Willem Anker se toespraak by die ontvangs van die 2021 UJ-prys

  • 0

Willem Anker se Skepsel ontvang die 2021 UJ-prys. (Foto’s: verskaf)

Die UJ-pryse vir 2021 is op 7 Mei 2021 toegeken. Lees Willem Anker se toespraak wat by die prysuitdelingsfunksie gelewer is.

Geagte eregaste, gaste en vriende:

’n Spesiale woord van welkom en dank aan die Trust vir Afrikaanse Onderwys wat die prysgeld borg, aan prof Marné Pienaar en die Universiteit van Johannesburg se Kantoor vir Meertalige Taaldienste, en in absentia, die registrateur, prof Kinta Burger; aan Eloise en Andries Wessels van NB, aan die keurpaneel, aan my uitgewer, Hester Carstens en die span by Queillerie, en aan my vrou Christine.

Dit is ’n enorme eer om vanaand hier voor u te staan. Baie dankie vir die toekenning van hierdie prys en ook die commendatio deur dr Myburg. Ek is baie bly en nog steeds voel daardie oproep van prof Pienaar effe onwerklik. Nie dat baie dinge vir my deesdae werklik voel nie. Die UJ-prys is nie net vir my ’n groot eer nie, maar ook ’n besondere aanmoediging om weer te probeer. ’n Mens skryf so in die niks in. Dis lekker om te skryf, op ’n perverse manier, maar ’n toekenning soos hierdie skop ’n mens onder die gat en sê: Kom, ons dare jou: Probeer weer. Vanaand beteken vir my baie. Dankie.

Ek is gevra om ’n paar minute van julle tyd te steel, so, net om aspris te wees, gaan ek praat oor dit waaroor almal in ieder geval die heeltyd praat: die virus.

Ek wil begin deur te sê dat Skepsel nie ’n COVID-19-roman is nie. In April 2020 werk ek aan die laaste redigerings van die manuskrip. Buite is die strate stil. Af en toe ry ’n polisiebakkie verby. Ek soek foute in die manuskrip. Ons is in ’n staat van inperking. Mense kla oor sigarette of drank. Mense sterf. Ek is besig om die tydlyn van die boek na te gaan. Elke jaar van skryf aan die boek het die tydlyn aangeskuif, so dinge het soms deurmekaar geraak. Ek wou dit in die hede laat afspeel. Iets hier en nou, julle weet? Die boek begin einde 2019 en eindig in Maart 2020. Maar, skrik ek een nag wakker, daar is geen virus in die boek nie. Die volgende aand sit ek weer met die stapel papiere. Buite loop iemand met ’n masker verby. Die klokreël gaan binne minute in werking tree. Gaan hy sy huis betyds haal? Ek stik die virus in die boek. Die werklikheidseffek het deesdae ’n pandemie in die agtergrond nodig.

Omdat ek vanaand steeds oorweldig voel, nie net deur die prys nie, maar ook deur die mense met maskers op die vliegtuig, my stiefoupa met sy suurstofmasjien, deur hierdie nuwe normaal, wil ek vanaand iets probeer sê oor daardie realiteitseffek, daardie agtergrond.

Ek lees van ander skrywers wat hulle boeke aanpas om COVID-19 te akkommodeer.1 Tom Watson en Imogen Robertson wat hulle spanningsroman voor uitgawe aanpas by die nuwe wêreld: “It’s not a dystopian, post-civilisation world – we’re in a slightly weird world, where things have changed, but not completely.”

Holly Watt, bekroonde krimiskrywer, sê: “[F]ocusing on Covid might make it date hideously. But if you don’t mention it, it is the massive elephant in the room.”

“But there’s a more substantive point,” sê die skrywer Sarah Vaughn:

“I can’t make my characters exist without interaction,” she says. “While, for instance, I can edit out cheek kisses because this may no longer seem the norm, my characters need to meet, to row, to fight, to make love – and in a thriller, to murder. There will be insufficiently little exciting plot, in other words, if they can’t interact as they did pre-Covid.”

Dink ons aan romanskryf, sien ons Covid mors met die agtergrond en die plot.

