Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck: ’n leeskringbespreking

  • 0

Titel: Die heelal op my tong
Outeur: Anoeschka von Meck
Uitgewer: Penguin Random House South Africa
ISBN: 9 781485 904106

Chris van der Merwe skryf hierdie bespreking, soos die ander besprekings in die reeks, spesiaal vir leeskringe. Hy kies die boeke self. Bederfwaarskuwing: Lesers wat nog nie die boek gelees het nie, moet bewus wees daarvan dat die teks hieronder gedeeltes van die intrige verklap.

........

"Woorde het krag. Dit kan jou bind of vryspreek" (360). Die woorde van Die heelal op jou tong openbaar al die dinge wat Willemien in die verlede gebind het, maar uiteindelik bring die woorde ook bevryding, heling en hoop.

........

’n Gefiksionaliseerde verlede

Voor in die jongste roman van Anoeschka von Meck, Die heelal op my tong, is daar ’n foto van haar vader, die legendariese Vloog Theron. Hiermee word die leser al dadelik gewaarsku: In hierdie boek word fiksie en feite verbind. Die roman het te doen met ’n afskeid van haar vader en ’n verwerking van die rol wat hy in haar lewe gespeel het. Von Meck het in ’n onderhoud verklaar: Nie alles het presies so gebeur nie, maar die emosies wat in die verhaal tot uiting kom, is volkome waar.

Die karakters se name word verander: Anoeschka word Willemien, haar suster word Precious Cargo. Die werklikheid word gefiksionaliseer, en hierin speel ’n paar strokiesprentkarakters ’n rol: Wilde Willemien, Tintin en Rango. Dikwels bevat die verwysings na strokiesprente ’n element van selfspot. Die strokiesprent-karakter Willemien is ’n slanke, verleidelike vrou, in teenstelling met Willemien wat met haar gewig worstel. Tintin kan in allerlei moeilike situasies ’n uitvlug bedink, in teenstelling met Willemien wat meestal nie raad het met die lewe nie en dikwels verkeerde besluite neem. Sy sien in Clifford, een van die mans met wie sy ’n verhouding het, ’n Tintin wat haar kan red, maar hy is ’n valsaard wat self nie raad met die lewe het nie. Rango sien homself as redder en held, maar hou nie rekening met sy beperkinge as akkedis nie. Die romankarakter Willemien se lewe is een lang strokiesprent (12), vreemd en grotesk; ’n papierpopwerklikheid (250), en die vraag is of die papierpop-Willemien in ’n waarlik lewende mens sal verander. Wanneer Willemien aan haar verlede terugdink, maak sy van foto's en van ’n notaboek gebruik om haar herinneringe op te roep. Ook hierdie verbinding van prente met woorde sluit aan by die aard van die strokiesprent

Belangriker as die strokiesprente is die genre van die reisverhaal as onderliggende struktuur. Op vele vlakke vind daar reise plaas. Willemien onderneem ’n aantal werklike reise. Sy gaan na die VSA om van haar oorlede pa se besittings te gaan haal en daar op te ruim. Haar suster reis uit Amerika, waarheen sy geëmigreer het, na Suid-Afrika. En saam reis die twee na die Richtersveld, waar Willemien haar vader se kluis en sy jas saam met die as van haar gewese man, Clifford, by ’n krans wil afgooi. Willemien is ’n tipiese reisende karakter – sy vertrek in haar hoërskooljare uit Suid-Afrika na Amerika, gaan vir ’n tyd na Sri Lanka, en uiteindelik word die siklus voltooi wanneer sy na haar vaderland terugkeer.

Die reis na die Richtersveld behels ook ’n reis na Willemien se verlede. Sy vertel haar lewensverhaal aan haar suster; die tog na die Richtersveld is ’n herinneringsreis na haar pa. Willemien openbaar aan haar suster, wat gewilliglik luister, alles wat swaar op haar gemoed lê; sodoende kan sy dinge wat sy aan niemand anders kon vertel nie, uit haar hart kry. Die reis na die Richtersveld is dus tegelyk ’n reis na binne, na selfkennis en na versoening. Dan is daar ook nog die reise van die geheimsinnige man van wie telkens aan die einde van die hoofstukke, in skuins druk, vertel word. Soos Willemien, is hy steeds op reis, onder andere uit die buiteland na Suid-Afrika, blykbaar op pad na Willemien. Sy reis word ’n pelgrimstog, ’n reis na ’n heilige ontmoeting, wat ook ’n ontmoeting met Willemien in die vooruitsig stel.

Die reisverhale verloop meestal chronologies, maar soms ook nie. Daar is terugflitse binne terugflitse, soos wat sommige herinneringe assosiasies met ander herinneringe wek. Die volgorde van die gebeurtenisse word dus ten dele bepaal vanuit die geheue van Willemien, soos wat die verlede by haar opduik. Die struktuur van die reisverhaal help om die belangstelling te wek deur steeds nuwe openbarings en ontwikkelinge. Die leser word met allerlei vrae besig gehou: Sal die aankoms by die krans vir Willemien heling bring? Wie is die vreemdeling? Wat is die verband tussen sy verhaal en dié van Willemien? Sal daar ’n ontmoeting tussen die twee plaasvind?

