Kantaantekeninge oor Lien Botha se Vin

  • 0

Bron: https://www.lienbotha.co.za/vin-visual-2021

Vin
Lien Botha
Queillerie
ISBN: 9780795802003

When the day becomes the night and the sky becomes the sea,
when the clock strikes heavy and there’s no time for tea; and in
our darkest hour, before my final rhyme, she will come
back home to Wonderland and turn back the hands of time.

                       – Alice in Wonderland, Lewis Carroll

Die oor lê buite. Dit lê in ’n winterveld tussen Atlantis en Darling. Indien Junie se reën soos die meeste ander jare sorgvuldig sou val, sou die oor moontlik weggespoel het, beurend onder blare, takke en klippertjies. Maar dit lê oop en bloot en wag vir ’n honger dier se bek. Die oor, net soos die mense anderkant die oor, wag vir 2017 se reën. Vanweë die vorm daarvan, sou mens moontlik kon aflei dat dit die oor van ’n vrou is. Daarbenewens is daar ook ’n klein gaatjie in die lob – geteiken vir ’n oorkrabbertjie. Die geslag van die oor is egter nie ’n uitgemaakte saak nie. Wat nie by die oor teenwoordig is nie, is die middeloor en die binneoor. Hierdie dele van die anatomie van dié menslike oor is iewers anders, nugter alleen weet waar, maar dat daar tans ’n kop sonder ’n oor sit, dit is gewis. Hello, Sweetie Darling se moer, hierdie spesifieke oor lyk of dit afgesaag is. Elders, waar die koue Benguela se water nader aan die Agulhasstroom vloei, bondel ’n groep mense saam by Gearing’s Point, ’n uitkykpunt waar land afrots in die see. Dit is hier waar die saggeaarde reuse van die see hul kuddes in seisoenale waterspronge kom vier. Orde Cetacea: walvisse, dolfyne en tornyne. Die lug is grys en die noordwestewind pluk en blaf, sonder reën. Die Direkteur van Wandelkuns, Ursula Brand, waggel op en af – selfoon teen haar linkeroor, skrefiesoë die kleur van niks. Vergeefs. Sy dink dat dit verdomp ironies is dat die kurator van ’n uitstalling met die naam Klankspoor nou tjoepstil is. Vir die soveelste maal kyk sy na haar horlosie en sonder verdere vertoon skril sy die kudde nader. Die kunstenaars moet langs haar kom staan sodat sy hulle kan bekendstel. Sy maak verskoning vir die afwesigheid van die kurator, Vin Verster ...

So begin hierdie betowerend-vreemde roman, Vin, in elke opsig ’n waardige opvolger vir die uitstaande debuut, Wonderboom, uit eie reg ’n klassieke postapokaliptiese, distopiese roman. Soos sy voorganger is Vin ewe uitdagend, intellektueel en vol rou emosie.

Laat ek uit die staanspoor verklaar: Hierdie gedagtes, fragmente wat minder strewe na kohesie as wat gewoonlik die geval sou wees, reflekteer iets van die “tweede lewe” van die teks onder bespreking. Elke keer wat daar ’n poging aangewend was om hierdie respons kort, kragtig, tot die punt te hou, om “klaar te maak”, om “af te handel”, was dit asof Vin Verster self haar stem dik gemaak het: Pen die fragmente, sit hulle saam, en laat die geheel dan vir homself praat.

Nou goed.

Interessant hoe die roman se “proloog” eintlik eers ná die hoofnarratief afspeel. In 2017, na die “hoof”-stroom. Botha neem die besluit om ’n buiteverteller in te span; ons beweeg tussen die windverwaaide, gestroopte Weskus, onherbergsaam, met die oor, en die “oog”, op die kunsbekendstelling waarvan Vin die kurator was wat so wil-wil begin. Die tentoonstelling word Klankspoor gedoop – inderdaad gepas. Die leser wéét sommer net dat die stemboodskap van Vin, waar sy laat hoor dat sy gaan visvang het, onwaar is … Vin het skielik net verdwyn. Waar is sy? Niemand weet nie. Haar potblou Kia Picanto is nie op sy staanplek nie. Wie vat haar spoor?

Aanhalings word in die teks ingebed, sommige identifiseerbaar, ander nie, sonder aanhalingstekens maar gekursiveer, met ’n bronnelys agterin. Als deel van ’n projek om die tradisionele narratief omver te werp en die leser meer betrokke te maak by die skep van die betekenis in die teks – en dit werk. Vin oorweeg dit om een van haar uitruilprojekte as kurator Sisyphus te noem. “Pieke: Trento se dolomiet en Kaapstad se sandsteen, verbeel.”

........