In Oktober 2020 verskyn Don DeLillo se nuutste roman, The silence. Dit is ook nie ’n COVID-19-roman nie. Die boek handel oor ’n ander wêreldwye ramp: die skielike en onverklaarbare ineenstorting van alle tegnologie. Die fone werk nie. Vliegtuie val.

Êrens gedurende die redigeringsproses, skryf Anne Enright in The Guardian, het ’n reël die boek ingeglip oor lughawens en maskers. DeLillo het nie die reël geskryf nie. “Somebody else may have wanted the book to seem more contemporary,” sê hy aan die New York Times. “But I said: ‘There’s no reason for that.’ So they took it out again.” Die reël suggereer sy roman speel ná die virus se oorheersing af.

Enright gaan voort in haar resensie:

And now, I am filled with uncertainty, perhaps even a little bit of dread. Who could do such a thing? Are we sure it wasn’t the Russians? Was it a bot? Is there a virus now infecting new novels with lines about The Virus? Did society itself, in some communal electronic impulse, write this novel while he was sleeping (while we were all, let’s face it, sleeping) […] What is the difference between the author and the machine, between the machine and “the mass mind”, and what happens when all that merges and dies, at the same time?2

Maar tog, in die kopie wat ék gekoop het, staan die reël daar, op bl 88: “I’ll try to shut up. But remaining fresh in every memory, virus, plague, the march through airport terminals, the face masks, the city streets emptied out.”3 Wat gaan hier aan? William Burroughs het gesê die woord is ’n virus. Miskien het die koronavirus teen wil en dank daar ingesluip.

In Skepsel is die virus daar slegs omdat dit hier is. Ek dink dit het gepas, maar dit is nie die sentrum nie; eerder: ’n pa wat sterf aan kanker, maar ja, in hierdie wêreld. ’n Wêreld van COVID-19. Die agtergrond infekteer die boek, soos ’n virus. Dus, ook my boek kom nie ongedeerd anderkant uit nie.

In Literary Review van Mei 20204 waarsku JB Taylor dat romansiers moet wag voor hulle ’n Covid-roman skryf. Mediese niefiksie, ja. Miskien ’n gedig. Maar die romans sal moet wag, sê hy:

If this sounds unnecessarily proscriptive, then the lesson of two world wars and the assorted national meltdowns of the past seventy-five years is that fiction is no good in a crisis, resists being written to order, dislikes having to confront world events head-on and prefers operating by stealth. The most successful short-term responses to the Second World War, most literary historians agree, were filed by poets or reporters. […] Significantly, the great British “war novels” took years, and sometimes decades, to complete.

Hy stel ’n huiwerigheid voor, ’n bewustheid van die aard van internasionale krisisse: “[They] don’t easily yield up their import and that the best treatments are sometimes those that come in at the obliquest of angles.” Hy sê die skrywer van die groot roman oor Trump is nog in kleuterskool.5

Miskien het hy ’n punt beet. Daar is nou kinders wat grootword met maskers, inperkings en sosiale afstandhouding. Hulle wêreld is nie die een waarin ons grootgeword het nie. Dit is nie eens die een waarin Skepsel geskryf is nie. Hulle sal ander boeke skryf. ’n Volgende generasie gaan ’n ander perspektief op COVID-19 hê. Hulle gaan skryf vanuit ’n plek van bemagtiging, van ’n afstandelikheid om bepaalde interessante en innoverende perspektiewe daar te stel, “the obliquest of angles”.

Die vraag is: Waar kom hierdie “oblique angles” vandaan? Tog nie vanuit ’n nulpunt, ’n utopie nie. Miskien júis nie. Die wêreld was nog altyd ’n gemors. Vra ’n mens vir die filosoof Timothy Morton, sal hy sê die wêreld het lankal reeds geëindig. Om presies te wees, in April 1784, toe James Watt die stoomenjin gepatenteer het, en toe sommer weer in 1945, toe hulle die eerste atoombom getoets het. Toe die mens ’n geofisiese krag van planetêre skaal geword het: die Antroposeen.6 Die wêreld mag dalk weer eindig, nog voor ons bottels 70%-alkohol-sanitiseerders leeg is of ons pakkie maskers op die rommelberge begin om nie te ontbind nie.

