Korona is erger na rook

  • 10

So hoor ons die ministers week na week sê. Maar hierdie pandemie-storie gaan net skramsweg oor rook. Dit het wel te doen met anagramme.

Leeskringe is ook swaar getref deur die inperking – ’n hele jaar se beplanning net so met die drein af, of nie? In Pretoria het Johan Talma, koördineerder van leeskringe, ons aangespoor om nie sommer handdoek in te gooi nie. Jakaranda-leeskring is nie die enigste leeskring wat die uitdaging aanvaar het nie. Ons ervaring was ’n aangename en verrassende belewenis.

Jason Reynolds (Foto: Shawn Miller/Library of Congress, Wikimedia Commons, CC0)

Lang pad onnetoe deur Jason Reynolds, en meesterlik in Kaaps vertaal deur Nathan Trantraal, is die boek waarop ons toe ons tegnologie-tande geslyp het. Dis ’n jeugboek vir mense van alle ouderdomme wat die verhaal van die vyftienjarige Will Holloman vertel. Hy moet binne die bestek van 67 sekondes ’n lotsbepalende besluit neem – gaan hy sy broer Shawn se dood wreek soos die straatreëls van hom verwag, of nie? Tydens sy rit met die hysbak vanaf die sewende verdieping, waar hy en sy ma alleen agtergebly het, klim daar op elke vloer ’n spook uit sy verlede in. Hierdie mense was almal slagoffers van dieselfde reëls en die wapengeweld wat daarmee saamgaan. Hulle bevraagteken sy onbekookte plan en hy hoor vir die eerste maal wat presies met hulle gebeur het – niks is soos hy gedink het nie. En hulle rook. Op die lang pad onnetoe raak dit al hoe meer dynserig in die “vertical doodskis” van ’n hysbak en sien hy al minder lig.

Dis ’n fassinerende boek wat hom geleen het tot ’n interessante gesprek. ’n Hartseer familieverhaal wat oor 15 jaar strek, met byna Middeleeuse ondertone van wraak, eer en blinde lojaliteit wat vir ons vreemd is. Karakters word met enkele hale geteken sodat jy hulle voor jou kan sien. Dit alles in kort verse of enkele woorde of sinne wat rondspring op halfleë bladsye. Dit verbeeld Will se verwarring en dit dwing jou om versigtig te lees en goed te kyk, ook vir wat nie gesê word nie. Dit herinner aan kletsrym. En les bes, in Kaaps, wat vir ons nog vreemd op die oor val en wat so gepas is vir die storie.

Nathan Trantraal (Foto: Liné Loff)

Ek het my notas opgeknip en oor vyf weke per e-pos uitgestuur. Dan het ons in die week daarna op WhatsApp daaroor gesels.

  1. Die boek, storie, skrywer en vertaler.
  2. Die tema van bendegeweld / wapengeweld.
  3. Die karakters en hulle wisselwerking.
  4. Die styl en meer oor vrye vers en verhalende poësie.
  5. Kaaps en ander variante van Afrikaans.

Die WhatsApp-gesprek was baie suksesvol. Almal gebruik dit deesdae en dit kom oor as ’n regte gesprek met vrae, kommentaar, weerwoorde en antwoorde – sommer dadelik of eers na ’n paar dae wanneer mens daaroor kon dink of iets op die Internet gaan oplees het. Die boek kry baie meer bespreking as by ’n gewone byeenkoms en negatiewe opmerkings is daar ook. En tussendeur kon ons mekaar herinner aan gratis toneelopvoerings en ballet en konserte, voorlesings van Jeanne Goosen se verse en Jeremy Vearey se NP van Wyk Louw-gedenklesing. Ons kyk met nuwe oë na rubrieke en artikels in Kaaps. Dit word veel meer as ’n boekbespreking.

Annemarie sê: “Was aanvanklik nie lus vir die boek nie, maar kon dit nie neersit toe ek eers begin het nie. Kan my amper nie voorstel dat dit in iets anders as Kaaps geskryf kan wees nie. Dit, saam met die styl, het my behoorlik vasgevang ...” En Eleine: “Watte vuisindiemaag begin ...” Wina het as gevolg van die inperking nog nie die boek in die hande gekry nie, maar wil niks mis nie.

Daar word gedebatteer of mens die boek in een sitting moet lees of stadig daaraan kou. “Nee, die boek kom nie tot sy reg nie en kan nie beoordeel word met vluglees nie,” sê Martie, ons rasieleier. Dalk moet mens ook hardop lees, want Kaaps lyk nog maar vreemd. Wens ons kon dit hoor. Niemand wil dit waag nie – ons bly te ver en hoor dit nie eintlik nie. Via LAPA kry ons ’n klankgreep waarin Nathan Trantraal sélf ’n paar bladsye voorlees. Ons beleef wat Johan Myburg onlangs gesê het – mens moet soms hardop lees, sodat sien en hoor sáám die rykheid van die teks kan inneem.

Stadig kou en herkou is ons voorland, soos die gesprek ons dwing om weer te lees. Karakters word uitgelig met foto’s wat rondgestuur word. Uncle Mark, die James Deanerige dandy lyk so, en Marie sê: “Sien sommer hoe doen hy dit.”

Twee gedigte uit Lang pad onnetoe (met LAPA Uitgewers se toestemming geplaas)

Naas die woordprente, vergelykings en metafore hou die simbole, die tipografie en veral die anagramme ons besig. Will hou van anagramme en sê daaroor: “Is wanne jy ’n wood vat ennie letters omryl omme anne wood te maak. En somtyds bly die woore nog altyd somehow connected bv: CANOE = OCEAN. Selle letters different woore somehow maakit steeds sin saam, soes broes.”

Eleine: “Dis vir my of al hd pare woorde teenoorgesteldes /uiterstes gesuggereer het ...  Cool teenoor crazy, Alive teenoor veil (wat wegsteek van wat in die lewe aangaan), Cinema (versameling van mense gesellig saam) vs Iceman (koue eensaamheid).”

Annemarie stuur die 2020 mascot meme met die racoon aan = corona anagram – mits jy natuurlik verkeerd spel. Martie kla: “Die tyd loop heeltemal te vin ag - ek komie @ die anagramme uitie!” en Huma sê oplaas oor die onopgelosde anagram: “Ek het vaoggend ’n bietjie getop oor 'poser' en gekom by perso(n) – ’n  onvoltooide persoon.” Nandi Lessing-Venter help ons reg en sê dis onvoltooid, omdat Will oplaas besef hy kan net voorgee.

Toe ek laas Desember notas gemaak het met Die Burger voor my oop, het ek geskryf: “Bring asseblief ’n berig saam oor bendegeweld.” Wat jy nou waar sal kry? Nou is daar net COVID-19-nuus. Ons moet dus ons ore uitleen aan Etienne van Heerden wat op Skrywers en boeke gesê het dat fiksieboeke lesers moet uitdaag om vrae te vra. Dat die doel van die letterkunde is om ons deernis te gee vir die ervarings en leefwêrelde waarvan ons niks of weinig weet, om dit vir ons oop te maak op maniere wat feite en meningsartikels nie kan doen nie. En dit doen dié boek beslis. Ons ken nie sulke mense nie, ons ken nie sulke omstandighede nie. Maar ons verstaan wat Will bedoel wanneer hy sy ma se verdriet beskryf:

Sy hang oo my
broe se lyk
soese dimmed
straatlig

Ons wonder of daar ook bendes in die townships om Pretoria is en Huma vertel dat sy gelees het van Kaapse bendes wat vir die oomblik hulle gewone bedrywighede opgeskort het en betrokke is by noodverligting.

Die oorspronklike Long way down is wyd aangeprys en het nie minder nie as twaalf toekennings ontvang nadat dit in 2017 gepubliseer is. Dit verwerf onder andere die twee prestige pryse vir jeuglektuur: die Edgar Award for Best Young Adult en die John Newbery Medal. Dit word op groot skaal voorgeskryf in skole in die VSA. Ons kon dus baie inligting op die internet vind en is bekoor deur die skrywer.

Om alles saam te vat, laaste vrae uit te pluis en ’n bietjie te kuier, het ons op 10 Junie ge-Zoom. Daar word baie oor Kaaps en ander variante van Afrikaans gepraat. Tiekie was by ’n toneelopvoering by die Woordfees en vertel ons van haar ietwat teleurstellende ervaring. Almal onthou nog Randall Wicomb en die Griekwa Psalms. Sannie en Sorien vertel van ’n praatjie deur Hein Willemse in Eersterust wat hulle kon bywoon. Ons spoor mekaar aan om die Kaapse skrywers te lees.

Maar dis veral die subtiele taalgebruik wat almal sal bybly. “Innoverend en treffend,” sê Eleine, “soos wanneer Will na die kiekie van hom en Dani kyk toe hulle agt jaar oud was: ‘Die son skyn in my oë die sonskyn in haar oë.’”En Sannie vat dit goed saam met “dit lees so lekker – uiters boeiend – baie van die taal gehou – nuut.”

En toe is daar op dieselfde aand ’n nuusberig oor ’n bendeskietery in Bonteheuwel: “Baaqir Joshua en sy babaseuntjie op straat doodgeskiet toe daar op hom losgebrand is uit ’n wit Corsabakkie. Sy familielede en bure glo dat die skieters gedink het hy is iemand anders.”

..........

Jakaranda-leeskring is op 28 Januarie 1986 deur Alida Mennen en Gerda Gouws gestig. Hulle het kort tevore van Johannesburg na Pretoria verhuis en het nie kans gesien vir die waglyste van bestaande leeskringe nie. By die eerste byeenkoms het Margaret Bakkes gepraat oor haar boek, Ontheemdes. Aanvanklik is daar saans vergader, maar deesdae is die tweede Woensdag van elke maand ’n vaste afspraak in iemand se mooi voorkamer vir die 25 lede van die leeskring. In die middel van die winter hou ons ook ’n fliekaand saam met ons mans aan huis van Sorien van Garderen. ’n Kenner bespreek ’n film van sy keuse en daarna word daar heerlik geëet en gekuier. Lede wat sedert die stigting nog aan die leeskring behoort is Alida Mennen, Sannie Meiring, Sterna Menge en Natalie Thirion. Lana Nel, wat intussen na Stilbaai verhuis het, het saam met ons ge-Zoom.

  • Die klankgreep en gedigte is met LAPA Uitgewers se toestemming geplaas.
  • 10

Kommentaar

  • Elsabé Olivier

    Jakaranda-leeskring, veels geluk dat julle t.s.v. die inperking steeds voortgaan met jul boekbesprekings deur tegnologie in te span! Doe zo voort!

  • Lalamarie Human

    Dit was stimulerend om deel te he aan die zoom ervaring! Dit sê ook baie van die ondernemingsgees van al die lede aangesien almal anderkant 60 is! Dankie Monica vir jou entoesiasme en leiding!

  • Martie Oosthuizen

    JAKARANDA LEESKRING se aanlyn bespreking was n wonderlike ervaring-in beeld hier in my huis! Ons het N TRANTAAL se LANG PAD ONNETOE bespreek. Interessant om dielede se vra te hoor en te kon deel wees van die gesprek ! Natuurlik was dit wonderlik om al die vriendinne weer te sien ! Die inperking van 2020 het beslis nuwe gelernthede vir leeskringe geskep !

  • Marie Meintjes

    Om deel te wees van Jakaranda Leeskring is en bly 'n ervaring veral nou in grendeltyd dat ons almal so zoom wys geword het.
    Die boek bespreking was lewendig en baie insiggewend.

  • Martha Pretorius

    Baie geluk aan Jakaranda-leeskring! Die artikel gee mens heelwat stof tot nadenke - nie alleen oor die innoverende wyse waarop julle 'n bespreking gefasiliteer nie, maar ook oor die boek wat julle gelees en bespreek het.

  • Carina Barnard

    Dis ‘n groot voorreg om deel te wees van ‘n entoesiastiese leeskring waar daar diep en vernuwend gedink word.

  • Ria Groenewald

    Absoluut innoverend en inpas met die vinniger skuif na die verwagte post COVID tegnologiese manier van lewe.
    Dankie vir die insig in julle bespreking van hierdie interessante boek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top