Ronelda Kamfer (1981–)

  • 2

Foto: Annemarié van Niekerk

Gebore en getoë

Ronelda Sonette Kamfer is op 16 Junie 1981 in Blackheath in die Kaapse Skiereiland gebore. Op driejarige ouderdom gaan bly sy by haar oupa en ouma, Thomas Daniel en Sarah Granfield, wat op ’n appelplaas by Grabouw gewerk het. Sy is terug na haar pa en ma, Gertruida en Ronald, in Blackheath toe sy tien was. Hulle verhuis later na Eersterivier op die Kaapse Vlakte, waar sy eerstehands kennis maak met die berugte bendekultuur. ’n Skoolmaat is voor haar oë buite die skool in kruisvuur dood geskiet. Ronelda se ma is op Moedersdag 2011 onverwags oorlede weens breinvliesontsteking.

Ronelda vertel aan Annemarié van Niekerk (Die Burger, 25 Februarie 2016) dat daar nie altyd ’n nou band tussen haar en haar ma was nie. Haar ma kon altyd maklik vir Ronelda sê dat sy lief is vir haar, maar Ronelda self kon eers in haar tienerjare affectionate teenoor haar ma raak. “Ek dink dis omdat ek van kleins af sterk en onafhanklik moes wees. As jy klein is en jy sien nie jou ma gereeld nie, is daar half ’n ongemaklikheid tussen julle. My ma moes altyd werk om die pot aan die kook te hou, en ek moes van kleins af by my ouma of by oppassers bly.”

Ronelda se leesgewoontes en –patroon het by haar ouma en oupa se huis sy beslag gekry. Dáár het sy werklik begin lees en dáár het haar persoonlikheid ook sy beslag gehad. Haar waardesisteem wat gebaseer is op eerlikheid en dat jy teenoor ander moet optree soos jy wil hê hulle moet teenoor jou optree, is in haar ouma se huis vasgelê. “Ook die belangrikheid van familie is in my vormingsjare by my ingeprent – en dat mens nie altyd moet vinger wys en jou circumstances moet blameer nie,” vertel sy aan Murray la Vita (Die Burger, 27 Junie 2008).

Murray la Vita vertel verder: “In haar ouers se huis is daar kunsafdrukke teen die muur en ’n aantal bofbalpette wat by die deur hang. Aan die kombuismuur se kant hang ’n babaportret van Ronelda; teen die ander kant ’n portret van haar as ’n opgeskote dogtertjie, en op die vertoonkas is daar talle latere foto’s van haar. Sy spot dat die sitkamer ’n ‘Ronelda shrine’ is. En sy lag: graag, en maklik, en lekker. Kou bubblegum regdeur die onderhoud. Haar tongring wys soos wat sy praat. Haar intense oë deurdring jou.”

Ronelda skryf haar eerste gedigte as ’n tienderjarige as ’n manier om aan haarself uitdrukking te gee.

Oor haar ma en haar stories vertel, skryf Ronelda (Rapport, 3 September 2010): “So nou, op daardie dae wanneer ek rondhang en eintlik besig moet wees met skryf, staan ek by die hek en vat notas van die goed waaroor die mense praat, nie juis van dit waaroor hulle praat nie – dit sal te skandalig wees vir publikasie – maar oor die manier waarop hulle dit sê.

“Neem nou maar my ma en die vrou langsaan, met hul ‘geheimsinnige’ manier van ’n storie oorvertel, ’n manier – wat nou vir my baie duidelik is – wat deur die jare aangeleer is by hul ouers en tantes en wie weet dalk ’n paar ooms.

“Deesdae voel ek nogal ’n bietjie spyt dat ek altyd my ma en anties se ‘skinnersessies’ vermy het. Terwyl hulle in die voorhuis, kombuis of waar die lig ook al reg val, vergader het, het ek eerder in my kamer gaan sit met Dylan Thomas en daar gedink oor skryf. Iets sê my nou ek kon miskien meer by my ma-hulle geleer het oor skryf as by Dylan Thomas. In die ongeskrewe verstandhouding tussen vroue en dié in wording het ek juis by hulle die basiese goed geleer: ’n dame lag met haar mond toe, sit met haar bene gekruis, sy mag insit in die skinder solank sy weet om nie in te chime nie, om nie tande te tel nie, nie ‘oor’ te vertel nie ... So waar anders, hoe gaan ek leer van oorvertel?”

Ronelda matrikuleer in 1999 aan die Eersterivier Sekondêre Skool.

Verdere studie en werk

Na skool werk Ronelda as verpleegster, kelner en administratiewe assistent by ’n bemarkingsmaatskappy. In 2010 was sy ’n honneursstudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland met die digter Antjie Krog as een van haar professore.

In 2005 het ’n vriend van haar, Richard Roberts, haar aangepor om van haar gedigte vir Nuwe Stemme 3 voor te lê. En soos sy self sê: “Daai was basies die begin van alles.” (Die Burger, 27 Junie 2008). Van haar gedigte is later ook opgeneem in My ousie is ’n blom en Bunker Hill.

Uit die meer as vier duisend gedigte wat die samestellers, Antjie Krog en Alfred Schaffer, vir keuring moes lees, het twee van Ronelda se verse, “Bedrewenheid” en “Kuns en culture”, haar in dié bundel laat debuteer. Die samestellers was só beïndruk met haar verse dat hulle drie maal in hulle “Verantwoording” Ronelda vermeld het. Nie net oor die manier waarop sy en ander daartoe bygedra het dat Kaaps se register wyer gemaak is nie, maar ook hoe hulle daarin geslaag het om hulle nuwe wêreld in hulle verse saam te bring en ook oor die wyse waarop hulle die taal wat die jeug praat, oorgedra het in hulle poësie.

“Dit is ’n Afrikaans waarvan die Engelse woorde nie in kursief verskyn nie,” skryf Krog en Schaffer, “maar ingesluk deel van die brei van Afrikaans vorm wat skrynende ondertone met ironie bedek.”

Krog en Schaffer skryf ook voorin Nuwe Stemme 3 hoe jaloers hulle is op die bruin Afrikaanse digters wat beskik oor die onontginde nuwe woordeskat, agtergronde en temas wat nou vir die eerste keer in Afrikaans gehoor word. En dit is hulle wens dat die digters met hulle verskeidenheid van sterk en nuwe stemme wat in Nuwe stemme 3 opgeneem is, “die droogte in Afrikaanse digbundels gaan breek en dat ’n bloeitydperk van opwindende debuutwerke op hande is”.

In 2008 maak Ronelda S Kamfer se Noudat slapende honde die samestellers se wens ’n werklikheid. In 2007 nader Nèlleke de Jager van Kwela Ronelda vir ’n manuskrip en sy besluit om dit ’n go te gee. En so is Noudat slapende honde gebore. Nèlleke se opinie oor die gedigte is dat dit jou “soos ’n vuis in die maag slaan. Sy werk vér verby woorde.” (Die Burger, 27 Junie 2008)

Hierdie is ’n debuutbundel wat ’n mens opgewonde maak. Dit verskyn op ’n tydstip dat digbundels al minder gepubliseer word en toe daar ’n tekort aan nuwe, maar veral jong stemme in Afrikaans is: “Kamfer se gedigte is vreesloos, en skram nie weg van taboe-onderwerpe nie. Sy skryf veral oor tragedies wat alledaags geword het in die wêreld waarin sy haar bevind – dwelms, druglords, en kinders wat doen wat hulle nie hoef te doen nie. Kamfer se gedigte is tegelyk toeganklik en onkonvensioneel. Sy is ’n sterk nuwe stem in Afrikaans. ’n Vonds.” (Die Burger, 27 Junie 2008)

“Dit voel vir my vreemd,” vertel sy aan Die Burger (27 Junie 2008), “omdat baie ou gedigte is wat ek net afgerond het. Maar ek voel ook trots en pleasantly surprised, want dit is iets waarop ek nie prepared was nie, maar tog gewillig.”

Haar inspirasie kry sy deels uit haar liefde vir rockmusiek en rap en van haar heroes is die digters Derek Walcott en Charles Bukowski wat sy voorin die bundel aanhaal. Sy vertel aan Danie Marais op LitNet dat sy mal is oor Bukowski se skryfstyl, “sy houding en die feit dat hy vreesloos skryf – reguit en tot die punt”.

Oor Bukowski vertel Ronelda in Rapport van 30 Oktober 2010 (“Onder my literêre laken”) dat hy nie die soort skrywer is wat jy nog moet reg lees om te besluit of jy vir of teen hom is nie; hy is ja of nee en as gevolg hiervan diskrimineer sy teen hulle wat nie van hom hou nie. “Een van die redes waarom ek so erg is oor Bukowski, is omdat sy werk sonder moeite lees. Hy doen nie iets pateties soos om ’n gedig te pleeg nie of nog erger – te gaan sit diep in die kamers van die hart en een te word met die skryfproses nie. Nee. Hy doen twee van my gunsteling-dinge: ‘I write what I like’ (Steve Biko) en ‘I write what I see’ (Lupe Fiasco). [...]