........

Von Meck het in ’n onderhoud verklaar: Nie alles het presies so gebeur nie, maar die emosies wat in die verhaal tot uiting kom, is volkome waar.

.........

Die verhouding met die vader

Die mees sentrale tema in die roman is Willemien se verwerking van die verhouding met haar oorlede vader. Die beeld van ’n uiters komplekse man word geskep. Hy is vol woede, oor sy vader se vroeë dood en oor sy gestremde lyf. Hy is ’n mens, “vreemder as fiksie”, om Johann de Lange aan te haal. As mense op sy werf oortree, skiet hy op hulle; soms skiet hy vir die pret gate deur die spyskaart in ’n restaurant. Met skelmstreke verkry hy ’n doktorsgraad in Amerika; hy besit ’n huis wat glo voorheen aan Dolly Parton behoort het, en huur later ook ’n huis van Frank Sinatra. Maar teenoor sy weelderige lewe staan die feit dat hy gedurig in die skuld is en deur sy krediteure geteister word; sy kriminele aktiwiteite laat hom in die tronk beland. Maar hy het ook ’n sagte kant (84), en wanneer hy in die tronk is, doen hy moeite om die lot van sy medegevangenes te verlig (43).

Hy is nie ’n man van standvastige verhoudings nie. Sy huwelik met Willemien se ma loop op ’n egskeiding uit en dit word deur ’n tweede egskeiding gevolg; tussendeur merk Willemien ook ’n hele aantal ander “tannies” in sy lewe. Ook die verhouding met Fabula, sy geheimsinnige sekretaresse, het ’n skadukant, soos wat die leser aan die einde van die roman uitvind. Oral laat hy letsels na by die mense wat na aan hom is. Willemien se ma kan later nie meer die lewe aandurf nie en onttrek haar in ’n “slaapsiekte”, wat Willemien in feite ’n weeskind maak.

Dit is veral die verhouding met haar pa, die afwesige vader, wat swaar op Willemien se gemoed lê. Hy is afwesig by haar geboorte; hy vergeet dikwels om haar by die skool te kom haal; na die egskeiding verdwyn hy vir lank heeltemal uit haar lewe; en wanneer sy besluit om by hom in Amerika te gaan woon, is hy nie daar om haar by haar aankoms te verwelkom nie. Sy ervaar ’n intense gevoel van verwerping. As hy na haar kyk, voel dit vir haar of sy voor ’n vuurpeleton staan, met haar pa wat op haar aanlê met sy woorde: “Kyk hoe lyk jy. Jou dele pas glad nie bymekaar nie. Jy is nie veronderstel om só te lyk nie” (18). Sy voel as 't ware ’n koeël deur die hart (19), en dit wek gemengde reaksies:

Deur Pa geweeg en te swaar bevind, is ek net so woedend, maar op my lippe was ’n dringende pleidooi. As my bewende bene my die trap kon afdra, sou ek my arms om hom wou slaan om te smeek dat ons net vir één keer in ons lewens regtig met mekaar moet práát. (19)

Hy het geen sin vir verantwoordelikheid nie. Wanneer hy met geheime onderhandelinge besig is, word Willemien in die kattebak van die motor versteek, en sy word twee keer ontvoer deur mense vir wie haar pa geld skuld.

Willemien is tereg woedend as gevolg van die verwaarlosing en verwerping, maar daar is ook ’n ander kant aan hulle verhouding. Sy is verlig wanneer hy sterf, maar tog weet sy nie hoe om verder sonder hom te lewe nie (96). Daar is oomblikke wanneer hulle ná aan mekaar is. Albei het ’n spirituele kant en stel belang in die pineale klier, wat kommunikasie met God bewerkstellig (148). Haar pa praat met haar oor Pniël, “die plek van ontmoeting binne-in ons”, en moedig haar aan om nooit op te hou soek daarna nie. In sulke oomblikke voel Willemien “[sy] en Pa is ’n bende met ons eie geheime” (149).

Hoe kompleks die verhouding tussen Willemien en haar pa is, word duidelik in ’n toneel op ble 171–2. Sy is saam met haar ouers by ’n prokureur, en wanneer haar ma ’n dokument moet teken, tree haar pa gewelddadig teenoor sy vrou op. Willemien duik oor die prokureur se lessenaar om haar ma te beskerm en kry ’n harde klap van haar pa. Maar dan, ná hierdie geweld, toon haar pa intense berou: “’God help my!’ Pa gaan hard sit met sy kop in sy hande. ’Ek het dit nie bedoel nie. Dit was ’n ongeluk.’” Willemien dreig hom: “Vat weer aan Ma ...” Sy en haar pa staan teenoor mekaar, albei reg om mekaar seer te maak – “lemgereedbefok”. Maar dan begin die pa te hakkel van ontsteltenis, soos wat hy in sy kindertyd gehakkel het, en dit wek Willemien se deernis: “Ek loop mank. Ek huil. Ek wil omdraai en na Pa toe hardloop om hom te troos oor die gehakkel.”

Drie surrogaatvaders

........

