Titel: Skepsel
Skrywer: Willem Anker
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795802171
Willem Anker antwoord Naomi Meyer se vrae oor Willem se jongste boek, Skepsel.
Willem, Skepsel is vir my ’n boek wat handel oor die verhouding van alle skepsels met mekaar. Die mens in die kosmos, die kosmos met die mens, en die mens as skepsel en sy verhouding met mensgemaakte skepsels. Wat sou jou beskrywing wees as ek jou die konvensionele vraag sou vra: Waaroor handel hierdie boek van jou?
Vir my het dit in die eerste plek gegaan oor drie mense in verhoudings wat hul menswees op verskillende wyses uitdaag. Ek wou hulle bestudeer, en dan wou ek in-zoom en uit-zoom.
Waarheen neem jy ons doodgewone, organiese, vlees-en-bloed-skepsels met jou jongste Skepsel? Hierdie is die plekke waarheen jy my geneem het: ’n wêreld waar ek, die leser, wonder of ek self die kamera is in sekere verfilmbare tonele (die tweedepersoonverteller), waar ek besef alles in jou Rebecca-karakter (die derdepersoon) se lewe is eintlik nie so verbasend ongewoon nie (die voorskriftelike GPS, selfs die slimhuis), en ook iewers buitelands en buitewêrelds: die yswêreld van jou eerstepersoonverteller.
Dit sal wonderlik wees as die boek lesers na plekke kan neem. Terwyl ek geskryf het, moes ek soms ver weg gaan, en soms baie naby kom.
Het die stories almal gelyk by jou opgedaag? Het jy vooruit geweet wat gaan gebeur? Hoe werk jou beplanning en jou roetine?
My werkgewer, US se Departement Afrikaans en Nederlands, het my heelwat navorsingsverlof gegun, so ek kon groot dele van die boek voltyds skryf. Ek het probeer om vyf of ses dae ’n week nege tot vyf te werk, in ’n kantoor wat ek by my buurman gehuur het. Aanvanklik was dit net ’n gelees en notas maak, toe ’n gelees en vingeroefeninge doen, en toenemend het die skryf by die lees oorgeneem soos ek die karakters leer ken het. Daar was talle weergawes wat die een die ander verdring het en later inmekaar gegroei het. Die storie was vooruit beplan, maar planne is daar om van af te wyk. In die agtergrond was daar altyd ’n gated community, vreemde bedolwe goed en ’n olietenker, maar dit was toe Rebecca met haar dooie hande en voete en haar sterwende pa hul verskyning gemaak het dat die ander stukke hulle plek begin vind het.
Selfs die eerste sin in die boek, "vir my ma en vir my pa", lees nou al vir my dubbelsinnig. Wie het wie geskep, wie is die oerteks en wie is wat? Wie is jou karakters, Willem? Praat met my oor al drie die hoofkarakters, asseblief.
Rebecca Maas se verhaal is een van ’n kind wat moet afskeid neem van haar ouers. Sy kom Suid-Afrika toe om te kom omsien na haar pa wat in die laaste fase van kanker is. Hulle verhouding is nie goed nie; sy het nie eens geweet hy is siek nie. Haar ma se dood was ’n keerpunt in haar en haar pa se lewens en ook in hulle verhouding. Haar pa bou vir homself ’n spookhuis.
’n Argeoloog gaan saam met haar kollega en minnaar, Howard, na Svalbard om te help met die opgrawing van vreemde voorwerpe. Howard verdwyn spoorloos in die poolnag. Terwyl sy en haar ander kollegas probeer sin maak van die vonds wat hulle elke dag minder en minder verstaan, probeer sy ook sin maak van sy verdwyning, hulle verhouding en die verhouding met haar man wat by die huis vir haar wag.
Sulla is ’n kunstenaar wat moeg daarvoor is om in ’n sak vleis vasgekeer te wees. Sulla wil die grense van menswees verken en dan verder gaan. Sulla die cyborg trou met ’n olietenkskip en maak ’n dokumentêr van alles wat die twee op hul wittebroodreis met mekaar aanvang.