“Dit is die eenvoudige eerlikheid wat my vashou; niks is mooi nie: ‘Pretty words like pretty ladies wrinkle up and die’ (uit sy ‘A trick to dull our bleeding’). Elke keer as ek enigiets van Bukowski lees, voel dit soos die eerste keer. Gedigte, stories, prosa, opstelle – die hele wêreld van Bukowski is so disgusting en aantreklik gelyk. Hy is lelik, vuil, vet en varklik, maar sy woorde is helder, seepglad en verskiet soos ’n ster. [...]

“Hy laat jou verstaan dat hy die digter is en jy die leser; hy laat jou sien presies wat hy wil hê jy moet sien. Dit wat Bukowski met woorde doen, is amper onregverdig – hy skryf met ’n vermetelheid waarvan ek net kan droom. Hy is my gunstelingskrywer omdat daar nie ’n einde aan sy ellende is nie. Hy het alles gebruik wat veronderstel was om hom te vernietig en vir die wêreld teruggegee:

peace of mind and heart arrives when we accept what is
having been born into this strange life we must accept
the wasted gamble of our days and take some satisfaction in the pleasure
of leaving it all behind. (Uit: ‘Mind and heart’)

“Net soos ek nie van NP Van Wyk Louw hou nie, is Charles Bukowski nie vir almal nie. Maar as daar een skrywer is wat sy middelvinger vir die wêreld gewys het, is dit Bukowski. Hy het die verskille tussen rock stars en losers opgehef – soos Leonard Cohen gesê het: ‘He brought everybody down to earth, even the angels’. Bukowski het my geleer daar is plek vir almal, en mooi kan somtyds nogal lelik wees.”

Ook Antjie Krog is iemand van wie Ronelda hou, want sy was die eerste digter op hoërskool wie se werke Ronelda nie vervelig gevind het nie. “Toe ek haar werk ontdek, het ek geweet dat poësie nie veronderstel is om gekompliseerd of vervelig te wees nie. Ek hou ook nogal van Koos Kombuis.”

Oor die dwelmverwysings in die gedigte het sy net die volgende te sê: “Dis maar net ’n geval van been there; done that. Dit was deel van my eksperimentele fase, en ek veronderstel dit het my wyser gemaak. Nou oordoen ek niks meer nie, want te veel van enigiets is nie goed vir ’n mens nie, glo ek.” (Die Burger, 27 Junie 2008)

Noudat slapende honde se voorlopige titel was Vergewe my, maar ek is Afrikaans. “Ek was een oggend op pad werk toe,” vertel sy aan Danie Marais (LitNet), “en toe ons so verby ’n construction site ry, was daar graffiti teen die muur met dié woorde. Ek het skielik gevoel soos die klein kindjie wat die eerste keer haar veters reg vasgemaak het, maar wie se ouers te besig was om op mekaar te skreeu om dit op te let. Vir my beteken dit basies om nie skaam te wees oor watter dialek jy praat nie; om nie weg te probeer hardloop van jou agtergrond en verlede nie, en bowenal, om nooit minderwaardig teenoor enigiets of enigiemand te voel nie.”

Charl-Pierre Naudé skryf op Poetry International Rotterdam se webwerf dat Ronelda met haar gedigte skerp fokus op die “bruin gemeenskappe” wat op die rand van die samelewing woon. “This shines on the racial faultline that continues to divide Afrikaner culture and on that uneasy territory where the Afrikaans language was integrated into the so-called Coloured community long before white Afrikaners claimed it as the flagship of their nationalism and identity.”

Vir Naudé is daar ’n skynbare teenstrydige kinkel in haar sterkste werke wat die leser nie maklik kan mislees nie, maar vir diegene wat dit wel raaksien, word alles duidelik. Dit is haar suiwer liriese krag – sotto voce, maar beginselvas. Haar poësie kan ook beskryf word as ongekunsteld, vars, rou en intelligent.

Naudé gaan voort: “Her best poems create a sense of inevitable expression, as if, despite the manifest freshness, they have existed since the beginning of time. However, it is not only in expressive power, which often characterises the work of younger poets, that she shines, but also in her furtive, seering insight, not least into character. This gives the impression that she has a latent poetic reservoir. A quiet irony starkly underlies much of what she has to say. In the tone of her reserve lies a sting that should not be underestimated, but this is not ‘political poetry’. It is, rather, political reality experienced in intensely private terms.”

Noudat slapende honde het die Afrikaanse literêre toneel met ’n slag getref. Dit is in 2009 bekroon met die Eugène Marais-prys vir Poësie wat sy met ’n ander jong digter, Loftus Marais, deel. Dat sy dié prys ontvang het, was vir Ronelda ’n groot eer. Heilna du Plooy, een van die beoordelaars, het gesê Ronelda se bundel is aangrypend en die simplisiteit, direktheid en dinamiek van die gedigte tref die leser.

Loftus Marais wen die Ingrid Jonker-prys in 2009, met Ronelda se Noudat slapende honde ’n baie sterk naaswenner. Een van die beoordelaars vir laasgenoemde prys het gesê “dat haar poësie gekenmerk word deur belydenis, maar dan ’n belyding wat ’n gat deur die bladsy brand”. Nog een het dit só gestel: “’n Totaal onderbeligte deel van die Afrikaanse taaldemografie praat deur haar in ’n besonder sterk stem op ’n manier soos nog nooit tevore nie.”

Die opskrif van Joan Hambidge se resensie in Beeld van 22 September 2008 lui: “In ’n sterk stem basuin sy haar sê uit.” Hambidge beskou dit as ’n debuut wat geen kompromisse maak nie en self die leser ontsenu met die wyse waarop die lewe in Blackheath uitgebeeld word. Die Afrikaanse is in ’n lekker loslit, alledaagse taal geskryf. “Die gedigte subverteer die gedagte van die mooi gedig of die vers as ’n soort skoonheidstroos. Dit word gekenmerk deur ’n soort woede en opstand wat herinner aan Krog se ‘ek skryf omdat ek woedend is’.”

“Die bundel lewer sterk sosiale kommentaar sonder om ooit die digterlike eise te verontagsaam. Hierdie digter het kennelik kennis geneem van haar tradisie – die motto’s verraai dit – en sy skryf helder oor haar ervaring van die lewe. Die harde werklikheid van ’n tussen-in-bestaan word vir die leser verduidelik: hoe die verlede die hede kleur en jong mense swaar dra aan dit waaraan hulle nooit deel was nie. [...] Dis beslis ’n talent om dop te hou. In haar eie woorde: sy weet presies waar sy staan met haarself en die wêreld. Sy het ook iets om te sê, wat die bundel nóg meer verfrissend maak.”

Op LitNet meen Steward van Wyk dat dit gedigte is “wat inhoudelik ’n mens laat regop sit en ongemaklik skuif in die stoel, ’n ‘hardcore comedown experience’, as ek haar uitdrukking so mag gebruik. Dit verwoord ’n ervaring wat op die grense van middelklasbestaan beleef word en spreek van ontgogeling, die verlies van ’n prille, onskuldige jeug, ontvlugting in dwelms, moontlik dood, soos in ‘OD 1’ en ‘OD 2’, verbrokkelde verhoudings met afwesige pa’s in ‘Pick n Pa’, uitsigloosheid en verval. ’n Mens hoor die stem van jong werkersklasvroue, wit, bruin en Afrikaans, in ’n subtiele en wrang aanklag teen die samelewing wat hulle tot statistiek en opskrifte in poniekoerante reduseer – vgl ‘Lolla’ en ‘goeie meisies’. Dit word egter goed gebalanseer deur vertellings oor vertroeteling en geborgenheid binne die eie groep – vgl ‘kliek van sewe’.”

“Wat bybly, is die maatskaplike inslag van die verse wat die fokus op die nood op die Vlakte laat val. In ‘Klein Cardo’ en ‘Dis vroeg winter in die Kaap dié jaar’ word die uitgelewerdheid aan bendegeweld, dwelmsmouse en armoede verbeeld, maar op ’n ingehoue wyse wat paradoksaal die skreiendheid daarvan aksentueer. Die politieke onderbou van hierdie sosiale onreg is onmiskenbaar, soos in ‘Klonkies’, en word juis deur die voortreflike gebruik van ironie en onderbeklemtoning na die oppervlak gebring.

“Vertellings van miskenning en verontregting is welbekend in die Afrikaanse literatuur en in ons politieke onderbewuste. Dat Kamfer mens weer opnuut daarmee boei, is toe te skryf aan haar skryftalent.

“Die minimalisme, bedrieglike eenvoud en strak versbou van sommige gedigte herinner aan Valda Jansen se werk – vgl haar ‘Vrye vers’ en ‘toe skoene’ Sy maak voorts effektief gebruik van enumerasie en herhaling wat, soos by Adam Small, as ’n refrein werk wat die aanklag versterk. Daar is dikwels ’n mooi reël of twee wat sommer klaar staan, soos ‘Ek wil so erg myself saam met jou wees/ dat my vriende moet sê dat ek anders is’. Alhoewel dit ’n dunnerige bundel is, kry mens die indruk dat Kamfer nog ’n wye register het om te ontgin.”

