Ek en ’n paar vriende gaan klim berg op ’n Saterdagoggend. Ons gesels so terloops oor ons onderskeie boekklubs.
“Die social cues vir die gesprek aanlyn is net soveel anders,” sê die een. “Ja,” sê die ander, “ek voel die heeltyd ek moet seker maak almal is ingesluit, en die introverte in ons groep bly tjoepstil.” As ons almal fisies in een vertrek is, kan almal nog probeer saampraat.
Boekklub, leesgeselskap, leeskring. Daar is die tegniese verskille, ja, maar in die tyd van korona is daar een ooreenkoms ongeag: Ontmoet aanlyn of dan nie meer nie. Al is dit tot tyd en wyl, is dit ’n sosiale lewensaar wat moeilik kan aanpas by die reëls en beperkinge van ’n aanlyn spasie. In my boekklub was ons dit gedurende hierdie tyd eens: Ons wil aanhou lees en bymekaarkom. Ander klubs (van min of meer ons ouderdom en grootte) ook, lyk dit my.
Ek kontak toe ’n paar mense wat ook aan boekklubs behoort, boekklubs wat min of meer só werk: Een boek elke 4–6 weke; almal besluit saam en lees dit dan voor ’n ontmoeting waar die boek bespreek word (en met “bespreek” bedoel ek nie “wyn drink en gesels” nie). Ek wou weet hoe hulle lees, wat hulle lees en hoe gemaak nou tydens die pandemie. Ek was nog altyd nuuskierig oor die samestelling van dié klubs en hoe die gesprekke rondom die boeke lyk. Vir my is ons boekklub al vir vier jaar ’n groot vreugde. Dis die soort kreatiewe en redevoeringsplatform wat ek baie baat vind by. Lees is ook gewoon soveel beter is as jy met ander daaroor kan praat.
Interessant toe al die boekklubbers ’n paar eenderse sentimente eggo. Die virtuele kuiers is nie dieselfde nie. Ons sien daarna uit om mekaar weer te sien. Aanlyn en in persoon het meriete, maar ons mis die saam eet. Of soos die een lid noem, “Ek mis die wyn, en die driedimensionele mense.”
Wat ’n bietjie van ’n uitdaging is, is vir lede wat gesinne het om ’n plek en tyd te kry waar hulle ’n ruk lank in boekafsondering kan gesels. Dan is daar is ook altyd die tegniese probleme van die virtuele wêreld – slegte konneksies, die agtergrondgeraas, die een of twee wat kamerasku is, en veral almal wat saam praat en dan vries die kamera. “Ons eet nie meer saam nie en dit voel soms plastiekerig. Daar gaan spontaneïteit verlore en dit kom saam met al die gewone frustrasies van aanlyn vergaderings: ‘Wat het nou van Persoon X geword?’ ‘Jy is op mute!’ ... ens,” beaam Petro Wagner wat saam met my in die boekklub is.
Maar daarmee saam kom die volgende toe ook dadelik: Die boekklub is vir my ’n groot heenkome, veral in dié tyd. Ons het steeds heerlike gesprekke en ontmoet soos ons sou op ’n afgespreekte tyd – met ’n glas wyn, versnaperinge of selfs ’n bord kos. Dit maak die vreemde tyd makliker om te verdra.
“Dis ’n lekker geleentheid om sosiaal te wees saam met mense wat ook lief is vir lees.” Suzaan Hall se boekklub ontmoet al sewe jaar, van die tyd toe hulle studente was. Hulle een boekklublid bel ook nou in uit Indië. “Dis ’n lekkerte dat ons nou weer vir Helené kan insluit, al is sy ver.” En soos medelid Lelanie sê: “Mens kan ook makliker vir 'n uur inloer, later inval, vroeër vertrek, wat nie altyd moontlik is as ons in persoon ontmoet nie.”
Die ontstaan van die boekklubs was almal óf die eier (’n spul vriende wat ’n liefde deel vir lees) óf ’n hoender (’n spul lesers wat vriende geword het). Prekorona ontmoetings was gewoonlik aan huis van een van die lede. Iemand kook, die lede dra by met kos of drinkgoed, en iemand lei die gesprek. ’n Saak van jou woord, jou leesproses, diep gesprekke, almal se vreugde. Die fokus is die boek en die boek se verwante temas. Gepraat wil daar gepraat word oor sake soos plaaslike en internasionale politiek, openbare diskoers, feminisme, gelykheid. En die boeke gee die pas aan. Dis eensgesinde 20- en 30-somethings wat ’n klankbord soek en ernstig is oor die skrywers-en-boeke-saak.
Soms moet jy aansoek doen om deel te wees, in ander gevalle is dit op geen vlak eksklusief nie. Wat ook die samestelling van die groep kan bepaal, is watter boeke van watter taal en genre gelees word. Daar is klubs wat hou by spesifieke titels, net fiksie/niefiksie, of ’n verskeidenheid. Sommige beplan leeslyste vooruit, ander besluit elke maand wat vir die volgende maande en weke op die bedkassie moet wees. En daar is altyd die klein bietjie admin – ’n WhatsApp-groep, ’n Google-dokument, ’n kalender. Mag jy saam kuier én saam praat as jy nie gelees het nie? Ons is meestal Afrikaans, so almal is “altyd welkom”. Or is the jury still out? #sorrynotsorry.
Word daar ’n lyn getrek met groepgetalle? ’n Kleiner groep toegewyde lesers blyk die tendens te wees. “Ons hou dit klein want ons wil mekaar nie verloor nie,” verduidelik Helené Prinsloo, sameroeper van ’n klub in die Kaap.