Willemien wil wegkom van haar pa, maar sy is ook steeds op soek na hom.

........

Willemien wil wegkom van haar pa, maar sy is ook steeds op soek na hom. Daar is drie mans met wie sy in ’n verhouding betrokke raak, en op verskillende maniere is ál drie ’n surrogaatvader vir haar. Sodoende oorheers die vader steeds haar lewe, al probeer sy om verhoudings aan te knoop wat aan haar bevryding kan bied.

Willis. Die eerste man in haar lewe is Willis. Sy is desperaat om van haar pa weg te kom, en dan ontmoet sy hom. Hy “lyk kwesbaar en eensaam, onskadelik en welaf genoeg” (185). Heelwat ouer as sy, maar met baie geld, sal hy hopelik aan haar kan gee wat haar eie pa nie kon verskaf nie: sekuriteit en versorging. Willis sorg inderdaad vir haar, en sy ervaar ’n “sagte liefiegevoel” (193) wat tydelike heling bring (202). Alles lyk nou reg – maar daar is gevaartekens. Willis se motors is die grootste liefde in sy lewe. Oral is daar karre in die huis, ook in Willemien se slaapkamer, en elke motor het ’n naam. Sy verhouding met Willemien is vriendelik, maar sonder passie, en met verloop van tyd begin sy na ’n seksuele verhouding verlang. Sy slaag wel daarin om hom seksueel te betrek, maar wanneer die seks te warm raak, verlaat hy haar – waarskynlik as gevolg van ’n vroeëre liefdesteleurstelling is hy bang vir ’n intieme verhouding. Sodoende word Willemien weer deur ’n man teleurgestel – ’n “afwesige vader” het weer eens haar lewe betree op wie se terugkeer sy sal bly hoop. Uiteindelik kom daar wel ’n tipe versoening tussen haar en Willis en ’n afsluiting van hulle verhouding, maar die besonderhede daarvan wil ek nie hier verklap nie.

Kandy. Die tweede man is Kandy. Die beskrywing van sy uiterlike wek nie veel positiewe verwagtings nie: “Die man haal sy diklensbril af en vee dit aan sy trui af. Hy is kort met ’n groterige maag en vol lippe” (241). Dit is eensaamheid wat haar na hom toe dryf – sy soek naarstig na ’n man wat haar mondigwording saam met haar kan vier, en sy verlang hartstogtelik na Willis. Kandy is egter nie goed vir haar nie. Hy is ’n dominerende vaderfiguur, maar sy bly by hom omdat hy ryk is en sy afhanklik is van sy sorg; boonop voel sy te swak om haar te verset (240). Daar is oomblikke dat sy relatief tevrede voel in sy teenwoordigheid (282), maar dit word spoedig deur ontnugtering vervang. Pleks dat hy haar vry maak, is sy weer in ’n verslawende verhouding. Die besef dring al sterker tot haar deur: “Iets is bitterlik verkeerd” (271).

’n Huwelik word beplan, ’n besluit met ’n belofte van sekuriteit, maar dis ’n huwelik sonder liefde, en dis Kandy wat die reëls bepaal. Sy moet na Sri Lanka gaan, sy vaderland, en daar moet sy maer word vir die troue. Hy sê watter middels gebruik moet word vir dié doel: Sy kry ’n slaapmiddel wat heeltemal te sterk is vir haar (272) en word met verbode chemikaleë gevoer (279). Die finale wending kom wanneer sy ’n ontstellende DVD sien waarby Kandy ook betrokke is. Sy besef nou dat sy in lewensgevaar verkeer en slaag daarin om van Sri Lanka te ontsnap.

Clifford. ’n Patroon word in haar verhoudings gevorm van tydelike bevryding gevolg deur teleurstelling. Dit ervaar sy by Willis, nog meer by Kandy, en die ergste by die derde man in haar lewe: Clifford. In hierdie verhouding is die belofte van geluk sowel as die ontnugtering die sterkste. Van die drie mans is Clifford die meeste soos haar pa. Hy was in ’n ernstige motorongeluk en is fisiek gestremd, soos haar vader. Hy maak moeilikheid net waar hy gaan, maar dit is vir vroue aantreklik (303), en hy kan hom allerlei seksuele plesiere veroorloof (310). Nie verniet dat hy haar aan haar pa herinner nie (320): Soos haar pa is hy op geldmaak gefokus (310), en in moeilike situasies weet hy hoe om los te kom. Clifford het baie respek vir haar pa (320) en tree in sy diens. Hulle is voëls van eenderse vere.

Naas hierdie waarskuwingstekens is daar ook eienskappe van Clifford wat hom baie aantreklik vir haar maak. Dit is hy wat (op haar pa se instruksies) vir haar in Sri Lanka gaan haal; hier tree hy as ’n verlosser op. Anders as haar pa, aanvaar hy haar soos sy is, oorgewig en al (304), en aanvaarding het sy dringend nodig. In haar gevoel van swakheid verlang sy na ’n Tintin wat haar lewe in die regte rigting kan lei, en sy hoop dat Clifford vir haar “die onrondfokbare Tintin” sal wees (303). Maar die verhouding lei tot ’n nuwe verslawing: Hy neem die leisels oor en vereis totale onderdanigheid van haar (327). Hy verlos haar wel van die verlange na Willis maar, ironies, domineer hy haar lewe nog meer as Willis. Sy kan net nie van die verslawende patroon in haar lewe wegkom nie.