In Wonderboom moes Magriet letterlik moor om te oorleef; in Vin is die titelkarakter die een wat probeer sin maak en oorleef na die moord op haar ouers toe sy 17 was. Die tergende vraag wat dwarsdeur die roman loop, is natuurlik: Is dit Vin wie se ledemate so wreedaardig van haar gesig verwyder en verstrooi was?!

............

In Wonderboom moes Magriet letterlik moor om te oorleef; in Vin is die titelkarakter die een wat probeer sin maak en oorleef na die moord op haar ouers toe sy 17 was. Die tergende vraag wat dwarsdeur die roman loop, is natuurlik: Is dit Vin wie se ledemate so wreedaardig van haar gesig verwyder en verstrooi was?!

Wonderboom was geestesreis en letterlik reisverhaal, met Magriet wat in die herkoms in terugbeweeg na haar begin, en diep in haarself gaan rondkrap terwyl sy oor die land reis. Die roete is van Bettysbaai en Atlantis, van die Karoo tot Beaufort-Wes, dan Kimberley en Bloemhof, en dan tot in Johannesburg en Pretoria tot by Wonderboom. Wonderboom en Vin is albei hoogs oorspronklike, vermaaklike romans – albei verteenwoordig ’n reis, eerder ’n soektog, na die self, na vertroosting, na heling, na antwoorde wat ontwyk en dalk nooit beantwoord sal kan word nie. Vanaf ’n beginpunt van ’n begin wat ook die eindpunt verteenwoordig. Van die plekke wat Vin Verster besoek, is ook plekke wat Botha self deur die jare besoek het. Die foto’s wat verskaf word as aanvullende materiaal, is dus foto’s wat sy self geneem het. Deur die loop van die lees van Vin vra ’n mens jou naderhand af: Waar begin water? Waar begin ’n mens mens word, en kuns kuns? En uit wie se oogpunt? Wie hou boek van die tendens van “faction” wat so stewig posvat in ons beste romansiers se bekwame hande?

........

Wonderboom en Vin is albei hoogs oorspronklike, vermaaklike romans – albei verteenwoordig ’n reis, eerder ’n soektog, na die self, na vertroosting, na heling, na antwoorde wat ontwyk en dalk nooit beantwoord sal kan word nie. Vanaf ’n beginpunt van ’n begin wat ook die eindpunt verteenwoordig.

..........

Verlies en die dood is absoluut oral teenwoordig in Vin, soos ook in Wonderboom; dit word doelbewus deur die skrywer op die voorgrond geplaas – Vin se eie verlies en konfrontasie met die dood word gekontekstualiseer in terme van ander wêreldwye geskiedkundige oomblikke, momente van tragedie, die handewerk van reeksmoordenaars, terroriste soos met 9/11, en meer subtiel, die “dood” en hergeboorte van die natuur en die aarde. So word die mens se lot op aarde, die mens as sterwende, en strewende wese, die een wat swaarkry en leed ervaar, binne ’n veel groter kosmiese prentjie geskets.

Die leser kan nie anders as om die klem op die duende, die donkerte, die erotiek van die vreemde en die dreigende, raak te sien nie. Vin se volwasse lewe, en die einde van haar kinderjare, word ingelui deur die moord op haar ouers toe sy 17 was. Die steel van ’n skildery deur Hendrick Avercamp wat haar oupa uit Nederland gebring het, is die simbool van verlies en verraad wat soos ’n goue draad deur die verhaal loop. Die verlies van haar ouers, saam met die diefstal van die skildery, verteenwoordig die verlies van Vin se ankers. Sy is, in vele opsigte, soos ’n vis op droë grond. Wat is haar kanse op uiteindelike oorlewing? Soos Vin al hoe meer doelgerig die vermiste skildery probeer opspoor, en in gesprek tree met die fantoom Avercamp, wat nie juis veel het om vir Vin terug te sê nie, is die leser die toeskouer tot ’n joernaal van vervreemding, geestelik en liggaamlik, en tussen Vin en Ryk, haar man.

Dit is gans onmoontlik om Vin te lees sonder om aan die skrywer se eie verlies van haar pa, Pik, en broer, Piet, te dink. Dit kleur alles in. Vin voel intens alleen en sal weer moet leer om dié gevoel te trotseer – mens ontwikkel blykbaar ’n spier daarvoor. Kinders wat ouers verloor, ouers wat kinders verloor … ek lees gewis die roman as ’n uitgebreide verslag en gesprek oor verlies en die rouproses. Vin gaan oor ’n mens, ’n vrou, wat ronddobber ná verskriklike trauma, haar plek in die wêreld probeer vind, met haar ankers wat weggestroop word. Waar sal haar heil, en huil, lê?

.........

