Tien vrae: Francois Smith oor Kamphoer

  • 0

Skrywers oor hul nuwe boeke: Francois Smith gesels oor Kamphoer.

Waarom het jy Kamphoer geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Dit was ’n opdragwerk. Ek het by my broer Charles Smith van die storie gehoor soos dit weergegee is in Nico Moolman se selfgepubliseerde boek The Boer War. Ek het dit aan Riana Barnard van Tafelberg-uitgewers genoem, en ons het die moontlikheid van ’n Afrikaanse weergawe daarvan bespreek. Sy was uit die staanspoor opgewonde oor die gedagte. Ek het gesê dit kan nie ’n vertaling wees nie. Sy het gesê: Nee, ons maak ’n nuwe boek, en jý skryf dit. Sy het vertroue gehad in my vermoë op grond van redigering en manuskripontwikkeling wat ek oor jare vir haar gedoen het. Daardie vertroue was deurslaggewend.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Tydsdruk. Om allerhande logistieke redes moes ek die boek in ’n betreklik kort tyd skryf. Maar dit het my ook heel doelgerig en pligsgetrou laat skryf; ek het bloot elke dag gaan sit en my kop gehamer. Tot laat die aand. Maar die groot uitdaging van skryf lê op taalvlak, om bepaalde stemmings, emosies, ritmes en klanke in taal gestalte te laat kry. Dit is die uitdaging vir enige skrywer.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Ja, dit het dikwels gebeur dat ek doodeenvoudig voor ’n muur te staan gekom het. Wat nou? En dan sit ek en dink en dink en krabbel en krap, maar daar gebeur niks nie. My spens van woorde en idees bly dolleeg. Dan het ek maar opgestaan en gym toe gegaan of die huis se inkopies gaan doen. Maar heeltyd met my gemoed soos ’n soeklig op alles onderweg. Dan sien ek langs die straat ’n boom, of tussen die winkelrakke iemand, ’n gesigsuitdrukking, ’n gebaar, en dit roer iets in my. Wat dit is, weet ek dan nog nie, maar wel weet ek iets in my onbewuste het gereageer. Ek haas my dan terug na my lessenaar en probeer op die wit vel papier soek en soek na waarom daardie boom, daardie gebaar vanuit my onbewuste na bowe gekom het.

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema?

Al hierdie dinge is belangrik, maar dalk kan ek iets sê oor ruimte. Ek het my nooit voorgeneem om ’n historiese roman te skryf nie. Skryf wou ek wel skryf, maar ek glo nie ek het in enige stadium iets histories oorweeg nie, wel eerder ’n futuristiese werk. Lank voordat ek aan Kamphoer begin skryf het, voor die aanvang van die drie maande wat daarvoor toegewys was, het ek reeds in my kop daarmee gestoei, begin dink aan hoe ek die storie kan vertel, aan die beperkings, aan wat my aanslag kan of moet wees, sulke goed. Met hierdie dinkery het ek al hoe sterker besef dat ek, ongeag die historisiteit van die gegewe, iets moderns wil skryf. Ek bedoel daarmee dat dit modern moes wees in die manier waarop die karakters se binnewêrelde ontgin word, in die manier waarop die karakters as’t ware met hulself praat. Dít moes nie ’n sepia-skynsel hê nie. Maar ek was tog ook bewus van die verwagting dat jy met historiese fiksie ’n vervloë era vir die leser voor oë moet roep, en veral daardie historiese landskap, daardie ruimte, konkreet moet herskep. My broek het gebewe. Toe lees ek Hilary Mantel se Bring up the bodies. Dis Engeland van die 16de eeu, maar sy vind dit nie soseer nodig om jou kasteel-interieurs te laat beleef nie. Wat jy wel deeglik besef, is dat jy in iemand se kop is. Jy word aangegryp deur die menslike interaksie, en wel deur ’n diskoers wat in alle opsigte modern klink. Ek het haar dit nie probeer nadoen nie, maar dit was nogal ’n wegwyser.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ek kon by my redakteur, Linda Rode, gaan sit en ons kon oor kwessies praat en dinge uitstryk deur goed na mekaar te luister. Ek het onder die indruk gekom van hoe aangewese ’n mens is op iemand wat jou fyn en met groot erns lees. Sy het my gehelp om klein maar noodsaaklike verstellings te maak. Ons het uiteindelik net oor een beeld verskil, as ek reg onthou, en dit is die beskrywing van iemand se ken wat so ’n klofie gehad het soos dié van ’n boerpampoen. Ag, en ek dink dit was min genoeg, of onbelangrik genoeg, dat Linda uiteindelik net gesê het: Laat staan maar ...

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Ek is in die boekbedryf (ek verdien my brood en botter as uitgewersredakteur) omdat skryf vir my belangrik is. Trouens, ek dink die letterkunde is die mensdom se hoogste prestasie. Natuurlik kan en sal ’n skilder of pianis of gimnas anders daaroor dink. Maar vir my is skryfwerk die aangewese manier om te probeer om die beste mens te wees wat ek kan wees. Dis vanselfsprekend nie my hele bestaan nie, maar tog.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Niks op papier nie, maar my kop is aan die woel. Ek hoop Kamphoer koop vir my genoeg tyd om die fondamente van iets nuuts te lê. Vir my is dit hoofsaaklik ’n kwessie van genoeg tyd hê om my kreatiewe energie op my eie werk pleks van iemand anders s’n toe te spits.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Op skool het ek die letterkunde deur Afrikaanse kortverhale ontdek. Hennie Aucamp – ek sonder hom graag uit – ook Abraham H de Vries; maar hierdie twee was beslis nie die enigstes nie. Ek het ook studietye in die skoolkoshuis deurgebring deur Groot verseboek te lees; dit het my sakgeld laat spaar vir Breyten se Die ysterkoei moet sweet. Schoeman het ek deur ’n skooluitgawe van Spiraal van my besit geneem. Etienne Leroux en Schoeman is beslis van my helde. Camus se L’Étranger, wat ek in Engels gelees het, was ’n openbaring. Hugo Claus het ek in my nagraadse studies ontdek. DJ Opperman ook. Vir die Amerikaner Marilynne Robinson het ek groot ontsag. Van haar het ek ook die gedagte dat enige letterkunde van gehalte eintlik godsdienstige letterkunde is in die sin dat dit toegespitste aandag en ’n oop hart vereis vir iemand anders as jyself.

Volg jy Poolshoogte? En wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?

Ek het grootliks in en deur die Afrikaanse letterkunde grootgeword. Ek is dankbaar daaroor; ek was bevoorreg. Dit het my ook in staat te stel om na die wyer wêreld te kyk en intuïtief te reageer op ander tale, ander strominge en enige andersheid asof dit net sowel myne kon wees. Ek is soms ook ongemaklik daarvan bewus dat die Afrikaanse wêreld klein is en dat ons dikwels soos ’n kleintjie optree, dat ons kleinserig is, kleinsielig en klouend aan die klei-ossies van ons kinderdae.

As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?

Ek sou bitter graag weer ’n opvlamming van die Afrikaanse literêre debat wou sien. ’n Hartstogtelike maar hoogstaande gesprek oor boeke en dinge wat boeke raak. Is dit omdat Afrikaans aan universiteite sukkel? Dalk. Versindaba, ook LitNet, sorg tog dat die kookpot geroer word. En ek het daarby die gevoel daar broei iets wat die een of ander tyd op die forums van die nuwe media tot uitbarsting sal kom. Ek praat nou van iets anders as die gewone internetstrooi. Ek het hoop.

Só lyk Francois Smith se werkspasie:

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top