Maar kyk, hier sit ons vanaand, in beperkte getalle, met ons maskers aan. Die mure staan darem nog. Die lewe gaan voort. Ons is saam by hierdie geleentheid, want mense skryf nog boeke, want u is wonderlik genoeg om pryse te gee vir skryfwerk in ’n klein hardegat mineurtaaltjie. Ons werk, nou net meestal aanlyn; ons eet, nou net nie meer juis in restaurante nie. Ons drink steeds fancy gebottelde water. Ons koop ons sweat shop jeans. Watse wêreld het geëindig?

Die wêreld is die horison, sê Morton, die agtergrond wat verdwyn. Die wêreld is, as ek hom reg verstaan, dit daar buite waarteen ons ons stories laat afspeel.

My breinmis sedert die eerste inperkings begin nou eers stadig lig. Ek en die meeste van my vriende lees nie meer nie; ons kyk Netflix en kan nie fokus nie. Op Netflix dra niemand maskers nie. Dis lekker om die goeie ou wêreld te sien in 4K. Sommige van ons verhoog ons medikasie, andere selfmedikeer of gaan na silent retreats. Iets kleef aan ons en maak ons oë taai.

Tydens die skryf van Skepsel het ek opgelees oor kanker en dit het my laat ophou rook. Ek het ook gelees van Morton se konsep van die hiperobjek. Hiperobjekte is, eenvoudig gestel, dinge soos aardverwarming, polistireen en monokultuurboerdery. Kapitalisme. Armoede. ’n Ding, verskriklik groot en verspreid in ruimte en tyd, massief in verhouding tot die mens. Die wêreld se kernarsenaal. Plastiek. Staatskaping. Dit laat ons twee keer dink oor wat ’n ding is.

Serenella Iovino skryf dat die koronavirus ’n hiperobjek is:

It is a “massive thing” constituted by the sum total of all the coronaviruses hidden in the body of each individual person, bat, pangolin, or wild animal. It dwells in the globe’s forests and hospitals, Asian wet markets and scientific labs, saliva droplets and particulate matter that act as viral carriers. Its temporality is also multiple: it’s the slow time of evolution and the fast time of multiplying cells […]. Finally, this hyperobject also contains its causes and effects: destroyed habitats, shrinking biodiversity, decades of neoliberal economy, the industrial, commercial, and biopolitical maps of globalization, locked-down cities, solitary deaths, billions of irretrievably lost hugs. In this entangled web, “here” and “there” are closer than they appear, and the present always already overlaps with the future.7

’n Mediese masker, sê sy, is ’n hiperobjek.

Terug na romanskryf: Die virus mors met ruimte en tyd.

Hiperobjekte is taai en stroperig. Hulle kleef aan mekaar en aan my. Aardverwarming sit vas aan my, aan die sweetkolle in my kieliebakke en agter in my kop. Hiperobjekte beïnvloed my grasperk en die wêreldpolitiek. Hulle lê die vullisdromme vol, soos maskers en polistireenbekertjies.

Morton haal Brenda Hillman se gedig “Styrofoam cup” aan – soos hy dit stel, ’n remix van Keats se “On a Grecian urn”:

thou still unravished thou
thou, thou bride
thou unstill,
thou unravished unbride
unthou unbride.

Jy raak nie ontslae van die bekertjie nie, sê Morton: “It keeps returning weirdly, as if reincarnated or zombified, as if no amount of crushing and reuse would ‘ravish’ it.”8 Dit is dan ook daardie einste bekertjie wat ook in Skepsel beland het; ek wou die hiperobjek ook die teks laat insyfer. Miskien moes die omslag van plastiek gewees het, net uit wrewel dat ek nie voor die einde van die wêreld gebore kon wees nie. “After such knowledge, what forgiveness,” sê Eliot. Willem die jagterversamelaar.

COVID-19 oorleef vyf dae op glas, vier dae op hout, drie dae op plastiek of vlekvrye staal, 24 uur op karton. Nege ure op jou vel.

Freud sê melankolie is ’n weiering om die objek van verlies te verteer.

