Afspraak met moord – om sin te probeer maak van die sinlose

  • 0

Die skrikbewind wat Cecilia Steyn se rampokkerbende in Krugersdorp gevoer het, is nog vars in Gautengers se geheue. Elf slagoffers is deur die Electus per Deus-kultus se moordtog geëis en ’n menigte mense se lewens is sinloos omvergegooi. Nou het daar ’n boek by Lapa verskyn wat perspektief gee aan dié tragiese gebeure: Jana Marx se Afspraak met moord.

Jana Marx, skrywer van Afspraak met moord. (Foto's: LAPA)

Jana se pad het met die afspraakmoorde gekruis toe sy as Netwerk24-joernalis oor die hofsaak verslag gedoen het. Sy het die saak in Mei 2018 begin dek toe dit na die hooggeregshof oorgeplaas is. “Ek het in daardie stadium hoofsaaklik hofsake gedek en hierdie een was eers net nóg ’n saak soos al die ander,” vertel sy. “Maar toe ek begin voorberei, het ek besef hier is iets anders as waaraan ons gewoond is. Dit was net só bisar.”

In daardie stadium het Jana nog nie aan die moontlikheid van ’n boek gedink nie, maar sy was uit die staanspoor nuuskierig om te sien hoe die storie sou uitspeel. “Dit het soos ’n Amerikaanse misdaadreeks op Netflix gevoel.”

Afspraak met moord gee ’n omvattende beeld van die gebeure. Ná maande se navorsing en sleurwerk deur hofoorkondes en polisiedossiere het Jana onderhoude gevoer om die materiaal aan te vul. Om ’n boek te skryf terwyl die verhoor nog aan die gang is, bied unieke uitdagings. “Só moes ek kort-kort feite aanpas soos wat nuwe getuienis in die hof uitgekom het,” sê sy. Marcel Steyn, die laaste getuie in die uitgerekte hofsaak, se weergawe van gebeure het die laaste stukkies van die legkaart voltooi.

“Dit was ook vir my ontsettend belangrik dat die boek se feite korrek moet wees. Die hofsaak was lank; dit was deurmekaar en moeilik.” Jana wou seker maak lesers moet die boek optel en dink: “Dit wat ek nog van die saak wil weet, kan ek hierin kry en weet dis reg.”

Terwyl sy geskryf het, was die slagoffers en hul naasbestaandes voorop in haar gedagtes. “Toe ek my begin ingrawe en die storie in die fynste besonderhede leer ken, het ek besef: Hierdie storie behoort aan die elf mense wat so wreed vermoor is. Die elf mag nie net misdaadstatistiek bly nie en ek het nou die geleentheid om dit te verseker.” Waar die projek vir Jana as “my boek” begin het, het dit “hulle boek” geword. Afspraak met moord is opgedra aan die slagoffers, hul familielede en die getuies in die hof.

Die dramatiese gebeure het Jana diep geraak, ten spyte van die oorlewingsmeganismes waarmee joernaliste bewapen word, naamlik om ’n emosionele afstand te behou. “Jy móét leer om wat jy ook al hoor of sien in die job-lêer in jou kop te file en dit nie saam huis toe te vat nie, maar daar was so twee of selfs drie van die meer as 60 hofdae wat ek die hele dag moes afvat om net weer tot verhaal te kom.” Die situasie was veral moeilik toe Jana die getuienis regstreeks vir Netwerk24 moes blog. “Om Marinda Steyn sin vir sin oor die wreedste moord denkbaar aan te haal, vat aan jou,” sê sy.

Om ’n onderwerp soos hierdie in ’n boek uit te pak is geen grap nie, veral met so baie rolspelers wat in ’n uiters komplekse web van intrige betrokke is. Om kop te hou moes Jana sistematies te werk gaan. Gelukkig was daar kundiges in die omtrek wat waardevolle advies verskaf het, soos die ondersoekbeampte in die saak. “Kaptein Ben Booysen was gedurende die skryfproses altyd bereid om gou ’n feit te bevestig of reg te trek of vrae te beantwoord. Ek het ’n paar keer daar op sy stoep gaan kuier en dan sou ons lank oor die saak gesels.”

