Die heelal op my tong: ’n onderhoud met Anoeschka von Meck

  • 1

Anoeschka von Meck (foto: verskaf)

Titel: Die heelal op my tong
Skrywer: Anoeschka von Meck
Uitgewer: 
Penguin Random House
ISBN:
 9781485904106

Anoeschka von Meck praat met Naomi Meyer en Liné Loff oor Anoeschka se Die heelal op my tong.

NM: Anoeschka, Die heelal op my tong is opgedra aan jou pa, en dan volg die aanhaling uit Spreuke. Vertel my van die rol van jou pa én van die Bybel in jou lewe.

Hierdie is twee afsonderlike vrae.

Ek sou graag by die boek wou hou eerder as oor my eie persoonlike lewe praat, hoewel ’n skrywer sonder twyfel nie anders kan as om uit hul eie verwysingsraamwerk te skryf nie. Dit sal ek wel verduidelik. Na my pa sy liggaam verlaat het, het ek net daar by sy hospitaalbed bly sit en ek kon hom steeds nie groet nie. Ek het net oor en oor bly sê "Oukei, Pa. Dis alles oukei." Sou ek iets meer wou sê, was ek bang Vloog Theron word net daar wakker met "Goets, hou tog op om so dramaties te wees! Dis net ’n lyf. Is hier melk?"

Die saluut voor in die boek voel asof ek iewers op ’n krans staan en teenoor my, op ’n ander krans – net naby genoeg dat ons nog vir mekaar kan waai – sit Pa op sy perd. Dis die naaste aan koebaai wat ek seker ooit sal kom.

Die aanhaling uit Spreuke gaan oor die skeppende krag van ons gedagtes en wat ons uitspreek. Klank is energie. Elke woord wat ons só bemagtig, is saad wat in die geestelike ruim geplant word en een of ander tyd kom daai oes in ons lewe op. Die boek is voltooi in die Joodse jaar 5780, die Jaar van die Mond. En dink maar daaraan – maskers wat ons monde toesnoer, wette wat verbied dat ons sing as ons die Skepper aanbid, oneindige politiese uitsprake, verwarring, George Floyd se "I can’t breathe." Wat gaan elkeen van ons maak met hierdie ontsettende verantwoordelikheid? Watter realiteit en toekoms is ons besig om opinie vir opinie te skep?

NM: Vertel asseblief ook hoe die titel van die boek oor jou pad gekom het.

Die boek was vir jare bekend as Delete, maar voor ek dit kon klaar maak, verskyn daar toe ’n pornografiese boek oorsee met ’n soortgelyke titel. Ek was bitterlik teleurgesteld dat ek my titel kwyt was. Daarna het die boek verskeie titels gehad, onder meer Vir wie die jas pas, Dollarboer, Lewe in ’n lucky packet, ’n Kluis, kaas en die kosmos. Elke keer het die titel net ’n rukkie gehou, want ek het gevoel die klem val nie presies waar ek dit wou hê nie. ’n Vriendin van Paternoster, Marina Enslin, het my herinner aan ’n droom wat ek in standerd 6 in die koshuis gehad het. Iets wat ek al vir dekades lank vergeet het. Uit daai gesprek is hierdie titel gebore en toe ek dit het, was alle twyfel summier weg. Dis nou die tipe vriende wat wraggies goud werd is!

NM: Hoekom het jy die boek geskryf? En hoekom nou?

In my navorsing vir my PhD het ek begin vies raak oor hoe vetsugtige karakters oor die algemeen uitgebeeld word – absoluut stereotipies! Dit het my laat besluit om te probeer om my eie vetfiksie, met ’n outentieke hoofkarater, te probeer skryf. Boonop was ek al lankal lus om ’n lekker boek te skryf oor ’n faktap lewe, maar dit moes nie ’n treurmare wees nie. ’n Boek wat ek self sou geniet om te lees. Ek skryf al jare nou en dan aan hierdie boek, maar die spertye van my graad het my gedwing om uiteindelik klaar te maak. Hiervoor is ek baie dankbaar. (Lyk my as oudjoernalis kom ek aan die gang eers as daar genoegsame druk en ’n afsnypunt is!)

LL: Jou storie se storielyn is nie chronologies nie. Hoe het die skryfproses vir jou gewerk?

Daar is ’n ou gesegde dat alles in ’n sirkel beweeg en dat nes die seisoene, die meeste dinge daardie eienskap besit. Ek hou daarvan om te dink ek skryf in spirale waarvan die een op die ander bou. Die chronologiese verloop van ons lewens is in elk geval ’n tipe illusie. As jy voor ’n baie lang trein staan en wag, sien jy net die trokke verbybeweeg, maar nie die voorpunt of einde van die trein nie. Jy ervaar jou lewe blokkig. Een ding volg op ’n ander. Sou jy hoog die lug in opgaan, sou jy egter die hele trein kon sien: die begin, sowel as die einde. Sou jy nóg hoër opstyg, sou jy ontdek waar die spoor loop en dat dit in ’n reusepatroon weer met alle punte konnekteer. Dit is hoe ek die Skrif verstaan wat sê dat God die einde van die begin af roep – alles is reeds daar: gelyktydig. ’n Chronologiese ervaring van ons lewe bestaan moontlik sodat ons die Beminde daarin kan nooi om "terug in tyd" vir ons restourasie te bring in situasies waar ons beseer, ontnugter, gewond, teleurgestel, in die steek gelaat of getraumatiseer is. Dis is genade.

LL: Is daar te min vet hoofkarakters in die letterkunde, of selfs vet newekarakters wat nié belaglik is of die voorwerp van spot of minagting is nie? Hoekom het jy besluit om juis uit daardie perspektief te skryf?

Ja, beslis. Ek sou graag ander Suid-Afrikaanse skrywers wou aanmoedig om egte karakters in vetfiksie te skep.

LL: Daar is ironie aan ’n opmerking wat jy in die roman maak, naamlik dat jy vir die samelewing toenemend onsigbaar raak hoe groter jou lyf word. Hoekom is dit die geval? En is dieselfde waar vir diegene aan die ander kant van die spektrum wat maerder word juis met die doel om uiteindelik heeltemal te verdwyn?

Dit blyk ’n algemene menslike verskynsel te wees dat mense só seer, magteloos of oorweldig in hul eie lewens voel dat hulle net exit. Daar is ’n magdom maniere waarop mense dit doen – vir sommige is dit om jou in ’n ander lyf in te dink. Dink, ja, en nie eet / ophou eet nie, want voor ons dít doen wat ons oorspronklike voorkoms sodanig verander, was die saad (van verwerping, selfhaat, disassosiasie ens) iets wat lankal reeds in ons emosionele landskap opgekom het. Jy voel/dink aan jouself as verstote en verwerplik lang jare voor jy dit na buite begin manifesteer. Jou liggaam gehoorsaam wie ook al die sterkste binne jou praat, naamlik jou siel, of jou gees.

Ek het eens iemand se dagboek gesien wat in ’n rehab was, wat ek nooit kon vergeet nie omdat dit met soveel pyn gekrap was. Sy het blaaie vol geskryf van net één sin: "I am unlovable. I am unlovable. I am unlovable." Hoeveel van ons is nie heimlik oortuig dit is ook waar van ons nie?

LL: Voel jy jy het met die skryf van Die heelal op my tong jou eie ervarings in ’n nuwe vorm gegiet, soos die spreker in die roman haar gees in ’n nuwe liggaam wil giet? Het jy in die proses sekere waarhede en die verlede vir jouself oopgeskryf?

Ek geniet dit dat sommige lesers oortuig is hierdie is wel my outobiografie, en het besluit om dit as ’n kompliment te beskou. Hierdie is die ervaringe van karakters wat ek geskep het en as ek hul so oortuigend kon aanbied dat mense daaroor wonder, is ek in my skrywersnoppies! Ja, sommige is deur werklike mense geïnspireer, maar daarna het hul ’n bestaan van hul eie gekry. Soos reeds in ander onderhoude genoem, is die aanloop tot my pa se dood en sy eienaardige begrafnis wel gebaseer op ware gebeure wat ek "versprokie" het. ’n Herinnering wat hom wel aangemeld het tydens die skryfproses, was die feit dat ek twee keer op laerskool ontvoer was. Ek het dit vergeet. Nie omdat dit onderdrukte trauma was nie, maar omdat dit heel moontlik net nie genoeg saak gemaak het om te onthou nie. In die werklike lewe is my een broer saam met my ontvoer en ons is ongeskonde na ’n paar uur weer afgelaai.

LL: Jy lewer baie kommentaar op die menslike toestand en lesers gaan hulle waarskynlik geweldig met dit wat jy sê, kan vereenselwig. Honger en eet is natuurlik geweldig universeel. Wil jy miskien iets sê oor fisieke en geestelike honger en die pogings om daardie honger te stil.

Die meeste van ons op Planeet Kindergarten leer nog ons kwyllappies en doeke beman. Ons het geen benul wie ons regtig is nie, maar in elkeen hunker daar konstant iets wat ons soekend na Waarheid maak. Party mense hou hulself geweldig besig om juis hierdie hunkering te onderdruk ten alle koste. Soms bevredig ’n geloofstelsel, verhouding of ons indrukwekkende werk- en gym-skedule ons vir ’n ruk, maar die oomblik wat dit bedreig word of ons wêreld begin gek en onverklaarbaar raak, is ons terug by daai flipping vraagteken. Maak nie saak hoeveel sterrevoorspellings ons lees, of geposeerde foto’s op FB wys hoe ons die lewe geniet nie, om oortuigend ons kwansuise self te bly is harde werk. Dit veroorsaak ’n onversadigde innerlike leegte – juis agter daai ewig glimlaggende cocktail selfies, want binne-in elke wese is ’n kompas wat aan ’n oorspronklike en Goddelike bloudruk en herkoms herinner. En heng, is ons nie skytbang om te ontdek ons is moontlik soveel méér as wat die wêreld-matrix ons van probeer oortuig nie!

Lawa (foto: Pixabay.com)

NM: Nie net vetsug het een kant nie. So ook positiwiteit – dit kon jou krag gee én jou uitput. Vulkaniese energie, die onversadigbare behoefte aan erkenning, so baie energie wat hy uitstort en wat hy ook absorbeer, dis wat ek van hom lees. So as hy weg is, het jy ’n ander keuse gehad as om oor hom te skryf?

Weer eens: Daar is my biologiese pa en dan is daar die pa-karakter. Hulle oorvleuel beslis, maar dit is ook nie one and the same nie. Ek is al dikwels gevra om oor my pa te skryf, maar ek het geen behoefte om dit te doen nie. Om ’n verhaal op te dis waar daar ’n karakter is wat op hom geskoei is, maar tog ook verwyderd van die realiteit is, was vir my ’n uitdaging wat ek geniet het.

Afhangende van op watter vlak mens die verhaal betree, lê die klem nie noodwendig op die pa of selfs die dogter nie. Vir my is die Rooiseeloper wat die dogter se lewensbestemming keer op keer weer in die korrekte wentelbaan moet stuur, die kragbron van die verhaal. Willemien het egter steeds haar eie vrye wil, en wat sy kies sal bepaal of haar paaie met dié van die Onbekende Man sal kruis of nie.

NM: Sou jy hierdie storie kon geskryf het terwyl jou pa nog geleef het?

Dankie vir hierdie vraag! Dit is oorspronklik en die eerste keer wat iemand my dit vra. Nee, ek dink nie so nie. Tipies sou my pa vas geglo het die boek ís oor hom en sou hy die filmregte onmiddellik wou verkoop het terwyl hy aandring dat Tom Cruise die pa-karakter vertolk. Pa sou wel goed gewees het vir verkope, want ek kan nogal insien dat hy bakkievragte van die boek sou opkoop en dan met sý handtekening voor in, nuut sou verkwansel. Red my!

NM: Om die pa te bel wat oorlede is – sy praat hieroor met die suster wat nie bestaan nie. Wat in jou boek is waar, wat is fiksie? (Ek sien die sibbe is nie werklik die susters in jou storie nie, skryf jy in die bedankings en opmerkings agterna.)

Hierdie boek is nie net vetfiksie nie, maar ook bisarofiksie. Deel van die lekkerte van hierdie verhaal is dalk juis om te kan bespiegel wat is waar en wat nie. Ek meen ek het al genoeg hieroor gesê.

Ek is die oudste van ses en het agterin spesiaal vir my broers en suster verseker hulle is nie in die boek nie.

NM: Van jou ma hoor ons min. Net van haar gebede – dat sy jou "balls weggebid het". Vertel my van haar.

Heeltemal reg – my ma is nie in die boek nie. Daar is wel ’n ma-karakter. Sy het ’n komplekse verhouding met kos en weens haar natuurlike skoonheid ervaar sy dat haar man en die samelewing haar oordeel volgens hoe sy lyk. Uiteindelik maak dit haar rebels. Dit sluit in hoeveel sy weeg, en hoe meer sy nie gebeure in haar huwelik kan beredder nie, hoe meer probeer sy haar en haar dogter se gewig beheer. Die ma-karakter het ’n maniese vrees om nie vet te word nie en verkeer in ’n erge worsteling oor haar oudste dogter se toenemende gewig.

NM: As jou mond vol is, kan jy nie so baie praat nie. Op ’n manier ook terug by "die heelal op my tong". Waaroor is jy spyt dat jy dit gesê het? Noudat die boek uit is?

Goeie vraag, maar dit maak weer eens die aanname dat hierdie boek mý lewe is. Of verstaan ek jou verkeerd? In my eie lewe buite die boek het ek deesdae ’n baie ernstige besef dat elke enkele woord wat ek al ooit buite Vader se liefde uitgespreek het – teenoor myself én ander, asook ons land – ydel is en dat ek moet besef ek gaan verantwoording daarvan doen. Dit is my keuse om daarmee aan te hou en dus ook aan te hou dieselfde realiteit oor en oor vir myself te skep. Of ek kan ophou en nuut leer skep.

Die manuskrip is met 32 000 woorde gesny, dus het Willemien nog heelwat te sê gehad!

NM: Begin en eindig hierdie storie oplaas by die pa, nadat ’n volledige transformasie plaasgevind het? Is sy vry?

Weer eens, wat is die leser se invalshoek? Die pa-dogter-verhouding is wat bolangs aangaan. Daar is soveel meer. Die boek begin vir my by iemand wat soekend is (Willemien voor die hek van die verbode Area 51) en probeer vastrapplek kry in hierdie wêreld, en dit eindig by die Een wat die sonnestelsels soos klokkies aan die soom van Sy kleed dra. Dit eindig by ’n besluit. Willemien moet besluit gaan sy in die vrees van haar ego en vorige ervaringe van verwerping bly (haar pa, mans) of gaan sy nuut kies en die ontmoeting met die Onbekende Man toelaat?

Willemien – en ons – is elkeen so vry soos wat ons die Waarheid toelaat om ons te oortuig en te verander. Dít is per slot van rekening wat ons vry maak.

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top