Dit is hiperobjekte wat so kleef aan ons wat maak dat daar nie meer ’n agtergrond, ’n “wêreld” is nie. Soos ’n mens in Engels sê: “We’re in the thick of things.” Dinge is te groot en dik en te taai vir iets soos ’n wêreld om nog oor te bly. Die wêreld daar anderkant het geëindig; alles is nou in en op ons gesigte. Nege ure op jou vel. Verteer dit.

COVID-19 maak ons bewus van al hierdie dinge. Die persoon wat hoes voor jou in die tou in die supermark. Verteer dit. Die ysbere wat vrek. Verteer dit.

Ons het daardie WhatsApps gekry met video’s van die diere wat die leë strate in stede begin oorneem. Hoe pragtig is die wêreld nie sonder ons nie. Verteer dit. ’n Trop tarentale speel in die eens besige straat voor ons huis.

Die agtergrond verdwyn. Hoe voel ’n tuna water? As daar ’n stroomversnelling kom, voel die tuna dalk die temperatuurverskil, die krag van die stroom? Mag ’n mens wonder hoe ’n tuna voel? En mag ’n mens skryf namens ’n tuna? In ’n tyd waarin dit voorkom asof jy net oor jouself mag skryf, is ek bly om te sien daar is mense wat sê dit is oukei om te wonder hoe dit voel om ’n vis of ’n vlermuis te wees.

Iovino9 skryf dat die vermensliking van dinge, plekke, natuurelemente en niemenslike diere nie noodwendig die teken van ’n antroposentriese en hiërargiese visie is nie:

[It] can be a narrative expedient intended to stress the agentic power of matter and the horizontality of its elements. If conceived in this critical perspective, anthropomorphizing representations can reveal similarities and symmetries between the human and the nonhuman. Thus, instead of stressing categorical divides, anthropomorphism potentially “works against anthropocentrism” […] As Jane Bennett suggests,

[a] touch of anthropomorphism … can catalyze a sensibility that finds a world filled not only with ontologically distinct categories of beings […] but with variously composed materialities that form confederations. In revealing similarities across categorical divides and lightning up structural parallels between material forms in “nature” and those in “culture”, anthropomorphism can reveal isomorphisms.10

Soms kom ’n mens by ’n waarheid uit as jy ’n masker dra. Maar ken jou plek en hou jou afstand.

Miskien, as ons onsself kan verbeel hoe ’n tuna in water voel, of tydens ’n oliestorting, sal ons iets van ons eie situasie binne hiperobjekte kan verwoord. Hoe dit voel om binne-in aardverwarming, kernafval en COVID-19 te leef. En sal ons dalk minder tuna eet. Verteer dit.

Soos in DeLillo se roman waar die dood van tegnologie die wêreld vries, vries COVID-19 die wêreld, word ons skielik in ’n stroom opgeneem en voel ons hoe koud die water is, hoe sterk die stroom, hoe dik en taai die olie. Ons word besmet.

Soos Iovino sê,11 COVID-19 skep ook ’n bewustheid van al die ander hiperobjekte. Ná Covid, gaan ons dan die strate invaar omdat die ys smelt en ons die aarde toedraai in shopping-sakke? Ons sal maar moet sien, want op die oomblik lewe ons nog steeds asof hierdie goed op die agtergrond is, asof daar nog ’n wêreld is.

Dis dalk eers nou in Covid-tyd – time is out of joint – dat ons begin besef die wêreld het geëindig; en dit is juis hier, aan die einde van die wêreld, waar dit juis die elemente van die roman is wat ons nou oorweldig.

Google “What is a novel?”12 en die eerste definisie wat opkom is: “a fictitious prose narrative of book length, typically representing character and action with some degree of realism”.