“Die impak van Kamfer se debuut kom voort uit ’n miskende wêreld wat sy na die sentrum bring, en sy is terdeë bewus van haar ambivalensie jeens Afrikaans en digterskap, soos sy te kenne gee in die openingsgedig, ‘Waar ek staan’, maar veral pittig uitgedruk in die woorde van die oom in ‘ek soek ’n goue sterretjie’:

terwyl ek so staan en preek sal ’n stink kwankiedronk oom
my voor God uitkak en sê jy is maar net ’n hotnot
met ’n goue sterretjie voor jou kop
moenie met jou verkakte gedigte na ons toe kom nie
gaan vertel daai kamtige sad stories van jou vir die mense
wat die reëls maak
jy ruik elk geval nes hulle.

“Ek sien daarna uit dat sy hierdie ambivalensies verder oopskryf. Die toets is nou om hierdie debuut op te volg, noudat slapende honde wakker is!”

In Die Burger van 25 Augustus 2008 skryf Joan Hambidge dat toe sy die eerste keer Ronelda se gedigte in Nuwe Stemme 3 gelees het, sy geweet het dat daar ’n nuwe vrouestem in die Afrikaanse poësie is. “Haar gedigte breek deur alle grense. Taal, die kanon, fatsoenlikheid, noem maar op. Sy spreek alle kwinte en kwale aan: familieskap, gender, ras, politiek, dwelms, bloedskande, armoede, verwerping, buitestanderskap, jeugervarings in Blackheath ... […]

“Dit is iemand wat deur baie pyn beweeg het en alle selfbedrog minag. En paradoksaal is dit juis die weerloosheid wat agter alles skuilhou wat tot my gespreek het. Sy is al met ’n jong Antjie Krog vergelyk. En dit ís so. Dis praatverse, vrye verse, ’n ampere traak-my-nie-agtigheid. Maar om só te kan skryf, moet jy baie gelees het. En geleef het. (Bukowski en Walcott pryk as motto’s.)”

Daar is niks in die bundel waarvan Hambidge nie gehou het nie – van die voorblad tot die ongelooflike gedigte. Die ontgogeling en onbeskermdheid kan soos ’n swart draad deur die bundel getrek word en die leser kan aanknoping vind by die buitestaanders en uitgeworpenes.

“Die vader des huises en verskillende soorte pa’s word raak beskryf. Die afwesige pa is egter die een wat die dogter die meeste verwond. [...] ’n Mens vind lewensinsigte wat jou ontstig. Die desperate poging om in die nou te leef, word gekelder deur die onmoontlike van vergeet. Die nu­we geslag is in elk geval te jonk om te weet, maar te sinies om te aanvaar dat alles reg is. Oor Afrikaans het sy ’n mening. Oor die boereooms ook. ‘Vergewe my maar Ek is Afrikaans’ speel klaar met etlike mites oor aan wie Afrikaans nou eintlik behoort:

ek praat julle taal 
ek eet julle kos 
ek bly in julle vaderland 
ek drink julle wyn 
ek sing julle musiek 
en liewe ooms, ek, ja ek, ek vry met julle seuns.

“Dis ’n aangrypende debuut. Praatverse. Vry, loslit, keelgrypend. Ek lees hierdie bundel op GRA-dag, 14 Augustus, en dink hoe het Afrikaans nie verander en verruim nie.

“Waarvoor moet sy oppas? Dat minder begaafde woordvrate haar tot ikoon verhef en haar stem so mag stilmaak. Kwela Boeke moet geluk gewens word met hierdie helder, suiwer debuut. Ek was laas met Jeanne Goosen se Elders aan diens so opgewonde oor ’n digbundel.

“Lyk my die ongekunstelde, uit-die-hart-uit-gedig is aan die terugkeer. Dis ’n dun bundeltjie. Maar elke gedig ontplof soos ’n klapper. Ja, luister hoe tjank die honde oor die geraas.”

In Tydskrif vir Letterkunde (Februarie 2009) sluit TT Cloete se resensie af: “Hierdie bundel wys vir ons ’n aandoenlike wêreld, so aangrypend dat die digter nie al die lyflike taal nodig het waarmee sy die leser wil wakker skok nie. Haar vers steun ook nog te veel op die aandoenlike van die onderwerp self en is daarom dikwels nog onvolgroeid en fragmentaries. Maar desnieteenstaande bly dit ’n pakkende bundel gedigte. Ondanks sekere tekortkominge of nog ’n sekere onvolgroeidheid weet Kamfer tóg soos sy in die openingsgedig sê baie goed waar sy staan.”

Charl-Pierre Naudé (Rapport, 13 Augustus 2008) meen dat ’n debuutbundel “’n gebeurtenis in ’n kleiner letterkunde is”. Daarom word baie van hulle “hopeloos oorspeel. Ander se voortekens word onderskat.” Hy vervolg: “Noudat slapende honde – ’n veelseggende titel wat die leser laat raai – is die debuut van Ronelda S Kamfer, van vroeg in die twintig. Hierdie lakoniese, wars, gedrewe liriese digstem gaan nie beteuel word volgens projeksies nie. Dit dwing jou tot stilstand, ondanks sommige voorbehoude.

“’n Raps meer as ’n derde van die gedigte is besonder geslaag en onthoubaar. Dit bevat minstens een gedig wat, konserwatief gesproke, briljant, is: ‘Die huisvrou’ oor ’n hardwerkende vrou met die trots van diegene wat dit minder breed het wie se voorstedelike neurose ’n onverwagte wending neem. Dis ’n gedig wat, soos die bestes, ’n vermoë toon vir die uncanny, verrassende afloop, wat Kamfer baie goed doen, dikwels met ’n skok-effek. […]

“En selfs die gedigte wat nie in hul geheel slaag nie, het stembuigings, karaktergrepe of streek-, subkulturele en volkse segswyses wat oor ouderdomsgrense sal bekoor en die Afrikaanse digkuns vernuwe. Die beste gedigte wek ’n indruk van onvermydelikheid, asof dit nie nie gesê kon gewees het nie. En die direkte segging laat alles ongemaak klink: asof gevonde, nie geskryf nie.

“Dis seggingskrag wat skitter, iets waarvoor jonger digters meer bekend is. Maar dan dra van die gedigte ook die saad van eienskappe wat vir die langer duur belofte inhou: sosiale en karakter-insae, en vertel- en besinningsvermoë, byvoorbeeld. […]

“Kamfer bring die steeds onderbeligte kultuurwêreld van die bruin woongebiede tot lewe, tot in die senuwee. Die gedigte bevat indirekte politieke kommentaar wat op eie risiko veronagsaam kan word. Maar nooit aangeplak nie. Meestal kom dit deur ’n baie persoonlike belewenis liries te vertel. [...]

“Die bundel is aan die dun kant, asof die uitgewer publikasie gehaas het. ’n Groter gerf van die beste verse sou welkom gewees het, maar ’n besondere toekoms wink vir hierdie nuwe digter op Kwela se kerfstok.”

Een van Ronelda se gunstelinggedigte in die bundel is “Klein Cardo” en dit is opgedra aan twee jong slagoffers van geweld op die Kaapse Vlakte, Alfonso Cloete en Valencia Farmer. Dit begin só:

Cardo was gebore
maar niemand het hom verwag nie
sy ma was sestien
en sy pa gemeenskapsbouer vannie jaar
sy ouma was ’n cashier
en sy stiefoupa het gedrink virrie pyn.

en eindig op treffende wyse:

Die aand voor Cardo se eerste dag op grootskool
het die Schoolboys klappers innie pad geskiet
Cardo het by die venster uitgeloer
die koeël het in sy keel gaan sit
sy ma hettie gehuil nie
die politicians het ’n boompie geplant
en die Kaapse Dokter het hom uitgepluk
en gegooi waar die res vannie Kaap se drome lê
oppie vlaktes.

By die Aardklop Kunstefees in 2008 tree Ronelda saam met onder andere Andries (Roof) Bezuidenhout op. Daar was nie genoeg kaartjies vir almal wat dit wou bywoon nie. Andries vertel: “Ronelda het ’n encore gekry. Waar in jou lewe het jy al so iets gesien? Al die kaartjies vir ons vertoning was uitverkoop en dit saam met Ronelda se encore maak my opgewonde. Dit wys my daar is ’n energie om die digkuns.” (Die Burger, 21 Maart 2009)

Oor haar gewildheid sê Ronelda: “Ek dink dis omdat ek oor dinge skryf waarmee jongmense kan identifiseer. Soos bendegeweld en armoede. Ek noem my gedigte stories, omdat ek ander mense se stories deur my gedigte vertel. Daar kom gereeld mense van my gemeenskap wat sê hulle het hul storie herken. Dit beteken vir my veel meer as enige encore.” (Die Burger, 21 Maart 2009)

In 2010 verskyn die Nederlandse vertaling, Nu de slapende honde, vertaal deur Alfred Schaffer, by Podium Uitgewers. Erik Lindner skryf in De Groene Amsterdammer, een van die vernaamste literêre publikasies in Nederland: “De gedichten van de Zuid-Afrikaanse Ronelda S Kamfer zijn des te aangrijpender omdat ze vrij rechttoe, rechtaan anekdotes uit het dagelijks leven vertellen.”

