Toyota US Woordfees op TV 2021: ’n Onderhoud met Elmari Rautenbach oor die boekeprogram

  • 0

Foto van Elmari Rautenbach: Naomi Bruwer; foto van Woordfeesbanier: woordfees.co.za; foto van boeke: Pixabay

Elmari Rautenbach praat met Naomi Meyer oor die Toyota US Woordfees se boekeprogram, wat soos die res van die fees vanjaar op die TV uitgesaai sal word. 

Elmari, jy reël al vir baie jare die Woordfees se boekeprogram, in vele opsigte deel van die hart van die Woordfees. Hoe moes jy die program vanjaar benader, noudat die fees op die TV plaasvind?

My grootste uitdaging was hoe snoei ek aan die uitgewerslyste! Normaalweg sou ek die luukse van agt dae se program hê, van vroegoggend tot laataand in verskeie venues in en buite Stellenbosch – ’n besoeking soms in die warm, winderige weer van Maart, maar uiteindelik altyd ongelooflik bevredigend.

Ek was ook diep onder die indruk van hoeveel skrywers met nuwe boeke ek die afgelope amper twee jaar misgeloop het. ’n Aanlyn gesprek is ’n troos, maar laptopkyk bly vir my maar ’n kliniese affêre wat ek eerder met werk vereenselwig. Die keuse van boeke was daarom belangriker as ooit – hoeveel nuut, hoeveel wat vroeër die jaar verskyn het, Afrikaans versus Engels, die balans van genres en onderwerpe. Wat my by die volgende uitdaging bring: TV as ’n medium.

..........

Die keuse van boeke was daarom belangriker as ooit – hoeveel nuut, hoeveel wat vroeër die jaar verskyn het, Afrikaans versus Engels, die balans van genres en onderwerpe.

..........

Ek het kort vantevore The morning show op Apple+tv gekyk, waarin die tema van TV primêr as ’n vermaakmedium op ’n baie snaakse, siniese manier uitgespeel het. Dit het my wel aan die dink gesit, en in vooraf gesprekke met kollegas wat in TV werk, het ek gou besef mense kyk TV met hulle afstandbeheer. Boei die program nie, skakel hulle gewoon af. Verskeidenheid was daarom noodsaaklik. Boonop is ’n uur op ’n Woordfeesverhoog onmoontlik lank vir TV. Dertig minute is al, met hier en daar ’n uitsondering (wat gevra het vir die vooraf briefing van ’n drilsersant!).

Die laaste uitdaging – veral post-Covid – was ’n klein begroting.

Watter skrywers is vanjaar op die program?

Een van die uitvloeisels van die kompakte program was om op Afrikaanse gesprekke te konsentreer, met die uitsondering van twee. Hiervan was een met Pip Williams, die Australiese skrywer van die lieflike The dictionary of lost words, wat met sy tema van die ontstaan van die Oxford English Dictionary perfek pas by ’n woord(e)fees in ongewone tye. Elna van der Merwe praat met haar.

Die ander Engelse gesprek (eintlik so om die helfte in Engels en Afrikaans) is Marthinus Basson s’n met sy jare lange vriend, Damon Galgut, wat dié week gehoor het sy roman The promise is sy derde op die kortlys van die Booker literêre prys. Die gesprek het so hittete nie plaasgevind nie vanweë die eise van Marthinus se teaterprogram. Maar toe kry Homebrew Films ’n gaatjie in hulle skedule en kon ons die gesprek een Saterdagoggend vinnig skiet op Marthinus se sementagterstoep op Stellenbosch – kompleet met ’n snapsie rosé op die stoeptafel, sy mak weesgansie al om ons voete, Marthinus in die groenste van groen wollerige sweaters en Crocs, en die son wat so oor die prieel opkom.

Ander fiksieskrywers is Willem Anker, wat oor sy bekroonde Skepsel praat en ’n foto of twee wys van die vreemde, middernagdonker Svalbard in Noorweë, waar hy gaan navorsing doen het. Saam met hom en Louise Viljoen is die jong aktrise Randy Januarie, wat haar spesiaal aangetrek het om ’n bietjie te lyk soos die kuborg Sulla Čapek, uit wie se afdeling in die boek sy voorlees. Andries Bezuidenhout – nes Lien Botha ’n skrywer en kunstenaar – vra Lien uit oor Vin aan die hand van die kuns en foto’s op haar karakter se webtuiste, en Marius Swart gesels met die Vrystater Francois Smith oor sy derde roman wat pas verskyn het, Die getuienis. Dis ook die derde keer dat Francois delf in hoe met trauma omgegaan word wanneer die man van ’n egpaar met iets uiters ontstellend gekonfronteer word.

