Die getuienis: ’n onderhoud met Francois Smith

  • 1

Titel: Die getuienis
Skrywer: Francois Smith
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624092353

Francois Smith praat met Naomi Meyer oor sy nuwe boek, Die getuienis.

Francois, met Die getuienis klim jy nie net in ’n ander karakter se vel nie. Jy betree ’n subkultuur. Hoewel jou karakters en gebeure nie daaraan herinner nie, kon ek nie anders as om aan die onlangse dokumentêr Devilsdorp te dink nie. Wil jy, soos ook op die bekendstellingsgeleentheid van die Woordfees se TV–bekendstelling, iets vertel van hoe hierdie storie en waarbinne hierdie verhaal gebore is? 

Jarre gelede, in 2013 om presies te wees, het ek ’n e–pos aangestuur gekry waarin ’n vrou in ’n bladsy of drie verslag gedoen het van hierdie wonderbaarlike reis van haar en haar man om ’n evangeliese boodskap iewers in die Noordoos-Kaap te bring. Een van die goed wat my opgeval het van hierdie e–pos, wat die vrou so wyd moontlik wou versprei, was dat sy heeltyd van “Vader” gepraat het, sonder die lidwoord van die konvensie waaraan ek gewoond was. Vader was vir haar ’n intieme reisgenoot wat as’t ware self om elke hoek en draai ’n koevertjie met ’n paar honderd rand in die reisendes se hand gedruk het, of kort–kort ’n engel gestuur het om met ’n vlammende swaard teen Satan en sy kornuite te veg.

......

Wat was dit wat my daardie e-pos in my inboks laat lê het? Om te skryf is vir my om te probeer agterkom wat dit is wat sekere indrukke in my gemoed laat vasslaan. Wat is dit wat ek gesien het? Dis daardie reis, ja. Dis twee mense, nee drie, op God se genade in ’n klein Ford Figo. Dis ’n godsdiensbelewing wat geheel en al van myne verskil. Maar wat nog? Dit moes ek agterkom.

.......

Wat was dit wat my daardie e-pos in my inboks laat lê het? Om te skryf is vir my om te probeer agterkom wat dit is wat sekere indrukke in my gemoed laat vasslaan. Wat is dit wat ek gesien het? Dis daardie reis, ja. Dis twee mense, nee drie, op God se genade in ’n klein Ford Figo. Dis ’n godsdiensbelewing wat geheel en al van myne verskil. Maar wat nog? Dit moes ek agterkom.

Die taalgebruik, veral van Retha, val dadelik op. “Vader.” “Awesome.” “Wow.” Mens hoor iets wat klink soos evangelisties-kerklike terme met ’n soort Amerikaanse klank. Maar jy beskryf jou karakters met deernis – net baie spesifiek en tekenend van ’n sekere soort mens in ’n sekere groep. Hoe het jy afgeluister? Wie het jy afgeluister?

Karakters begin vir my met stemme. Sodra ek die stem in my binneoor hoor, begin die gestaltes vorm aanneem. Ek het op die internet tientalle preke geluister van mense in die sogenaamde bevrydingsbediening – duiwelbesweerders en ikonoklaste, maar nie moordenaars nie! Ek het geluister na bakkieprofete. En hulle het my gelei na jong vrouens wat iewers vanuit holklinkende plaashuise video’tjies post oor “just being yourself, you know”.

Een van die uitdagings van die boek was om die twee stemme daarin uitmekaar te hou – twee mense wat eintlik ’n kleurlose, idioomlose Afrikaans praat. Hiermee het my teksredakteur, Jana Luther, my baie gehelp, veral met die sinsritmes.

Ek vra jou daaroor asof dit ver verwyderd is van jou af. Tog klink dit alles baie bekend, en is die vervalle plattelandse omgewings wat jy beskryf, insgelyks omgewings wat mens ken. Hoe het jy jou navorsing oor die omgewing en die storie self gedoen? Wanneer weet mens: Hierdie hoort in my storie, en hierdie is net ’n ander waarneming van my eie en nie deel van die storie wat ek nou skryf nie?

Die boek het ek in die diep grendeltyd geskryf toe ’n mens dit nie eens kon waag om jou arm deur jou tuinhekkie te steek nie. Ek het ’n ruk gelees oor die mistiek; oor die reste van Middeleeuse toorkuns in die hedendaagse religie. Ek het my verknies oor die welvaartsteologie en oor hifi-predikante. Maar uiteindelik was my storie soveel eenvoudiger.

Ek het wel eendag saam met ’n Nederlandse vriend van my gery na die dorpie wat my twee karakters se bestemming was. Daar het ons die verlatenheid aangetref, die ruïnes, die wanhoop. Ek en die vriend het verslae deur die dorp gestrompel en toe op die ongeskonde Metodistekerkie afgekom wat in die boek figureer. En later, toe ek iets wou oproep wat ek beleef het toe ons daar langs die kerkie gestaan het en deur die donker vensters probeer inkyk het, het die toneel by my opgekom van die konfrontasie tussen twee ou skoolvriende. Dis ’n sleuteltoneel, dink ek. Nog later het ek ’n vriendin gevra om saam met my die pad deur Pretoria te ry wat ek vir die storie versin het. Toe het ek al begin wonder hoe drome in hierdie konteks werk en ek het onthou van ’n Vicky Leandros-CD waarna ek as skoolkind geluister het.

