UJ-pryse 2021: Commendatio vir Ryan Pedro se pienk ceramic-hondjies

  • 0

Ryan Pedro se pienk ceramic-hondjies ontvang die 2021 UJ-debuutprys. (Foto’s: verskaf)

Die UJ-pryse vir 2021 is op 7 Mei 2021 toegeken. Lees die commendatio oor pienk ceramic-hondjies wat by die prysuitdelingsfunksie gelewer is.

Ryan Pedro se veelvlakkige debuutbundel het enorme emosionele trefkrag. Dit gaan kaalvuis en onverskrokke om met kwessies soos armoede, geweld, historiese onregte en rassisme. Terselfdertyd is dit ’n bundel wat van groot belesenheid getuig en wat op verstegniese terrein beïndruk. Besonders geslaagd is die strukturele konseptualisering wat behels dat die bundel aangebied word as ’n intermediale kunsvorm wat iewers tussen woordkuns en “mixtape” en visuele selfportret huiwer.

Soos ’n mixtape met twee kante, het die bundel ’n Side A, met gedigte wat in Kakamas afspeel, en Side B, met Weskusgedigte. Daar is ook ’n openingsgedig en ’n slot-triptiek wat as sogenaamde “bonus joint” aangebied word; en in die afdeling “interludes & leaks” gaan dit om ’n soort tussenruimte. “Huis” en “hys” is belangrike motiewe, maar selde in die rol van ’n veilige hawe. In oomblikke van huishoudelike geweld raak dit ’n plek van verskrikking. In ’n baie donker wending word juis die draad van die kassetspeler, wat grootliks met ontvlugting geassosieer word, gebruik om ’n ma mee te wurg (in die gedig “‘clouds across the moon’ – the RAH band”). Teen hierdie agtergrond word daar in meer as een gedig weg van die huis gevlug en gaan dit dan om die backyard of agterjaart, die strate en die sypaadjies waarheen daar uitgewyk word. Hier, in die pad van vegtende bendes en rondloperhonde, is dit egter ook nie veilig nie. Teenoor huis/hys, staan dus ontworteling of ontheemde worteling, soos dié van die bloekoms langs die skooltoilette in die gedig “somer”.

Behalwe geslaagde vormgewing, sorg ’n volgehoue intertekstuele spel met hip-hop en rap vir boeiende tematiese winste. Die digter bied ’n eiesoortige perspektief op die verbruikersmentaliteit wat geassosieer word met die kunstenaars wat hy aanhaal. Aanhalings en motto’s uit hip-hop-lirieke dien as invalshoek vir besinnings oor ras-, klas-, taal- en registerverskille. Die toonaard wissel met ’n sprekerstem wat soms weerloos of bewoë en soms woedend en bitter is.

Die digter gebruik intertekstuele verwysings ook vir die formulering van ars poetiese standpunte oor ’n vyandige posisionering ten opsigte van die kanon. Deurgaans verleen die invloed van rap- en hip-hop ’n meesleurende klankrykheid en musikaliteit aan Pedro se poësie, wat ewe geslaag is op papier as op die tong.

Behalwe rap en hip-hop, is hierdie ’n bundel oor die ontstellende klankbaan van oomblikke sonder oorfone. Pedro dig ook oor die geween, gehuil, geskree, geblaf, getjank, die sobs en swart gelag, en die stiltes wat hierop volg. Dit is gedigte wat ontroer en onthuts en wat, volgens die openingsgedig, gelees kan word as pogings om die stilte baas te raak. Die resultaat is ’n debuut wat uitstaan in terme van afgerondheid, wydreikendheid en diepgang en wat nog lank gelees en bestudeer sal word. Pedro se bundel is merkwaardig omdat dit agtertoe en vorentoe kyk: talle van die gedigte getuig van die skaduwee wat die verlede oor die hede gooi, maar hierdie vernuwende poësie is ook deel van ’n belowende toekoms.

Ryan Pedro, jy is vanaand die big homie van debutante. Die regte persoon om die play button te man. Die baasraker van stiltes. Die welverdiende wenner van die 2021 Universiteit van Johannesburg-debuutprys vir ’n bundel wat ewe broos as taai is. Baie geluk.

Lees ook: 

Willem Anker se toespraak by die ontvangs van die 2021 UJ-prys

UJ-pryse 2021: Commendatio vir Willem Anker se Skepsel

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top