Verlies en die dood is absoluut oral teenwoordig in Vin, soos ook in Wonderboom; dit word doelbewus deur die skrywer op die voorgrond geplaas – Vin se eie verlies en konfrontasie met die dood word gekontekstualiseer in terme van ander wêreldwye geskiedkundige oomblikke, momente van tragedie, die handewerk van reeksmoordenaars, terroriste soos met 9/11, en meer subtiel, die “dood” en hergeboorte van die natuur en die aarde. So word die mens se lot op aarde, die mens as sterwende, en strewende wese, die een wat swaarkry en leed ervaar, binne ’n veel groter kosmiese prentjie geskets.

..........

Kuns word die manier van sien en die wyse van “sein” – die lens van die kuns word so aangewend om elke laaste fragment en oomblik van die roman en Vin se binnewêreld en belewenis in te kleur. Lesers sal ook gewis aan die vyf musikante van Wonderboom dink wanneer hulle Vin lees. Die fynproewer sal die inleidende paragraaf van Vin – met die afgesnyde oor – herlei na die opening van Lynch se Blue velvet. Soos Blue velvet het Vin heelwat seks en gelade erotiek, oomblikke van skokkende geweld, en ’n gevoel dat verskillende wêrelde en newewêrelde naas mekaar bestaan. Soos die verskriklike antagonis Frank (Dennis Hopper) in Blue velvet, is die boosaard Sloan Kent herhaaldelik ingekleur as ’n soort strokiesprentboelie en wreedaard, ’n sadis wat plesier daaruit put om Vin herhaaldelik te pootjie. In Blue velvet word Frank, met sadomasochistiese neigings en suurstofmasker, behalwe in een toneel nooit aan sonlig blootgestel nie – ’n wese van die nag en van donkerte is hy gewis.

Veel plesier word in Vin verskaf om uit die verskillende fragmente – soos Kent verskyn, gereeld ook “toevallig” waar Vin haar bevind – uit te pluis presies wie hy is en wat hy in haar verhaal en die roman verteenwoordig. Soos met die werk van Lynch word die leser – ook beslis ’n kyker en selfs voyeur, want hierdie romankuns is so visueel ingestel en so uiters intiem – gedwing om van verskillende kodes, simboliek en ’n eie “taal” sin te maak. Botha skryf soos ’n auteur soos Lynch ’n film sou skep, aweregs en goed vreemd. Beide Blue velvet en Vin maak verwysing na The wizard of Oz (1939), maar ek wil nie pretbederwer speel deur hier te veel daarin in te lees nie. Ek laat die leser eerder self besluit hoekom die verwysing na die klassieke film so subtiel ingebed word dog uiteindelik so belangrik is in ’n verhaal waar die moontlikhede van die gelukkige einde en ironiese “kennis” tot sulke uiterstes bevraagteken word.

Vin as roman, struktureel, met begin en einde wat doelbewus vertroebel word, en die hoofstukke redelik min en relatief uitgesponne, lees soos ’n kunstenaar se palimpses – laag op laag op laag bo-op mekaar is almal sigbaar; daar is verskillende fragmente wat met mekaar gesels, mekaar eggo, komplementeer en aanvul, en dit sonder dat die een bo die ander verhewe word. Collage as struktuur, die romankuns as formele eksperiment?

Botha vervul die rol van kunstenaar-profeet, esteet en wêreldskepper – en gee aan haar protagonis, Lavinia “Vin” Verster, ’n bepaalde funksie as verhaalanker en fokuspunt: een van neem en gee, van opraap en opgaar, van fragmentasie en speel en bou en breek. Verlies, met dit wat verlore gaan en vergaan, staan sentraal opgeteken.

In Wonderboom het ons te make gehad met die protagonis, Magriet, se “wêreld vol gal”; hier is dit die domein van die kuns en water wat elke uithoek en binneportaal deurdrenk; Botha se werk vergestalt ’n simbiose tussen woord en beeld, beeld en woord, onlosmaaklik verbind; met wêrelde – verskillend, uiteenlopend, elk fassinerend – wat mekaar voed. Die een staan aan die voet van die ander; hoe interessant wanneer gedeeltes in skuinsdruk telkens die verhaal laat “opbreek”, ’n pouse bied; so word die narratief ryklik ingevul, aangevul, verhelder, vertroebel, gekompliseer. Roetine en orde en vloei word doelbewus so ondermyn en versteur. Daar is honderde foto’s, en ander beelde van kunswerke is wat die storie belig. Hoewel dit nie in die boek gedruk is nie, kan lesers hoofstuk vir hoofstuk daarna kyk op ’n toegewyde portaal op Botha se webblad. https://www.lienbotha.co.za/vin-visual-2021

