Tien vrae (en foto's): Wonderboom deur Lien Botha

  • 3
wonderboom600

Lien Botha, visuele kunstenaar, gesels oor haar boek Wonderboom en vertoon foto's van omgewings wat haar gedurende die skryfproses inspireer het.

Waarom het jy Wonderboom geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Die verhaal het gebroei hier in Bettysbaai, aanvanklik in ’n dagboekvorm om anekdotes en gebeure van die dag vas te pen. Benewens die wilde natuur is hier hels interessante mense, en hul mindere bewegings binne die groter Suid-Afrikaanse realiteit het my genoop tot gereelde inskrywings. Maar goed, Wonderboom is ’n ode aan Moeder Natuur en ’n manier om aspekte van mens se eie lewe uit te skryf sodat jy daarmee vrede kan maak. Om die boom te snoei, as’t ware. En snoei is een van my stokperdjies.

Die titel roep magies-realistiese aspekte op: vertel asseblief iets hiervan.

Dit het letterlik te make met die Wonderboom (Ficus Salicifolia) aan die voet van die Magaliesberg en haar oorsprong uit ’n stam van sowat ’n duisend jaar met ouer- en dogterbome vertak oor ’n area van 50 vierkante meter. Van kindsbeen af ken ek reeds die boom en jy kan sê die boom is soos ’n familielid. Die terrein het ’n stem uit die steentydperk en volgens oorlewering is daar amakosana onder die boom begrawe. Wanneer jy by die boom vertoef, kan jy fluisteringe hoor wat benede roer.

Daar is natuurlik soveel ander assosiasies ook: boom as papier vir die skrywer; as instrument (viool) vir die musikant; medisyne vir die heler; voedsel; skerm – huis.

Wat is ’n straat sonder ’n boom?

Jy het jou al self op die sosiale media 'n "tree hugger" genoem. 'n Baie talentvolle een daarby; bekroonde kunstenaar ook nog. Hoe versoen jy al jou baie talente – en jou grafiese aanvoeling – in hierdie roman? (Help dit by die skryfproses om visueel te kan dink?)

Wonderboom is waarnatoe ek maar gewerk het. Ek sien dit nou. Die beeld en die teks het nou eers geswaelstert.

Die visuele konteks en karakterisering was van kardinale belang. Ek het byvoorbeeld ’n goeie idee van Magriet kon vorm toe ek op Facebook’n foto van ’n kunskennis sien. Haar gesig was die vorm van ’n viool en siedaar: toe kon ek Magriet helder sien en ons het beter begin kommunikeer. So het dit maar met die meeste van die karakters in die boek gewerk; ek moes prente van hulle vorm, of dit nou Leonard Bernstein (Louise se oom) of Roger Ballen (Saai Naudé) was.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

a) Daardie soggens vieruur opstaan in die winter!
b) Die DIY-bure wat my skryfhoek omring.
c) Op ’n kol het ek gewonder of daar iets in die boek is waaroor ek eendag spyt mag wees, maar toe kom die vredige gedagte dat ek teen daardie tyd dalk nie eers meer sal leef nie en dit dus nie sal saak maak nie.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Ná die hoofstuk “Troosteloos, die dooie boom” het ek as’t ware ’n dooie punt bereik. Dit was toe gelukkig tyd vir ’n roadtrip en daardie reis het die verhaal weer aan die gang geskop. Toe hulle vir Jimi in Atlantis oplaai, was ek in die kombi – met ’n kamera en ’n notaboek. Hierdie keer het ek gereis met oë agter in my kop.

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema?

Al hierdie elemente; ek was oorweldig deur die fasette verbonde aan die skryfproses en toe ek stadig maar seker ’n verwesenliking daarvan begin vorm, het ek gereeld gaan swem sodat die gewig daarvan my nie moes onderkry nie.

Etienne van Heerden was my studieleier, en sy advies en empatie vir die verhaal was van onskatbare waarde.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ja, grotendeels. Teen die tyd dat Louise Steyn se noukeurige hand met die teks klaar was, kon ek sien hoe die laaste monstertjies wegskarrel en ’n soberheid oor die teks kom.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

(Om te help sin maak van die feit dat soveel mense in die skeppende sfeer krepeer van ellende.)

Ironies genoeg gee skryf vir mens ’n gevoel van bevryding wat verby enige vorm van materiële gewin strek.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

O ja, dis galjoentyd hier by ons en my lyn is in die water.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Plaaslik: Willem Anker, Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Etienne van Heerden, Chris Karsten, Wilma Stockenström, Deborah Steinmair, Eben Venter, Anna M Louw, Imraan Coovadia, Henrietta Rose-Innes, Jonny Steinberg …

Internasionaal: WG Sebald, Margaret Atwood, Jim Crace, Anne Michaels, Julian Barnes, John Steinbeck, Ian McEwan, Primo Levi, Aminatta Forna, Ben Okri, Charles Dickens, Roald Dahl, Orhan Pamuk, Haruki Murakami, VS Naipaul …

Foto's: Lien Botha

Anthony, Hangklip kleinhoewes, 2009 (Parrot Jungle)

 

Avril's Dump, 2009 (Parrot Jungle)

 

George Saunders, die slangman,Bettysbaai, 2008

 

Hanglip Ligtoring, 2012

 

Harold Porter as die Wachendorfias blom

 

Hoofstuk 1

 

Muishonde, Bettysbaai, 2014

 

Wonderboomreis, by die kruiedokters (2013)

 

Wonderboomreis, Tulbagh, 2013

 

Wonderboom, detail vir collage

 

Wonderboom, detail vir collage

 

Skryfhoek, Bettysbaai, 2015

 

Wonderboomreis, Karoo, 2013

 

Wonderboomreis, buite Sutherland, 2013

 

Karoo-reis vir Wonderboom 2, 2013

 

Wonderboomreis, Karoo, 2013

 

Karoo-reis vir Wonderboom, 2013

 

Wonderboomreis, Beaufort-Wes, 2013

 

Raymond, Blesberg, 2009

 

Silversands, Bettysbaai, 2013

 

Stony Point, 2012

 

Stony Point, Bettysbaai, 2012

 

Tou, Draadbaai, 2009 (Parrot Jungle)

 

Verlate Duiwehok, Bettysbaai, 2009 (Parrot Jungle)

 

Wonderboom, detail vir collage

 

Wonderboom, detail vir collage

 

Wonderboom, detail vir collage

 

Wonderboom, detail vir collage

 

Wonderboomreis, Hermon, 2013

 

Wonderboomreis, Kersieplaas, 2013

 

Wonderboomreis, Sadawa, 2013

 

Wonderboomreis, Sutherland, 2013

 

Rooivlerkspreeus in die herfs, Bettysbaai, 2009

 

Wonderboom, Pretoria, 2013

 

Wonderboom, Pretoria, 2013

 

 

  • 3

Kommentaar

  • Hoe ruk jy aan my ramkiekie-snare. Nostalgie en verlange en hunkering lê soveel meer in ’n ramkiekie as ’n kitaar. Die gevoel van bevryding wat enige vorm van materialisme sinneloos maak. Die plat, leë, ryk, passievollie Karoo. Ek kantel op die rand van alles laat los wat my uithol en oortrap na dit wat my laat vrye asem laat adem en met ’n lied opstaan. Swaar lied, blye lied, treurige lied, passielied, maak nie saak nie. Dit is ’n lied want dit is ’n storie en dit is woorde en dit is skrywe. Jou woorde praat met my hart. Dankie. En lees Linden McIntyre. "Why Men Lie" and "The Bishop's Man".
    Son en sielevrede en vreugde
    Cheers

  • An nette Smith

    Ek het probeer, maar kan nie. Ek is te realisties om die abstraksie van die verhaal te absorber.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top