Onder die niefiksieskrywers is Jeremy Vearey, Wes-Kaapse oudspeurhoof, wat met Deon Meyer gesels oor sy outobiografie, Into dark water, wat op ’n ironiese manier heelwat ooreenkomste met Deon se laaste twee misdaadboeke toon. Johan Fourie bespreek sy boek, Our long walk to economic freedom, met Rachel Jafta en Gerrie Fourie, hoof-uitvoerende beampte van Capitec, en hulle bekyk veral die moontlikhede wat vernuwing en tegnologie vir jongmense skep, terwyl Max du Preez aan die vooraand van die verkiesing oor politieke leierskap gesels, en veral die rol van die opposisie, saam met Albert Grundlingh, skrywer van Frederik van Zyl Slabbert se biografie, en Oscar van Heerden, politieke ontleder en adjunkrektor van Fort Hare.

Onder die debute is ek baie opgewonde oor wat ek reken ons eerste werklike millenniërroman in Afrikaans is, Azille Coetzee (van In my vel) se Die teenoorgestelde is net so waar oor drie vriendinne wat die oorgang van kind na student na dertigplusser deur vandag se Suid-Afrika moet navigeer. Sy en Bibi Slippers het ’n heerlike gesprek daaroor en natuurlik kom die vraag op oor moontlike vergelykings met die Ierse Sally Rooney.

Nog ’n splinternuwe roman – en een met waarskynlik die mooiste titel van die jaar – is die verrassende Die spore van Gert Saggiestrap van Marco Botha, ’n naam wat tog nog toe eintlik met sportboeke sinoniem was. Marco gesels met Bun Booyens oor die lang pad wat die roman gekom het, hoe dit gebeur het dat hy by ’n groepie van die Ju/’hoansi-San (hulle gebruik self wel die term boesman) in die Omahekestreek, Namibië, gaan bly het, en hoekom hy aanvanklik so huiwerig was om te skryf oor die jongman met drome wat al hoe duideliker voor hom begin verskyn het.

Iets anders kom in die vorm van Nataniël se 107 Kaalkoppe, sy viering van 20 jaar van sy Sarie-rubrieke, wat sekerlik as die eerste boekextravaganza beskryf kan word! (Ek het dit ook in TV-terme benader as ’n première ...) Schalk Burger senior blaai deur sy ou fotoalbums na aanleiding van sy biografie, en rugby is maar één van dié mensch se talente (pragtig is die foto van ’n bloedjong Schalk met ronde wange in troepmondering langs ’n ewe jong Garth le Roux). Die tweetalige grendeltydreseptestorieboek word op sy beurt weer ’n onthou-en-proe-sessie met Reuben Riffel, waar die gaste herinneringe saambring aan die mense wie se resepte hulle getroos het tydens verlede jaar se eerste vreemd-stil dae van vlak 5 se grendeltyd.

Een van daardie soort spontane dinge wat net gebeur wanneer ’n klomp mense dieselfde passie deel, was tydens die gesprek oor Kaaps en hoe Afrikaans dialekte deesdae oral opklink. En veral by monde van jonger skrywers. Die hoof van taalkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die UWK, Donovan Lawrence, het ’n voorliefde vir hoe taal in al sy skakerings lewe – hy skryf ook gereeld daaroor in sy rubriek in Die Burger – en gesels met die digter Nathan Trantraal, wat deesdae dosent is in kreatiewe skryfwerk aan Rhodes-universiteit, die digter Ryan Pedro wat ook draaiboekskrywer is vir die sepie Suidooster, radio- en TV-aanbieder Lyntjie Jaars, en Carolyn Meads van Kwela, die uitgewer van sowel Nathan as Ryan se bekroonde bundels. Dis juis toe dit oor boeke gaan dat Ryan sê hy wil iets lees uit Kompoun, die debuutroman van digter Ronelda Kamfer, wat later in Oktober verskyn. En na hom neem Nathan oor en lees ’n meer humoristiese stuk uit sy vrou se manuskrip!

“Vuur in sy vingers: NP van Wyk Louw” is een van my ander gunsteling-items. Die opdrag was om die mens agter die digter te belig, maar Willie Burger se gesprek met Louw se dogter, Reinet, en sy eertydse studente-assistent, Ian Raper, en die staaltjies oor onder andere ’n onhandige nutsman, foto’s van ’n gedugte visserman en stories oor die lojale kollega wat daar uitgekom het, laat dit eerder voel soos ’n familie-kuier. Daarmee saam lees Anton Schmidt die pragtige “Ex unguine leonem” uit Tristia, wat gepas eindig met “Iets staan in sterre-en-helderte geskryf en ek skryf na in stof.”

Hoe laat word die boekeprogram uitgesaai? Is die tye soos wat mense gewoonlik na die boektent sou kom, of moet mens nie op hierdie manier aan hierdie fees dink nie?

Nee, jy moet daaraan dink in terme van ’n TV-skedule. Die boekgesprekke se eerste uitsendings sal meestal in die aand wees, maar die goeie nuus is dat alles daarna ’n slag of wat op ander tye en dae herhaal word. Hier is 'n skakel na die skedule van die boekgesprekke.

Gepraat van ou maniere van dink en die boekefees. Wat was vir jou lekker en onverwags aan die beplanning en die opneem van hierdie spesifieke fees se boekeprogram?