Na hy kortliks aandag aan die bloemlesing De 150 mooiste gedichten uit het Spaans gegee het, swaai sy fokus volledig na Ronelda: “Een verrassing is Nu de slapende honden van Ronelda S Kamfer, een jonge dichter uit Zuid-Afrika die vertaald is door Alfred Schaffer [...] De bundel is volop een debuut. Een jonge stem die zich presenteert. Veel gedichten bestaan uit gruwelijke anekdotes, koel en ingehouden gebracht: ‘tegen de eerste pauze was er een lijk in de Skoolstraat/ een miskraam in mijn klas’. Het effect van de gedichten van Ronelda Kamfer is vooral dat je al lezend steeds beter doorkrijgt dat er geen woord gelogen is van de familie- en buurtverhalen die ze opdist.”

Na ’n besonder knap oorsig van die bundel – met gepaardgaande kontekstualisering van bepaalde gedigte – eindig hy met die volgende samevatting: “Documentair, aangrijpend, confronterend. Nu de slapende honden is een zeldzame kans om een dichter op een heel andere plek aan het werk te zien, die van opvallend nabij tegen je praat.”

Dit is beslis ’n groot kompliment vir een van Afrikaanse se opwindende digters van die hedendaagse geslag.

Ronelda vertaal self ook heelwat van haar gedigte in Engels.

In 2010 woon Ronelda die 14de jaarlikse Poësiefees van Afrika in Durban by en bekoor die gehoor in die Elizabeth Sneddon-teater met haar gedigte waarin sy die lewens en drome van die mense op die Kaapse Vlakte uitbeeld. Sy is ook uitgenooi na die Winternagfees in Den Haag saam met Antjie Krog. Van haar gedigte is in Frans en Portugees vertaal en word later dalk ook in Turks vertaal.

In Februarie 2011 is Ronelda erg getraumatiseer nadat die polisie een aand – die tweede keer in ’n week – haar huurhuis “afgebreek” het. Karin Burger skryf in Rapport (5 Februarie 2011) dat die polisie glo op soek was na dwelms, onwettige wapens en gesteelde goedere in die huis wat Ronelda en haar vriend Nathan Trantraal met Nathan se broer en nog vyf ander mense in Athlone deel.

Ronelda was toe vyf maande swanger. Ronelda vertel dat sy so groot geskrik het dat sy huilende op die vloer gelê het. “Een van die polisiemanne het gesê hy sal my iets gee om oor te huil.”

Ronelda gee raad aan voornemende jong skrywer (Die Burger, 25 Maart 2013): “Toe ek op skool was, was ek ’n erge taal-geek. Ek het opgewonde geraak oor opstelle skryf. Ek het boeke vol opstelle, gedigte en diaries vol geskryf. Eendag stuur my vriend Richard my gedigte in vir ’n kompetisie vir nuwe stemme. Ek het toe nog as kassier by Clicks in Somerset Mall gewerk; ek was daai meisie wat jou gevra het of jy ’n clubcard het. Maande later bel Tafelberg-Uitgewers my en sê my gedigte gaan in Nuwe Stemme 3 opgeneem word.

“Drie jaar later sit ek in my kamer en skryf aan my debuut, Noudat Slapende Honde, sonder ’n rekenaar, sonder dat ek literatuur ge-swot het, sonder dat ek Breytenbach, Small of Van Wyk Louw aanbid het. Ek het toe nog elke dag bedpanne in die Mediclinic aangedra.

“Die moral of the story is dat niemand jou kan leer skryf nie, dat jy niks nodig het om jou ’n beter skrywer te maak nie. Ek het geskryf en gehoop wat ek weet oor die lewe sal genoeg wees. Ek wou ’n goeie boek skryf, ek wou ’n boek skryf wat almal kon lees.

“Om te skryf need ’n mens eintlik maar net twee goed: eerlikheid en ’n storie, jou eie storie, een wat jou sal deurdra, deur die tye wanneer almal vir jou lag, die tye wanneer almal by jou verbykyk en jou minag. Skryf soos jy wil skryf; niemand kan dit van jou af wegvat nie.”

Ronelda is op Maandag 4 Julie 2011 met Nathan Trantraal getroud, ook ’n digter en grafiese kunstenaar. Hulle het ’n dogtertjie, Seymour Gertrude. Ronelda en Nathan vertel aan Willemien Brümmer (Die Burger, 16 Julie 2011) oor hierdie vinnige troue: “Ons beplan nooit goed voor die tyd nie; toe besluit ons net die Maandag, oukei, ons het tyd vir trou. Ons het darem al die Vrydag voor die Maandag besluit. En toe kry ons gelukkig iemand wat willing was om ons te trou.”

As hulle praat, los Nathan en Ronelda mekaar af asof hulle uit een mond praat. “Ons het na home affairs in Bellville gegaan, want ons het nie geweet precisely hoe dit werk nie,” sê Nathan. “Ons het baie lank daar gestaan, en toe begin ons foto’s neem van mekaar, en toe het die vrou wat daar werk seker uitge-figure ons wil trou. Sy’t gesê: ‘Vra dié man wat hier staan. Hy trou altyd mense.’”

Ronelda val in: “Dit was ’n random marriage officer. Ons het nie geweet of hy legal is nie, maar hy’t ons sommer hier kom trou Maandag. Daar was nie juis gaste nie, en ná die tyd het Nathan ’n post bachelor’s party gehou en sit en Guinness drink op die bank. Ons sê vir almal dit was nie ’n troue nie, ons is net getroud.”

Seymour is minder as twee maande na Ronelda se ma se afsterwe gebore. Oor hierdie moeilike tyd in haar lewe vertel sy aan Annemarié van Niekerk: “Gelukkig het ek vir Nathan gehad. Hy was baie beskermend teenoor ons twee. Hy het my toegelaat om so mal en irrasioneel te wees soos wat mens maar is as jy hartseer én hormonaal is.”

Oor hoe sy haarself as ma sien, verduidelik sy aan Van Niekerk dat haar ma haar goed voorberei het vir die dag wanneer sy dood is, “en dis al wat regtig tel, hoe jy jou kinders voorberei om sonder daai beskermde skild te kan aangaan. Ek probeer my bes om Seymour weerbaar te maak.”

Ronelda voel dat sy en Nathan mekaar aanvul, vertel sy aan Marlene Malan (Vrouekeur, 9 September 2016). “Dis baie belangrik vir ons om mekaar se werk te verstaan. So, die skryfproses behels ’n gedurige oor-en-weer-lees en kritiek. Ek publiseer niks voor hy dit nie goedgekeur het nie en hy doen dieselfde.”

“Ek dink die verskil tussen ons werk is dat ek altyd die vroulike ervaring probeer pen. Ons kom uit baie eenders omgewings, so die stories het ’n gewoonte om hulself inmekaar te vleg. Elke mens ervaar die lewe anders, omdat so baie dinge ons ervarings beïnvloed. Hoe jy die lewe sien, het baie te doen met hoe jy dit ervaar. Soms skryf ek ook goed waaroor hy nie kan nie, al het ons dit albei ervaar. Daar is so baie dinge wat hy weer beleef het, waaroor hy maklik skryf, en ek nie. Ek dink vir ons albei is dit belangrik om toeganklik te skryf, dat lesers kan ‘relate’.”

Sedert 2016 woon Ronelda en haar gesin in Makhanda in die Oos-Kaap. Sy vertel aan AJ Opperman (Beeld, 9 Januarie 2020) dat sy baie van die stilte daar hou, sy kry nou die kans om oor dinge te dink en dit te verwerk.

Ronelda se tweede bundel, grond/Santekraam, is in 2011 uitgegee, weer deur Kwela, en geïllustreer deur die broers Nathan en André Trantraal. Sy vertel aan Rapport (5 September 2010) oor dié geïllustreerde digbundel: “Ons (sy en die Trantraal-broers) meen poësie moet voortdurend op nuwe, vars maniere aangebied word. Ons leef in ’n visuele milieu en sien geen rede waarom die digkuns nie ook meer visueel kan word nie. Só word dit toegankliker en is dit interessant om te sien hoe die twee mediums saamsmelt om iets nuuts en opwindends te skep.”

Dit is nie die eerste maal wat hierdie idee gebruik word nie, sê sy. “Die konsep van geïllustreerde gedigte is baie oud. William Blake het dit onder meer gedoen en plaaslik het Breyten Breytenbach iets soortgelyks gedoen.”

’n Belgiese webwerf het Ronelda gevra om ’n gedig oor haar skoene vir hulle te stuur, met ’n foto by, en dit het daartoe aanleiding gegee dat die drie van hulle besluit het om “iets anders” te doen. Die resultaat was die gedig “Splinters en Converse”, met illustrasie deur die Trantraals.

grond/Santekraam het sy ontstaan gehad terwyl Ronelda in 2009 aan die Universiteit van Wes-Kaapland aan haar honneursgraad gewerk het. Antjie Krog, mede-samesteller van Nuwe stemme 3 waarin Ronelda gedebuteer het, was haar studieleier vir die kreatiewe gedeelte van die kursus. Ronelda vertel aan Willemien Brümmer (By, 16 Julie 2011): “Antjie was amazing, want sy wou my nie beïnvloed nie. Sy wou my heeltyd net hou soos ek is. Haar ding was net ek moet meer lees, want ek het baie min Afrikaanse digters gelees. Ek lees dieselfde digters oor en oor. Dylan Thomas en Charles Bukowski. Daai’s maar al en that’s it.”

