kon hy aanvanklik die praktyk op die dorp koop en vir 27 jaar genoeg verdien om vir ’n seun se studies te betaal.
Hy is dus nie totaal afwesig nie. Hy is (of was) skynbaar ’n redelik goeie dokter.
Hoe was hy as pa? Dit wil voorkom asof sy seun nie veel dink van sy dokter-pa se vaderskapvaardighede nie.
En die vrou? Sy mooi vrou? Lewenslustig, eens ... Sy het weggeloop van hom af.
Om te Karel Schoeman
As iemand my hierdie boek as manuskrip in die hand gestop het en gesê het dis die laaste Karel Schoeman, sou ek dit moontlik geglo het.
Soos in alle Schoeman-romans is die fokaliseerder hiperbewus van wat om hom gebeur, maar daar word bitter selde deur die skynbaar onsigbare membraan gebreek na ander mense toe. Schoeman se vertellende instansies neem die leser deur ’n verbluffende reis van feite; wanneer jy dan die boek neersit, is daar ’n hele tafereel in jou kop.
Schoeman se vertellers lei ook die leser stukkie vir stukkie, leidraad vir leidraad, sin vir sin, deur ’n wêreld wat skynbaar ontdaan is van opwinding; tog is dit juis in die klein oomblikke waar Schoeman die leser wat bereid is om soos ’n bosluis vas te byt, oorrompel.
Maar wat sê ’n mens na die tyd daaroor?
Die leser moet byna ’n mistikus wees om Schoeman na waarde te ag; g’n wonder nie dat Johann Rossouw in later jare die een was wat ’n aantal diepgaande lesings oor Schoeman se werk gelewer het.
Was Schoeman dus ’n swak skrywer? Nee, glad nie. Probeer ’n bietjie tel hoeveel toekennings hy en sy werk beide in Suid-Afrika en oorsee gekry het. Hy was ’n briljante skrywer. Hy was egter ook ’n deksels moeilike skrywer. Besoek ’n mens sy boeke op Goodreads, besef jy hoe hy “gewone lesers” intimideer.
Hy het my ook geïntimideer.
By Hierdie lewe is daar ’n resensie deur Francois Lion-Cachet getitel “Soos die lees van ’n hersenskim”. Twee ander lesers, onder wie Waldimar Pelser, het die boek ook vyf sterre gegee, maar nie daaroor gesels nie.
By Verkenning waag Tinus Van Vuuren ’n resensie: “Op historiese vlak word die daaglikse lewenswyse van daardie tyd in groot besonderhede beskryf. As ’n roman is dit vervelig.”
Schoeman se intellek het gemaak dat hy weet mense sukkel om deur sy boeke te lees. Hy had ’n sin vir humor en diegene wat Na die geliefde land gelees het, sou dalk die gesprek tussen Carla en George onthou.
Carla lees ’n geleende boek aan twee seuns voor. Skielik vra sy vir George: “Vertel jy my dan waaroor die boek gaan as jy so aandagtig gevolg het.”
George antwoord: “Oor ’n plaas, oor ’n dominee ...”
Carla besef dus dat die storie wat sy voorlees, by George verbygaan, maar sy beur voort. George, as fokaliseerder, sien dat Carla eintlik ook al belang verloor het; sy probeer egter die ander seun, Paultjie, treiter met die voorlesery. Paultjie wil hê die verhaal moet voortgaan, want netnou wil die eienaar die boek terug hê voor die storie klaar is. “Sal dit ’n verlies wees?” vra Carla, maar lees tog aan.
George, die immer oplettende verteller, sien egter: “Paultjie luister ook nie; die seun se oë word dof en dit is duidelik dat die seun se gedagte geen verband hou met dit wat rondom hom gebeur nie.”
En George? “Self hoor George net Carla se lae, afgemete stem, nie die woorde wat sy lees nie, die swakgeskrewe verhaal oor mense wat geen wesenlikheid besit nie.”
(My kopie van Na die geliefde land is die sakformaat van 1994. Die gesprek vind op bl 98 plaas.)
