Biebouw-resensie: Kamphoer deur Francois Smith

  • 0

Titel: Kamphoer
Skrywer: Francois Smith
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624065517

Klik hier om Kamphoer te koop by Kalahari.com.

Kamphoer is ’n debuutroman wat min lesers onaangeraak sal laat. Die feit dat die roman op ware gebeure gebaseer is, dra dalk by tot die wyse waarop dit ’n mens teen die bors tref. Die leser kom egter ook onder die indruk van ’n uiters vaardige prosaïs wat woorde en beelde opweeg en sorgvuldig kies. Francois Smith neem die basiese gegewe uit Nico Moolman se The Boer Whore, ’n boek waarin die lewensverhaal van Susan Nell – haar verkragting tydens die Anglo-Boereoorlog en haar konfrontasie met haar verkragters tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorloë – in meer besonderhede vertel word.

Temas wat op interessante wyse verpak word, is onder andere die hantering van trauma, die slagoffer as “aandadige”, die verhouding tussen genesing en vernietiging, die effek van oorlog op vrouens (en nie net as “slagoffers” nie, maar as die “bevrydes” wat agterbly en in beheer is), die belang van stories en die verwoording van trauma.

Alhoewel ek nie heeltemal met die beskrywing op die agterblad saamstem dat die roman ’n “sielkundige riller” is nie, is dit definitief ’n sielkundige drama wat uit die staanspoor poog om die kompleksiteit van die hoofkarakter, Susan Nell, uit te beeld. Hierdie kompleksiteit kom veral na vore in die karakter as 34-jarige wat tydens die Eerste Wêreldoorlog in ’n Britse hospitaal vir bomskoklyers gaan werk. Sy is ’n selfversekerde psigiatriese suster wat opgelei is om objektief na pasiënte te kyk en sonder eufemismes oor hulle probleme te praat. Dit pas sy in ’n groot mate op haar eie lewe toe. Oor die talmende gevoel van skuld en aandadigheid word byvoorbeeld met betrekking tot haar gesê: “Sy ken dit, sy weet ook wat dit is, want sy kan haarself ook van buite bekyk en analities daarmee omgaan” (190). Hierteenoor word sy ook uitgebeeld as ’n uiters liggeraakte mens wat heel dikwels insinuasies, bedekte beskuldigings en agendas in haar gesprekke met ander mense raaksien. Susan se eie interpretasies en rasionalisering van haar optrede en gevoelens het my soms as oorbodig opgeval, alhoewel dit seker geregverdig is in die konteks van haar beroep.

Die hoofstukke waarin sy ’n ouer vrou is, word afgewissel met haar as 18-jarige wat besig is om na haar aanranding en verkragting te herstel. Die sensitiewe uitbeelding van die karakter sorg daarvoor dat hierdie hoofstukke van die roerendste gedeeltes in die roman bevat. Wat vir my uitgestaan het, is ’n toneel waarin Susan deur Mamello (een van die twee Sotho’s wat haar red en versorg) gewas word en waarin hulle saam ’n Sotho-lied sing en daarop dans. Wat opval, is dat die binnepraat van die 18-jarige Susan (hier in die eerste persoon) meestal baie afgerond en gestileerd is. So dink sy byvoorbeeld: “My gedagtes kom nou makliker op, maar dit warrel die meeste van die tyd net weg. Soos die modder op die bodem van ’n rotspoel, as jy jou hand daarin steek dan maak dit sulke bruin wolke en jy kan niks vasvat nie” (26). Die inhoud weerspieël dus haar gemoed, maar dit word deurgaans uiters netjies gedoen. Terselfdertyd sou ’n mens seker kon sê dat dit die begin van die afstandelikheid is waarmee die ouer Susan haarself en haar gedagtes bejeën.

Een van die min dinge wat my gepla het, was die feit dat hoofstuk 32 die enigste hoofstuk is waarin die eerstepersoonsverteller se vertelling in die verlede tyd geskied. Aangesien daar geen konteks gegee word waarbinne die jong Susan vertel nie, kan hierdie afwyking van die gevestigde tydvorm die situasie verwarrend maak. Dieselfde geld vir die laaste paragraaf van hoofstuk 36 wat, anders as die res van die hoofstuk, in die verlede tyd geskryf is. Die terugflitse van ’n bejaarde Susan in die laaste hoofstuk kom verder soms geforseerd voor, omdat dit lees as die oordrag van belangrike inligting. Die kritiek vervaag egter teen die indruk wat die roman as geheel laat.

Kamphoer bly nie net as gevolg van die merkwaardige gegewe by die leser nie, maar ook omdat dit ’n mens konfronteer met die kompleksiteit van die psige en die onvoorspelbare effek van trauma. Die bejaarde Susan merk die volgende op oor haar belewing van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog: “En die vreemdste van alles is dat alles vir haar so natuurlik voorgekom het, al daardie ontsaglike lyding, daardie waansin” (242). Hierdie boek het iets te sê vir die sensitiewe sowel as die gedesensitiseerde leser.    

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top