In grond/Santekraam word die storie vertel van Ronelda se ma, Gertrude Granfield, se familie. Die boek is ongeveer ’n maand na haar ma se dood, uitgegee. Hierdie tweede bundel is ’n “deurgekomponeerde eenheidsbundel wat haar vir goed ’n staanplek sal gee in die kanon van die hogere Afrikaanse digkuns. Dit is meer deurdag, die produk van ’n deurwinterde digter. Ná elke lees word nuwe betekenislae oopgevlek, met vergete stemme wat bo en onder water saampraat. Dis ’n wêreld waar meerminne skinner en afkopskepe roer,” aan Willemien Brümmer van By (16 Julie 2011).

Oor die titel verduidelik Ronelda aan Andries Bezuidenhout op Versindaba dat die woord santekraam uit die Nederlands afkomstig is en dat die “die res” beteken. Sy wou nie ’n boek skryf wat net oor grond of grondverskuiwings handel nie en het die woord in Nederlandse poësie raakgelees. Toe sy haar ma daaroor vra, het sy gesê dat dit ’n redelike outydse woord is. Die bundel handel dus oor “grond en die res wat daarmee saamhang”.

Fred de Vries skryf in Rapport (1 Julie 2011) dat hierdie 42 gedigte van Ronelda hom sonder woorde gelaat het. “Hulle het my dae lank bygebly, rondgespoel in my kop, vrae laat opkom, nuwe vistas laat oopgaan. Hulle het by my gespook en my gepynig. Hier is ’n digter wat ongeag verwysings na popmusiek (Arcade Firs, Elbow) met ’n tydlose stem praat, wat wysheid anderkant die grense van haar ouderdom het (sy is in 1981 gebore). 

“Hierdie is gedigte oor konflik en verlossing, waarheid en leuens, wat diep in die siel en die geskiedenis van die land se ongesproke stories delf. Hierdie is volksverhale in vele lae wat die verlede, die hede en die onderbewuste saamsnoer. Kamfer neem verskillende persona aan, gebruik vele dialekte, neem ons na die Kaapse Vlakte, verlate vissersdorpies en die bodem van die see. Alles ewe moeiteloos. 

“Daar is ’n verblindende rykheid, nie net wat onderwerp betref nie, maar ook in die taal wat menings opper. Dis in die vorm en kadense, in die manier waarop sinne, woorde, letters en leestekens krul en draai (‘Mislukte Mitchy manmin staan op voor die spieël dis sy wens wat waar waar waar word word word’). Maar die toon is peinsend, nooit te oordrewe of oordadig nie – afgetrokke, selfs effens fatalisties.”

grond/Santekraam lees vir Fred de Vries soos ’n “wettige weergawe van onwettige, verbode opnames, iets wat uit Amerika se Suide van die 1930’s kon gekom het. Dié is ’n moderne Suid-Afrikaanse weergawe van die ‘dust bowl blues’ van die liedjies van die katoenplukkers en chain gangs – ’n oproep tot medemenslikheid en begrip wat nooit gekunsteld of pateties aandoen nie.”

Ronelda se grond/Santekraam is ook in Nederlands vertaal onder die titel Santenkraam. Haar Nederlandse uitgewers, Podium, het haar aan die einde van 2012 na Amsterdam genooi om die bundel bekend te stel en ook vir ’n gasskrywerskap in Athenaeum se Skrywershuis in Amsterdam. Ronelda is genooi na die Festival voor het Afrikaans in 2012 in Nederland, maar moes die uitnodiging van die hand wys nadat haar ma oorlede is. Sy en Nathan en ook hulle dogtertjie het 2013 se Festival voor het Afrikaans bygewoon.

In 2012 is Ronelda die ontvanger van die Kanna Afrikaans Onbeperk-toekenning vir ’n Jong Stem by die jaarlikse KKNK. Vir Ronelda was die toekenning ’n toegif: “Dit beteken baie, veral omdat dit ’n toekenning is vir ’n jong skrywer. Om te skryf is vir my so ’n intieme en persoonlike ding dat ek die meeste van die tyd net bly is dat daar mense is wat dit lees, ek is dankbaar vir lesers, ’n verering is ’n bonus.” (Die Burger, 25 Januarie 2012)

Kamfer is eenparig deur ’n paneel bestaande uit Steward van Wyk, Elmari Rautenbach, Anastasia de Vries en Frederik de Jager aangewys.

Ronelda se gedigte is al in Italiaans, Nederlands en Frans vertaal. In 2019 het die PEN Afrikaanse Vertaalfonds die befondsing vir die vertaling van Ronelda se gedigte in Frans goedgekeur. Éditions Caractéres sal ’n Franse vertaling van ’n keur uit haar bundels (Noudat slapende honde, grond/Santekraam en Hammie – almal Kwela Boeke) uitgee. Pierre-Marie Finkelstein, vooraanstaande literêre vertaler van werke deur onder andere Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Achmat Dangor en Karel Schoeman, sal die vertaling behartig. Éditions Caractéres is in 1950 gestig en is ’n gerekende uitgewer van onder meer essays, poësie, romans en kunsboeke. Die uitgewery is ook bekend vir sy kunsuitstallings en skrywersbyeenkomste en beoog om ook byeenkomste rondom Kamfer se poësie te reël. Kamfer se werk het voorheen tot groot lof in Nederlandse vertaling verskyn (Uitgeverij Podium), en haar bundel grond/Santekraam is ook onlangs in Italiaanse vertaling uitgegee (Raffaelli Editore). (LitNet)

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het vanaf 19 tot 21 Januarie 2016 vir die tweede keer hul tweejaarlikse kongres vir jong navorsers, USAN (Universiteit Stellenbosch, Afrikaans en Nederlands) aangebied. Die kongres het dit ten doel om ’n platform te bied vir jong, opkomende navorsers waar hulle deur middel van referaataanbiedinge idees oor die taal- en letterkunde kan uitruil en sodoende kongreservaring opdoen ter voorbereiding van hul loopbane as akademici en/of navorsers.

Die twee hoofsprekers by die kongres was Alfred Schaffer (US) en Bassey Antia (UWK); beide lesings het aangesluit by Johan Hattingh se vertoog rakende veeltaligheid. Schaffer het kongresgangers meegedeel oor sy ervaring om die poësie van die digters Charl-Pierre Naudé, Antjie Krog en Ronelda S Kamfer in Nederlands te vertaal. Schaffer se vertaling van Kamfer se bekroonde debuut, Noudat slapende honde (2008), het iets nuuts vir die gemiddelde Nederlandse leser gebring: ’n werklikheid waaroor daar net in koerante gelees word. Hy het erken dat die vertaling van Naudé se poësie aansienlik makliker as dié van Krog en Kamfer is, omdat dit minder ideologies gelaai is. Wat die vertaling van Kamfer se poësie verder uitdagend gemaak het, was die groot aantal slengwoorde en die Kaapse taalregister wat so ’n sterk stem aan Kamfer se poësie verleen, en daarom meen hy dat vertalings van Kamfer, asook van Krog, se werk, altyd “onvertaal” sal voel. (LitNet)

Die Jan Rabie-Marjorie Wallace-skrywersbeurs vir 2016 is aan Ronelda toegeken. Die bemaking behels dat dit ter ondersteuning van kreatiewe skryfkuns in Afrikaans moet wees en op daardie stadium was die bedrag R380 000. Dit word ook toegeken vir die skryf van ’n roman.

Ronelda was baie oorbluf dat die prys na haar kant toe gekom het. Sy het aan Jo Prins (Beeld, 18 Desember 2015) gesê: “Dit beteken baie vir my, dit koop beslis meer as tyd. Maar essentially, wat dit beteken, is dat ek sonder finansiële bekommernis ’n roman kan navors en skryf.”

Dit prys word deur die Universiteit van Wes-Kaapland geadministreer en volgens hulle het Ronelda ’n “uitsonderlike voorstel ingedien met ’n weldeurdagte uitleg vir ’n beplande roman. Die agtergrond is plaaswerkers in die Wes- en Oos-Kaap en die beplande roman toon besliste belofte van varsheid en vernuwing in ’n bekende Afrikaanse literêre tradisie.”

Vir Ronelda was die skryf van ’n roman iets wat nog altyd “onder die surface” gelê het. Maar dit is beslis ’n “werkersklasroman en ’n liefdesverhaal”.

Sy sluit haar lesing wat sy aan die einde van haar termyn as ontvanger van die prys gelewer het, as volg af: “Iemand het my onlangs gevra wat dink ek van die klomp bruin skrywers wat nou gepubliseer word, toe sê ek ek dink dis te min en ek dink daar moet meer wees, daar moet báie meer wees.”

“Die Duitse skrywer en filosoof Goethe het gesê: ‘He who cannot draw on three thousand years is living hand to mouth’, en ek dink daar is min wie enige begrip van die waarde van idees, kennis, ondervinding en geskiedenis het wie nie sal saamstem met daardie sentiment nie, maar ek wonder soms waar dit ons los, as bruin mense in Suid Afrika, want daar is so baie van ons geskiedenis wat nie oopgeskryf is nie.”