Jou newekarakters bied ook heelwat stof tot gesprek. Ek verwys na byvoorbeeld ’n boot, ’n half-mens-half-masjien, ’n potplant, en die beendere van die voorgeslagte. Ek verwys na die swygende aarde wat smelt. Praat met my oor enigeen van hierdie karakters op wie jy wil uitbrei.
.........
’n Olietenkskip is massief en vuil en banaal en asemrowend. Daar is min dinge so konkreet. Daarom het die VLCC Kraken vir my gewerk as karakter.
..........
’n Olietenkskip is massief en vuil en banaal en asemrowend. Daar is min dinge so konkreet. Daarom het die VLCC Kraken vir my gewerk as karakter. Dit is ’n enorme stuk drywende, voortstuwende metaal wat miljoene liter versapte fossiele oor die see aandra om in motors en vliegtuie en tenks en ander olietenkskepe gepomp te word. Dit is grasieus in dit se onstuitbaarheid. Dit is ’n seemonster. Dit is onweerstaanbaar.
Misdaad in Suid-Afrika: Ons sien dit nie eens meer raak nie, juis omdat dit voortdurend om ons is. Dis genormaliseer. In jou boek, met jou as skrywer (met jou belangstelling/navorsing in mens-masjien-verhoudinge), weet ek jy is bewus van die verhouding wat ons mense met tegnologie het. So nou weet ek ’n GPS is nie net ’n GPS nie, ’n slimfoon nie sommer net ’n slimfoon nie. Dis sosiale kommentaar op alles wat ons nie raaksien nie en moontlikhede van dinge wat nog kom. Is alle boeke deesdae nie dus wetenskapfiksie nie?
Tegnologie is al deel van ons; ons is almal al lankal kuborgs. Soos die wetenskapfiksieskrywer William Gibson tereg gesê het: "The future has arrived — it’s just not evenly distributed yet." Maar die distribusie, die verspreiding van die toekoms is ook belangrik. Vir sommige mense in ons land is misdaad en die toekoms beide die norm, vir ander net misdaad.
.........
Tegnologie is al deel van ons; ons is almal al lankal kuborgs.
...........
Terwyl ek Skepsel gelees het, het ek Samsa-masjien in die teater helder onthou. Waar begin ’n fassinasie – joune met die verhouding tussen mens en masjien – kan jy dit verwoord?
Om oor menswees te dink moet ’n mens dalk ook wyer dink as die menslike – masjinerie, insekte, planete, honde en Styrofoam. Dit is alles deel van die prentjie.
Die “grense van menswees” en insekwording in Willem Anker se Samsa-masjien (2015)
Ek wil jou vra oor die verskillende vertellers. Die tweedepersoonvertelling word selde gebruik. Ek bly by jou betrokkenheid by die teater, want terwyl ek hierdie perspektief lees, het ek gevoel of ek – soms ongemaklik en konfronterend – deel gemaak word van die storie as karakter. Wat was jou doel met spesifiek die tweedepersoonverteller?
Daar is ’n mate van aandadigheid wat die tweedepersoon by die leser skep waarvan ek hou. Ek dink ook dit is hoe Sulla sal praat oor sigself. Dit was boonop ’n maklike manier om dit onnodig te maak om Sulla se geslag te noem in die teks. Daar is vir my verder ’n afstandelikheid in die tweedepersoon wat vir my gepas het by die karakter, asof die karakter sigself waarneem deur ’n lens.
Praat asseblief met my ook oor jou eerste- en derdepersoonverteller-gebruik. Aanvanklik was dit vir my iets om aan gewoond te raak as ek oorskakel van een karakter na die volgende. Later het dit doodgewoon gebeur. Ek het dit as normaal begin ervaar, soos die beweeg van mens en masjien en die ander skepsels onder en tussen mekaar. Maar sekerlik het jy ’n doelbewuste besluit hieroor geneem. Waarom die gegewe soort verteller by elke karakter?