Die mikrobes in jou maag, jou iPhone, dit alles is jy, min of meer, meer én minder. Jy begin besef daardie stukkie jy wat jy dink jy is, is ’n fiksie. Ons word almal karakters. Ons word almal posthumaniste en poststrukturaliste. Ons word almal vervloeiende subjekte en kuborge. “The cyborg would not recognize the Garden of Eden,” sê Donna Harraway in haar manifes.13 Tydens grendeltyd wonder jy wat môre met jou gaan gebeur. Jy wil byna ’n paar bladsye omblaai en loer. Die hele storie voel so onwerklik dit voel of jy geskryf word. Sleg geskryf volgens Victoriaanse standaarde, want jy het nie ’n binnelewe nie, net ’n wasige dag na dag, op en af, sitkamer, kombuis, badkamer, slaapkamer. Jou gesprekke maalkolk na binne oor kleiner en kleiner dinge. Jy word ’n postmoderne karakter. En dis net my middelklaskarakter – hoe voel die karakters vasgekluister in sinkplaathuisies?

Ek sit met die proewe van Skepsel en ek is oorweldig. Ek kan nie fokus nie. Ek raak bewus van ruimte. Die klein ruimtes: ingehok in die huis. Ons het pas ingetrek en die bokse staan nog rond. Nog nie tuis in die huis nie. Nog kleiner: daardie man wat nies in die parkeerarea. Jy word bewus van molekules.

Dan die groter ruimte. Die wêreld op my foon; ek lees elke uur nuus. Wêreldpolitiek: alles van die WGO, Trump tot die Wederkoms. Plaaslike politiek: meer speelballe as by ’n sokkeroefening. Ek bel ’n ou skoolvriend wat in Ierland bly met wie ek ’n dekade laas gepraat het. Hoe grendel dit daar? Jou bewussyn verruim na buite en na binne.

Tyd raak wollerig. Ure voel langer. Jy stap ’n paar keer om die huis vir oefening; jy vergeet om te tel hoeveel keer. Weke vlieg verby, maande verdwyn. Jy skryf die verkeerde jaartal op dokumente.

Jy ken mense wat siek word, jy ken mense wat mense ken wat mense verloor. Jy is een van die gelukkiges. Jy kry ’n masker wat sê: “I survived 2020.” Dis snaaks tot dit nie meer is nie. Elke hoes wat jy gee, laat jou wonder. Jy het nie ’n testament nie. Jy begin weer rook.

En jy dink: karakter, ruimte, tyd, plot, politiek en die dood. Die goed waarvan romans gebou word.

Jongmense hou partytjies en dans in die strate tot die polisie kom. Mense hou Covid-partytjies en steek mekaar aan. Dis iets uit ’n JG Ballard-roman. Jy dink nie hulle dink so daaroor nie, maar is hulle gedans nie ’n middelvinger vir die dood nie? Of kies hulle net om dit alles te ontken? Is albei nie ewe ekstreme maniere van wees nie?

Die “oblique angles” sal interessant wees om te sien en gaan tot goeie COVID-19-letterkunde lei oor ’n paar jaar. Maar ek wonder hoe dit sal wees om nou te skryf oor nou? ’n Mens kan goed skryf met ’n middelvinger, maar miskien met ’n bietjie social distancing. Jy wil tog nie iemand besmet met jou kieme van alwetendheid nie. Ek hoor van mense wat teater maak op Zoom. Elke akteur in ’n ander raampie op die skerm. Ek het vriende wat meer verf as ooit vantevore. Gedigte ook. ’n Mens kan gedigte maak, woorde wat materie word. Maar romans, met hulle karakters, ruimte en “some degree of realism” … Hoe skryf jy as die Covid-hiperobjek al die ander elemente na vore skuif en die agtergrond verdwyn? Wat is ruimte dan, karakter? Waar lê die lyn? Is daar nog ’n lyn? Hoe lyk die masker wat jy moet dra, want elke verteller is gemaskerd. ’n Tuna of teekoppie of Holden Caulfield of ’n alomteenwoordige goddelike oog, almal maskers van ’n mensdier wat tik-tik-tik maak op ’n masjien.

Ek gaan soek by die begin. Die eerste roman: Die verhaal van Genji. ’n Duisend jaar gelede geskryf deur ’n Japannese vrou, Murasaki Shikibu. 1 300 bladsye lank. In 1925 resenseer Virginia Woolf dit vir die Britse Vogue. Dit is ’n narratief wat vertel van die lewe en liefdes van die edelman Hikaru Genji. Volgens ’n kort video op BBC.com14 is dit vol ironie en afstandskeppende effekte.