“Ons is ’n gemeenskap wat nie net materially arm is nie, maar wie ook spiritually van dag tot dag lewe. Almal uit ons gemeenskap wat suksesvol word, is die uitsondering, en ons sukses kan net behaal word deur afsondering van ons eie gemeenskap. En ek glo dit is so omdat ons niks geskiedenis het om van krag te trek nie, want so baie van ons geskiedenis is van die rekord geskrap – ons herkoms, ons bydrae tot die veg teen apartheid, ons historiese pyn en humiliation, ons bydrae tot die kos en kultuur van die land.”

“Daar is so baie lewens, ondervinding en kennis wat reeds verloor is. Daar is so baie van ons kultuur wat reeds uitgesterf het. En daar is geen monumente van klip, marble, brons of op papier vasgevang in die literatuur vir toekomstige generasies om dit weer te ontdek nie.”

“Ek dink aan Kassiesbaai, en hoe tydens my navorsing vir Kompoun my oupa se laaste oorlewende neef, oom Hendrik, vir my sit gemaak het en toegelaat het om ons gesprek op film op te neem, omdat hy een van die laastes was wie ook sit gemaak was en ons hele familiegeskiedenis vertel was. Hy het geglo dat as jy nie weet waar jy vanaf kom nie, gaan jy dink jy kom van niks af.”

“Ek dink aan al hierdie stories wat grootouers oorvertel het en hoe dit verlore gaan en al wat oorbly is Afrikaanse volksliedjies wat soos die taal herskryf word sonder die ware geskiedenis. Ons geskiedenis is afgekap, fragmented. Hele gemeenskappe is geskuif na die sykant in hul eie verhaal, hele lewens reduced na footnotes.”

“Baie van ons hier is die afstammelinge van een van die oudste groep mense op die planeet, maar hierdie geskiedenis is geskryf in sand.” (LitNet)

Ronelda se derde digbundel verskyn in 2016 by Kwela onder die titel Hammie. Oor die bundel het Rustum Kozain gesê dat die haar “reputasie in die Suid-Afrikaanse poësie vasmessel”. Ronelda dra die bundel aan haar suster, Allisen Gertrude Kamfer, op.

In Die Burger van 25 Februarie 2016 skryf Annemarié van Niekerk in ’n onderhoud met Ronelda: “Dit is ’n ontroerende bundel met intens eerlike, selfs filerende gedigte oor veral haar ma, haar hammie [...].” (Hammie is ’n Kaapse woord vir “ma”.)

Van Niekerk wou by Ronelda weet of dit ’n elegie of ’n pryslied is. Sy vertel aan Van Niekerk so ’n maand voor haar ma se dood het sy en haar suster ’n lied van Tupac Shakur “Dear Mama” vir haar ma gerap het. Van die woorde lui as volg: “I wish I could take the pain away, If you could make it through the night, there’s a brighter day, Everything will be allright if you hold on.”

“Sy het die song geken, maar om een of ander rede – sy was seker ’n bietjie sad daai dag – het sy begin huil. Al het my ma nooit regtig oor haar eie goed gepraat nie, weet ek dat sy die laaste paar maande van haar lewe deur ’n baie moeilike tyd gegaan het. Toe ek amper twee jaar later die eerste keer weer kon skryf, wou ek my eie weergawe van ‘Dear Mama’ skryf, eerlik, mooi en onsentimenteel, iets wat haar lewe opsom en ook die lewe van ander hammies, veral van haar generasie.”

Ronelda vertel in ’n onderhoud met Marlene Malan (Vrouekeur, 9 September 2016) meer oor haar verhouding met haar ma wat beslag gekry het in baie van die gedigte in Hammie. Haar ma is met ’n stukkende hart dood, skryf sy in die bundel: “haar oë is ’n gewonde dier, haar neus is ’n naald en haar liggaam / is gekneus soos vrugte onder in die bak / my ma is bang dood / ek tel die glasstukkies op / en begrawe dit onder my vel.”

Sy vertel verder aan Malan: “Ek identifiseer met my ma se pyn, want ek dink ons dra mekaar se pyn en seerkry, doelbewus of nie. Ma se hart was stukkend, want almal het maar dinge wat net hulself ervaar, in hul kop. Vroue van my ma se generasie loop met diep grafte in hulle rond. Nie soos ons vandag wat heeltyd fulfillment soek nie.”

Die pad wat Ronelda geloop het na haar beskouing oor haarself en haar selfbeeld, was ’n lang pad. Sy verduidelik verder aan Malan dat daar ’n tyd was dat sy gedink het sy is net goed genoeg vir skoonmaak, “want ek kom uit ’n lang lyn van domestic workers. My kinderjare was gevul met subtle hints van hoe om ’n vloer te strip en polish (uit die gedig ‘Die skoonmakers’ in Hammie). Maar dit het verander, op 21, toe my ma my eendag geskel het oor my vuil kamer en dat ek ’nie ’n f** kan skoonmaak nie. Ek dink daai was haar way om vir my te sê ek moet iets anders met my lewe doen.”

In Hammie is daar 61 gedigte wat grotendeels gaan oor Ronelda se ma, maar daar is ook gedigte oor ander familielede en kennisse, die plaas en die Vlakte, taal en skrywerskap, feministe en peuterige pa’s, maklike meisies en dié wat rebelleer, skryf Clinton V du Plessis (Die Burger, 29 Februarie 2016).

“Wat tref in hierdie bundel is die eerlike, pretensielose skryfstyl, die oopskryf van die lewens van gewone mense, die outentieke stem, die onopgesmuktheid, die naatlose, natuurlike manier waarop die Engelse woorde, uitdrukkings, seggings langs die Afrikaans plek inneem.”

“Hier is geen literêre truuks of banale belese vertoon nie. Die digter het geen illusies oor die taal, digterskap, oor mense en literêre groupies nie. Hammie is die koop en die lees werd.”

Op LitNet is Vincent Oliphant die resensent en vir hom was die lees van Hammie ’n besonderse ervaring. “Ek hoop en glo dat hierdie bundel vir baie lesers van meer tradisionele poësie ’n venster op beide ’n ander en tog herkenbare wêreld sal laat oopgaan. Hammie is ’n belangrike toevoeging tot ons poëtiese en literêre skat.”

In Rapport (21 Februarie 2016) skryf Joan Hambidge dat Hammie ’n stérk bundel is; een wat jou tussen die oë tref: “oor die vreeslose ondersoek van familiegeweld, haat (oor apartheid), die ómbereidwilligheid om te vergewe (en vergeet), genderpolitiek en geweld op alle vlakke. Die gedig word selfs ’n ruimte waar die emosionele geweld opstu en jou as leser voortsleep. Die gedig word ’n soort ‘mission impossible’.” [...]

“In hierdie bundel word die emosionele reaksie op die moeder se siekte – met skerp aanduidings dat dit deur uitbuiting veroorsaak is – en die uiteindelike besoeke aan die hospitaal ontgin.” [...]

“Dit is ’n kompromislose bundel en een wat nie doekies omdraai nie. Die bundel verraai diepe wonde. [...] Hammie is ’n sterk bundel en een wat Kamfer se reputasie gestand doen ná die effense insinking van die tweede. Dit is nie ‘mooi’ verse nie, maar is bloedige, aanvallende verse. En ons weet mos dat woede ook pyn is, omdat dit ’n groot stuk magteloosheid dra. Die gedig op die agterplat som dit op: Die glasstukkies is onder die vel begrawe ...”

Ronelda se vierde digbundel (met 44 verse) word in 2019 onder die titel Chinatown deur Kwela uitgegee. Die titel van die digbundel verwys na ’n winkelsentrum wat die agtergrond is vir baie van Ronelda se gedigte.

In ’n onderhoud met Ronelda skryf AJ Opperman (Beeld, 9 Januarie 2020) dat Ronelda in Chinatown geweld en dan ook seksuele geweld en die gevolge daarvan kaalvuis aanpak. Sy pak ook ander onderwerpe soos patriargie, feminisme, wit vroue se feminisme en hul medepligtigheid aan patriargale stelsels wat voortbestaan: “En witheid – nie wit mense nie, maar witheid as ’n tool vir oppression.”

Chinatown was op die kortlys vir die Elisabeth Eybers-prys vir Afrikaanse en Engelse poësie vir 2020. Die beoordelaars skryf as volg oor dié bundel van Ronelda: “Met haar vierde digbundel, Chinatown, bereik Ronelda S Kamfer ’n nuwe hoogtepunt in haar ontwikkeling as digter. Sy waag haar hand aan langer gedigte en slaag uitmuntend daarin soos die verse ‘my poems is nie confessions nie’ en ‘try dié’ demonstreer. Eweneens met groot sukses slaag Kamfer opnuut daarin om die leser in vers na vers te ontroer en daarmee versamel sy retoriese krediet – die leser word deur sy/haar ontroering oorgehaal om die sake waarvoor Kamfer pleit simpatiek te bejeën. Hierdie proses verloop egter nie sonder verwikkelde selfrefleksie nie. In die reeds genoemde ‘try dié’ word die leser se meelewing bewerkstellig deur die opnoem van die struikelblokke waarmee jong mense uit arm gemeenskappe te kampe het in hulle strewe na selfverwesenliking. Die spreker besef dan dat sy haar eie pogings om aan hierdie ervarings sin te gee, nie kan vertrou nie: die diskoers van oorlewing wat sy wil aangryp as rasionalisering van haar jeugervarings is bes moontlik ‘nog ’n supremacist invention’.”