Schoeman sou dit geniet het om met die leser die draad te steek deur sulke stekies te gee na diegene wat agter sy rug sou sê sy boeke lees moeilik.
Schoeman se werke was tydsdokumente, deels omdat hy oor tydperke in die geskiedenis geskryf het, maar ook omdat hy soos sy tydgenote geskryf het. Nadine Gordimer en JM Coetzee se verhale oor die Suid-Afrikaanse hinterland verskil nie soveel in aanslag van Schoeman s’n nie; veral dan Coetzee se vroeë werke.
Albert Camus se L'Étranger het ’n hele generasie skrywers tot gevolg gehad, en karakters wat los van hulle omgewing gestaan het.
Francois Smith se Van Aardt is ontsettend baie soos ’n Schoeman-verteller, iemand wat in die mond van George (in Na die geliefde land) “geen wesenlikheid besit nie”.
In Smith se Kamphoer was daar ook ’n afstandelikheid. Daar was ook die ekstreme bewustheid van waarneming, maar die boek het ’n eie stramien ontwikkel wat jou meegesleur het. Daar was selfs uitbundige oomblikke, soos die rit met ’n pasiënt in die syspan van die motorfiets.
In Die kleinste ramp denkbaar is die uitbundigheid afwesig. Van Aardt dool rond, soms sonder plan.
Is Smith se vertellende instansie ’n openlike homage aan Schoeman? Dalk. En dit sou nie verkeerd wees nie, maar ... As ek eerlik moet wees, het Kamphoer ’n baie beter leeservaring gebied as Die kleinste ramp denkbaar.
Dit maak nie van Die kleinste ramp denkbaar ’n swak boek nie, maar wel ’n moeilike boek.
Tydsgees
Soos Schoeman grepe uit die wêreld se geskiedenis in enorme detail kon vasvang, gebruik Smith sy vertellende instansie om die ontheemding van die wit, Afrikaanssprekende mens op die platteland vas te vang.
Dít is dapper, want hy doen dit sonder om ’n “ons en hulle”-situasie te skep. Hy vertel monotoon hoe dit is:
- Die dorp is vuil.
- Wat eens die wit kliniek was, word nou deur susters hanteer wat nie altyd fluks is nie.
- Daar is tans pasiënte wat op die vloer wil vuurmaak, want dis hoe hulle dit steeds by die huis doen.
- Daar is nou ’n Kubaan wat in beheer is van die hospitaal.
- Sy nuwe ontvangsdame is die enigste opwindende “iets” in sy lewe en sy is nie wit of Afrikaanssprekend nie.
Smith is juis slim genoeg om nie in rassisme te verval nie.
Ojeda, die Kubaan wat hy so verpes, luister beter as Van Aardt na sy pasiënte en daarom gaan al hoe meer van sy pasiënte na die kliniek.
Van Aardt se opwindende ontvangsdame kom werk vir hom nadat hy gewoon nie meer die pynlik noukeurige, wit Afrikaanse vrou wat vir hom gewerk het, kon uitstaan nie. Hy laat haar loop.
Eben Venter het met Horrelpoot Joseph Conrad se spook opgeroep om die verval van die Suid-Afrikaanse binneland te probeer verwerk. Smith doen dit met die stem van ’n Karel Schoeman, en soos Schoeman, neem hy fyn en bytend waar.
Van Aardt se hormone gaan op loop weens die oulike nuwe meisie by ontvangs – sy is so veel opwindender as die tannie wat so effektief was. Klink dit nie soos ’n aanklag wat soveel Afrikaanse mense maak nie? “Húlle” – altyd “hulle” – “laat goeie wit mense loop en bring swartes in.”
Wel, Van Aardt, hy wat van hierdie dorpe se aarde is, doen dieselfde; bloot omdat hy nie meer die wit vrou se effektiewe werksywer kan verduur nie.
Briljant, Francois Smith.
Oor Van Aardt se loopsheid rakende dié vrou kan ’n mens sekerlik baie ander tekste nader sleep ... Brink, Zakes Mda se The Madonna of Excelsior ... Daar is aanduidings van sodanige gebeure wanneer Van Aardt ongenooid by Van Heerden, die vee-inspekteur, opdaag en dié hom nooi om deur ’n geweer se teleskoop te sien wat regtig in hierdie dorp aangaan.