Die wreedaardigheid van die moorde het dinge ook nie makliker gemaak nie. “Toe ek deur die polisiedossiere begin werk en die foto’s deurblaai, het ek vir nagte nie geslaap nie,” vertel Jana. “Daar was heeltyd hierdie balans wat ek moes handhaaf terwyl ek geskryf het – jy wil vir die leser die feite weergee, maar jy wil dit op ’n manier doen wat steeds respek betoon aan die slagoffers en hul families.

“Die ding wat my gedagtes die meeste gery het,” sê sy, “was die ontsettende wreedheid, misleiding en misbruik van godsdiens in hierdie verhaal. Gelukkig het ek mense in my lewe – soos my man – wat my een kyk sou gee en sê ek kort nou ’n breuk.”

Omdat die onderwerp van Afspraak met moord wyd in die media gedek is, wonder ’n mens willekeurig wat die boek vir lesers bied wat hulle nog nie weet nie. Vir Jana is die kwessie van volledigheid ’n sentrale punt. “Die boek strek oor ’n tydperk van 13 jaar – van 2006 tot 2019. Ek het regtig probeer verstaan wie waarvandaan kom, hoe hulle by mekaar uitgekom het en hoe hulle saam gegroei het. Jy leer elke karakter ken.”

’n Ander interessante draad wat deur die boek loop, is die polisieondersoek. Jana integreer die storielyn van die polisielede se werk behendig met die res van die dramas wat ontvou, terwyl die “menslikheid agter die badges” belig word.

Die boek begin by die hoogs dramatiese gegewe waar Cecilia Steyn, baasbrein agter die misdade, in die hof getuienis lewer en onskuldig pleit. Suid-Afrikaners het destyds vasgenael voor Netwerk24 se regstreekse videodekking van dié getuienis gesit. Menige sosiale-media-kommentator wou weet wat met Cecilia se vreemde hare aangaan. Na bewering is medegevangenes se bynaam vir haar Spykerkop.

Cecilia Steyn dryf die spot met die polisie wat besig is om haar in hegtenis te neem. Sy wys haasore vir die polisiefotograaf. (Foto: verskaf)

“Cecilia se hare het toe sy ’n klein dogtertjie was, op haar boude gehang, kan jy glo!” vertel Jana. “Ek dink haar hare het so begin uitval van al die goed wat sy aan haarself gedoen of laat doen het om haar show van ‘siek en sterwend’ wees vol te hou. Dit moet ontsaglike moeite wees om jouself kort-kort siek en sterwend te laat lyk as jy eintlik blakend gesond is.”

Gedramatiseerde tonele in die boek, soos die beskrywing van die moord op die Meyer-egpaar, wyk nie van die hofgetuienis af nie. Jana vertel dat die dialoog wat in die beskrywings voorkom, soos die woorde wat Peter Meyer geuiter het terwyl hy sterf, in die hof voorgehou is. “Ek het die getuienis oor wat daar gebeur het, oor en oor geluister, gelees, die moorddossiere ingestudeer en foto’s van die tonele gekyk totdat daar iets in my kop gekliek het. Dis soos ’n oomblik van verheldering waar die byvoeglike naamwoord wat Marinda in haar getuienis in die hof gebruik, in ’n oomblik op die moordtoneel jare tevore sin maak. Jy leer die mense ken en jy konstrueer ’n toneel uit blote teks, stemtoon, woordkeuse, gesigsuitdrukkings en jou eie logika.” Jana het die moordtonele in die boek aan polisielede en ander geloofwaardige bronne getoets om dit so akkuraat moontlik te hou.

Peter en Joan Meyer, die egpaar wat in hul huis vermoor is. (Foto: verskaf)

Die moordenaars is ’n fassinerende groep individue. Gewone mense wat die saak gevolg het, wonder steeds hoe dit moontlik was dat intelligente mense so gewetenloos deur Cecilia gemanipuleer kon word. Was sy ’n psigopaat?

Om antwoorde op dié vrae te kry, het Jana ’n lang pad met betrokkenes gestap. Sy het die vertroue van Ria Grunewald en Cecilia se ouers gewen. “Cecilia is ’n meestermanipuleerder, ’n leuenaar, en hoewel ek haar nie ’n psigopaat kan noem of kan sê sy het ander afwykings nie, want sy is nie gediagnoseer nie, het ek beslis my bedenkinge. Sy het só voor die hof gelieg dat ek nie vir die boek met haar onderhoude kon of wou voer nie. Ek kon ook bitter min van haar eie getuienis gebruik, omdat daar soveel tjol was.”