Die karakters lê ’n getuienis af – van hul reis. Op die oog af is dit waaroor die getuienis handel. Maar die woord is dubbelsinnig. Hoe verskil jou getuienis van die regshandboek s’n? En hoe verskil dit van ’n kerklike soort getuienisaflegging? Waarvan lê ’n skrywer oplaas getuienis af wanneer jy ’n storie skryf? Want ook jy het getuienis afgelê: deur so effektief in jou karakters se velle in te klim en tog ook buite hulle velle te staan en hulle lewens te beskou en dit te beskryf.

Ek is eintlik die een wat moes getuig, ja. Ek het net die skelet van ’n storie gehad en ek moes sê wat regtig daar gebeur het. Aanvanklik het ek net Retha se stem gehad, maar toe besluit ek om Gerbrand s’n by te voeg. Ek dink ek het dit gedoen omdat ek besef het dat die boek ook die getuienis was van ’n verhouding, van wat tussen twee mense gebeur en hoe hulle dit sou vertel het. Ook wat dit is wat hulle nie vir mekaar kán vertel nie.

.........

Ek is eintlik die een wat moes getuig, ja. Ek het net die skelet van ’n storie gehad en ek moes sê wat regtig daar gebeur het. Aanvanklik het ek net Retha se stem gehad, maar toe besluit ek om Gerbrand s’n by te voeg. Ek dink ek het dit gedoen omdat ek besef het dat die boek ook die getuienis was van ’n verhouding, van wat tussen twee mense gebeur en hoe hulle dit sou vertel het. Ook wat dit is wat hulle nie vir mekaar kán vertel nie.

..........

Dit is ook ’n verhaal van twee mense wat teruggelei word – deur Vader – na waar hulle verhale begin het, na ’n oertoneel waaroor die skadu’s van hulle aardse vaders val. Ek dink dit is in hierdie opsig dat die wetlike definisie van "getuienis" ook geld, want hulle word as’t ware teruggelei na ’n misdaadtoneel. Ek moes agterkom wat dit is wat op daardie toneel sou kon gebeur het.

Is jou karakters geloofwaardige getuies, dink jy? Hoe kan jy stry met iets soos as een van hulle getuig dat Vader ’n motor en petrol voorsien het, of hulle iewers heen stuur?

......

Ek dink die vraag is eerder of ék ’n geloofwaardige getuie was. Die waarheid van fiksie lê by die geloofwaardigheid van jou verhaal.

......

Ek dink die vraag is eerder of ék ’n geloofwaardige getuie was. Die waarheid van fiksie lê by die geloofwaardigheid van jou verhaal.

Enersyds, het ek gedink, is jou karakters geseënd. Ek verwys weer na die motor en petrol wat voorsien word. Maar andersyds is jou karakters ook baie deurmekaar. Hulle weet nie wat vir hulle beplan word nie. Soms, as hulle onseker is oor wat beplan word, voel mens saam met hulle onseker. Ook opvallend: Hulle is baie bang. Hulle is bang, veral, vir Afrika (hulle woon natuurlik in hierdie wêreld, Afrika, soos ook in die menslike wêreld op aarde – maar is nie van hierdie wêreld nie, sou mens kon sê). Hoe het hulle reis jóú laat voel?

Die karakters is so seker dat Vader sal voorsien; hulle is so seker dat hulle presies weet wat Hy van hulle verwag en dat hulle kan hoor wanneer Hy met hulle praat. Hulle hoor sy stem in hul drome; hulle sien hom tussen die rantjies en in die takke van koraalbome. Hulle sien orals hoe Hy die duisternis verdryf. Hy het vir hulle ’n gebed gegee waarmee hulle elk van drie duisend soorte duiwels kan verdryf. Maar hulle is mense van hierdie aarde, van hierdie grond, met klein menslike vrese en swakhede en ’n weemoed ten minste net so groot soos hul god.

Kom ons wees eerlik: Jou karakters weet nie wat vir hulle beplan word (of is) nie, maar jý het geweet. Of het jy? Het jy die storie vooraf uitgewerk en beplan, of het dit organies ontwikkel?

Nee, ek het nie geweet nie. Ek het glad nie geweet wat teen die einde sou gebeur nadat hulle van hul reis teruggekom het nie. Ek het ook nie voorsien dat Gerbrand van sy voorgenome teksvers sou afwyk en oor die Genesis–verhaal van Abraham se offering van sy seun Isak sou preek nie. Maar iewers met die skryf het ek agtergekom dat die storie gaan oor pa’s en ma’s en seuns en dogters en dat die stryd wat ons op die hemele projekteer, immer ’n stryd is tussen mense van jou bloed en jou grond.

