Titel: Skepsel
Skrywer: Willem Anker
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795802171
Jy skryf ’n resensie oor Willem Anker se jongste roman. Jy het besluit jy gaan die tweede persoon gebruik omdat een van die drie storielyne in die boek in die tweede persoon vertel word. Jy voel dit kan werk, want dis asof jy jouself kan sien in die woorde wat krapsgewys oor die skerm beweeg, asof jy oor jou skouer kyk wat jy doen.
Dit maak dit lekker subjektief, want jou gewaarwordinge tydens die lees van die roman is so sterk eiesinnig, so gebonde aan jou eie argief van herinneringe dat dit vals sal voel sou jy ’n objektiewe resensie probeer.
Een van hierdie persoonlike assosiasies wat eenvoudig bly vassteek, is juis die oorsprong van die woord resensie. Revue in Frans, review in Engels – dit is mos ’n herbeskouing, maar jy bly dink resensie verwys na "ontvangs", miskien weens die homologie met resepsie.
Maar die tweede persoon laat jou toe om gemaklik hieroor te skryf, as die verslag van ’n ontvangs. Selfs een oor ontvangs van ’n geskenk, want dis wat die meeste romans, veral Afrikaanses is; dit gaan sekerlik nie om geldmaak vir Anker nie. Dis nou wel ’n geskenk wat jy in die bek moet kyk, anders as daardie perde vanmelewe, maar dit bly ’n geskenk, al was dit ’n donkie gewees. En jy kan nou al maar sê: Die gebit van hierdie perd is perfek; hy/sy staan fier in die been en is so maklik om te ry soos ’n Ford Mustang.
Die fisiese ontvangs was ook iets om te rapporteer. ’n Vreemdeling bel jou. In jou COVID-19-kluisenaarskap vat dit ’n rukkie voor jy besef: Anker se boek! Die bode wag by die hek. Jy gryp jou masker, want jy wil hom nie in die verleentheid stel nie, en maak gereed om hom te vertel: Jy het pas in ’n wetenskaplike artikel gelees die koronavirus het swak plekkies in die stingels wat die knoppies omhoog hou wat die virus sy kenmerkende kroonvoorkoms gee. Dit veroorsaak dat hulle afbreek op growwe oppervlakke soos katoen, maar klou aan gladdes soos die plastiekomhulsel van ’n digitale aflewering.
Maar die bode het jou voorgespring, vee die plastiek voor jou oë af met ’n jammerlappie. Hy gee jou ’n gladde pen. Dit gly in jou vingers terwyl jy jou COVID-19-kleuterskoolhandtekening aanbring.
Jy vind dat jy die pakkie oopskeur, die boek omhoog hou, vir jou vrou wys. Julle is albei Willem Anker-aanhangers, Buys is na jou mening een van die top vyf boeke in Afrikaans en dalk top tien boeke in die Suid-Afrikaanse literêre geskiedenis. Jou vrou lyk vaagweg jaloers.
Jy bekyk die omslag: Dit kan die jongste kaart van donker materie in die kosmos wees, die een of ander organiese weefsel, of ’n voorstelling van kwantumverstrengeling. Vir jou met jou wetenskaplike voorliefdes. Jy weet dit nog nie, maar die eerste saadjies word geplant, die filamente in Shutterstock-skets is klaar besig om in jou arms op te beweeg en van jou lyf en brein besit te neem.
Jy lees die eerste sin: "Daar is ’n video op die internet van ’n cyborg wat met ’n olietenker trou." Oukei. Cyborg laat jou dadelik dink aan die verruklike Rachael van die rolprent Blade runner, hoewel sy eintlik ’n androïed is. En die olietenker? Jy sien ’n ou in ’n swart uniform met ’n wit keps. Maar jy besef gou jou fout. Dis ’n olietenkskip, die woord wat jy gedwing is om te gebruik toe jy nog ’n Naspers-joernalis was.
So far so good. Allerhande goed gebeur, en dis net halfpad die eerste bladsy in. Jy wens eintlik jy het ’n Kindle-weergawe sodat jy goed makliker kan opsoek op die internet. ’n Boek bly egter soveel lekkerder.