Die geduldige, nuuskierige leser word spoorsnyer en speurder, een wat ’n magdom leidrade moet volg, en beide induktief en deduktief te werk moet gaan. As leser word jy van meet af ingekatrol en gedwing om “sintuiglik” te lees, dit wil sê om “ontvanklik” vir verskeidenheid en tekstuur en atmosfeer te lees, as leesstrategie. Wanneer ’n skrywer soos Botha ook kunstenaar en fotograaf is, word dit moontlik om ’n raaisel van ’n vermiste vrou en die raaisel van verstrooide liggaamsdele as ’n verhaal van die buik, van die brein, en van die hart te lees. Vin is ongetwyfeld al drie. Daar is ’n soort vloeibare, soepel intensiteit en doelgerigtheid aan die vertelling en die prosa, ten spyte daarvan dat die pas heel langsaam en gematig is.

Daar is ewe veel passasies wat geleidelik oor jou spoel, soos rivierwater, as wat daar kragtige branders teen jou breek.

Ek was gaande oor die roman se klem op genreverbrokkeling en bereidwilligheid om die leser uit te daag, om die grense tussen hoog en laag in terme van kultuur uit te daag en af te breek. Vin is ’n kunsroman of kunsjoernaal, maar ook ’n inventaris van verlies, rou en smart, die ontbinding van verhoudings en konneksies met mense, plekke en herinneringe, ’n tergende soort raaiselroman of spanningsverhaal, ’n teer liefdesverhaal, en beslis ook ’n soort spookstorie. Jy sou dit ook as ’n donker sprokie vir volwassenes kon lees, hoewel ek nog nie heeltemal van hierdie benadering oortuig is nie.

Vin is beslis ’n “vreemde” teks, maar so ook is ons bestaan en die lewe self vreemd en uitdagend, gereeld onvoorspelbaar en onverklaarbaar. Wat die teks so ryk, genuanseerd en gelaagd maak, het deels te doen met die toetrede van die element van die absurde, van ’n ekstra, intredende laag wat nie altyd maklik weggeredeneer of verklaar kan word nie. Die leser se eie greep op die “vasteland” van die verhaal word toenemend uitgedaag: karakters is vlees-en-bloed-mense, nie bloot poppe wat dans na die poppemeesterskrywer nie; maar daar is ook diegene wat duidelike argetipes verteenwoordig. Hier dink ek vernaam aan die antagonis Sloan Kent. 

........

Wanneer ’n skrywer soos Botha ook kunstenaar en fotograaf is, word dit moontlik om ’n raaisel van ’n vermiste vrou en die raaisel van verstrooide liggaamsdele as ’n verhaal van die buik, van die brein, en van die hart te lees. Vin is ongetwyfeld al drie. Daar is ’n soort vloeibare, soepel intensiteit en doelgerigtheid aan die vertelling en die prosa, ten spyte daarvan dat die pas heel langsaam en gematig is.

.........

Die tragiese en komiese kombineer onthutsend in hierdie roman. Daar word koorsig, kompulsief voortgeblaai om die volgende raaisel of intrige te ontsyfer. Die roman se struktuur en die verskillende dele van die oorkoepelende reismotief is belangrike legkaartstukke in die geheel – die begin is die einde; die einde die begin. Die leser weet eintlik reg van die begin af wát gebeur, maar nie presies hoe of hoekom nie.

Tussen waansin en die werklikheid, tussen treur en hoop, lê die droom om die hande van tyd te kan terugdraai in skerwe. Familiegeskiedenis, dit wat was en dit wat kon gewees het, smelt saam met die groter vraagstukke van die geskiedenis, met eksistensiële vrae oor wat uiteindelik van ons sal word op hierdie planeet.

Om kuns uit die wrakstukke van jou eie trauma te skep – is dit wat ons almal probeer doen, veral in hierdie donker tye? Wie neem bestek op van die ander pandemie van ons tyd – eensaamheid?

Kwas en skêr. Oor en oog. Lewer en niere. Maan en son. Donker en lig. Bloed en water. Presies hoe die etiket “kunsroman” om Vin se nek hang is vir my veel minder voorspelbaar as wat ek dalk mag verwag het; hoewel kuns alles deurdrenk, hoewel die protagonis obsessief vir en deur kuns lewe, en lewe gee deur haar besinnings, en alhoewel die roman ’n katalogus of inventaris van kuns, kunstenaars, kunsvorme en maniere van skep en kyk en bewaar en ook skeppend breek vergestalt, kan die roman nie tot ’n enkele tese of narratief oor die skeppende kunste gereduseer word nie. Vin as roman is nie net een ding nie – net soos Vin die karakter, die mens, nie bloot deur haar verlies en smart gekenmerk word nie.