Dit is ná Van Aardt op ’n dolende soektog gegaan het na mevrou Kgware, op so ’n manier dat almal, skynbaar Van Heerden ook, dink dat Van Aardt eintlik maar net seks soek.
En weer is daar die sardoniese blik op die ouer, wit amptenaar. Van Aardt vererg hom vir die feit dat Van Heerden soveel beter sien wat in die dorp aangaan, sy Sotho so goed uitspreek, soveel meer weet as hy. Kyk na bl 253:
Van Aardt kyk weg van die veeinspekteur se verlepte ooglede, daardie verraderlike varkpoesoë. Wat sal die fokker nou ook weet? Dis belaglik. Hierdie man leef in die verre verlede. Hy is al halfdood, die arme doos.
Let mooi op na hierdie aggressie wat in Van Aardt opwel jeens alles wat eie is aan die aarde waaruit hy voortgespruit het. Hier is ’n Afrikaanse man, hoog die dôner in vir alles wat eie is aan sy eie mense.
Van Aardt kan gewoon nie meer huishou met sy eie nie.
Die laaste sin is dubbelsinnig, want Trish, sy vrou met wie hy ook nie kon huishou nie, se “standaardvraag” (63) aan Van Aardt was: “Maar waarom het jy hierheen gekom as jy die mense so verag, Gustav?”
Mikroaggressies
Frans Schuin, die polisieman wat aan die begin van die boek in Van Aardt se spreekkamer lê, word op bl 26 soos volg beskryf:
Hy het ’n reputasie. Nie ’n goeie reputasie nie, al sal daar mense wees wat hom bewonder daarvoor dat hy een van die weinige wit mense is wat dit uithou in die nuwe polisiemag. Van Aardt onthou dat hy hom eenmaal in die hospitaal gesien het. Luidrugtig. ’n Mengsel van volkse humor en bruuske intimidasie. Maak asof hy iemand met daardie lugskip van ’n hand gaan klap en wanneer dié ineenkrimp, skaterlag hy en gee die drommel ’n palmsaluut.
Daar word ook vele ander insidente genoem oor Schuin.
Van Aardt is dalk nie so openlik aggressief nie, maar ...
Wanneer Van Aardt teen die einde van die boek op ’n dolende soektog na Schuin gaan, loop hy eintlik maar terug op sy eie voetspore en gaan terug na waar hy grootgeword het. Wat meer is, hy hoor uiteindelik nou, dalk vir die eerste keer, hoe die dorp se inwoners oor hóm, Van Aardt, praat.
Sy vrou het hom baie lank terug verlaat, want hy kon nie met haar kommunikeer nie. Selfs toe sy by hom in die spreekkamer kom pleit het om haar ten minste soos ’n pasiënt onder hande te neem, het hy nie.
Is sy egter die enigste pasiënt wat geloop het? Van Aardt kom agter dat die Kubaanse dokter veel meer weet van “sy” pasiënt, die vee-inspekteur Van Heerden, as hy.
Kom die mense op die dorp agter dat Van Aardt besig is om uitmekaar te val? Hoe lank reeds?
Van Aardt diep ’n gruwelstorie oor die Grensoorlog op teenoor die Kubaan – dalk een wat nie eens waar is nie? Waarom? Is dit nie ook ’n passief-aggressiewe skuif nie – om die Kubaan te intimideer, soos Schuin so graag maak?
Mikroaggressies vind plaas in daardie oomblikke wanneer ’n mens iemand seermaak sonder om uitdruklik iets lelik of aggressief te doen of sê. Jy laat mense egter met ’n soort ongemak wat soms moeilik is om te definieer. Soos daardie keer toe Schuin by Van Aardt opdaag en sê hy ondersoek die verdwyning van ’n vrou ...