In ’n abstrak vir ’n akademiese artikel oor die boek lees ’n mens:

Gardens in this tale offer profound insights into both how Heian courtiers related to nature and the structure of its protagonists’ relationships. In this sense, “nature” and basic structures in the tale are intimately connected.15

Die Brittanica-ensiklopedie het die volgende te sê:

Most of the story concerns the loves of Genji, and each of the women in his life is vividly delineated. The work shows supreme sensitivity to human emotions and the beauties of nature, but as it proceeds its darkening tone reflects the Buddhist conviction of this world’s transience.16

Vra enige Boeddhis: Daar was nooit ’n agtergrond nie. Selfs in hierdie eerste roman is daar politiek, ironie, afstandskepping, ’n interkonnektiwiteit met wat eens die wêreld genoem is, en ’n besef van die tydelikheid daarvan. Verteer dit.

Romans het nie agtergrond nie, blykbaar nog nooit gehad nie. So tweedimensioneel, selfs die papier waarop dit gedruk is, het meer dimensies. Jy kan dit vou en soek vir iets daaragter, maar al wat jy gaan vind is nog bladsye, nog tyd. Soms loop die tydlyne langs of verby mekaar. Mens kan niks vertrou in ’n roman nie. Soms is dit volgeprop met ander boeke. Dis ’n plat oppervlak met verbindings, punte, vektore. Verteer dit. Die ruimte en karakters en tyd vervleg in die sinne. En seisoene, berge, plante, diere, fungi, mos, mense, iPhones – almal dinge op dieselfde vlak, wordend, stollend, vlietend.

Miskien is die roman dan juis ’n goeie medium om met hiperobjekte om te gaan – of dit nou die sosiopolitiese toestande in 1100’s-Japan is, of COVID-19.

Miskien vra romanskryf tydens COVID-19 dieselfde as om te leef tydens COVID-19: goeie higiëne (want jy gáán besmet word), hou jou afstand, dra ’n masker. En laat gaan die wêreld.

Dankie.

 

 

Endnotas:

1 https://www.theguardian.com/books/2020/jun/01/no-pubs-no-kissing-no-flying-how-covid-19-is-forcing-authors-to-change-their-novels.

2 https://www.theguardian.com/books/2020/oct/22/the-silence-by-don-delillo-review-the-machine-stops.

3 DeLillo, Don. 2020. The Silence. New York: Scribner.

4 https://literaryreview.co.uk/why-i-wont-be-writing-a-coronavirus-novel.

5 JB Taylor 2020. Why I won’t be writing a coronavirus novel. Literary Review, 486. Mei 2020.

6 Morton, Timothy. 2013. Hyperobjects. Philosophy and ecology after the end of the world. Minnesota: University of Minnesota Press. Bl 7.

7 http://www.cambridgeblog.org/2020/05/hyperobject-covid-19.

8 Morton, Timothy. 2013. Hyperobjects. Philosophy and ecology after the end of the world. Minnesota: University of Minnesota Press. Ble 190-1.

9 Iovino, Serenella en Serpil Oppermann. 2012. Material ecocriticism: Materiality, agency and models of narrativity. Ecozon@, 3(1):82.

10 Bennett, Jane. 2010. Vibrant matter. A political ecology of things. Londen: Duke University Press. Bl 99.

11 http://www.cambridgeblog.org/2020/05/hyperobject-covid-19.

12 What is a novel - Google Search.

13 https://en.wikipedia.org/wiki/A_Cyborg_Manifesto.

14 https://www.bbc.com/culture/article/20190814-the-tale-of-genji-the-worlds-first-novel.

15 https://oxford.universitypressscholarship.com/view/10.1093/oso/9780190654979.001.0001/oso-9780190654979-chapter-7.

16 https://www.britannica.com/topic/The-Tale-of-Genji.

Lees ook: 

UJ-pryse 2021: Commendatio vir Ryan Pedro se pienk ceramic-hondjies

Ryan Pedro se toespraak by die ontvangs van die 2021 UJ-debuutprys

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top