“Vin is die jongste boek van die kunstenaar en skrywer Lien Botha. Dit is ’n verhaal van die kunstenaar-kurator Vin Verster se geleidelike greepverloor op haar skeppende en skikkende omgaan met kuns, haar verhouding met haar argeoloog-man, en haar vermoë om in Suid-Afrika sielerus te voel.”
Só lui die prikkel van dié nuwe boek. Deur twee dekades van oorsese residensies, voortslepende familiedrama en die benouende obsessie van ’n kunsboelie kyk die leser met die oë van ’n vindingryke kunsvlugteling na die wêreld. Daar is natuurlik ook ’n verlore skildery.
Wat dié boek egter uniek maak, is dat daar 400 foto’s en ander beelde van kunswerke is wat die storie belig. Hoewel dit nie in die boek gedruk is nie, kan lesers hoofstuk vir hoofstuk daarna kyk op ’n toegewyde portaal op Botha se webblad. https://www.lienbotha.co.za/vin-visual-2021
“Die hoofkarakter, Vin, sou eers meer gemeen gewees het, maar toe word sy gawer,” vertel Botha tydens ’n Skype-onderhoud. Buiten die kort titel, waarvan sy hou, is daar ’n verbintenis met water en swem, en Lavinia, wat die naam van ’n heks is.
Jy sien saam met die teks van die werke wat Vin ook op haar reise ervaar. Die foto’s en kunswerke sluit by die storie aan, hoewel Botha sê die teks kan op sy eie bene staan. Dit verskyn oor ’n maand by Queillerie.
Van die plekke wat Vin besoek, is ook plekke wat Botha self deur die jare besoek het. Dis dus foto’s wat sy self geneem het. “Jy weet mos maar hoe die ding van fiksie werk – jy het die waarheid bygelieg. Ek het by myself gedink hoe gaan ek ’n kunsloopbaan van 30 jaar net vir myself vasvat wat hopenlik ook vir ander betekenis sal hê. Om ook insae te gee in die struggles daarin, en die vreugdes.
“Dan is daar darem iets in ’n boek. Want alles raak nou kleiner. Voor alles weg is en ek daarvan vergeet. Dit is reise wat ek nooit weer sal hê nie. Ek het gewens ek kon teruggaan na al die plekke toe.”
Sy sal graag weer na Florence en Bordeaux wil reis. “Wanneer ons die dag weer kan.”
Botha vertel in die boek is daar ook “sintuie wat in die veld lê” soos hierdie:
Die oor lê buite. Dit lê in ’n winterveld tussen Atlantis en Darling. Indien Junie se reën soos die meeste ander jare sorgvuldig sou val, sou die oor moontlik weggespoel het, beurend onder blare, takke en klippertjies. Maar dit lê oop en bloot en wag vir ’n honger dier se bek.
Die sintuie is ’n goeie leidraad regdeur die boek, vertel sy. Natúúrlik, want kuns is tog die tema. Op plekke is dit ’n bietjie soos ’n katalogus, waar sy iets oor die kuns vertel. “Wat gee jy alles?” vra sy.
Met Wonderboom, Botha se eerste boek, wat beskou word as ’n distopiese roman wat in ’n postapokaliptiese tyd binne die Suid-Afrikaanse landskap afspeel, het sy in 2016 en 2017 drie pryse gewen: die Jan Rabie-Rapport-prys, die Eugène Marais-prys en Huisgenoot/Tempo se boek van die jaar.
“Ek skryf nog nie lank nie; ek wou altyd, maar het nie die moed gehad nie. Skryf se formaat is vir my kleiner. Ek is so moeg vir borrelplastiek, rame, prints – goed vat vir ’n uitstalling en dit terugbring. Die hele fisiese ruimte wat kuns opneem, raak swaar. Die boek is lekker – dis net ek en my rekenaar, en die produk is klein, jy kan dit in jou handsak sit.”
In baie van Botha se kunswerk is daar metafore – is dit ook in die boek so?
“Ja baie – is dit iets waaragter ’n mens skuil? Ek is nie te goed met die letterlike nie. Dis soos met dokumentêre fotografie in Suid-Afrika: Ek verstaan hoekom dit posgevat het – dit is nie vir my ’n misterie nie. Daar is geskiedenis, ons omstandighede. Maar as jy hou van meer subtiele goed, dan kry jy nogal swaar, want mense wil goed letterlik hê. Hier is nie baie ruimte vir subtiele intervensies nie. Miskien sal die jonger geslag vryer raak. Daar is baie great goed op Instagram.”
Hoe sien sy as kunstenaar die visuele wêreld? Kyk sy deur ’n kameralens of nie?
“Nee glad nie. Dit freak my eintlik as mense so rondloop met daai goed. Mens sien dan eintlik niks nie. Weet jy, as jy wonderlike kuns sien, die kleure die passie, is dit iets wat jy tot in jou maag voel. Die naaste wat ek aan dit gekom het in die wêreld waarin ons woon, was toe ek vir die eerste keer aan ’n olifant kon raak.
“Dit was by ’n park in Knysna waar die olifante gerehabiliteer word. Dit is so goed as wat dit kan wees vir hulle. Ek dink met goeie kuns, wat kom van daardie plek wat amper primal is, jy weet, is dit nie goed wat jy doen vir geld nie, of wat ook al nie. Dit is daardie gevoel om aan die olifant te vat. Die vel en die tekstuur te voel. Die oog. Daardie diere kom van 55 miljoen jaar gelede af. Dis soos rotstekeninge ook – as jy die handjies teen die rots sien, dit kom uit ’n baie diep, oerplek uit.”
Dit is ’n noodsaaklikheid, vertel sy. En jy kan dadelik sien as iets ’n ander motivering het. Dit kan tegnies goed wees, maar dit sal jou nie noodwendig roer nie.
Vir die volgende jaar of twee wil Lien Botha “net haar kop laat gaan en nie so diep in iets betrokke wees nie”. Boekskryf vra te veel van ’n mens, so lekker as wat dit is. Die streng grendeltyd was vir Botha ’n lewensboei; al het sy in 2018 reeds met die boek begin, het baie van die skaafwerk, oor en oor soos met enige boek, die afgelope jaar plaasgevind.
“Ek het maar in moeilike tye elke keer teruggegaan na die teks toe. Dit is ’n rede om op te staan.”
Kommentaar
Kan nie wag om jou boek te lees nie!
Dankie Melanie.
Dit klink wonderlik fassinerend, Lien. 'n Boek so na my hart.
Sien so uit om hierdie te lees en ervaar!
Immer waarderend Ingrid. Ek staan by die voet van die berg en kyk na waar jou spore loop tot bo.
Dankie Carol. Alle eer aan die toegewyde kunsversamelaar.