.......

Maar iewers met die skryf het ek agtergekom dat die storie gaan oor pa’s en ma’s en seuns en dogters en dat die stryd wat ons op die hemele projekteer, immer ’n stryd is tussen mense van jou bloed en jou grond.

.......

Die storie van Abraham en Isak het lank in my kop gespook en toe loop ek eendag in Dis–Chem en sien met so ’n skok van herkenning ’n skeertoestel met die naam Oneblade. Dit het seker so ’n telling of drie gevat voordat ek besef het dis nie iets wat ek nodig het nie, maar dat dit iets is wat Gerbrand sou wou hê. Hy sou so iets nie kon weerstaan nie.

Was dit vir jou ’n lekker boek om te skryf? Het dit maklik gekom, of was dit ’n hele proses? Boonop: geskryf tydens die eerste inperkingstyd, soos jy genoem het – was dit vir jou maklik om jou af te sluit van die lewe rondom jou?

Ek moes inderdaad iets doen om die lugleegte van die grendeltyd te vul. Maar wat ook ’n rol gespeel het, was dat dit die jaar was van die Groot Romanwedstryd. Ek was platsak en daar was hoeka die saadjie van ’n storie in my kop en ek het begin dink ek sal myself baie kwalik neem as ek nie ten minste probeer nie. Toe gaan sit ek maar. Die kompetisie het ’n minimum van 40 000 woorde vereis en die dag van die sperdatum tik ek my 40 000ste woord en ek stuur! Ek het geweet dis nie ’n slegte poging nie, maar dit het in my gekriewel dat dit te dun was.

En kyk nou net!

Daarna, nadat Tafelberg tot my groot vreugde gesê het hulle wil die boek uitgee, het ek die storie probeer rek, maar ek kon kwalik duisend woorde byvoeg. Dit was die storie. Dit was alles. 

Skryf is vir my per definisie moeilik, en ek dink dit is hoe dit moet wees, maar hierdie ene was tog vir my in ’n sekere sin lekker. Om byvoorbeeld ’n liefdestoneel te skryf tussen mense wat hulle so onsexy gedra, was vir my ... ja, dit was nogal lekker.

Die kerk: soveel euwels en onderdrukking, en ook goeie dade en sorg. Watter ontdekkings het jy gemaak, of waaroor het jy nagedink, of wat het jy gesien, terwyl jy die boek geskryf het? Oor mense se interpretasie van die Bybel, of van wat mense hulleself vertel, of dalk doodgewoon wat mense glo en hoe hulle leef? Elk met sy eie narratiewe om die lewe lééfbaar te maak? Om jou eie gedrag te regverdig?

Dit voel vir my asof ek met ’n antwoord op hierdie vraag beweeg in ’n rigting wat ek juis nie met die boek wou doen nie, en dit is om my karakters te veroordeel of met hulle die spot te dryf. Ek wou die verhaal suiwer vanuit hulle perspektief vertel, sonder enige tekens van bemiddeling deur ’n eksterne verteller, sonder ’n greintjie ironie. Maar as jy twee ek–vertellers gebruik, moet jy goed dink oor hoe jy die spanning volhou, veral as hulle dieselfde storie vertel. Dan moet jy begin dink oor wat dit is wat tussen hulle gebeur op maniere wat hulle nie kan sien of kan verwoord nie. Toe was dit asof ek daardie derde een in die Figo was, die een wat maar net moes luister hoe hulle praat en hoor hoe hulle by mekaar verbypraat. So het ek agtergekom hoe daar tussen hulle ’n stryd woed wat so oud soos die berge is.

Toe ek gaan sit om die eerste sin te skryf, het ek nie gedink dit sal ’n boek wees oor hoe sterk die lokroep van die verlede is nie, en hoe godsdiens in ’n sekere sin ’n manier is waarop ons die verlede probeer besweer nie. 

Wat is die sin van die lewe?

Ek gryp nou instinktief na iets wat jy in jou vorige vraag gesê het, en dit is dat die sin van die lewe daarin lê om die lewe leefbaar te maak. Maar hoe doen ’n mens dit? Om pyn te probeer vermy? Nee, ek dink nie dit is al wat daar is nie. Dalk is dit ook een van die goed wat ek geleer het met die skryf van hierdie boek, of tydens die skryf daarvan, terwyl die lewe met my gebeur het en ek onder meer moes dink oor wat dit is wat die kontak tussen mense sinvol maak. En ek dink dit het nie soseer te make met ’n absolute ding nie, maar met die soeke daarna. Dat die sin van die lewe lê in die nimmereindigende soeke na sin.

Lees ook:

Resensie: Die getuienis deur Francois Smith

Devilsdorp: ’n resensie

Toyota US Woordfees op TV 2021: ’n Onderhoud met Elmari Rautenbach oor die boekeprogram

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top