Sy ontdek dat Clifford nie net ’n sterk persoon is nie. Hy het ’n onnatuurlike band met sy moeder, en by haar tree hy soos ’n klein kindjie op. Willemien dink dat hy eintlik twee persone is met twee verskillende name: die sterk Clifford en die swak Colin. Sy swakheid kom nog duideliker uit in sy dwelmverslawing: “Crack. tik. Cocaine” (335). Die skelmstreke wat Clifford/Colin verrig om dwelms te kry, raak al hoe erger. Die geld verdwyn uit haar beursie; hy bied herhaaldelik haar motor aan as sekuriteit vir die dwelmverkopers; en soms moet hulle skuiling soek in sy ma se spaarkamer om van die dwelmbase wat betaling eis, weg te kom. Hy vlug telkens wanneer hy in die moeilikheid is, met die gevolg dat die herinnering aan die verwerping en verwaarlosing van haar pa al hoe sterker word. Tereg sê haar suster, wanneer hulle haar dilemma bespreek: “Jy het nie regtig in Parow ingetrou nie, jy het in Pa se tipe lewe ingetrou. Jy het Pa se lewe in jou eie huwelik herskep” (344).

Op ’n aand gaan sy saam met hom na een van sy dwelmhole om te sien wat daar aangaan. Dit word ’n nag van verskrikking. Sy word gedwing om ’n dwelmmiddel te gebruik, en die gevolge daarvan is erger as enigiets wat sy nog ervaar het – sy voel lewend dood (344). Weke daarna is sy ’n wrak en voel sy of ’n bose mag haar dophou (344).

Wanneer sy uitvind dat Clifford ’n ander vrou swanger gemaak het, is dit die laaste strooi. Sy ry hom met haar Mini om, soos wat haar vader haar omgery het (363). Daarmee pleeg sy op ’n manier wraak op Clifford sowel as op haar pa; maar soos in die verlede met haar pa, word haar woede gevolg deur vergifnis, wat ’n helende uitwerking het (363).

Clifford sterf op betreklik vroeë ouderdom aan ’n hartaanval. Van die drie mans in haar lewe is hy die een wat die naaste aan haar pa kom en wat die diepste in haar lewe ingegryp het. Dit is nie ’n wonder nie dat sy Clifford se as saam met die kluis van haar vader na die Richtersveld neem om dit by ’n krans af te gooi as ’n teken dat die pynlike verlede agtergelaat word.

Eetsteurnis

Willemien ly aan ’n ernstige eetsteurnis, waaroor Nini Bennett insiggewend in haar resensie-essay oor die roman vir LitNet Akademies skryf. Daar kan verskeie redes vir Willemien se obesiteit wees. Een moontlikheid is dat sy haar daardeur met haar pa vereenselwig wat ’n gestremde liggaam het (27). Maar haar vetsug is ook ’n vorm van protes teen die verwagtinge van haar vader, wat steeds eis dat sy maerder moet wees. Belangrik is ook die feit dat eet die hartseer wegneem (35). Wanneer Willis haar verlaat, word sy in ’n kort tydjie 38 kilogram swaarder. Sy ervaar: “Kos skep illusies. My lyf het my spens van smarte geword. Hier word my versamelde trauma en diepe teleurstelling uitgestal” (94). Miskien is die oorgewigtoestand ’n onbewuste manier om die aandag op haar traumas te vestig sodat sy simpatie kan ontvang.

Die ander uiterste van haar eetsteurnis is anoreksie. Sy vind dat hongerpyne die ander pyne wegneem (182); “hoe swakker my lyf, hoe sterker voel ek” (178). Kos word vroeg reeds die sentrale fokus van haar lewe: “Teen die tyd dat ek in standerd drie kom, is kos – wat om te eet en wat om te vermy – ’n landskap met landmyne van keuses. As ek verkeerd kies, is alles daarmee heen. Daarom is dit makliker om net heeltemal op te hou eet” (126).

Fisieke perfeksie word as ideaal gesien en daarom is dit, wanneer ’n troue met Kandy beplan word, ’n vereiste dat sy maer moet wees – wat ’n rampspoedige effek op haar gesondheid het. Volmaaktheid is ’n gevaarlike ideaal, want wanneer dit nie bereik word nie, lei dit tot selfveragting: “Ek sal my vir dae in ’n lieflike waas in eet tot ek weer so selfveragtend voel dat ek maar van voor af op die rondomtalie van eet en nie-eet klim” (191).

Haar maer liggaam is wesentlik ’n simptoom van ’n maerte in die siel; daarom is die titel van hoofstuk 10, wat oor haar eetsteurnis handel, “Tering van die siel”. Wat die liggaam en die siel albei nodig het, is liefdevolle aanvaarding.

