In gesprek met Jana Marx oor rekordslaner Devilsdorp

  • 0

Devilsdorp het ’n Showmax-rekord opgestel vir die meeste ure gekyk in die eerste vier dae nadat die reeks uitgereik is. Dit het stof in die oë van reekse soos Game of thrones, The real housewives of Durban en The river geskop.

Rapport-redakteur Waldimar Pelser het op Facebook verkondig: “Devilsdorp is een van die beste misdaad-dokumentêre wat ek al ooit gesien het. Daar is goeie polisiemanne ook in ons land.”

Kyk hier na die lokprent vir Devilsdorp, met David Enright as regisseur en vervaardig deur Idea Candy.

Kyk al vier episodes van Devilsdorp, met ’n ouderdomsbeperking van 16 vir taal en geweld, eerste en eksklusief op Showmax.

Jana, eers die boek, toe die Showmax-reeks. Hoe voel dit?

Sjoe, jy kan my steeds met ’n veer omtik.

Ek dink gereeld terug aan my eerste dae in die Hooggeregshof saam met daardie spulletjie ... Dit was aanvanklik maar een van die baie sake op my dagboek. Gewoonlik probeer ek die dag voor ’n saak voorkom die hofdokumente in die hande kry, sodat ek darem net weet wat op my wag. Ek onthou ek het die aand voordat die saak in Mei 2018 na die Hooggeregshof oorgeplaas is, deur die akte van beskuldiging gelees en gedink: Wat op dees aarde ... Maar selfs toe, en selfs daardie eerste week in die hof, het ek nie geweet hierdie storie gaan so ontplof nie...

Dis wonderlik om te sien hoe ure en ure se nuusdekking destyds, die sit op daardie harde hofbankies, nagte en naweke se boekskryf, ure en dae se onderhoude met wonderlike mense soos (kaptein) Ben Booysen vir die boek, en ure se Devilsdorp-opnames vrugte afwerp.

Dit bly egter ’n bittersoet ervaring. Aan die een kant is daar hierdie “wow” om te kon deel wees van iets wat so groot geraak het. Aan die ander kant is ek maar te bewus dat hierdie storie gaan oor die mense en dat baie familielede van slagoffers nog báie swaar kry, al was hulle so dapper om hul mense ’n stem op televisie te gee.

Die reeks kry ontsettend positiewe terugvoer. Ek self is baie beïndruk. Wat was jou gedagte toe jy deur daardie vier episodes sit?

Mind-blowing.

Mense vertel my hoe hulle dit binge! Ek haal my hoed vir hulle af – ek kon nie! Ek ken tog die storie en het self al onderhoude met die meeste van die familielede wat in Devilsdorp praat,  gedoen, maar dit was vir my opnuut ontsettend erg om hulle te hoor praat – dalk omdat die saak so deel van my geword het. Dit sal my altyd bly raak. Dit sal nooit net nog onderhoude wees nie.

Ek is baie beïndruk met die gehalte van die produksie, en dis feitelik korrek. Ek het daardie eerste dag wat Kristen Broberg my namens Idea Candy, die vervaardigers, gebel het, al gevoel hulle deel my visie vir hierdie hele saak, ongeag die platform waarop dit voorkom.

Ons kon saamstem dat die dokumentêr akkuraat en eg moet wees, en dit was vir my ontsettend belangrik dat die familielede of mense ná aan die slagoffers en slagoffers self nie op ’n negatiewe manier blootgestel of uitgebeeld moet word nie. Dit moes smaakvol wees.

Dit was ook Idea Candy se oortuiging en as jy die egtheid en rou emosie van die onderhoude beleef, kan jy onmiddellik sien dat daar ’n vertrouensverhouding tussen David Enright, die regisseur, en elke interviewee is. Ek het sóveel waardering vir David se deernis en professionaliteit. Hy gee régtig om vir die mense.

Devilsdorp is vir my ’n manier om verdere geregtigheid vir die slagoffers te laat geskied. Solank ons daaroor praat, sal hulle nooit net verdwyn in die land se misdaadstatistiek nie. As ek die publiek se reaksie so dophou, glo ek die dokumentêr slaag in hierdie doel.