En hoe gebeur dit dat ’n intelligente vrou soos Marinda Steyn, ’n Engels-onderwyseres by ’n hoërskool, teen haar eie kinders draai om iemand soos Cecilia in die hof te verdedig?

“Marinda is een van die mense wat my die meeste gefassineer het. Sy het gesmag na Cecilia se goedkeuring en die band tussen die twee was van só ’n ongesonde aard dat sy enigiets vir Cecilia sou doen. Cecilia was uitstekend daarin om haar vriende uit te kies, op hulle swakpunte te speel en godsdiens te misbruik om hulle onder haar duim te hou.”

Maar nie al die beskuldigdes was bloot marionette van meesteres Cecilia nie. Jana verduidelik: “Dis belangrik om te onthou dat die bende nié die slagoffers in hierdie verhaal was nie, hoewel daar manipulasie teenwoordig was. Marinda word nie verniet die ‘tweede in beheer’ van die rampokkeronderneming genoem nie. Sy het self erken sy het heeltemal ’n dubbele lewe gelei.”

Tydens die onderhoude vir die boek is Jana ontroer deur interaksie met familielede van die rolspelers. “Ek is ontsettend jammer vir Cecilia se ouers. Hulle het my vertel hoe swaar hulle kry – ook op baie ander fronte, soos in besigheid, omdat hulle die heeltyd met hul dogter geassosieer word. Cecilia se ma glo nog honderd persent in haar onskuld. Die families en geliefdes van die bendelede wat vandag nog swaarkry weens hul toedoen, is almal slagoffers in hierdie verhaal. Cecilia se ouers het gesê hulle kan nie eers winkel toe gaan sonder dat mense hulle vloek en op hul spoeg nie.”

Ook Ria Grunewald, ’n sleutelgetuie in die saak wat met Cecilia deurmekaar was toe die eerste moorde gepleeg is, se lewe het in duie gestort. Tydens die hofsaak is die media verbied om foto’s van haar te publiseer en sy moes vir haar eie veiligheid ’n ander identiteit aanneem. “Sy is lank verkeerdelik deur die polisie geïmpliseer en deur mense van goed beskuldig wat haar ’n baie slegte naam in die gemeenskap gegee het. Sy het haar werk, haar reputasie – alles – verloor.”

Elke lid van Electus per Deus het die groepnaam iewers op hul lywe laat tatoeëer. Marcel Steyn het ’n embleem wat God se drie-eenheid aandui, gekies, en dit op haar voorarm laat aanbring. (Foto: verskaf)

Die Krugersdorp-moordbende het tydens hul rampokkery voor niks en niemand gestuit nie. Hulle het selfs bomme in voorstede laat ontplof. ’n Gemeenskap is deur hulle geterroriseer. In die tyd toe slagoffers se lyke gevind is en koerante daaroor berig het, was Johannesburgers lugtig vir afsprake met vreemdelinge. Wat is die uitwerking op die kollektiewe psige van ’n samelewing waarin sulke mense voorkom?

“’n Samelewing cope nie met so iets nie, daarom moet sulke mense so gou moontlik verwyder word,” sê Jana. “Wat hierdie saak so ekstra scary maak, is dat Electus per Deus nie jou gewone voorstelling van misdadigers is nie. ’n Mens is geneig om misdaad of moorde soos hierdie te verbind met mense wat nie in jou binnewêreld leef nie. In hierdie geval was beide die moordenaars en die slagoffers die tipe mense met wie jy elke dag te doen kry. Die slagoffers het opgetree soos enigeen van ons sou. Dis die normaalste ding in die wêreld om vir ’n professionele afspraak op te daag.”

In die laaste hoofstuk van Afspraak met moord vra Jana of daar nog onopgeloste moordsake is waarby lede van die bende betrokke kon wees. Vir diegene wat twyfel aan die waarskynlikheid, het Jana ’n troef-antwoord gereed: “Niks is te vergesog vir Cecilia Steyn nie.”

* Tydens die staat van inperking kan Jana Marx se Afspraak met moord as e-boek by enige goeie aanlyn-handelaar aangeskaf word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top