Dwelmverslawing

Die donker wêreld van dwelmverslawing word uitvoerig in die roman uitgebeeld. In die VSA ontdek Willemien ecstasy, en dit word die nuwe liefde in haar lewe (230). Hierdie “liefde” moet as plaasvervanger dien vir die geliefde wat in haar lewe ontbreek. Soos voedsel, bied dwelms vir haar ontvlugting van die pyn (237).

Tydens ’n naweek in San Francisco saam met ’n groep dwelmgebruikers verloor sy haar bewussyn as gevolg van ecstasy. Wanneer sy bykom, ervaar sy die bisarre wêreld van die dwelmverslaafdes. Haar kop is op die skoot van ’n man met die naam van Light Coming Toward You, en hy is besig om haar tandvleis te masseer, blykbaar om die lig te laat deurbreek. Allerlei “wyshede” word op hierdie plek verkondig. ’n Vrou wat op die toilet sit, kom met die volgende advies vorendag: “Maak oop die monde en konsentreer op die anus sodat die kanaal van bo tot onder ontvanklik is. So het ek al van my beste openbaringe ontvang” (265).

.......

Willemien se toevlug tot dwelms en die kontak met dwelmverslaafdes is ’n uiting van die verlange na bevryding van die vader en na ’n egte spirituele lewe.

........

Willemien se toevlug tot dwelms en die kontak met dwelmverslaafdes is ’n uiting van die verlange na bevryding van die vader en na ’n egte spirituele lewe. Sy sê vir haarself: “Neem soveel chemikalieë of plante moontlik in om my pineale klier oop te skiet; kom onder Pa se beheer uit; maak kontak met die ware SkepperGod” (238).

Die titel van hoofstuk 12, “Op soek na Pniël”, wat oor dwelmgebruik handel, suggereer ook dat die dwelmgebruik ’n teken is van verlange na ’n transendentale werklikheid. Dit word bevestig deur Willemien se besoek aan Carmel, waar Zerubbabel die volgende vir haar sê: “Maar pomelo's are divine spheres, jy weet? Die Here se vrugtepêrels [...] Ek wil God sien, man” (284). Karmel is in die Bybel die plek waar Elia die profete van Baäl verslaan het (1 Konings 18), en Serubbabel was die goewerneur onder wie se leiding die tempel van Israel herbou is (bv Esra 5:2). Ondanks die Bybelse naam van die plek word Willemien uitgenooi na ’n aktiwiteit wat nie juis Bybels is nie, op ’n bed saam met drie mans en twee vrouens (289).

Trauma en heling

Willemien se reis na die Richtersveld saam met haar suster is ’n reis na heling. Vroeg in die roman word die doel van die reis duidelik geformuleer:

Wat soek ek? Vergifnis en om te vergewe. Vrede. Dat ek en Pa weer oukei met mekaar sal wees. Dat my suster begrip sal hê hoekom ek my lyf so afgeskeep en my greep op myself heeltemal verloor het. Dit moet reg wees sodat ek uiteindelik na my eie lyf en lewe kan terugkeer. (16)

Haar suster het ’n goeie begrip van die invloed van trauma op Willemien. Hier bo is reeds genoem hoedat sy aan Willemien verduidelik dat sy haar pa se lewe wou herskep deur haar huwelik met Clifford. Dit is tipies van die gedrag van ’n getraumatiseerde persoon om terug te keer na die bron van verwonding in ’n poging om die trauma te transformeer. Meestal lei dit egter slegs tot nuwe variasies op die trauma van die verlede. So word die slagoffer se lewe dan steeds vanuit ’n traumatiese verlede bepaal. Willemien se suster gee ’n goeie uiteensetting van die situasie:

My suster noem die sielkundige verskynsel waar veral vroue die emosionele landskap van hul kinderdae herskep, gewoonlik in hul keuse van ’n man. Ons almal weet van dogters van alkoholiste wat die hele siklus herhaal deur self met ’n alkoholis te gaan trou. Dis omdat daar ’n onbewuste behoefte is om die problematiese omstandighede waarin hulle grootgeword het, op te los. “To get closure for the trauma they endured.” (345).

Die reis na die krans in die Richtersveld is ’n reis na afsluiting. Ek het reeds genoem dat Willemien die as van Clifford by die krans wil afgooi – daarmee wil sy die rampspoedige effekte van hierdie verhouding agter haar laat. Ook die kluis van haar vader moet by die krans af. Die suggestie is dat sy nooit haar vader sal deurgrond nie (die kluis is steeds toegesluit), maar sy invloed op haar gedrag moet tot ’n einde kom. Ook haar pa se jas moet by die afgrond af. Sy pas die jas aan, en dit pas haar perfek (373). Aan die een kant is dit ’n teken van versoening – die jas word eers aangetrek voordat dit van die krans afgegooi word. Sy erken daarmee haar liefde vir haar pa, en dis ’n liefde wat die vrees kan oorwin (367). Maar sy moet afstand van die jas doen, want dis ’n deel van “die gewig waarvan sy ontslae wou raak” (374). Die jas verteenwoordig een oomblik van geborgenheid met die vader wat sy haar lewe lank wou herskep het.