Ek het reeds jou boek gelees. Dit was vreemder as fiksie ooit kon wees. Maar toe ek die reeks kyk, was dit of ek nog nader kom. Ek kon die moordenaars hoor praat, ek kon hulle sien. Jy kom egter al ’n baie lang pad met hulle aan, nie waar nie?

Ja, sjoe, ek is al sedert Mei 2018 besig met hierdie storie. Dit sluit meer as 60 hofdae en redelik baie kontak met mense na aan die moordenaars in! Behalwe die hofsittings en ’n vinnige woordewisseling hier en daar het ek Cecilia amptelik in die selle onder die hof ontmoet.

Waarvan ek baie hou, is hoe Devilsdorp ’n klomp vrae oor die sielkunde agter die kultus en Cecilia se manipulasie beantwoord.  Vrae soos: “Maar hoe het Cecilia dit reggekry?” of: “Hoe het sy dit reggekry om mense wat oënskynlik compos mentis is, so te manipuleer?” Van die onderhoude in Devilsdorp gee ’n nuwe blik op daardie vrae. Dit regverdig natuurlik geen misdade nie, maar dit help mens om ’n bietjie beter te verstaan hoe so ’n kultus werk.

Ek was verstom oor die beeldmateriaal wat julle gekry het – selfs die versekeringsman se video van Cecilia is ongelooflik insiggewend. Hoe geredelik het sulke mense hierdie beeldmateriaal aan julle gegee?

Ons was gelukkig dat van die beeldmateriaal, soos dié van Shane Chatzkelotwitz, as bewysstukke by die hof ingedien is. Ek het dit, en van die ander materiaal, soos Le Roux se tranerige oproep aan die versekeraar, sedertdien in my besit. Dis die voordeel as jy ’n hofsaak vir maande aaneen volg en deel word van die hof se furniture!

Van die ander beeldmateriaal, soos die “high nights” waar Cecilia so neerval en bloed opbring (ons weet nou selfs dít was toneelspel), het ek by polisiebronne gekry. Dis van Cecilia et al se rekenaars geskraap toe die ondersoek begin het. (Volgens my inligting is die video’s van haar versinde stuiptrekkings op haar aandrang gemaak – waarskynlik as ’n tipe trofee.)

Natuurlik moes Idea Candy ook doen wat hulle moes doen om beeldmateriaal wat aan nuusdienste behoort, te lisensieer. Ek was nie deel van daardie onderhandelinge en prosesse nie.

Daar was ook beeldmateriaal wat vir my splinternuut was, soos daardie home videos van Zak en Mikeila Valentine, en Mikeila se prediking en persoonlike getuienis. Dit het my geruk!

Ek het ook die versekeraar se analise ontsettend interessant gevind. In die boek was dit jou stem, wat dit baie goed ontleed het. Hier praat hy self. Dit verleen weer ’n nuwe dimensie aan die storie, veral aangesien ons ander materiaal daarmee saam te siene kry.

Absoluut! Chatzkelotwitz was ’n baie sterk getuie in die sogenaamde Lasarus-saak (dis hoe die staat die hele sage rondom Zak, wat sy dood versin het, benoem het). Daardie video’s (daar is altesaam twee) het albei voor die hof gedien. Cecilia-hulle moes nog dele daarvan saamkyk. Die hof se ligte is afgeskakel en daar het ’n fliekatmosfeer geheers. Ek wonder nogal wat deur hul koppe gegaan het...

Die moordenaars het baie te sê gehad, maar julle het talle ander mense op kamera gekry wat ek uit jou boek “leer ken” het. Het julle byvoorbeeld vir Gerrit Roberts of Shane Chatzkelotwitz sommer gebel en gesê “Yo! Sit ’n das aan, ons bring dié keer kameras!” Of hoe het julle mense oortuig om so openlik op kamera te gesels?

Ha! Omdat ek ’n pad met sleutelfigure soos advokaat Roberts en die familielede van slagoffers gestap het, was ek in die meeste gevalle die “eerste kontak” oor die dokumentêr. Ek het teen daardie tyd al ’n pad met Idea Candy gestap (of hulle met my!) en ons het dieselfde gedink: Die dokumentêr moes die storie reguit, feitelik, maar met die nodige deernis vertel.