Daar is egter bitter min onlangse romans in Afrikaans, behalwe dié van byvoorbeeld Ingrid Winterbach, wat so nou, en met so ’n volgehoue impak en tekstuur, na die rol, karakter en betekenis van die kunste en die lewe van kunstenaars kyk. Die persona, gemeenskap, politiek, milieu en die wêreld van die kunstenaar word in Vin so sintuiglik en sensueel weergegee dat dit voel asof die skrywer voor jou sit en met jou as toeskouer die roman se woordelike kwashale verf. Argief, katalogus, bestekopname, inventaris ... gee dit enige naam wat jou pas – die roman is soos ’n Vin-museum, een waar die dooies en lewendes, die spoke van die verlede en die vraagstukke van die hede, mekaar reguit in die oë kyk.

Hoe presies verwoord hierdie aanhaling uit die boek nie die roman se werkswyse nie: “That was definitely a strategy on my part, so that someone walking through the room gets different takes, multiple voices, rather than a master narrative.”

Dink gerus terug aan die brandmaer Sidney Malinga in Wonderboom, uitgehonger in ’n ou Kuifie-T-hemp wat aan Magriet se oorlede geliefde, Wim, behoort het, en hoe daar aan hom ’n spreeu se oorskiet aangebied word om hom te help om te oorleef. Soos Wonderboom ons stip aangekyk het en gevra het dat ons daadwerklik besin oor ons verhouding met die natuur, met mekaar, met ons eie mense en met dié wat blyk totaal anders as ons te wees – soos daardie teks ons noop om deur ontworteling, verval, agteruitgang, ontnugtering en verlies te worstel – stel Vin die kunste voor as een manier om die doodsheid van afsondering, ellende, verlies en seer aan wal te hou.

Kuns, in sy verskillende vorme, kan ’n ingryping wees, ’n hulpmiddel wat ons minder alleen laat voel soos wat ons daagliks die groot klip die berg uitstoot. Met Vin bewys Botha haar weer as ’n stilis en prosaïs met ontsettende tegniese vaardigheid en ontsaglike deernis.

Vin is ’n roman wat jou al die pad laat dink, maar op feitlik elke liewe bladsy ook laat voel. Dit bevredig op ’n tegniese, narratiewe en skeppende vlak, maar bowenal maak dit indruk op die leser as mens, as emosionele wese, wat kan reageer op ’n fiktiewe karakter se wedervaringe en verlies, sowel as op die teks se rangskikking van woord en beeld soos dit die storie bou.

........

Die boek as artefak word deel van die skrywer se eie groeiende oeuvre en deel van ’n groter korpus letterkunde oor kuns en die kuns van goed lewe, maar strek wyer as ’n kombinasie van wys en vertel.

...........

Die boek as artefak word deel van die skrywer se eie groeiende oeuvre en deel van ’n groter korpus letterkunde oor kuns en die kuns van goed lewe, maar strek wyer as ’n kombinasie van wys en vertel. Die skrywer se alchemiese proses wat van stapel gestuur word, noop elke leser om deur die beeldryke prosa te loop soos deur ’n bos se ruigtes om dít uit te pluis en te versamel wat net buite die sigveld lê en loer. Of jy “all at sea” gaan wees, is ’n ope vraag.

Op ’n kol word Vin deur “’n plunderende heimwee” getref – maar hierdie heimwee is beslis nie net nostalgie vir wat was of vir ’n tuiste in Suid-Afrika waar sy volledig mens voel nie. Vin lees, op ’n stuk papier wat sy in Mali optel, in Portugees: “Vertrou jou sesde sintuig!” Soos Vin, soos met die leser … Vin bly toeganklik en blink gepoleer, ten spyte van die ooglopende “kompleksiteit”. Die avontuurlustige leser kan gerus die broodkrummels tussen Vin, met haar “gespreksgenoot” Hendrick Avercamp, en Wonderboom se Magriet, met haar narratief wat intertekste soos Anna M Louw se Vos (Hendrik Vos, wat ook skuifel tussen skyn en werklikheid, waansin en realiteit), Wilma Stockenstrom se Die kremetartekspedisie, Leroux se Magersfontein! O Magersfontein en Onse Hymie en Karel Schoeman se Afskeid en vertrek gaan naspeur.

So interessant hoe die collage in Wonderboom, en Magriet se geheue, al hoe verder inkrimp, en Vin se woordeskat van verlies en haar “beseringslys” en “wonde” al hoe meer toeneem. Meer durf ek nie verklap nie. Bome het sentraal gestaan tot die titels van elke hoofstuk in Wonderboom; in Vin tref ons dalk nie ’n “Bloedboom”, “Diereboom”, “Papierboom”, “Die klank van kersiebome” en “Oorlogboom” as hoofstuktitels aan nie, maar in die betreklik langer, funksioneel uitgesponne en digte betekenisnetwerke van Vin se afsonderlike hoofstukke word die leser getrakteer op ’n wyd-uiteenlopende, soms asemrowend-gedetailleerde opeenstapeling van verskillende kunsvorme en hul skeppers: soos wat beskrywings en verklarings uit die natuurwêreld, die argeologie, die musiek en die letterkunde, ook vertalings, elk in gesprek met ’n ander domein van kennis en skepping, verryk word.

Wonderboom het indringende vrae gevra oor die gebrek aan en ontluistering van die “wonder” in ons lewens, soos wat ons die geweld van die hede en die sosiopolitieke en maatskaplike verval van die land beleef en moet konfronteer; Vin het op verskillende oomblikke, meestal deur die stem en perspektief van Vin – wat instaan vir die skrywer, waarskynlik – ewe veel om te sê oor die plek van veral die wit bevolking in Suid-Afrika, die skuldlas wat die blanke persoon (moet) dra, en wat ons kan doen om die land van ondergang te red. Dit is, om die heel minste te sê, nie ’n rooskleurige perspektief nie. Oral sien Vin, en Botha, die littekens van ’n getraumatiseerde volk raak.

Lesers sal veel ooreenkomste kan peil tussen Vin Verster se geleidelike geestelike aftakeling en verdriet, haar maansieke bestaan en hunkering na geestelike gesondheid en aanvaarding, en Wonderboom se Magriet, die verarmde violis, wat in haar verwaarlooste huis in Bettysbaai in ’n soort nes verkeer, met die see vir ’n bad en die natuur – plante en veld en stilte en klank – as haar “vriende”.

Wonderboom se mees direkte antagonis, beslis in terme van die foltering van Magriet en ander, was die verworde, vreesaanjaende Albino X, wat "uit die bloedlose ewolusie van digitale DNA ... soos ’n silwer vis die regte stroom op presies die regte tyd geklief" het. Ek onthou hierdie man as besonder ysingwekkend juis omdat hierdie letterlike bleekbeen, met daai ysblou oë wat mense deurboor, reguit deur hulle kyk en mense se aard en begeertes vinnig en korrek kan opsom, die soort heerser en diktator was wat sy medemens as mindere beskou het, simbolies op hulle geteer het, en gepoog het om, ironies genoeg, ’n meester van die kulturele domein te wees. Dit alles ten spyte van die feit dat hy géén deernis vir die skeppende hart van die kunste, die mens, kon toon nie. Albino X stop mense op en stal hulle uit, die letterlike verettering van menslikheid en deernis en gemeenskap.

Die roman se makabere dog fassinerende opening bied ’n verlate oor, oog, neus, tong en hand, saam ’n kombinasie wat die vyf sintuie voorstel, ook as leidraad oor die soort roman waarmee ons hier te make het: ’n sintuiglike simfonie, met verskillende lae wat kombineer om ’n oorweldigende, ryk, donker, betowerende, sobere, aangrypend-eksistensiële “kunsroman” te skep. Soos die leser telkens buite enige gemaksone gedwing word, bring die skrywer ook intertekstueel van die silwerdoek, van strokiesprente / grafiese romans, en allerlei letterkundige werke na die tafel. ’n Soort lukrake formule: Argetipes konfronteer aweregses / vooropgestelde idees / tweede-roman-verwagtinge / narratiewe oor die self wat rou.

Hoe treffend dat Vin se aartsnemesis, die vrot eier Sloan Kent, blitsvinnig “sin maak” as antagonis indien die leser bloot aandag gee aan Vin se man, Ryk, se voorliefde vir strokiesprente en versameling van “comics” in die roman. Dan maak die van “Kent” in vele opsigte sin en gee dit rigting aan die karakter van die man as iemand wat enorme aansien geniet in sekere oorde, maar ook nie deur almal waardeer word as mens nie. Superman se alter ego was Clark Kent. Sloan Kent duik “magies” op, soos ’n wafferse Lex Luthor, oral waar Vin haar bevind. Die naam Ryk (Human) verklap veel oor die argeoloog se menslikheid. Die naam beteken ironies genoeg in die romankonteks kragtige, dapper heerser, terwyl Vin hom later van lamsakkigheid en ’n gebrek aan lewenslustigheid beskuldig na sy pa se dood, en beliggaam ook iets tragies oor die feit dat hy en Vin mekaar al hoe minder teer en sensitief behandel. In Kelties beteken die naam Kent kus, of grens.

Tot watter mate kan die sensitiewe Ryk vir Vin beskerm en “begrens” teen die bedreiging van Sloan Kent? Sloan, die naam wat niks minder beteken nie as krygsman, ekspedisie en inval. Lavinia beteken blou en rein, en strykdeur Vin word die karakter direk en implisiet in verband gebring met die kleur blou, met ’n “blou” of depressiewe gemoedstoestand, met haar blou maansiekte, en met die verskillende blou waters en reinheid, ’n reinheid en skoonheid (sy lyk blykbaar soos ’n soel Scarlet Johansson) wat algaande vertroebel.