“Kamfer reken genadeloos met witheid af, maar Chinatown is ook ’n ondersoek na die trauma wat weens kleurdiskriminasie van generasie tot generasie oorgedra is. Heel moontlik in aansluiting by die herwaardering van veragte vrouefigure binne die feminisme posisioneer Kamfer haar in die bundel as ’n ondermynende soort heksfiguur (‘brujas’). Die afrekening in die bundel word na die vaderfiguur uitgebrei (‘Chinatown daddy’, ‘Powerade’ en ‘grapjas-dêddie’) nadat sy in haar vorige bundel Hammie veral die moederfiguur sentraal geplaas het. Chinatown is ’n kragtige digterlike credo uit die pen van Ronelda S Kamfer.” (LitNet)

In Volksblad van 23 Desember 2019 skryf Clinton V du Plessis: “In Chinatown word ’n distopiese wêreld aan die leser voorgehou. Kamfer loop met ’n kamera deur die woonhuis, familieverhoudinge en die township en zoem meedoënloos en ongenaakbaar in op veral die ‘fake’ en die ‘shiny kak’. [...]

“Kamfer slag die karkas van die wanfunksionele gesin en samelewing met ’n vlymskerp mes af en ontbloot die bloedige binnegoed met ’n koue, kliniese blow by blow account. Byna elke gedig tref soos ’n goedgemikte vuishou [...].”

“Slegs enkele van die korter gedigte werk nie altyd vir my nie, bly bloot interesting statements, maar dit doen geensins afbreuk aan die geheel nie. Daarvoor vergoed die beste verse.”

Chinatown is nie die tipe bundel wat jy vir ontsnapping of ontspanning sal lees nie. Die digter konfronteer jou met die onaangename name, skroom nie, deins nie terug nie, tel nie haar woorde nie, soos sy dit aan haar kind stel: ‘ek smile en sê / babygirl / Mammie is fearless’.”

Op haar blog, Woorde wat weeg, skryf Joan Hambidge dat Kamfer se verse goed is, “verpak met dinamiet en onrus.”

ek soek nie ’n plek langs die tafel nie

ek soek nie ’n plek
langs ’n women’s enfranchisement act table wat
in 1930 geset is vir white women only nie
hou julle tafel
ons maak vuur buitekant (28)

“Die gewone Kamfer-aanslag is hier: woede, woede en nog meer woede; verwysings na ander digters en ook mob-films; die durende pyn van die neerdrukkende jeug; haat teenoor witmense; die kompromislose aanslag oor afwesige vaders.”

“Die verse ondersoek die inbeweeg in die ongeneeslike wond. ’n Handvol goeie verse, maar die gevaar van herhaling van dieselfde temas begin nou opval. Maar terselfdertyd: die meeste digters ontgin dieselfde kwessies en keer terug na die psigiese scene of the crime.

“Wanneer sy nie haar anger uitstal nie, maar werklike pyn weergee, tref dit:

terrorist attack 

in ’n hotelkamer in Istanbul
gooi ’n man my op
die vloer
druk my gesig in die mat 

en verkrag my

buite op Taksim
gaan ’n bom af
ek bel my ma
en vertel haar net
van die een aanval 

die een wat sy op CNN
kan volg (26)”

Op Versindaba is Janien Linde die resensent en sy sluit haar bespreking af: “Chinatown is nie ’n gemaklike bundel om te lees nie. Dit kan beskryf word as ’n uitdagende en betrokke bundel wat beweeg binne die verwarrende konteks van hedendaagse identiteitspolitiek, en indirek in gesprek tree met kwessies soos die #metoo-beweging en oproepe om die dekolonisering van denke. Kamfer gebruik outobiografiese inligting as narratiewe wegspringplekke om die gevolge van sistemiese interseksionele diskriminasie uit te wys. Die gevolgtrekking waartoe die spreker in ‘ver was nog nooit naby nie’ (p 37) en ‘try dié’ (p 52-54) kom, is dat die sisteme waarteen sy so hard baklei, uiteindelik onoorkombaar is, en dat haar en haar nageslag se enigste verweer geregverdigde woede is. Waar dié woede in vorige bundels ’n vlam was, is dit in Chinatown ’n vuur, gemaak deur die as van die spreker se ma te verruil vir ‘gunpowder’ (p 50), en gestook met die ‘freedom’ wat sy gekry het toe sy haar ‘virtues’ geruil het vir haar ‘vices’ (‘Miss Militancy’ [p 35]).”

By 2020 se Woordfees op Stellenbosch is Ronelda en Nathan se drama Wit isse colour vertoon. Die egpaar het die teks daarvoor geskryf. Jason Jacobs het die regie behartig en Ashwin Arendse en Tayme Philander was in die rolverdeling.

In ’n onderhoud met Remona Voges op LitNet vertel Ronelda bietjie meer oor die stuk: “Daar is ’n stel met twee akteurs, Ashwin Arendse en Tayme Philander. Hulle stel twee karakters voor, en die storie wentel rondom hulle twee se perspectives, oor hulself, hul gemeenskap en hul toekoms. Dit is hoekom ons vir Ashwin en Tayme het – die produksie maak staat op goeie akteurs wat met baie min die storie dra. Die teks is ook geskryf met hulle individual personalities in gedagte, sodat die karakters regtig hul eie word.

Voges wou ook weet hoekom wit nou ’n colour is en wat sedert die verskyning van Nathan Trantraal se boek Wit issie ’n colour nie verander het. Hierop reageer Ronelda as volg: “Eerstens, ek dink te veel mense interpreteer daai titel te letterlik. Gaan lees gerus die storie, die lines is ‘Wit issie ’n colour nie, is ’n religion. Soes religions die wêreld oo wôd it vi jou gevoer…’ Ras is ’n social construct, so ons moet probeer om dinge van meer as een perspective te kyk. Al is jy ook hoe krities van social injustices moet jy kyk na hoe jy self-conditioned is en hoe jy glo en wat jy in glo.”

In 2021 word Ronelda se eerste roman by Kwela uitgegee onder die titel Kompoun, en met die intrapslag – net soos met haar poësie – laat sy haar merk op die Afrikaanse letterkunde. Kompoun is in 2022 met die Jan Rabie-Rapport-prys vir debuut- en tweede werke bekroon.

Ronelda en Annemarié van Niekerk gesels op LitNet (Van Niekerk is sedert die skryf van Hammie die redigeerder van Ronelda se boeke). Van Niekerk wou weet hoe sy die oorgang van die skryf van poësie na prosa beleef het: “Die oorgang was maar net technical, goed soos konteks, dialoog en karakters; ek het jare aan Kompoun gewerk – dit was probably die grootste aanpassing. Met my digbundels kies ek ’n tema en dan is daar x amount van gedigte wat ek kan skryf. Vir Kompoun het ek baie navorsing gedoen, ure se video’s en honderde foto’s gevat. Kompoun het vir my baie meer geduldig gemaak.”

Van Niekerk het aan Ronelda gevra of die skryf van Kompoun vir haar ou wonde oopgekrap het en of die skryfproses pynlik was. Haar reaksie was dat dit nie pynlik was nie, maar wel baie uitputtend: “Ek het ’n paar versions van die boek geskryf en ’n paar maande voor deadline het ek alles geskrap en oor begin aan die final draft, daar was nie tyd vir enige iets anders nie. (Nathan se expression toe hy sien ek sit en skryf oor, gaan ek eendag op my arm tattoo.) Wonde bly oop, ek is nie ’n groot believer in healing nie, ek is bang vir al die toxic positivity. Ek dink dit is oukei om te sukkel met die broken bits van jou experience, om heeltemal eerlik te wees met jouself oor jouself. En ek het vir Nathan om my uit te call op my bullshit – dit is maklik om te wees hoe jy conditioned is om te wees en baie meer werk om te wees hoe jy wil wees.”

Vir Van Niekerk is verlies een van die treffendste temas in Ronelda se werk en sy wou weet wat die grootste verlies in haar lewe was. “Ek dink as ’n mens die eerste keer verlies ervaar, bly dit in jou bloodstream. Elke disappointment en loss daarna gaan sit maar net op dit. Daar is ’n lyric in ’n song van Elbow, ‘Jesus is a Rochdale girl’: ‘I have a single heartbreak I celebrate and mourn.’ Dit express hoe ek voel. Ek dink ek sit al die deaths en losses saam. Ek allow myself wel, so nou en dan, om sad te voel dat my ma nie hier is om te sien dat ek alles doen wat ek gesê het ek gaan doen nie.”

Ronelda vertel aan Van Niekerk dat net die agtergrond in Kompoun op haar eie lewe gebaseer is; die res is alles fiksie: “Ek het ’n box vol notebooks en het vir ’n jaar net gesit en karakters ontwikkel. Die enigste ander ding wat ek sal sê uit my lewe uitkom, is die taal – ek het altyd my ma se manier van storytelling admire, die amazing way hoe sy metaphors gebruik het in ’n casual conversation. Ek moes myself somehow in ’n ander tyd en space imagine en die taal in die boek probeer weave dat ek ’n klein bietjie van haar stem kon incorporate. Die weirdest ding wat gebeur het, was die bry wat ek nog steeds sukkel om te shake en dit is purely omdat my ma se stem stuck geraak het. Ek bry nou al even as ek Engels praat. It needs to stop.”

Die beoordelaars het as volg oor Kompoun geskryf: “Die sestiger Jan Rabie skryf in sy Paryse dagboek oor ‘Afrikaanse skrywers se onvermoë om objektief en brandend-eerlik oor hul mense se groot probleme te skryf.’ Hy sou oor Ronelda Kamfer se Kompoun gejubel en gejuig het. Met dieselfde klaarheid skryf Kamfer Kompoun teen die geskiedenis en die konvensies van die plaasroman in. Dit is ’n déúrgekomponeerde werk uit die hand van ’n meesterstorieverteller met die taalgevoeligheid van ’n digter en die vernuf, tegniek en waarnemingsvermoë van ’n wêreldklasskrywer. Terselfdertyd konfronteer die roman ons met indringende vrae, nie net oor wat ons van die verlede onthou nie, maar oor hoe ons onthou, oor hoe die geskiedenis ons menswees in hierdie land gevorm het en steeds beïnvloed”. (LitNet, 24 September 2022)

“Dis ’n onthouboek dié, ’n hou-en-klouboek. Kompoun: Die boek as monument vir ’n ruimhartige Afrikaanse taallandskap; die boek as spieël wat hierdie land, hierdie Afrikaanse taal van ons nodig het.” (LitNet, 24 September 2022)

Dineke Volschenk is die resensent van Kompoun op Netwerk24 (25 Oktober 2021) en sy verduidelik die titel: Dit kan ’n naamwoord wees wat verwys na iets wat uit twee of meer elemente bestaan; of as werkwoord verwys dit na die proses om iets te vererger deur by te voeg. “Dit sien die leser dwarsdeur die roman: hoe probleme meer en meer word en hierdie familie deurmekaar maak; hoe astrante, bekkige kinders kwaad en depressief word.”

Volschenk vertel meer oor die storie: Dit handel oor die familie McKinney. Hulle storie word deur Nadia en haar neef Xavie vertel en omvat die tydperk van toe beide van hulle jonk was totdat hulle hul jong volwasse stadium bereik het. Hulle het by hul ouma Sylvia op die plaas Groenplaas in die Overberg grootgeword. Sy was ’n harde, ongenaakbare vrou. “Hulle vertel van begrafnis tot begrafnis stukke van mekaar en die ander neefs en niggies se lewe, van die verskriklike geweld wat in die familie gebeur en waaraan niks gedoen word nie en wat dit aan die ontvangers daarvan doen.”

Volschenk sluit haar resensie af: “Die storie is nie vir mense wat met kanthandskoentjies rondloop nie. Die taal is Kaaps, baie gemeng, brytaal, eerlik en beskrywend. Alle goeie skryfwerk het een ding gemeen: Daar is tekstuur in die werk, soos in hierdie roman. Die mengsel van humor – dis dikwels skreeusnaaks – en liggeraakte chagrin is vol tekstuur, sonder genade. Dis ’n kompoun van baie dinge, en bowenal is dit ’n portret vol lewe.”

Op Klyntji (15 Januarie 2022) bespreek Ryan Pedro Kompoun: “Kompoun cover die storie van die McKinney-familie, as told by niggie en nefie, Nadia en Xavie. Hulle vertel om die beurt hoe hulle formative years spent was under tyranny van hulle ouma, Sylvia McKinney, aka die ‘stammoeder van lieg’, aka ‘die matriarg van Groenplaas’. Ouma Sylvia se influence was strong – sy’t nie net die roadmap supply vir hoe Nadia en Xavie (én al haar ander kids en grandkids) moet move in die physical space van Groenplaas nie, maar sy’t ook die blueprint geteken vir hulle innerlike ruimte. Kamfer se illustration van die complexities van intergenerational trauma word op ’n strong, yet understated manier achieve deur die flawless characterization van Ouma Sylvia, Nadia en Xavie. Waar Ouma Sylvia die product is van ’n system wat haar reject en soos toxic waste gaan dump het op die periphery van society, is Nadia en Xavie ’n byproduct van die radioactive air wat rondom haar exist.

“Dis nie net all doom, gloom en emotionally stunted, desensitised laities nie, though. Van die latter kan daar in fact die total opposite gesê word. Waar Kamfer ensure het dat Ouma Sylvia se toxic traits in some shape of form deel is van die fibre van Xavie en Nadia se beings, het sy ook seker gemaak dat dié twee kindervertellers equipped is met ’n sensitive edge en die soort attentiveness wat sorg vir meer layered en textured vertellings.

“In Nadia se often charged, feisty en borderline aggressive approach tot situations, en Xavie se meer calm, collected en dissective manner van deal, kry die leser in albei cases ’n deconstruction en dismantling van die cultural en political structures wat op hulle impose word deur die grootmenswêreld. Dié dubbelloop-vertelinstansie is myns insiens een van die groot successes van die novel, since dit ’n broad spectrum van tonal extremes en inbetweens bied waarlangs betekenisvorming kan occur – dit maak die anger controlled, die liefde flawed, en die tragedies comical. En in dié way kry Kamfer dit reg om die themes wat sy in haar poetry explore op ’n heel nuwe manier aan te pak en te herverpak. Waar racism, poverty, patriarchy, gender-based violence en mental health in haar poetic oeuvre aan readers present word as ’n loud-ass gunshot accompanied deur die lingering smell van charcoal en sulphur, kry ons in Kompoun ’n broader scope: origin stories, inciting incidents, die loading van die clip, die pull van die trigger, die shot, die (often) bloody aftermath, die soeke na ’n way forward.”

Tydens die toekenning van die Sala-pryse in 2021 is Ronelda, saam met die Tsonga-skrywer Themba Patrtick Magaisa, as volksdigters op streeksvlak aangewys. Morakabe Seakhoa, die Sala-stigter, het uitgebrei oor hierdie toekenning: “Volksdigters is belangrike figure in hul land se kuns- en kultuur-landskap. Hy/sy bevorder die literêre kunste en kultuur deur middel van innemende programme en dienste, ’n dinamiese en interaktiewe reeks gemeenskapsaktiwiteite, en ’n fokus op inisiatiewe wat die kulturele lewe van die land ondersteun en onderhou. In die algemeen is volksdigters se rol om nasionale bewustheid en ’n waardering vir poësie te kweek.”

Ronelda is genooi om in November 2023 saam met kunstenaars soos Amanda Strydom, Adriaan van Dis, Antjie Krog en andere deel te hê aan die Festival voor het Afrikaans: Theater, film en literatuur, ’n tweejaarlikse fees om die Vlaamse en Nederlandse publiek met die Afrikaanstalige kultuur te laat kennis maak.

Is daar nog iets is wat sy hierdie jaar (2023) wil doen? vra Elna van der Merwe (Vrye Weekblad, 17 Februarie 2023): “My nuwe boek klaar skryf, baie meer films kyk en slaap. My ander goal is om my kas reg te pak, but that’s unlikely.”

Publikasies:

Publikasie

Noudat slapende honde

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780795702730 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Eugène Marais-prys 2009

Vertalings

  • Nederlands deur Alfred Schaffer 2010
  • Frans, vertaal deur Pierre-Marie Finkelstein

Resensies en besprekings

 

Publikasie

grond/Santekraam

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780795703652 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2012 Finalis vir ATKV-Woordveertjie vir poësie
2012 Kanna vir Afrikaans Onbeperk vir ’n Jong Stem

Vertalings

  • Nederlands deur Alfred Schaffer
  • Frans; vertaal deur Pierre-Marie Finkelstein

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Hammie

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780795707582 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

ATKV-Woordveertjie vir poësie, 2017

Vertalings

Nederlands deur Alfred Schaffer

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Chinatown

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780795709500 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Kortlys vir 2020 Elisabeth Eybersprys vir Poësie

Vertalings

  • Nederlands; vertaal deur Alfred Schaffer
  • 2023 Frans; vertaal deur Pierre-Marie Finkelstein

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Kompoun

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780795710384 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2022 Jan Rabie-Rapport-prys vir debuut- en tweede prosawerke
  • 2022 Kortlys Hertzogprys
  • 2022 Kortlys UJ-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Ronelda S Kamfer as samesteller

Artikels oor Ronelda Kamfer

Artikels en gedigte deur Ronelda Kamfer

Ronelda Kamfer se ATKV LitNet-Skrywersalbum is op 12-02-2021 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 2

Kommentaar

  • Hallo, ek het ongelukkig nie die moed om die m...rse relaas hiebo te lees nie maar wil graag vir Ronelda hartlik gelukwens met die toekenning. Uiteindelik kom dit iemand toe wat dit werklik verdien.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top