Sulla moes ’n tweedepersoonverteller wees. Rebecca het, as gevolg van die aanvanklik verwyderde (gemedikeerde) manier waarop sy dinge beleef, ook ’n afstandelikheid nodig gehad – vandaar die derdepersoon, maar dan iets nader as Sulla, ’n baie nabye derdepersoon. Die eerstepersoon het sin gemaak vir die argeoloog se innerlike monoloog. Dit was ’n lekker eksperiment en hopelik goed vir die balans van die boek om die vertellers dan in die eerste, tweede en derde persoon te laat vertel.
Jou boek lewer kommentaar op elke aspek van skepsel-wees. Kos wat energie verskaf, verwysing na smaaklike disse. Die teenoorgestelde: maagkanker. Opmerkings en gedagtes van jou karakters wat nadink oor hoe dit sal wees om ’n Boeing te wees, of dalk ’n plant. Jou karakters dink hulle dikwels in die ander/Ander se ervaring in. Natuurlik is daar ook die konvensionele Other: diegene van ’n ander ras, geslag of oriëntasie as die karakter of die leser. Is dit vir jou ook ’n vraag terwyl jy geskryf het – hoe dit is om so anders te wees, en ook: Wie is dan anders, of meer absurd as die ander?
Definitief. Vir my is een van die lekker goed van skryf die verkenning van ander maniere van wees. Om jouself in iemand (of iets) anders se spreekwoordelike skoene te verbeel (want dikwels dra die a/Ander nie skoene nie). Ek dink die verbeelding speel ’n belangrike rol in die vorming van empatie met andersheid van watter aard ook al. ’n Mens moet natuurlik sogenaamde andersheid op ’n verantwoordelike wyse verbeel en probeer om die andersheid van dit en dié wat anders is as jyself te behou, om selfbewus te wees wanneer jy iets van daardie andersheid verken. Ek dink dit is Michel Foucault wat gesê het hy skryf om anders te word. Dis miskien nie die enigste rede nie, maar dis ’n goeie rede.
................
Vir my is een van die lekker goed van skryf die verkenning van ander maniere van wees. Om jouself in iemand (of iets) anders se spreekwoordelike skoene te verbeel (want dikwels dra die a/Ander nie skoene nie).
.................
Ek wil jou vra oor jou karakter "halfpad tussen Noorweë en die Noordpool". Jy was daar, reg? Dink jy jy as skrywer moet jou navorsing gaan doen daar waar die storie is? Hoe het jy geweet om die storie juis daar te gaan soek?
Navorsing is belangrik – om te lees en te kyk wat jy in die hande kan kry, te verbeel, maar indien jy kan, ook die plekke te besoek waaroor jy skryf. ’n Mens kry ’n gevoel vir ’n plek wanneer jy daar is wat jy nie in ’n boek of op ’n dokumentêr kry nie. Ek kon ongelukkig nie by al die plekke waar die boek afspeel, uitkom nie. Pripjat was byvoorbeeld ’n bietjie ver. Soms moet ’n mens maar foto’s en dokumentêre kyk of soos Rebecca in die Google Maps-karretjie klim.
Toe ek Svalbard toe was vir ’n konferensie, het ek nog nie geweet die verhaallyn sou daar afspeel nie. Toe ek vyf dae later daar weg is, kon dit op geen ander plek afspeel nie.
"Ons was ’n span van ag-en-sestig wetenskaplikes, joernaliste en handearbeiders, wat ’n reusagtige en onmoontlike objek, of objekte, ondersoek; nou is ons sewe-en-sestig." Hier is dus ’n doodgewone raaisel. Waar is die een wat weggeraak het? Maar opvallend: Net een individu gee om vir hom wat wegraak. Ook hier keer jy die gewone "die een wat wegraak"-storie op sy kop. Net een gee aanvanklik om as iemand wegraak. Ek sien weer die teaterskrywer aan die werk. Jy het die leser weer ’n karakter in die storie gemaak, want nou gee die leser ook om waar die persoon is wat weggeraak het. Die leser wil soos ’n kind in die teater skree: "Kyk agter jou, daar staan die heks!" Want die akteur op die verhoog sien nie die heks raak nie. Weet nie eens van haar nie. Ek is onseker hoe om hierdie ’n vraag te maak. Lees ek te veel hierin? In hierdie andersoortige raaisel in die boek?