Willemien het ’n silwer stafie aan haar pa se kluis vasgemaak. Daar is ’n verband tussen die silwer stafie, die pineale klier en die derde oog (267). Die stafie bevat ’n suggestie van hoop vir haar pa, dat hy sy spirituele kant nie verloor het nie en dat hy by sy dood veilig na die oorkant gelei sal word: “'Ja, Pa. Jy is nou in die Rooisee. Volg Hom net. Dis ’n baie nou paadjie, maar Hy sal Pa anderkant uitlei. Ons is almal Rooiseelopers” (370–1).

Sy het tot insig gekom oor die verhoudings van die verlede: “Dit was net liefde en wellus op die laagste vlak. As jy nie van beter weet nie en niks het om dit mee te vergelyk nie, kan donkiedrolle as poeding opgedis word” (364). Sy is nou gereed vir ’n ander tipe verhouding wat heling sal bring en ’n nuwe lewe moontlik maak: “Hierdie keer soek ek die hoogste. Om van bo na onder te lewe. Gees tot gees en dán volg die samesmelting van die liggame” (364).

Deur haar vertellings aan haar suster word die traumatiese verlede gekonfronteer en verwerk. Ook die verhouding met die suster word herstel. As kind het sy ervaar dat hulle pa liewer is vir haar suster as vir haar. Die suster, vir wie die pa die liefdesnaam Precious Cargo gegee het, het ’n mooier figuur as Willemien gehad en die pa was meer besorg oor haar as oor Willemien (64). Maar Willemien se verhouding met die suster word nou versterk omdat die suster gewillig is om na Willemien se uitvoerige bekentenisse te luister en simpatiek daarop reageer (96). Daar het heling gekom deur wedersydse begrip en vergifnis: “By ons finale bestemming, iewers tussen die onherbergsaamheid van Kuboes en Sendelingsdrif, kampeer ek en Precious Cargo, nou susters wat hul konneksie herstel het. Begrip en vergifnis los selfs die bitterste wrokke en verwyte op” (374).

Die naamlose man

Aan die einde van elke hoofstuk, behalwe hoofstuk 13, word vertel van ’n man wat op reis is en verskillende plekke aandoen. Die skuins druk dui aan dat hierdie gedeeltes nie deel vorm van Willemien se vertellings aan haar suster nie. Dit handel oor ’n man van wie sy vaagweg bewus is, in haar onderbewussyn, maar wat skynbaar op pad is om haar te ontmoet. Wie is hierdie man wat na haar toe wil kom?

Daar is verskillende interpretasies moontlik, en die een hoef nie die ander uit te sluit nie. Die man kan haar vader wees, of haar alter ego, of ’n geliefde man, of ’n hemelse Geliefde.

.......

Daar is verskillende interpretasies moontlik, en die een hoef nie die ander uit te sluit nie. Die man kan haar vader wees, of haar alter ego, of ’n geliefde man, of ’n hemelse Geliefde.

........

Aanvanklik is daar heelwat parallelle tussen die man en haar pa. Soos haar pa, is hy ’n gereelde reisiger; hy is in Namibië gebore en het na die VSA verhuis (60). Willemien se reis is inderdaad ’n reis na die vader, om oor hulle verhouding na te dink en versoening met die vader te bewerk. Dit is belangrik om in haar gemoed met hom versoen te raak voordat sy hom eendag in die hiernamaals ontmoet. Sy glo dat hy in die nadoodse lewe aan die verander is en wonder of sy hom daar sal herken. Terwyl sy na Eric Burdon se lied oor hergeboorte luister, dink sy aan die woorde wat sy agter in haar notaboekie geskryf het en wat moontlik op haar en haar pa van toepassing is:

Sal hy my erken en ek hóm wanneer ons mekaar van Pniël tot Pniël betrag? Nie Pa of Burdon nie. Daai één. Die een wat ek weet ek bestem is om mee te versmelt.

Hoe lyk die plek waar jy skielik wakker word en hier staan die één voor jou? Iemand wat al ’n leeftyd wag dat julle paaie op die regte oomblik, op die regte dag en plek kruis. (24–5).

Die naamlose man was, soos haar vader, in Thiumphu, die hoofstad van Bhoetan, maar hier begin verskille tussen die man en haar pa na vore kom. Die pa het daar herberg in ’n klooster gekry, “maar nie lank genoeg vertoef om diep geestelike waarhede te ontdek nie” (147). Die man, daarenteen, gaan op ’n staptog na Thiumphu met ’n geestelike doel. Hy wil vir veertig dae alleen wees sodat “sy wese laag na laag van die alledaagse gestroop word”. Hy glo: “Om jouself werklik skoon te maak, jouself uit te giet sodat jy gevul kan word, beteken die betreding van heilige grond” (194–5).

Die man kan ook as haar animus beskou word. Tydens ’n mistieke ervaring prewel Willemien: “Ek was eers Sneeuvlokblom [...] Maar nou is ons twee. Ek en hy. Ons speel wegkruipertjie op Planeet Aarde. Dis sy beurt om my te kom soek” (142). “Sneeuvlokblom” kan dui op die reine onskuld wat sy verloor het, maar dit kan ook slaan op haar animus, haar “ander helfte” na wie sy verlang. In die skrywer se erkennings agter in die boek bedank sy onder andere vir “Sneeuvlokblom – die man wat een stel spore in my hart trap”. Die suggestie is dat Anoeschka von Meck die man gevind het na wie in die roman gesoek word. Die frase “die man wat een stel spore trap” word ironies in verband met Willis gebruik, maar in die erkenning is daar geen ironie nie. So kom fiksie en feite by mekaar uit.