Namate Vin meer figuurlike ruimte opneem en haar stem dik maak, tel sy ook gewig op, iets wat vir Ryk pla. Sy word 17 kilogram swaarder – een kilogram vir elke jaar wat hulle saam is? Onthou jy daardie ysingwekkende toneel in Wonderboom waar daar met ’n uil in plaas van ’n sokkerbal gespeel word? Dalk, net dalk, lê daar vir lesers enerse oomblikke van die makabere in Vin voor. In plaas van Albino X se Vergelegen is daar ’n eiesoortige monstruositeit in Vin waar Sloan Kent hom bevind, ’n “betonkonglomerasie” en “argitektoniese uitroepteken” wat uitstaan soos ’n paal bo water, naby die waters.

........

Vin se gemoedstoestand word al hoe meer troebel soos wat sy kunstige “waters” weeg, skep en verplaas. As Wonderboom se “element” ongetwyfeld grond was, dan is Vin s”n beslis water.

.........

Vin se gemoedstoestand word al hoe meer troebel soos wat sy kunstige “waters” weeg, skep en verplaas. As Wonderboom se “element” ongetwyfeld grond was, dan is Vin s'n beslis water. Vin is uit en uit ’n waterwese, ’n diep sensuele vrou wat hou van seks sowel as liefde maak, een wat herhaaldelik en dikwels tot skreeusnaakse effek Ryk iets toesnou as hulle vassit.

Lavinia Vin Verster word ook deur die loop van die narratief direk ’n heks genoem, vernaam deur Sloan Kent, terwyl Vin en Ryk mekaar die eerste keer “ondergronds” en “onder water” ontmoet – by die Suid-Afrikaanse maritieme museum in Kaapstad. Ek kon ook geensins die sin vir ironie, die deernis en teerheid van die vertelling en karakterisering van Vin en die verbrokkeling van ’n huwelik soos in die roman voorgestel lees en nie aan Anne Michaels se Fugitive pieces dink nie. Hoe meer ’n mens aan die twee tekste in gesprek dink, hoe meer sien jy vele raakpunte raak – waarskynlik totaal onbewustelik.

Lesers kan self verder gaan oplees, maar daar word direk in Vin vermelding gemaak van ander, belangrike Lavinias in die geskiedenis – soos die Italiaanse baanbrekerskilder Lavinia Fontana (1552–1614) wat saam met haar manlike eweknieë buite die sfeer van die hof en klooster geskilder het; Vergilius se “stemlose” Lavinia in sy epiese Aeneïde; en Mercy Winslow se vertelling van Lavinia Fisher, die eerste vroulike reeksmoordenaar in die VSA – terwyl die roman se misdaadelement, met ’n uiters brutale moord en die simboliese geweld wat gepleeg word, veel oor eienaarskap en slagofferskap verklap.

Vin verduidelik aan Ryk hoe kuns en moord hand aan hand loop deur te verwys na Cezanne se The murder en Rene Magritte se The menaced assasin. Vin se voortdurende “reis” en versugting na die maan en sterre in die hemelruim, haar rouproses en gemis van haar ouers, en haar vervreedming van Ryk, word verweef met haar letterlike reis na stede en eilande. Elk met kleurvolle verhaal en geskiedenis, en elk verskillend en “vreemd”, soos elke mens ook is, vir homself en ander: Bordeaux, Florence, Venesië, Trento, New York, San Francisco, Sylt, Doha, Mali. Te midde van erotiese en teer oomblikke tussen Vin en ander is daar haar nimmereindigende gevoel van verlatenheid en verwerping deur Ryk, en haar jaloerse gevoelens jeens een van sy kollegas.

Was dit so beplan dat die eerste teer oomblikke waarvan ons te wete kom tussen Vin en Ryk ’n ontmoeting voor ’n opgestopte selakant betrek – wat iets van Albino X terugroep en die moontlike aftakeling van hul verhouding sinjaleer?

Vin speel meestal fokalisator; ons sien en beleef deur haar oog, maar word ook bewus van alles wat sy nie sê nie, wat sy miskyk en verswyg – haar beperkinge van perspektief en haar blinde kolle, haar vurige humeur. Water, visse, strominge, see, riviere, mere … alles loop simbolies terug na Vin. Hoe verder sy uitkring, hoe verder beweeg sy van Ryk; hoe meer hul “lieflike vindingrykheid algaande sy gat [sien]”, hoe nader beweeg sy aan Hendrick die fantoom. Hoe dieper Ryk ondergronds beweeg, hoe meer neig Vin nou na geleenthede op die maan. “Dis waar magic vandaan kom.”