Ek moes, waar ek kon, meer visueel dink, en dit het ’n paar wonderlike verrassings opgelewer. Nataniël, om net een te noem. In die 20 boekgesprekke is daar ook vier voorlesings, en dikwels deur mense wat by die verteller pas, soos Tobie Cronjé by Rudie van Rensburg se Hans bars die bioborrel, en Rika Sennett by Erika Murray-Theron se rou vertelling van haar en haar man se reis tot sy dood aan Parkinsonsiekte, Kom ons loop weg.

Dié gesprek was ook vir my ’n goeie voorbeeld van iets wat dalk op ’n groot program sou wegraak. Al twee vroue het nie baie harde stemme nie en Erika is nie meer jonk nie. Maar TV laat toe dat die kamera beweeg, dat dit naby kan kom, ’n vlietende emosie optel, dat die klank perfek hoorbaar is; en as Rika lees, leef jy saam met elke woord totdat die laaste sin in stilte wegraak. Die program kon dus wen aan intimiteit, waaraan ’n groot, raserige feesterrein soms mank gaan.

Die feit ook dat ’n mens kan kyk na mense wat sit en gesels en sodoende hulle liggaamshouding en -taal kan sien, bring in sommige gevalle die senuweeagtigheid van sommige skrywers, weg van hulle veilige skryfhawe, na vore. Dit kan vir die leser ’n beter begrip gee vir die weerloosheid en blootstelling wat skryf dikwels meebring – ek het daarvan gehou. (Net soos ek ook die onverwagse flambojansie van sekere gesprekvoerders, soos Fransjohan Pretorius in gesprek met Nicol Stassen en Zirk van den Berg oor hulle verkenningstogte deur die geskiedenis van Namibië, terdeë geniet het!)

.......

As dit egter by verrassings kom, is die een wat vir my kop en skouers bo almal staan, die jaarlikse Digtersparadays – vanjaar beslis getrou aan sy naam.

.........

As dit egter by verrassings kom, is die een wat vir my kop en skouers bo almal staan, die jaarlikse Digtersparadays – vanjaar beslis getrou aan sy naam. Dit het ’n paar dinksessies met die Woordfeesspan geneem om by ’n idee uit te kom wat anders is, maar ook boeiend en nie die begroting totaal sou befoeter nie. Die uiteinde, met Wolf Britz as die regisseur én stelontwerper, Kabous Meiring as aanbieder, Die Stal op Coetzenburg met sy lae eikehoutbalk, ruwe witgepleisterde ou mure as agtergrond en gesuis van reën op die dak, en Frazer Barry en sy vrou, Deniel, op die agtergrond om vir elke digter se voorlesing ’n unieke klankbaan te verskaf, is in alle opsigte betowerend. In so ’n mate, trouens, dat dit ’n 60-minute-tydgleuf gekry het.

Vanjaar kan almal saamkyk, het jy in jou Netwerk24-onderhoud gesê. Ook mense wat nie gewoonlik by die Woordfees kan boekgesprekke bywoon nie. Wat wil jy vir hierdie nuwelinge sê? Wat kan hulle verwag?

’n Stimulerende program, met verskeidenheid wat jou soms sal verras, soms sal troos, sal warm laat voel van binne, stimuleer of fassineer, so asof jy tyd deurgebring het met ’n groep baie interessante mense wat jy graag van naderby wil leer ken.

........

’n Stimulerende program, met verskeidenheid wat jou soms sal verras, soms sal troos, sal warm laat voel van binne, stimuleer of fassineer, so asof jy tyd deurgebring het met ’n groep baie interessante mense wat jy graag van naderby wil leer ken.

.........

Hiervan is seker een van die beste voorbeelde Hannes van Wyk se ontmoeting met die outistiese Anton Müller en sy broer, Corrie, van Stellenbosch. Anton se outobiografie, Ek onthou, het aan die begin van die jaar opslae gemaak op die dorp waar hy deesdae in die biblioteek werk. Die boek gee, in sy eie woorde, vir die eerste keer die leser ’n idee van hoe die wêreld vir ’n diep outistiese kind lyk – boonop een wat vóór die ouderdom van tien sy ma aan kanker verloor het. By tye baie snaaks is die 60-jarige Anton se terloopse herinneringe van sleuteloomblikke in sy lewe boweal ontroerend. En nou kan die hele land hom ontmoet.

Lees ook:

Pienk ceramic-hondjies deur Ryan Pedro: ’n onderhoud

UJ-pryse 2021: Commendatio vir Ryan Pedro se pienk ceramic-hondjies

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met Jeremy Vearey

Kantaantekeninge oor Lien Botha se Vin

Skepsel deur Willem Anker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

The promise by Damon Galgut: a book review

Persverklaring | Toyota US Woordfees TV-opwipkanaal | Toyota SU Woordfees TV pop-up channel

Woordfees-TV 2021: ’n Onderhoud met Saartjie Botha

Toyota US Woordfees op TV 2021: ’n Onderhoud oor die Woordfeesbundel

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top