Die slagoffers se families was nie meer net families daar doer ver nie. Ek gee vir hulle om en sou my nie vereenselwig met iets wat nie die nodige respek aan hulle en hul vermoorde geliefdes betoon nie. Die oomblik toe ek besef Idea Candy deel my uitgangspunt, was ek gemaklik om die partye met mekaar te verbind.

So, ek sou voorbrand maak, en dan het Idea Candy verder die reëlings getref. Die terugvoer wat ek van die families gekry het, is dat hulle groot waardering gehad het vir hoe David en die span met hulle gewerk het. Dis myns insiens ook die rede vir die rou, opregte onderhoude waarna julle kan kyk!

Hoe het jy en David Enright, wat verantwoordelik is vir die reeks, alles saamgesit? Wie het wat besluit?

My heel eerste opnames met Idea Candy was waar ek letterlik vir drie dae in studio gesit het en vir agt ure per dag net gepraat het. Kristen Broberg het dag in en dag uit net vrae gevra.

Op dié manier kon die vervaardigers vasstel watter inhoud daar is om mee te werk en watter moontlike hoeke en onderhoude verken kon word. Dit was alles eers net vir die pitch aan die M-Net-groep in September verlede jaar.

Toe M-Net die groen lig vir die vervaardiging gee, het my rol as konsultant agter die skerms uitgebrei om te help met kontakte, voorstelle, voorstelle vir moontlike interviewees, die “eerste kontak” met interviewees, om materiaal en hulpbronne tot my beskikking te voorsien en om deurlopend ’n fact-checking klankbord te wees.

Ek het dus nie besluite oor vervaardiging geneem nie – ek was in ’n raadgewende rol. Maar David en Elle Oosthuizen, die uitvoerende vervaardiger, het my heeltyd ingelig gehou, wat ek baie waardeer het.

Jy het die boek klaargemaak pas voor jou troue. Was dit nie ’n soort tweede trauma om die reeks op kamera vas te lê nie?

Dit was beslis nie ’n walk in the park nie. Maak nie saak hoe goed ek die storie ken of hoe deel dit van my geword het nie, dit bly vir my ontsettend ontstellend. Onthou, selfs die inligting – en ek praat hier spesifiek van die foto’s van die moordtonele wat jy op die skerm of in die boek sien – is reeds dit wat oor is ná ’n siftingsproses.

Sommige materiaal is eenvoudig te grusaam om te wys (en ek glo disrespekvol teenoor die slagoffers en hul families), maar om te kan sif, moet ’n mens deur elke liewe een kyk ...

Waar ek met die skryf van die boek oorheersend hartseer gevoel het, het ek met my eie opnames/onderhoude vir die dokumentêr met tye ’n groot woede ervaar – veral wanneer ek oor Cecilia moes praat. Dis amper asof ek, wat nie eers iemand aan die dood afgestaan het nie, ’n diep verwyt vir die kultus ontwikkel het. En snaaks, kykers kom dit agter, as ek Twitter so dophou! Dis glad nie beplan nie!

Wat kan ons volgende van jou verwag?

Ek het tans net een doel voor oë en dis om ’n vakansie saam met my man te beplan. Daarna sal ek verder dink.

***

In ’n eerste vir Suid-Afrika het Showmax die potgooi Devilsdorp: The official companion podcast, wat aangebied word deur Nicole Engelbrecht van True Crime South Africa, geloods. Dit is Suid-Afrika se eerste slagoffer-gefokuste ware-misdaad-potgooi. Engelbrecht is ook die verteller van die luisterboekweergawe van Jana Marx se boek The Krugersdorp cult killings: Inside Cecilia Steyn's reign of terror.

“Die Devilsdorp dokumentêre reeks het my weggeblaas," sê Engelbrecht. "Nie net het dit gedeeltes van hierdie baie komplekse saak oopgevlek wat nog nooit in die publiek aangespreek is nie, maar dit is op so ’n wyse gedoen dat dit die slagoffers en hulle families eer.  Dit is werklik ’n wêreldklas produksie en ek is geweldig trots om daarmee geassosieer te word.”

Luister Devilsdorp: The official companion podcast hier of op Spotify, Apple Podcasts of waar ook al jy jou potgooie vind.

Lees ook:

Devilsdorp: Mystery and suspense cleverly maintained

Afspraak met moord – om sin te probeer maak van die sinlose

Devilsdorp: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top