..........

Ek was gaande oor die roman se klem op genreverbrokkeling en bereidwilligheid om die leser uit te daag, om die grense tussen hoog en laag in terme van kultuur uit te daag en af te breek. Vin is ’n kunsroman of kunsjoernaal, maar ook ’n inventaris van verlies, rou en smart, die ontbinding van verhoudings en konneksies met mense, plekke en herinneringe, ’n tergende soort raaiselroman of spanningsverhaal, ’n teer liefdesverhaal, en beslis ook ’n soort spookstorie.

..........

Vin is buik en hart, en noem haarself ʼn “tor”; Ryk is kop, skouers, skoonheid en sexy blik, maar “sonder visvin”. Hy kan nie teen die ruggraatloses in sy uitgebreide familie optree nie. Sy eie broer is ’n narsis; suster Skapie se mond sal geen botter laat smelt nie; en die een se vrot vel van ’n man is ’n A-klas-parasiet. Lees self oor die Ryk Human-familie-intriges wat Vin naderhand raadop het, en die “verraad” deur sy familie laat in die spel.

Hoewel sy betreklik min bladruimte opneem as karakter, is Vin se tante Alice Visser (jy kan die simboliek nie miskyk nie – die verbintenis met Alice in Wonderland; die troebel, traumatiese verlede van Vin se mense nog minder) een van die belangrikste karakters in die ganse roman, en die sleutel om die vreemd antagonistiese verhouding tussen Sloan Kent en Vin te help uitpluis. Wees ook op die uitkyk vir die lieflike newekarakter Veronica, ’n diep, deernisvolle lykbesorger met “lang rooi hare wat vonk in die son”.

“By tye dink Vin die plek waarvandaan sy kom, bestaan nie werklik nie. Suid-Afrika is ’n windrigting op die atlas, ’n land waar bleek mense vir alle tye soos skurke gaan voel, en die meeste van hulle seker met verloop van tyd die hasepad moet kies.”

Daar moet eenvoudig ’n konfrontasie tussen Kent en Vin wees – die slot van Vin is die spreekwoordelike sleutel. Ek wil so min as moontlik verklap van ’n finale wending wat uiteenlopende reaksies by lesers sal uitlok, maar ek kan verklaar dat die Vin-slot ’n daadwerklike poging is om terug te keer na die psigiese “scene of the crime”, die “oorspronklike” of “eerste” misdaad. Dat Hendrick Avercamp by Vin spook, en dat hy ’n ystoneelskilder was, maak een honderd persent sin in die raamwerk en konteks van die roman. Verder is daar verskeie drome en droomtonele wat dimensie en tekstuur aan Vin se gevoel van vervreemding, vrees en weerloosheid verleen.

“Oervrees vloei deur haar. Daarna oerverlange. Oerwoede. Oerwanhoop. Sy voel hoe die sneeu in die kunswerk begin smelt en hoe sy saam met die sneeu in ’n rivier uit die huis uit begin vloei. Weg. Wegger. Wegste […] Hoe sny ’n mens water?”

Terwyl sy oorsee wandel, tref Vin hierdie woorde aan, opgeskryf: Mi fa male qui (“It hurts here”). Een van Ryk se gunstelingslagspreuke loop egter saam met Vin, een wat die essensie van hierdie wonderbaarlike roman se filosofie van rou en skepping so onomwonde illustreer: “The only way out is through.”

Soos Vin op ’n kol die Suid-Afrikaanse padkaart in repies sny, so beliggaam Botha se tweede roman ’n diep empatiese, sensitiewe vorm van collage, ’n poging om op haar uniek-universele manier iets van waarde en weerloosheid aan die gevoelige leser te kommunikeer.

Soos daar uiteindelik ’n ster deur Vin se lyf torpedo, so kan geen leser van Vin ongeraak bly nie. Oor ’n see van marmer wil Vin die moeilike woord “incarnadine” saam met Virginia Woolf fluister. Oor hierdie kunsroman hoef ons allermins te fluister: Vin se verhaal is eenvoudig onvergeetlik; Botha se woorde is vlamme op water.

Besoek https://www.lienbotha.co.za/vin-visual-2021 om te sien wat Vin sien.

Lees ook:

Boekklubs, boeke lees en boeke praat ten tye van ’n pandemie

Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck: ’n leeskringbespreking

Tien vrae (en foto's): Wonderboom deur Lien Botha

In de chaos schuilt de schoonheid: Wonderboom van Lien Botha

Om wêrelde te verbeel(d): tekstuele relasionaliteit in Wonderboom (Lien Botha)

Vin deur Lien Botha: ’n gesprek met die skrywer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top