Devilsdorp: ’n resensie

  • 1

Devilsdorp
Vervaardigers: Nicola van Niekerk, Kristen Broberg en Wim Steyn
Regisseur: David Enright
Op Showmax

Die kontras is merkwaardig. En die beelde amper soos ’n bul wat voor jou oë sonder verdowing gekastreer word. Want wat hier gebeur het, kastreer ook ons verflenterde, verwoeste land verder, asook die enkeles wat nog nie gevlug het nie en bloot ’n eerlike bestaan probeer voer ten spyte van totale wetteloosheid. En in die agtergrond van die Krugersdorpse mynhoop ’n nasie wat in ’n toenemende mate verskeur, verniel, vermoor en verdeel word.

En dan nog hierdie klomp!

Elke stukkie reënboog word geplunder of stort dawerend tussen mynhope neer en versplinter onder onsimpatieke voete. Die reeks druk jou in ’n drukgang en spuit boosheid in jou bloedstroom wat jou op ’n kol siek maak. Wees dus gewaarsku.

Die joernalis Jana Marx, wat ook ’n boek oor die Krugersdorpse afspraakmoorde geskryf het, praat feitelik oor die gebeure en sonder die sensasie of sidderende byvoeglike naamwoorde wat sommige tydskrifartikels soms misbruik het om die grusame gebeure mee op te tert.

Ons kry net die yskoue inentingsnaald wat tot in jou lendene gloei. Koel, beredeneerd, maar soms (in Jana se geval) met ’n amper onmerkbare toon van skok waaraan sy al gewoond geraak het. Teenoor haar is die gemoedelike joernalis Marizka Coetzer, breedarm in ’n motor, besig om informeel met die kyker te gesels oor wat gebeur het – onder andere dat sy ’n verhouding met een van die Krugersdorpse moordenaars in die tronk aangeknoop het.

Dit voel tussen hierdie onderhoude of iemand op jou naar word.

Coetzer het ’n lekker gesellige, amper-skinder-aanslag, in stewige kontras met die res van die mense met wie gepraat word. En dis juis in hierdie kontras dat die skokfaktor van die reeks lê. Die een is feitelik met noodsaaklike inligting oor die moorde om die kyker volledig in die prentjie te bring, die ander amper-komies gemoedelik wanneer die joernalis met ompaaie praat.

Nie dat ’n mens in hierdie geval die woorde “komedie” of “snaaks” durf gebruik nie. Maar dit veroorsaak ’n bloedhumor wat jou slagare oopsny. Want enersyds is die gebeure, soos deur verskillende mense gesien, bedenklik en verwronge absurd en, wel, brutaal komies. En andersyds bewys dit weer eens die absurditeit van die sameswering wat vir jare versteek is agter godsdiens. Dat “doodgewone” mense so lank met soveel grusaamhede kon wegkom, dikwels reg onder die polisie se neuse, en dan, kiertsregop en amper trots, soos Cecilia Steyn, in die hof kan sit en hul Pontius Pilatus-hande in bloed skoonwas van die moorde, is bedenklik.

Voeg daarby die byna toonlose wyse waarop die moordenaar, Marinda Steyn, die moorde beskryf, amper asof sy ’n koekresep aflees, en as kyker voel jy of jy teenoor ’n besete Raging Bull in stadige aksie in ’n bokskryt beland het. Die kyker word ’n skermmaat of tennisbal wat heen en weer gemoker word tussen bloeddorstigheid, nonchalante verwaandheid, vrome boosheid, skooljuffrou-vertellings (in daardie selfde stemtoon as een van jou onderwysers na wie jy in jou slaap in die geskiedenisklas geluister het) oor hoe mense verbrand of opgehang en talle kere gesteek is. Ook regslui en sielkundiges wat die beskuldigdes se optrede koelkop en andersins verbysterd ontleed.

Katswink is nie die woord nie. Na twee episodes voel jy besmet en verstrengel in verdorwenheid en gramskap. Ons leef reeds in ’n absurde, wettelose en chaotiese land, en dan druk hierdie reeks die puisie hardhandig oop sodat die etter oor die skerm spat.

Die verhale is nie versin nie. Die reeks is op die waarheid gegrond en die vervaardigers het al die materiaal en onderhoude op so ’n wyse gejukstaponeer dat die bloedbesmette feite, die bose huigelary en toonlose antwoorde onder stekelrige hare jou brein soos ’n ystervark se penne prik. En dan daardie bril wat die oë vergroot van ’n gewetenlose moordenares wat soveel bloed gesien het.