Die naamlose man is ’n geesgenoot van Willemien, een by wie sy tuis sou kon wees. Hy wil, soos sy, van sy ou lewe afskeid neem – hy was onrein, soos iemand wat rioolwater gedrink het, en hy verlang na ’n hergeboorte. Hy neem afskeid van ’n vrou wat nie meer by hom pas nie, soos wat Willemien van die verkeerde mans in haar lewe afskeid geneem het (122). Soos Willemien, reis hy na Sri Lanka (143–4). Hy is op haar spoor, omdat hulle bymekaar hoort – dis asof hulle van altyd af vir mekaar bestem was. Willemien onthou: “As klein dogtertjie was ek oortuig dat ek reeds getroud was met ’n man met wie ek herenig sou word” (75). Die feit dat sy die man nog nie ontmoet het nie, wek in haar ’n verlange, ’n gevoel dat sy iets vermis (75–6).

Dis ’n wedersydse verlange, want hy verlang ook na haar, al het hy haar nog nie ontmoet nie:

Ek praat met jóú! Jou plek is hier by my en vanaand laat ek jou weet dat ek binnekort jou spoor gaan vat en jou kom haal. Ek weet nog nie wat jou naam is nie, maar ek sal uitvind. Ek weet jy bestaan, nes jy mý kan aanvoel. Wanneer ek op plekke kom, weet ek dikwels met elke sel in my dat jý eens deur daai einste stuk ruimte beweeg het [...] Ek is op pad na jou toe. (268)

Die einde van die óú lewe word in die vooruitsig gestel. Die man droom hy reis deur “stinkende moerasse”, maar hy kom dan by ’n rivier met vars water uit. By hom (in die droom) is ’n vrou wat telkens nie verder kan gaan nie, omdat sy ’n swaar rugsak dra en daar ’n massiewe slang om haar skouers gekrul is. Die gids op hulle reis herinner hulle daaraan dat die slang ’n reg op haar het net solank sy dit toelaat. “Hy is nie jou baas of eienaar nie, maar ’n oorwonne vyand wat met jou kop smokkel” (328). Die droom hou duidelik verband met Willemien, wat ook ’n swaar las dra en wie se verhouding met Clifford ooreengekom het met “twee slange wat om en om mekaar krul” (328).

In Israel vind die man ’n ou eksemplaar van ’n Tintin-storie, in Afrikaans vertaal, met ’n e-pos-adres agterin neergeskryf. Willemien se suster gee vir die leser die oplossing van die raaisel: Sy het ’n Tintin-boek van Willemien wat sy by haar gehad het op ’n reis na Israel, daar agtergelaat; ’n man het dit gevind en daarop gereageer deur vir haar ’n e-pos te stuur. Die suster verseker Willemien dat hierdie man hulle êrens op die pad sal vind (378). So word die twee verhale verbind: die verhaal van Willemien en die verhaal van die naamlose man. Hy is nou warm op Willemien se spoor, en haar suster dien as skakel tussen die twee.

Die uiteindelike ontmoeting word nie beskryf nie, maar wel verwag. Die verwagting word versterk deur die beskrywing van die mistieke ervaring wat die man in Israel het. Die waarskynlike ontmoeting tussen Willemien en die naamlose man kry daardeur ’n geestelike betekenis – dit sal ook ’n ontmoeting wees met ’n goddelike Geliefde wat die twee bymekaar gebring het. Die hoop word gewek dat Willemien uiteindelik ’n betroubare liefde sal vind en by die nuwe lewe sal uitkom waarna sy so lank gesmag het.

Die religieuse tema

Ek wil nie die pret bederf van diegene wat nog nie die roman gelees het nie, daarom sal ek nie die slot van die roman, wat die temas van mistiek, vergifnis en hergeboorte tot ’n aangrypende klimaks bring, ontleed nie. Ek wil alleen enkele simboliese elemente bespreek wat in die slottoneel prominent na vore kom, maar ook in die res van die roman aanwesig is: die leeu, die tabernakel, die Rooi See en Pniël.

’n Maanhaarleeu kom ’n paar keer in die verhaal voor. Die leeu word algemeen as die koning van die diere beskou en simboliseer hier die goddelike Heerser oor hemel en aarde. Die leeu in hierdie roman het my laat dink aan Aslan, die leeu wat in al die Narnia-kronieke van CS Lewis voorkom en ’n simbool van Christus is. In Die heelal op my tong word sy spore soms gesien (32–4), en hy word met “die Here se praat” verbind (83). In die slottoneel verskyn hy vlugtig en verdwyn dan in die allerheiligste deel van die tabernakel.

