Donkerdrif deur Deon Meyer: ’n boekresensie

  • 5

Donkerdrif
Deon Meyer

Tafelberg
ISBN: 9780798181662

Die ooreenkomste tussen Markus Jooste wat Suid-Afrikaanse beleggers in Steinhoff R200 miljard gekos het en Jasper Boonstra, die hoofboef van Donkerdrif, is ooglopend.

Boonop land die koerant met die nuus dat Jooste gestraf word met R122 miljoen vir binnehandel in dieselfde week op my lessenaar as Deon Meyer se nuutste boek.

Dit raak ’n byna onmoontlike taak om feit en fiksie te skei, hoewel die skrywer en uitgewer waarskynlik enige ooreenkomste sal ontken. Die waarheid is egter vreemder as fiksie in hierdie geval vir diegene wat die grootste bedrogsaak in die land se private sektor die afgelope drie jaar met valkoë dophou.

Boonstra – of is dit nou Jooste? – het onder meer ’n landgoed buite Stellenbosch, ’n huis op Hermanus, en ’n skelmpie in Franschhoek; daar is duur motors ter sprake en verskeie stories oor die flambojante sakeman wat oënskynlik met sy lewe aangaan asof niks gebeur het nie.

Boonop kom die nuus in dieselfde week dat Christiaan Prinsloo, ’n voormalige kolonel in die polisie wat wapens vir die Vlakte-bendes gesmokkel het, uit die tronk vrygelaat is. Diegene wat glo die hoofkarakter in Meyer se boek is op hom geskoei, wen ’n Datsun.

Meyer verstrengel fiksie en feite tot die einde in ’n boeiende tango wat die leser vasgenael hou.

Die donker drif van gierigheid is die leitmotief wat deur die boek loop en die goue draad verskaf wat die storielyn bind.

Waarvan praat ons?

Daar is die bekende Polisie-Valke Bennie Griessel en sy kollega Vaughn Cupido wat geskors word en onverklaarbaar na Stellenbosch gepos word as straf wanneer ’n misdaadoperasie skeefloop.

Daar kry hulle die saak van die verdwene Callie de Bruin, ’n briljante student wat ’n verslawende belangstelling in rekenaars het, wat onverklaarbaar verdwyn en net ’n geldspoor los om gevolg te word. Hulle moet die digitale spoor vat van die maer, bleek nerd met die roofvoëlneus wat agter sy peperduur rekenaar in El Solo Lobo ontaard en met The Rolster knoei, duisende belê maar steeds sy arme ma se sakgeld elke maand bank. Wat nou gemaak as die spoor wat hulle volg, in die polisie se rekenaars in verdwyn …

Dan is daar die pragtige, sensuele eiendomsagent Sandra Steenberg wat kniediep in die skuld is en ’n reddingsboei kry wanneer die swendelaar Boonstra haar met die oog uitsoek om sy eiendom Donkerdrif te verkoop sonder dat die kopers weet hy is die verkoper, terwyl sy ook die attensies van haar slymerige baas Charlie moet afweer en telkens aan haar eie pa se verlede herinner word.

En daar is ’n moorde soos ’n mens van ’n goeie misdaadstorie verwag. Die een van ’n polisieman wat lont in eie geledere ruik en dan die ander een wat ook in ’n stewige sekstoneel kon ontaard het.

Meng dit met ’n korrupte polisieman wat spore doodvee en sorg dat wapens verdwyn (Prinsloo?) en die resep is daar vir ’n naelbyter om jou tot laat in die nag uit die slaap te hou.

Vir my het ’n goeie misdaadroman twee belangrike elemente. Eerstens is daar die storie wat geloofwaardig moet wees en jou moet bly boei. In die tweede plek is daar die karakters wat lewend moet wees en natuurlik ook geloofwaardig.

Hierin slaag Meyer die toets en word al die lyne van die verskillende intriges netjies bymekaar getrek en die spanningsdraad styf gespan. Hy gaan byna te werk soos ’n kok met ’n beproefde resep wat die gereg doelgerig stuur en later net hier en daar ’n tikkie sout of peper byvoeg vir die fynproewer.

Tog kan ’n mens sê dit raak ’n bietjie ’n geval van eenrigtingverkeer in ’n tweerigtingstraat. Daar is ’n simbiotiese verhouding tussen ’n boef en ’n speurder in ’n boek. ’n Boekspeurder sukkel sonder ’n onheilspellende boef wat die spanningsvlakke kan bou en die reuk van gevaar in die lug kan laat hang. Hier is die boewe maar mak teen dié wat in die koerant beland.

Tweedens is daar die karakters. Verbeel ek my of het Griessel en Cupido sag geword? Griessel se drankspook het nou ’n gemoedelike Casper geword en die lang gesprekke oor Cupido se gewig en burgers herinner aan twee huisvroue eerder as geharde Valke. Miskien verloor ou bekendes later hulle grinterigheid, of miskien is die twee besig om soos rivierklippe rond te word.

Nietemin sal dit nie aanhangers steur nie, maar vir diegene wat hou van hulle karakters met littekens sal dit hinder dat hulle al meer soos gladde TV-aanbieders sonder plooie begin lyk.

Nogtans lees die boek lekker. Daar is dele wat jy nie kan wag om om te blaai nie en ander waar jy wens die mes was ’n bietjie ingelê.

Die grootste irritasie met taal is die worswoorde soos “Provinsiale Misdaadtoneel-ondersoekeenheid” (121).  So die eenheid ondersoek die toneel en nie die misdaad nie? ’n Aanvalsgeweer (123) het seker meer plofkrag as ’n verdedigingsgeweer, maar waarom iemand deur ’n enkeldeurpoort (140) by die polisiekantoor moet ingaan, gaan die verstand te bowe. Daar is nog vele, soos “tweeverdiepingkompleks” (141), “staatsdiensverskafte houttafels” (143), en die bank se verhoudingsbestuurder (154) wat gelukkig ook vir Sandra irriteer. Dit is egter vlieë wat ander dalk nie sal pla nie.

Daar is die vermoede dat die boek maklik aangepas kan word om die draaiboek vir ’n rolprent te word, en miskien is dit juis met die oog daarop geskryf. Niks fout daarmee nie, solank Meyer onthou ’n boek is ’n boek en ’n rolprent is ’n rolprent. Dat die man die vermoë het om tonele in die boek byna filmies voor jou te laat afspeel, is ’n gawe. Veral die openingstoneel is besonder kragtig en waarskynlik soos dit in die werklikheid gebeur waar skote nie altyd in die bedoelde rigting gaan en die goeie ouens nie noodwendig maklik oorwin nie.

Die boek eindig met wat ’n mens vermoed die begin van die volgende riller gaan wees. Waarskynlik sal Griessel dan doodnugter wees en Cupido so maer soos ’n kraai.

  • 5

Kommentaar

  • Awie. Asseblief! Afrikaanse le Carre? Glo Deon sal ook met jou verskil. Weet van geen skrywer vandag wat sou droom om met le Carre vergelyk te word. Rêrig. Die twee se genres verskil in elk geval hemelsbreed.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top