Maar trou met ’n boot, die lelikste soort ook nog? Jy moet die skrywer natuurlik kans gee. Jy kom gou onder die indruk van die vlot taal, die behendige afwisseling van sinslengtes byvoorbeeld, en dergelike tegniese maneuvers. Jy sien invloede van Etienne van Heerden, Harry Kalmer, Ingrid Winterbach en andere, maar hel, dis gesellig as almal so saam verkeer. Die ander storielyne word moeiteloos aan die gang gesit: die dogter wat haar sterwende pa vanuit Nederland kom verpleeg in sy Internet of Things-huis wat met haar praat in haar reeds gestorwe ma se woorde; die paleontoloog wie se minnaar verdwyn terwyl hulle besig is om ’n stel beendere te ondersoek wat so ongewoon is dat geheimsinnige staatsmagte die plek in die Arktiese Sirkel oorneem.
Jy is ’n bietjie geïrriteer met die déjà-vu tydens ’n beskrywing van ’n aankoms in Kaapstad – wat is dit met Afrikaanse skrywers en Cape Town International Airport? Miskien moet SAA ’n bundel saamstel in sy soektog na borge. Maar dis net fiemies; wat jou nog meer beïndruk, is hoe Anker elke storielyn gaandeweg verdiep met meer komplekse besonderhede soos wat elke nuwe verwikkeling aan die beurt kom. Sy talent as dramaturg en beheer oor plotpunte word oorvloediglik ingespan.
Jy voel dat Anker dit regkry om ’n huwelik tussen ’n verminkte en gerekonstrueerde mens en ’n olietenkskip te laat werk, op papier altans. Jy is bly dat hy nie weer, as verdere demonstrasie van ’n stelling in Buys dat geweld die fondament van die beskawing is, ’n bloeddorsteling geskep het nie. Veral in die grendeltyd. Want jy is al so moeg vir moord en doodslag op Netflix of Showmax.
Die ergste geweld is in terugflitse en gebrekkige herinneringe oor motorongelukke, in erkentlikheid aan die pionier van objektumseksualiteit, JG Ballard. Die naaste aan skop, skiet en donner is die beskrywings van ’n trilobiet se gevoelens wanneer dit probeer wegkruip vir die Soprano’s van sy tyd ’n halfmiljard jaar gelede. Jy verfyn jou stelling: Dit is so dat die geweld steeds onder die oppervlak sidder, in geleiding deur die motore van die tenkskip of implisiet in die voorval wat die beendere naby die Noordpool agtergelaat het. Onbedoelde geweld as altyd-aanwesige potensiaal van die enorme.
Jy reken jy moet nou iets skryf soos "Skepsel gaan oor die wegkalwing van biologiese, humanitêre en tegnologiese grense." Soos Anker self gesê het, speel hy scenario’s uit en jou slotsom is dat die medium die message is – dis in woorde dat ’n mens dit kan doen sonder die geweldige onkoste wat die cyborg vir haar huwelik sou moes aangaan, of die argitek om sy slimhuis te bou en in stand te hou. Soos in Buys, laat jy die poësie jou meesleur, en is jy bly jy het nie allerhande pienk en groen en geel plakkertjies aangebring waar dit nou regtig goed is nie; dit help nie vir jou resensie nie, maar die kleurskema van stickies is te beperk vir Skepsel se spektrum van nuanses.
Jy sou fout kon vind met die onwaarskynlikheid dat hierdie scenario’s ooit uit hul nis sal kom, want regtig, as jy met ’n boot moet trou, sou ’n jag met sonkrag meer volhoubaar wees. En daar mag slimhuise in Suid-Afrika wees, maar opgedolliede pondokke is wat wonings hier te lande spesiaal maak. Maar dis om die punt mis te kyk. Ondanks al die eksperimentering kom Anker steeds by ons menslikheid uit, by die vreugde, pyn en komplekse van woordbemiddelde ervaring. Kunsmatige intelligensie mag nou alreeds haar eie, private algoritmes vervaardig, en mikrobes en swamme mag die wysheid van miljarde geslagte besit, maar ons het nog ons woordeboeke om teen die hart te hou.
Wat ook aanklank by jou vind, is die onuitgesproke ontsag vir die groeiende omvang van die kennis wat die mens aan die uitspeel is, oor haarself en haar skepsels, en ook oor die ultrakomplekse syn. Dis die ander betekenis van die titel, dat Anker ’n skep-sel uit hierdie oseaan van inligting vir ons bied, gedra op ’n leitmotief wat (stem jy heeltemal met jouself oor saam) jy nie aan die leser moet verklap nie – daarvoor is dit te fragiel.
