Jy is een van die belangrikste digters in Suid-Afrika. Hoe dink jy het die digkuns verander sedert jou debuut, Dogter van Jefta, in 1970?
Die digkuns het op verskeie vlakke geweldig verander: in die sestiger- en sewentigerjare is 'n stortvloed digbundels gepubliseer – goeies, slegtes, van jong digters, van oues op hulle laaste bene. Daar was klein tydskriffies wat gedigte gepubliseer het, so dit was 'n "lewendagge" bedryf. Die goeie was dat goeie digters, en veral digters wat teen die heersende kodes in geskryf het, tog uitgegee gekom het en die gesig van poësie verander het. Nou is die publikasie geweldig selektief en 'n mens word selde verras deur iets totaal anders. Daarby sukkel ou digters wat min bundels verkoop, om 'n uitgewer te kry, asook jong digters wat nog geen mark het nie. Wat wel heel anders is, is die aantal bruin/swart Afrikaanse stemme - dit konfronteer die Afrikaanse literêre lewe met vrae wat Engels op 'n manier al lankal mee gedeal het. Ek vind dit interessant dat ons Afrikaanse skrywers as vertalings Engels binnevaar om deel van die Suid-Afrikaanse letterkunde te word, maar dat Engelssprekende bands nou skielik in Afrikaans begin sing om deel van die scene te word. Dit wys dat daar 'n geweldige energie in Afrikaans is, maar dit sit nog nie eintlik in die letterkunde nie.
Wat dink jy van die nuwe Afrikaanse stemme?
Ek betreur die feit dat jong stemme nie heel vroeg gepubliseer word nie - dis op 'n manier jammer dat jong digters hulle moet uitlewe in bands en rap-groepe. Ek sit nou die dag en dink aan Toast Coetzer en Jitsvinger - albei van hulle het 'n reuse-aanhang, maar niemand het nog hulle werk gepubliseer nie. Aan die ander kant bewonder en beny ek hoe die jong stemme te werk gaan om hulle profiel te vestig en hulle werk bekend te stel. Ek het grootgeword in die tyd toe digters eensame siele was wat net wou gaan waar "hoë kouer paaie lê", in die term van Van Wyk Louw, en eintlik neergesien het op die "volk". Dit is intussen lekker opgemix.
Hoe bly jy as digter getrou aan jou eie stem, maar ook in staat om jouself te reinvent?
Ek dink nie mens moet getrou bly aan jou stem nie. Ek sê dikwels, ag nee vader, ek klink nou net soos ek. 'n Mens moet oppas dat jy nie verval in wat jou stem is nie, want daardie stem kry dan sy eie dreuning en op die ou end gee die dreuning die deurslag in plaas van wat jy wil sê. Die reinvention kom juis as jy druk op jouself sit om jou stem te verander. Ek sal ná 'n erg gestileerde bundel byvoorbeeld een uitgee wat totaal vrye vers is. Om my te distansieer van "suiwer" Afrikaans het ek 'n sekere soort Afrikaans gebruik; dit het intussen heeltemal verander. As ek aan iets getrou bly, is dit om te skryf wat rondom my aangaan.
Die voorblad van jou onlangse bundel, Verweerskrif, het nogal aandag getrek. Hoe belangrik is dit vir digters om die boundaries te push?
Johann de Lange het eenmaal vir my gesê om 'n bundel te publiseer behoort te wees soos om by 'n waterval af te spring - jy moet nie 'n bleddie clue hê of jy gaan oorleef nie. Ek hou dus aan werk aan 'n bundel totdat ek dink maar ek is nou skytbang om die ding uit te gee. 'n Mens leer ook naderhand 'n sintuig aan van presies waar die boundaries lê.
Wat is die huidige hoogtepunt van jou loopbaan as digter en watter boek wil jy nog lees of skryf?
Ek moet ten minste elke jaar 'n nuwe digter ontdek, iemand wat my voete onder my uitslaan - dit is 'n absolute hoogtepunt. Vanjaar het ek op die Portugese digter Nuno Judice afgekom, en liewe hemel, watter pragtige gedigte, maar ook sy manier. Hy het die vermoë om 'n gedig te begin en jou dan in te pluk in die gedig in asof dit 'n plek van onmiddellikheid is … ek weet nie hoe om dit te beskryf nie. Maar hy is wonderlik. Ek het sy vertalings in Nederlands gelees.