Die verbinding van die leeu met die tabernakel is van besondere belang. Die voorstelling van die tabernakel wat die naamlose man in Eilat te siene kry, word op bl 380 beskryf, en kom ooreen met die Bybelse beskrywing daarvan (vgl Eksodus 36–8). Die Allerheiligste is die Plek van Ontmoeting waar die hoëpriester een keer ’n jaar moes ingaan om in die teenwoordigheid van Jahweh versoening vir die volk te doen nadat die nodige sonde-offers gebring is. Voor die ingang tot die Allerheiligste was daar ’n gordyn, die voorhangsel genoem, wat die ingang versper het.

In die tyd van koning Salomo is die tabernakel, wat van plek tot plek gedra kon word, vervang met ’n permanente tempelgebou, maar die offerrituele en die basiese ontwerp van die tabernakel is behou. Daar was byvoorbeeld nog steeds ’n offeraltaar en ’n voorhangsel wat die Allerheiligste van die res van die tempel geskei het. Maar nou merk die naamlose man dat die voorhangsel geskeur is (380). Dit is ’n verwysing na die voorhangsel wat geskeur het toe Jesus aan die kruis gesterf het (Matteus 27:51). Die simboliese betekenis van die geskeurde voorhangsel is dat die offer van Jesus aan alle mense te alle tye toegang tot die teenwoordigheid van die Here verleen.

Die verwysings na die Rooi See en die “Rooiseeloper” verbind twee Bybelse verhale met mekaar. Die naamlose man vertoef langs die Rooi See en “verwag amper om Iemand oor die water aangestap te sien kom” (381). Die herinner aan vertellings in die Evangelies van Jesus wat op die water geloop het (bv Matteus 14:22 ev). Nog sterker herinner die verwysings na die Rooi See (ook Rietsee genoem) aan die Israeliete se uittog uit Egipte (Eksodus 14) toe die Rooi See voor hulle oopgegaan het sodat hulle veilig kon deurtrek, maar toegegaan het oor die Egiptenare wat hulle agtervolg het. Daardeur kon die Israeliete ontkom aan die slawerny in Egipte en voort trek na Kanaan, gelei deur ’n wolkkolom in die dag en ’n vuurkolom in die nag, simbolies van die Here se leiding. Hierdie verlossing is daarna jaarliks herdenk met die Pasgafees. Jesus se dood het saamgeval met die viering van die Pasga, en sy sterwe het ’n verdere simboliese betekenis aan die gebeurtenis verleen. Die verlossing van die slawerny in Egipte word verbind met die verlossing uit die slawerny van die sonde.

Die herhaalde verwysings na Pniël dui op Jakob se worsteling met God by die Jabbokrivier (Genesis 32). Jakob het die hele nag deur met ’n man gestoei sonder om sy naam uit te vind, maar dit word algaande duidelik dat die Man in werklikheid God self is. Daarom noem Jakob die plek Pniël, wat “aangesig van God” beteken. Die Man seën Jakob en gee aan hom ’n nuwe naam, simbolies van hergeboorte. Daarom, wanneer Jakob van die Jabbok wegtrek, is die nag verby en kom die son op.

Die heelal op my tong

Anoeschka von Meck het ’n hele wêreld in woorde geskep met Die heelal op my tong. Die idee van ’n woordwêreld word deur oupa Psalm, die dominee, geopper:

“God het deur klank geskep,” vertel oupa Psalm altyd. “Dis hoekom ons altyd moet let op wat by ons mond uitkom. Dis met hierdie ding,” beduie Oupa na sy tong, “wat mens die wêreld om jou skep.” (125)

God skep deur klank, en die mens boots hom na. Soos Van Wyk Louw geskryf het:

Iets staan in sterre-en-helderte geskryf;
en ek skryf ná in stof.

                (“Ex unguine leonem” uit Tristia)

Dit beteken dat die roman nie net die werklikheid wil weergee nie, maar ook die werklikheid wil verander, ’n nuwe werklikheid wil skep. Skryf is ’n manier om betekenis aan die lewe te gee: “Woorde kan gerangskik word op maniere wat sin gee aan die sinnelose” (23). Skryf is ’n anker (13), vir Willemien en by implikasie ook vir Anoeschka von Meck. Die skryf moet heling bring, en daarvoor is konfrontasie met die traumatiese verlede noodsaaklik, wat met woede gepaard gaan. Daarom is haar woorde dikwels “taalkoeëls wat [...] seermaak” (125). Willemien stel ’n hele lys vloekwoorde op (125) waarmee sy kan seermaak soos wat sy seergemaak is. Sy ontgin die taal tot die uiterste en skep ’n hele reeks neologismes, gevul met woede maar ook met humor, want “laughter is the safest way to cry” (31).

'Woorde het krag. Dit kan jou bind of vryspreek' (360). Die woorde van Die heelal op jou tong openbaar al die dinge wat Willemien in die verlede gebind het, maar uiteindelik bring die woorde ook bevryding, heling en hoop.

 Lees ook:

Die verevrou deur Jan van Tonder – ’n bespreking

Boekklubs, boeke lees en boeke praat ten tye van ’n pandemie

Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden: ’n leeskringbespreking

Korona is erger na rook

Lesersindruk: Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck

 

Die heelal op my tong: ’n onderhoud met Anoeschka von Meck

LitNet Akademies-resensie-essay: Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top