Die grootste ramp denkbaar
By die begrafnis van sy pa sien Van Aardt die begrafnisondernemer as ’n bosluis (15). Kort daarna speel hy ’n lied van die mini-album Sub Cauda van The Awesome Boys, “Tortoise tears”.
Die woorde is belangrik: “We’re living, ’till dying”.
Ek ken die groep nie, ook nie die lied nie. Skilpaaie se “trane” hou hulle oë vogtig in die droë, warm hitte van die woestyn – dit is noodsaaklik vir hul oorlewing. ’n Skilpad wat nie “huil” nie, sal blind raak.
Sub cauda beteken “onder die stert”. Kyk waar het die bosluis vir Frans Schuin gebyt ...
En wanneer het die drang, teen sy vrou se beterwete in, om na sy geboortedorp terug te keer vir Gustav van Aardt gebyt? Kort na hy die bosluisbegrafnisondernemer ontmoet het. Let ook op die fisiese posisie waarin Van Aardt hom bevind wanneer die besluit geneem word.
In Kamphoer word indringend gekyk na die effek van ’n erge trauma op die siel van die mens, hoe om daardie trauma te help oorkom, asook die gevaar van snellers wat die trauma weer gaan terugbring.
In Die kleinste ramp denkbaar word gekyk na die effek van voortdurende en volgehoue trauma, die klein mikroaggressies, op die mens. Schuin was dalk die sneller om hierdie verhaal te laat stop, maar die dood is al lankal in Van Aardt.
Van Aardt het lankal ophou huil. Tog besef hy nie sy eie afgestorwenheid nie.
Op bl 253 sê die verteller:
Hy ken die dorp lankal nie meer nie. Dis ’n dorp van die sterwendes, die dorp van die dooies. Dis die einde dié. Hy is die enigste lewende in hierdie samebondeling van lyke. Hoe het hy hier beland? Hy het so wragtag oopoë in hierdie ding ingestap. Dis donnerswil belaglik.
Voëls, so leer ons teen die einde van die wyse Teise Thys, is die simbool van die dood in hierdie teks. Van Aardt hoor daardie onbekende voël roep aan die begin van die boek.
Aan die einde van die boek stop hy by geel blommetjies. Hy sien hulle raak. Hy probeer desperaat iets voel. Enige iets.
Die einde van die boek is egter nie die einde nie, want die begin van die boek is die einde van die storie.
Kyk ook na die twee motto’s reg aan die begin van die boek: Jy kan koorsig raak deur dolend jouself te probeer diagnoseer, en jy kan met die beste wil in die wêreld jou stetoskoop op mense se harte sit, maar dit sal nie die dood keer nie.
Op bl 303 word die stetoskoop ’n groteske instrument om Van Aardt se eie dood moontlik af te weer – hy kan dit swaai en “hô, hô” skree as mense hom wil skiet.
Maar dis reeds te laat. Die dood het lank reeds in Van Aardt se psige gaan sit.
Die grootste ramp denkbaar het Van Aardt getref. Hy kan nie meer luister na mense stories nie. Hy kan nie meer voel nie. Hy is totaal afgestomp van die mense van sy dorp; van sy eie mense. Sy “eie mense” se mini-oorloggies het sy psige geknak.
Lees ook:
Die drie dae van Gustav van Aardt: ’n bespreking van Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith
Francois Smith se Kleinste ramp denkbaar gaan boei, terroriseer
Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith: ’n bespreking deur Kerneels Breytenbach
Kommentaar
Uitstekende bespreking.
Baie dankie! Nou verstaan ek ook die boek, al voel ek bietjie dom dat jy dit eers moes verduidelik. Dalk sou ek met 'n herlees beter snap, maar het nie kans gesien nie.
Wow Izak, dit wou gedoen wees, baie dankie !!!!
Dankie, vir die uitstekende, verhelderende bespreking!
‘n Pretensieuse boek met geen momentum nie. Die skrywer probeer ons hoogstens beïndruk met sy kennis van Mahler en afstoot met sy konstante onderlangse verwysing na iemand, maar meestal die sinusoïdale vrou se tepels. Ek dink ook nie Karel Schoeman sou die vergelyking waardeer nie.