In so ’n vreemde kamp vol mense wat afsonderlike pligte vervul om onverstaanbare goed uit te grou, elkeen reeds vervreemd, sal dit die een die naaste aan jou wees wat jou die eerste mis. Ek het probeer om myself die afgryslikheid daarvan te probeer indink van om in ’n donker, ysige plek te wees, omring deur mense, maar skielik alleen. ’n Nagmerrie waar niemand jou hoor skree nie.
Nog sosiale kommentaar, en hier word die mens-masjien wat getroud is met die masjien se verhouding nogal uiters menslik: "Om getroud te wees, sê jy, beteken nie dat julle mekaar besit nie. Maar dis nie te sê julle is nie besittings nie." Hoeveel voel ’n masjien, en hoeveel ’n mens? Oplaas: Is die intellek of die gevoel enigiets wat mekaar van die ander onderskei? Wat maak ons anders as masjiene, as daar dan so baie ooreenkomste is?
Droom androïede van elektriese skape? het Philip K Dick gevra. Hoe meer wetenskaplike kennis vorder, hoe meer vervaag die ou grense tussen mense, diere, potplante en masjiene. Miskien sal dit lei na ’n ander etiek en politiek sou ons meer op die ooreenkomste as die verskille begin fokus.
Aardverwarming is ’n tema. Daar is ’n kyk na die verlede se beendere en ’n toekomsblik – die amper-futuristiese van tegnologie, en wat daarmee verband hou: wat die menslike skepsel aan die aarde aangevang het. Het jou eie opgrawings en navorsing jou nie diep ontredderd laat voel nie?
Vir seker. Dan het ek geweet ek is op die regte pad. Maar ook op pad na ’n ander kant uit. Ek hou van onder andere Timothy Morton se idees rondom hoe om te leef ná die einde van die wêreld, wyses van om in die gemors voort te leef: iets melankolies en speels.
Kan ’n mens so goed sien dat die aarde smelt soos wat mens kan hoor as ’n plant jou aanspreek en met jou gesels in die taal wat jou menslike oor verstaan? Het jy dit so beplan, of wat was jou gedagte agter die plant wat nie net passief toekyk nie?
Ek het gehou van die absurditeit van daardie uitvindsel. (Die pratende plantpot is geskoei op ’n bestaande patent.) Daar was ’n paar redes hoekom die kletsende potplant daar moes wees, maar miskien veral vir ’n bietjie comic relief in ’n huis vol siekte en spoke.
"Dit is ’n koel dag vir Januarie. Daar is 17 mense dood aan die virus, 550 geïnfekteer. Wuhan in kwarantyn, geen vlugte of treine in en uit nie." En toe kom Covid. Mens-dier-verhoudings, soos mens-plant-verhoudings. Hoe spesies oorkruis met mekaar verbind is, as ’t ware, hoe ons nie aan mekaar kan ontkom nie, hoe ons verbintenis met mekaar ’n wêreld tot stilstand kan bring. So die ding is: Die skepsels weet nog maar niks nie. Of hoe?
Hoe meer ons uitvind, hoe minder weet ons, behalwe dat (mens, dier, ding en kiem) onlosmaaklik verbind is aan mekaar.
Het jy District Nine gekyk en aanklank gevind? Het jy as kind Beyond 2000 gekyk en as volwassene besef hoe anders lyk die toekoms as wat eens gevisualiseer is? Onthou jy Buck Rogers in die jaar 1987 met sy wentelbaan om die aarde? Is ons almal, eintlik lewenslank en in populêre kultuur soveel soos in ons alledaagse lewe, deel van ’n roman getiteld Skepsel? Het jy kleintydherinneringe wat jy wil deel?
As ek reg onthou was daar in die middel-’80’s drie programme op TV wat ons Sondagmiddae gekyk het: The world at war, Ter wille van oorlewing en Beyond 2000. Ja, dít is nie die toekoms wat ons belowe is nie. 2020 was baie anders in die 1980’s.
Wie is jy, Willem?
790203*******.
Wat is die sin van die lewe?
42.
Lees ook:
Skepsel deur Willem Anker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay