Kamfer se gedigte

  • 1

Titel: Noudat slapende honde
Skrywer: Ronelda S Kamfer
Uitgewer: Kwela
Formaat: Sagteband
ISBN: 9780795702730
Publikasiedatum: Junie 2008
Aantal bladsye: 48

Klik op die omslag van die boek om jou kopie by kalahari.net te bestel.

 

Ronelda S Kamfer se debuut, Noudat slapende honde, is verrassend goed ontvang: positiewe resensies van ander digters, optredes by die Versindaba en Aardklop, ? dubbelbladonderhoud in Boeke-Insig, mooi boekbekendstelling, kartetse op 'n blog en nog baie gevalle van spesiale aandag. Wat is daar nog te sê van hierdie debutant, op pad om gekanoniseer te word na eerste publikasie in Nuwe stemme 3, My ousie is ? blom en nou ? bundel, en dit terwyl die uitgewers maar langtand kou aan poësie?

Dit is gedigte wat inhoudelik ? mens laat regop sit en ongemaklik skuif in die stoel, ? "hardcore comedown experience", as ek haar uitdrukking so mag gebruik. Dit verwoord ? ervaring wat op die grense van middelklasbestaan beleef word en spreek van ontgogeling, die verlies van ? prille, onskuldige jeug, ontvlugting in dwelms, moontlik dood, soos in "OD 1" en "OD 2", verbrokkelde verhoudings met afwesige pa's in "Pick n Pa", uitsigloosheid en verval. 'n Mens hoor die stem van jong werkersklasvroue, wit, bruin en Afrikaans, in ? subtiele en wrang aanklag teen die samelewing wat hulle tot statistiek en opskrifte in poniekoerante reduseer - vgl "Lolla" en "goeie meisies".

Dit word egter goed gebalanseer deur vertellings oor vertroeteling en geborgenheid binne die eie groep - vgl "kliek van sewe". Daar is tipiese kladboekverse waarin die rug met ? naïewe tienderjarigheid op die wêreld gekeer word, soos in "Nag". En skalkse jeugherinneringe in "To all the boys I loved before", of ? jeugdige eerlikheid wat pretensies ontmasker in "Drink" en "blaas die trompette". Dis ? stem wat onthutsend breek deur die stiltes van ras, klas en ja, selfs taal. In "Vergewe my maar ek is Afrikaans" word wêrelde van Afrikaans-wees oormekaar geskuif en belig so die veelkantigheid en vorming van nuwe identiteite.

Wat bybly, is die maatskaplike inslag van die verse wat die fokus op die nood op die Vlakte laat val. In "Klein Cardo" en "Dis vroeg winter in die Kaap dié jaar" word die uitgelewerdheid aan bendegeweld, dwelmsmouse en armoede verbeeld, maar op 'n ingehoue wyse wat paradoksaal die skreiendheid daarvan aksentueer. Die politieke onderbou van hierdie sosiale onreg is onmiskenbaar, soos in "Klonkies", en word juis deur die voortreflike gebruik van ironie en onderbeklemtoning na die oppervlak gebring.

Vertellings van miskenning en verontregting is welbekend in die Afrikaanse literatuur en in ons politieke onderbewuste. Dat Kamfer mens weer opnuut daarmee boei, is toe te skryf aan haar skryftalent.

Die minimalisme, bedrieglike eenvoud en strak versbou van sommige gedigte herinner aan Valda Jansen se werk - vgl haar "Vrye vers" en "toe skoene". Sy maak voorts effektief gebruik van enumerasie en herhaling wat, soos by Adam Small, as 'n refrein werk wat die aanklag versterk. Daar is dikwels 'n mooi reël of twee wat sommer klaar staan, soos "Ek wil so erg myself saam met jou wees/ dat my vriende moet sê dat ek anders is." Alhoewel dit 'n dunnerige bundel is, kry mens die indruk dat Kamfer nog 'n wye register het om te ontgin.

Die impak van Kamfer se debuut kom voort uit 'n miskende wêreld wat sy na die sentrum bring, en sy is terdeë bewus van haar ambivalensie jeens Afrikaans en digterskap, soos sy te kenne gee in die openingsgedig, "Waar ek staan", maar veral pittig uitgedruk in die woorde van die oom in "ek soek 'n goue sterretjie":

terwyl ek so staan en preek sal 'n stink kwankiedronk oom
my voor God uitkak en sê jy is maar net 'n hotnot
met 'n goue sterretjie voor jou kop

moenie met jou verkakte gedigte na ons toe kom nie
gaan vertel daai kamtige sad stories van jou vir die mense
wat die reëls maak
jy ruik elk geval nes hulle.

Ek sien daarna uit dat sy hierdie ambivalensies verder oopskryf. Die toets is nou om hierdie debuut op te volg, noudat slapende honde wakker is!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top