Trouens, jy ontdek gaandeweg ’n serendipity buite om die boek. Dit is so sterk dat dit dreig om die boek vir jou te bederf, iets wat jy nie wil bely nie, maar jy voel jy moet as jy in die tweede persoon resenseer. Dit word bevestig deur twee bladsye van erkennings agterin die boek. Baie van die bronne het jy al self ontdek! Jy kry die onwerklike gevoel dat jy in Anker se spore loop, of hy in joune (jy is ouer as hy). Is dit omdat julle dieselfde Google feed het?
Al is dit so sterk, sou dit steeds nie saak gemaak het as dit nie was vir een onverwagse gevoel nie: Jy gril. Vir die beendere in die Arktiese Sirkel. Dis ’n verleentheid – so iets het jou nog nooit oorgekom nie. Nie soos in dood gril of selfs hare wat regop staan nie, maar beslis iets op ’n serebrale vlak daar by die ruggraat rond. Want in daardie Google feed wat dalk met Anker s’n oorvleuel, is daar hierdie valse nuusflitse oor die ontdekking van argeologiese monsters: Een lyk soos ’n onaardse mammoet, ’n ander is ’n soort sarkofaag, ook Stephen King-agtig groot. En jy verpes dit, rol jou vinger altyd so vinnig as moontlik daaroor.
In Duits is ’n resensie ’n resenzion, en sy ander betekenis is om die oertekste van ’n geskrif na te speur. Met die breedvoerige uiteensettings in die uiteensettings het Anker jou natuurlik weer voorgespring en hulle wys wys goed die boek is ook ’n skeppie uit die internet. Dit blyk dat die idee vir die beendere uit ’n wetenskapfiksieroman van China Miéville kom, waarin ’n soortgelyke skelet bokant ’n stad toring. Dit help jou nie, ook nie dat jy jouself probeer berispe as ’n sissie, en dat ’n ware man nie gril vir iets in ’n boek nie. As ’n nineties-man glo jy gelukkig nie in die konsep van sissie nie en is jy ook te oud daarvoor.
Jy kan jou kwalik indink dat Anker dit so bedoel het, anders sou hy dit aangedui het. Dis heeltemal subjektief, berispe jy jouself weer, met ’n frons wat jy nie op jou rekenaarskerm kan sien nie. En tog. Sal daar nie minstens een of twee ander lesers wees wat dieselfde gevoel kry nie? Dié wat dalk hierdie resensie lees nie?
Jy het natuurlik reeds die versoeking weerstaan om te verwys na die rel oor moontlike plagiaat in Buys. Dis ook omdat jy geen ondertoon van iets soos spyt of apologie in Anker se erkennings kan bespeur nie, eerder ’n geesdrif oor sy bronne, ’n aansporing om verder te delf. Dis eerder ’n uitdrukking van mededeelsaamheid as om enige nuwe skuins klappe te probeer ontduik.
Jy besef dis eintlik ’n bykomende dimensie van die werk, soos die lang lys erkennings agterin Etienne van Heerden se Biblioteek aan die einde van die wêreld. In Van Heerden s’n kry die dimensie ’n ekstra meetkunde in sy verwysing na die deelname van Facebook-lesers aan die gesprek wat dele van Biblioteek onderlê.
In die geval van Skepsel wonder jy of die omskepping van internettrivia (tot verruklike kuns), soos een resensent dit omskryf, dit dan ’n Google-roman maak. Wat weer ’n nuwe Amasoniese bliktrommel vol Trojaanse perdevleiswurms oopmaak: In watter mate is Anker se skepsels marionette aan Big Tech se stringe?
Jy’s nou moedswillig, sê jy vir jouself. En meer, want een van die dae gaan robotte romans begin skryf en dan gaan hulle masjienleer toepas op die basis van alles wat geskryf is rondom skeppings soos Skepsel, ook die nukke en grille in hierdie resensie.
Maar jy het jou antwoord gereed (of verbeel jou so).
Nou is dit nog maklik om te sien dat hierdie roman deur ’n diep menslike, diep gevoelige skepsel van vlees en gees geskryf is. Maar binne die volgende geslag sal ons dalk ’n soort Turing-toets moet ontwerp vir romans, of verskeie. Een van hulle sou kon wees: Gaan die vleeslike skrywer sodanig gril vir sommige van sy bronne dat hy dit gaan uitlaat uit sy lys van erkennings? Nie uit oneerlikheid nie, maar omdat dit te simpel vir woorde is?
En sal ’n mens resensies in enige ander persoon as die tweede kan skryf?