Dit kos ’n vernuftige span om sin, laat staan nog insig, van hierdie heksebrousel te maak en te gee. Selfs Macbeth se hekse sou die hasepad gekies het! Maar die vervaardigers is meedoënloos. Nes jy gedink het die ergste is verby, onthou Marizka Coetzer weer in haar lekker, gesellige diep stem hoe sy die saak benader het, terwyl die moordenaars en kinders van Marinda, Le Roux en Marcel, uitdrukkingloos om hulle rondkyk soos hase wat in ’n vragmotor se kopligte gevang is, maar nié gehipnotiseer word nie. O nee, daarvoor is hulle te slim.

Die reeks handel oor ’n groep mense, op die oog af doodgewoon, wat in die skaduwee van ’n groteske klont goudsand duiwelsdinge bewimpel het. Daar is ook verskeie skote wat verhoed dat dit in ’n reeks met pratende koppe ontaard. Die swakverligte strate, die verlate omgewing, ongelyke sypaadjies, mense wat apaties voor hulle uitstaar, die lugskote van ’n doodgewone dorp waar sosiale probleme dik in die strate lê onder vuil liggies en tralies wat die boosheid binnehou en nie uithou nie, weergalm deur die reeks. Dis skote soos hierdie wat ’n broodnodige balans en asemskepkans bied, Maar daardie blaaskanse laat die asem opnuut gloeiend deur jou keel brand.

Destyds het ’n groep mense, onder die aanvoering van die meesterbrein Cecilia Steyn (wat glo in ’n stadium soos ’n dier op ’n rusbank se rug gesit en praat het), verskeie mense betower, byna gehipnotiseer. Sy het hulle volgens getuienis in die hof aangemoedig of selfs op ’n slinkse manier beïnvloed om moorde op onskuldige mense te pleeg om haar “vyande” te terroriseer en te waarsku. Lekker slinks, want sy was sy nooit self by die moorde teenwoordig nie, maar haar invloed was. ’n Pastoor, huisagente, vriende, inwoners van die dorp wat ongelukkig genoeg was om in hul pad te kom, en skaduagtige figure van wie die gesigte vermom is, soos Ria Grunewald, vorm almal deel van hierdie grusaamheid. Ria het darem tot inkeer gekom en gevlug. Maar die res draai soos spoke rondom ’n uitgebrande motor met ’n onherkenbaar-verbrande lyk wat uittand vir jou glimlag.

Die ergste is: Dit wil lyk asof ’n polisieman ook (indirek?) by die moorde betrokke was (“die kolonel”). Hy is nooit geïdentifiseer nie. En niemand, selfs nie eers die duiwelsgroepie nie, het mej Steyn hoegenaamd van enige boosheid verdink nie. Dit is maar soos dit is.

So word alles tienerpuisie vir moordenaarspuisie oopgedruk met deelnemers wat ekonomies praat. Die onderhoudvoerder, skynbaar regisseur David Enright self, het presies geweet watse vrae om te vra en sodoende verhoed dat die inligting wat met ons gedeel word, herhaal word.

Ons het al dikwels rolprente (soos Quintin Tarantino se Once upon a time in Hollywood, 2018, oor die Manson-moorde) en dokumentêre oor monsters soos Jeffrey Dahmer en Ted Bundy gesien, maar omdat hierdie moorde in ons eie agterplaas afspeel te midde van ’n land wat oënskynlik leierloos op ’n ramp afstuur, is die impak soveel erger.

Wees gewaarsku: Hierdie is geen sensasionele of vraatkykerige “o my aarde, pappa!”-kykstof nie. Dit skop jou tussen die bene, nêrens anders nie. Dit is ook ’n soort huldeblyk aan joernaliste wat die gebeure gevolg het en vreesloos daaroor verslag gedoen het sonder om (te) emosioneel betrokke te raak. Dit mag jou vir dae lank teister en daar is beelde soos Cecilia Steyn se fyn lagplooitjies om haar oë wat die indruk wek dat sy, heel selftevrede, ’n komedie aanskou, en daarteenoor Marizka Coetzer se gesellige weergawe van die feite soos sy dit sien, wat jou bybly. Wat jy een keer gesien het, kan nie weer ont-sien word nie.

En daar sit Le Roux, volgens die dokumentêr, in die tronk en skryf briefies aan ’n verslaggewer wat ’n afstands-“verhouding” met hom het. Absurder kan ons land nie word nie. Of praat ek te gou?

Geluk aan ’n uitmuntende en filmies-geletterde span wat uit hierdie bloedige chaos kykersorde geskep het.

Lees ook:

Devilsdorp: Mystery and suspense cleverly maintained

In gesprek met Jana Marx oor rekordslaner Devilsdorp

Afspraak met moord – om sin te probeer maak van die sinlose

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top