UJ-pryse 2021: Commendatio vir Willem Anker se Skepsel

  • 0

Willem Anker se Skepsel ontvang die 2021 UJ-prys. (Foto’s: verskaf)

Die UJ-pryse vir 2021 is op 7 Mei 2021 toegeken. Lees die commendatio vir Skepsel wat by die prysuitdelingsfunksie gelewer is.

“Boeke word gemaak uit boeke,” het Willem Anker in ’n kort verklaring gesê ná berigte en verdagmakery verlede jaar oor die toe-eiening uit die werk van ander skrywers in sy roman Buys en die Engelse vertaling Red Dog. In die einste verklaring het Anker verwys na die proses van “wyd en syd plunder” van ander se tekste “om ’n verhaal vertel te kry”, en om as’t ware ’n (nuut)skepping voort te bring. In die mate waarin ’n mens nog heeltemal nuut kan skep.

Skepsel, Willem Anker se jongste boek, is ’n boek wat uit méér gemaak is as net uit ander boeke – ook die internet, “uit die miseliumdrade en wurmgate van die internet”, soos hy in “Erkennings” agter in Skepsel aandui. Benewens boeke (onder meer Moby Dick en Pinocchio) en rolprente (soos Blade runner) en verhoogtekste (soos RUR, ook bekend as Karel Čapek se Rossum’s Universal Robots), verwysings na dokumentêre prente, performance kuns en allerlei projekte, is dit die internet – van Google tot Wikipedia (“Wikipedia is ons,” skryf hy) tot YouTube – wat íngeskryf word om uit dié magdom verwysings ’n skepping (roman) as hibried te voorskyn te bring. Een waarin metamorfose ’n beduidende rol speel.

Die openingsin van die roman lui nie om dowe neute so nie: “Daar is ’n video op die internet …” Vergelyk verder ’n hoofstuk (bl 251 ev) wat volledig in die formaat van ’n drukweergawe van ’n webwerf – kompleet met foto-onderskrifte – weergegee word.

“Die teks is besonder dig, met netwerke van betekenis en intertekstuele verwysings, maar struikel nooit hieroor nie,” sê Karen de Wet in haar leesverslag oor Skepsel. “ʼn Mens lees agter die storie aan, maar word genadeloos gekonfronteer deur perspektiewe op en beskrywings van die impak en intensiteite van omvangryke sake soos verlies, afskeid, sin, begrip, liefde, skuld en aanpassing. Die boek neem die leser na ekstremiteite in die soeke na liefde, vereenselwiging en begrip, en konfronteer jou met die ongenaakbaarheid waarmee die planeet en vorme van lewe aandring op erkenning, en ‘ons’ tot verandering dwing.”

Samsa-masjien, Anker se dramateks van 2015 waarin hy met Franz Kafka se Metamorfose in gesprek tree, kan gelees word as ’n soort wegbereider vir Skepsel, maar Anker gaan verder terug as Kafka se verhaal, waarin Gregor Samsa een oggend ontdek dat hy in ’n insek verander het vir wie almal gril en waarvan almal ontslae wil raak. Hy gaan haal sy verwysing na hibriede en voorwerpe wat van voorkoms verander by Ovidius, die Romeinse digter van die eerste eeu – veral bekend vir sy 15-delige kompendium van gedaanteverwisselings in die Romeinse en Griekse mitologie.

Hoewel Ovide (die swartskaap), ’n hekwag by die ingang tot ’n ontwikkeling aan die Weskus en wat (soos Ovidius) ook ’n vreemdeling buite sy vaderland is, ’n mindere rol speel in een van die drie verhaallyne waaruit Skepsel bestaan, is dié figuur en die feit dat Ovidius se Metamorfose die enigste boek in Ovide se besit is, ’n manier om ’n greep te kry op Anker se vergestalting van “skepsel” – of dit nou die bleek beendere (vermoedelik van ’n tamaai dier) op die Svalbard-argipel tussen Noorweë en die Noordpool is, of ’n huis aan die Weskus wat só ontwerp en toegerus is dat argitektuur as’t ware ’n lewensvorm word, of ’n kuborg met ’n bioniese linkerarm en ’n videokamera as linkeroog.

