Persverklaring: 2021 se UJ-pryse – wenners aangekondig

  • 0

Die wenners van die 2021-UJ-debuutprys asook die 2021-UJ-prys is aangekondig nadat kortlyste vir albei pryse verlede week aangekondig is.

Ryan Pedro ontvang die 2021 UJ-debuutprys vir sy digbundel Pienk ceramic-hondjies en die 2021 UJ-prys word toegeken aan ’n vorige wenner van sowel die UJ-debuutprys as die UJ-prys, Willem Anker, vir sy roman Skepsel.

Altesaam 71 titels het vanjaar om die UJ-prys meegeding, waarvan 27 debute. Hoewel die getal inskrywings ietwat minder was as die vorige jaar (83 in totaal in 2020), was daar ’n verblydende groei in die getal debute: van 17 tot 27 debuutpublikasies. Opvallend was dat ongeveer ’n derde van die inskrywings poësie was en dat albei kortlyste ook meer as een digbundel ingesluit het. Inskrywings is van 15 verskillende uitgewers en drukname ontvang. Die wenners is uitgegee deur Queillerie (Skepsel) en Kwela (Pienk ceramic-hondjies).

Karen de Wet, sameroeper van die beoordelaarspaneel, het gesê Anker is die tweede skrywer in eenentwintigjaar van UJ-pryse wat drie maal as wenner aangewys is. Marlene van Niekerk het die UJ-pryse ontvang in 2005, 2011 en 2014 vir Agaat, Die sneeuslaper en haar digbundel Kaar, terwyl Anker die UJ-debuutprys in 2008 vir Siegfried ontvang het en twee UJ-pryse: sewe jaar later vir Buys (2015) en nou, ná nog ses jaar, in 2021, vir Skepsel.

Die UJ-pryse vir Afrikaans word sedert 2000 jaarliks toegeken aan skrywers van uitsonderlike Afrikaanse boeke. Waar die UJ-prys vir Afrikaans ʼn oop kategorie is vir boeke van enige genre wat in Afrikaans geskryf is deur nie-debutante en wat verskyn het tussen 1 Januarie en 31 Desember van die voorafgaande jaar (2020, dus, in hierdie geval) is die UJ-debuutprys geoormerk vir debute.

Titels wat ingeskryf word vir die UJ-pryse moet oorspronklik in Afrikaans geskryf wees en moet in die voorafgaande kalenderjaar verskyn het.

Sedert 2021 word die UJ-pryse deur die Kantoor vir Meertalige Taaldienste onder leiding van prof. Marné Pienaar geadministreer. Die Trust vir Afrikaanse Onderwys borg die 2021 UJ-pryse en ’n prysgeld van onderskeidelik R70 000 en R35 000 is op die spel.  

Die paneel beoordelaars vir die 2021 UJ-pryse vir Afrikaans, was Frederick J Botha (SPU),  Karen de Wet (UJ) – voorsitter, me. Valda Jansen, dr. Sonja Loots (UK), dr. Johan Myburg, prof. Marné Pienaar (UJ) en mnr. Earl-Ray Basson (CPUT).

Oor Skepsel

“Die roman sweef tussen die genres van spekulatiewe fiksie, wetenskapfiksie, ekofiksie, toekomsfiksie en tradisionele karakterroman en het veel te sê oor waar ons vandaan kom én waarheen ons op pad is.”

Skepsel is ’n uiters fassinerende en verbysterende roman, nie soseer oor die wyduiteenlopende kwessies waaroor Anker skryf nie, maar oor die feit dat hierdie kwessies op verrassende wyse vervleg word om ’n uitsonderlike en aweregse roman oor menslikheid te vorm. Met drie verskillende verhaallyne wat nooit kruis nie, maar tog baie naby aan mekaar beweeg, bewys Anker opnuut waarom hy een van die mees gerekende skrywers in Afrikaans is.”

“Die bekoring van hierdie roman lê in die toeganklike manier waarop al hierdie verskillende filosofiese, sosiologiese en wetenskaplike idees vir die leser aangebied word, sonder dat vooraf kennis daarvan benodig word, of dat dit die vlot verloop van die verhaalgebeure beïnvloed. ’n Verdere beloning van hierdie ambisieuse roman is Anker se ongewone karakters – weer eens kenmerkend van sy oeuvre … Dat die koronavirus by die vertelling as tekstuur ingewerk word is uiters funksioneel. Sonder dat dit voorspelbare en voor-die-hand-liggende pandemie-prosa word, sluimer Covid-19 slegs in die agtergrond as een van die vele virusse en siektes van ons tyd – nog ’n bedreiging vir die mens en menslikheid.”

Skepsel, Willem Anker se jongste boek, is ʼn boek wat uit méér gemaak is as net uit ander boeke – ook die internet, “uit die miseliumdrade en wurmgate van die internet”, soos hy in “Erkennings” agter in Skepsel aandui. Benewens boeke (onder meer Moby Dick en Pinocchio) en rolprente (soos Blade Runner) en verhoogtekste (soos RUR, ook bekend as Karel Čapek se Rossum’s Universal Robots), verwysings na dokumentêre prente, performance kuns en allerlei projekte, is dit die internet – van Google tot Wikipedia (“Wikipedia is ons”, skryf hy) tot YouTube – wat íngeskryf word om uit dié magdom verwysings ʼn skepping (roman) as hibried te voorskyn te bring. Een waarin metamorfose ʼn beduidende rol speel.”

“Wat Anker doen is om ʼn hibriede vorm te skep, ʼn skepsel, wat in sy somtotaal heerliker is as die onderskeie brokke inligting. Om dit te doen het ʼn mens ʼn kunstenaar nodig. ʼn Skepper soos wat die Grieke dit indertyd bedoel het. Een wat goed byeen kan bring en dit verstommend, onverwags, verrassend, uitnemend en uitdagend kan doen.

Lees ook:

Skepsel: ’n onderhoud met Willem Anker

Skepsel deur Willem Anker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Skepsel deur Willem Anker: ’n resensie

Oor Pienk ceramic-hondjies

“’n Debuutbundel met groot emosionele trefkrag wat op meer as een terrein beïndruk. Besonders geslaagd is die strukturele konseptualisering wat behels dat die bundel aangebied word as ’n hibriede vorm wat iewers tussen ʼn “mixtape” en hedendaagse rap- of hiphop-album aangebied word.”

“Pedro se slim intertekstuele spel met hip-hop en rap-musiek verleen klank en musikale ritmes aan sy verhalende gedigte, maar dien tegelykertyd as waarskuwing dat hy ’n digter is wat anderste wil dink oor die letterkunde en die digkuns, sonder om tegniek en styl prys te gee. Die wyse waarop hy sekere ruimtes oopdig – tradisioneel manlike ruimtes, maar ook die Noord-Kaap en die Weskus as twee verskillende grootwordruimtes – werk oortuigend mee tot die tema van identiteit.”

Lees ook:

Pienk ceramic-hondjies deur Ryan Pedro: ’n onderhoud

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top