Dis veral ’n oorweging voor Covid met spasie en kos en logistiek. Maar nou, ten tye van ’n pandemie, is die gesukkel die vloei van aanlyn ontmoetings. Die gesprek kan moeiliker vloei as daar nie ’n plan of ’n gesprekleier is nie. “Dis ’n bietjie moeiliker, want ons moet nou ’n bietjie meer geduldig wees om seker te maak elkeen kry ’n beurt om te praat,” sê Alita Wilkens, ook van ’n boekklub wat uit haar vriendekring gebore is.
“Aanlyn is die gesprekke egter moeiliker wat vloei betref – die ekstrovert in my hunker na die energie-uitruiling wat in persoon gebeur,” sê Helené “En nou is almal so blerrie ordentlik dat almal wag vir die ander een om te praat.”
Dit syfer deur uit gesprekke met lede uit verskeie klubs: Die introverte of stiller mense bly stil, oor die algemeen praat ons minder of korter as wat ons sou in persoon. Die gesprek sukkel om te vloei. Mense is heeldag voor die skerm en dan ook om te kuier. Dis beter as niks, maar niks kom by persoonlike bymekaarkoms nie. Om die kopreis saam in een vertrek te onderneem is eenvoudig beter.
En dan dié onder ons wat ’n punt maak daarvan om na mekaar te luister. Dis nou nie net ’n oorweging nie, maar ’n moet. Dit help as jy daai een of twee lede het wat seker maak almal het ’n spreekbeurt, of ten minste met ’n lysie vrae gereed staan.
Die wonderlike ding van dié tye is dat daar nou meer hulpbronne vir lesers beskikbaar is as ooit. Boekpodsendings, onderhoude met skrywers aanlyn, selfs vrae wat ander klubs en kringe gebruik het. Iemand noem ook dat die afstand wat die skerm bied, weer vir sommige introverte ’n welgevalligheid is. En dat sekere boeke byna beter is om aanlyn te bespreek, want dit dwing jou om planmatig te werk te gaan en nie bloot te klets nie.
En dit sê almal ook: Die formaat van boeke is nou ook legio en almal lees soos hulle wil. Kindle, harde kopie, e-boek op ’n tablet, nou ook toenemend oudioboeke. Boekklublede ruil steeds, soos van ouds die gewoonte.
Maak nie saak hoe jy lees nie, lede vind dat hulle meer lees en ook wyer. Boeke uit genres wat jy nie normaalweg sou optel of in belangstel nie. “Mens is dalk geneig om populêre goed te lees of boeke wat goed bemark word.” En: “Dit help my om te dink oor goed.” “Ek geniet die verskillende perspektiewe, en dit verryk my leeservaring baie om ander mense se insigte te hoor.”
Suzaan noem tereg dat dit soms onverwags gebeur dat ’n boek lewend word wanneer jy daaroor praat met ander en oor hul ervarings.
En een ding was wel duidelik: Die waarde van boekklubs en die waarde van die verhoudings in die boekklubs is goud werd. “'n Gedeelde liefde vir lees en boeke is die bestaansrede vir die meeste boekklubs, maar vir my het ons boekklub 'n vriendekring geword. Daar is iets baie besonders daaraan om te sien hoe die band tussen die lede groei oor tyd, en ook hoeveel ander gedeelde belangstellings 'n mens mettertyd ontdek.”
Ons het al ’n paar skrywers (Karen Brynard, Marianne Thamm, Azille Coetzee) genooi en het nou onlangs ook uitgereik na ’n skrywer in Brittanje. Ek wonder of ons dit sou waag as dit nie was vir die skuif aanlyn nie.
Al gebeur die ontmoetings aanlyn of in persoon, met of sonder Covid en kie, die boeke is beplan en geboek tot later in die jaar. Die samesyn en stemme, die gedeelde leeservaring – alles dinge wat deel vorm van die boekklubmikrokosmos. ’n Waardevolle leesfees.
Sodra die wet ons toelaat, “gaan ons groot”. Binnekort prakseer ons dalk ’n buitelugkuier. Die wonder van kuier in een spasie sonder ’n kamera wat vries. Dáárna sien ons uit.
Om te lees en te praat en te bepeins. Dít wil ons aanhou doen, ongeag.
Kommentaar
Stem saam. Jakaranda Leeskring in Pretoria het nou al drie byeenkomste gehad en teen die tyd is ons redelik gekonfyt met Zoom. Selfs met ’n buite spreker.
Wat ek kan aanbeveel, is dat mens vooraf met WhatsApp “opwarm”. Op die manier kom mens by voorbaat agter hoe die ander oor die boek voel en kan gedagtes, wenke en skakels uitgeruil word. ’n Lewendige WhatsApp-groep reageer vinnig en bied aan almal die kans om by te dra en huiwer ook nie om mekaar in die rede te val nie. Daarvandaan vloei die Zoomgesprek baie makliker.
Dankie, Monica! Dit is wonderlike raad. Ons vind ook dat dit lekker werk om na die gesprek 'n paar waardevolle skakels te deel van podsendings, onderhoude of artikels rondom die boek of skrywer. Baie bly om te hoor julle ontmoet ook steeds aanlyn!
Ek het nie kommentaar nie maar wel 'n vraag. My broer het beroerte gehad en voorlopig lyk dit of sy sig aangetas is.
Is daar 'n boekklub waarby ek hom kan aansluit om na boeke te luister?