In sy leesverslag wys Frederick Botha op die bekoring van hierdie roman wat lê in die toeganklike manier waarop al die verskillende filosofiese, sosiologiese en wetenskaplike idees vir die leser aangebied word sonder dat vooraf kennis daarvan benodig word of dat dit die vlot verloop van die verhaalgebeure beïnvloed.

“Met drie verskillende verhaallyne wat nooit kruis nie, maar tog baie naby aan mekaar beweeg, bewys Anker opnuut waarom hy een van die mees gerekende skrywers in Afrikaans is,” aldus Botha.

In haar verslag benadruk Sonja Loots die ontsaglike bedrewenheid waarmee die skrywer wissel tussen drie vertelstemme en drie verhaallyne wat tot hoogs uiteenlopende wêrelde behoort, maar dit nietemin regkry om die drie verhaallyne op die ou end te vervleg en in dialoog te plaas met mekaar en die titel. “Die roman sweef tussen die genres van spekulatiewe fiksie, wetenskapfiksie, ekofiksie, toekomsfiksie en tradisionele karakterroman en het veel te sê oor waar ons vandaan kom én waarheen ons op pad is.”

Ten opsigte van die aansienlike aantal kwessies wat die boek aanroer, maak De Wet ’n voorlopige lys. Ek noem enkeles:

  • die reg om jou liggaam te verander en om dood te gaan en om voorskrifte te gee oor hoe jy wil poog om ná jou dood een met die ekostelsel te word
  • die voorreg (?) om in skoon lakens en met designer drugs te mag doodgaan – en voor te mag skryf watter bakterieë ens aan jou aftakeling mag deelneem en behoort deel te neem
  • die las wat op die aarde geplaas word deur goed wat nie vergaan nie – die motief (en werklikheid) van die styrofoam-bekertjie
  • die kwessie dat die planete nie lank genoeg hou om die skepsels daarop te dra nie.

Was Ovidius net kompileerder van bestaande gedaantes en verwisseling van gedaantes soos dit gestalte kry in bestaande mitologieë? Gewis nie. As digter (skepper/maker, wat die woord poiētēs beteken) het Ovidius in die gebruik van bestaande tekste nuwe werk tot stand gebring, met nuwe reikwydte, met nuwe dimensies, en straks met ’n nuwe segging. En dit is maar net ten opsigte van inhoud. Dieselfde is ook waar ten opsigte van die verruiming van taal en ’n tradisie en ’n letterkunde.

Niks wat Willem Anker beskryf is dalk nuut nie. Alles bestaan lankal en in verskillende vorme. Hy kom nie vorendag met ’n begrip soos objektum-seksualiteit nie, of met iets soos ’n sampioenpak nie. Al dié goed bestaan al lank, soos ander skrywers se boeke. Maar hóé hy daarmee omgaan en die werk wat hy tot stand bring, spreek van verbluffende vernuf. Dalk meer as verhaallyn of karakterbeelding of wat ook al is die manier waarop Anker wyd en syd plunder, die spil waarom Skepsel draai.

Wat Anker doen, is om ’n hibriede vorm te skep, ’n skepsel, wat in sy somtotaal heerliker is as die onderskeie brokke inligting. Om dit te doen het ’n mens ’n kunstenaar nodig. ’n Skepper soos wat die Grieke dit indertyd bedoel het. Een wat goed byeen kan bring en dit verstommend, onverwags, verrassend, uitnemend en uitdagend kan doen.

 

Lees ook: 

UJ-pryse 2021: Commendatio vir Ryan Pedro se pienk ceramic-hondjies

Ryan Pedro se toespraak by die ontvangs van die 2021 UJ-debuutprys

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top