Resensie: Hammie deur Ronelda S Kamfer

  • 1

hammie300

Hammie
Ronelda Kamfer
Kwela
ISBN: 9780795707582

Ronelda S Kamfer se derde digbundel, Hammie, handel oor die komplekse verhouding tussen ‘n dogter en haar ma, terugskouend gesien van ná die ma se dood. Hierdie is egter geen soete Moedersdag-odes waarin die deugde van die ma liries besing word nie. Nee, dis liewer die ontbloting van die diep maar onvolmaakte liefde tussen gewonde mense.

Reeds met die woord "Hammie" as die titel in stede van die meer formele "Mammie", word die leser ingetrek in ‘n teks in wat praat soos wat daar in die gegewe omgewing geleef word. Die eerste gedig, "Vir die vlieë" begin met die reëls: "ek het bloed op my hande/ van al die vredes wat ek bewaar." Onmiddellik weet ons ons het hier met ‘n beleërde siel te make. In "Vetste vlieë" gee die spreker ‘n aanduiding van hoe dit voel om ‘n gewone bruin meisie te wees te midde van dié wat "die light skin gene/ in die familie gehou het", en dan, haar ma wat haar gerusstel met verdoemende kommentaar op "daai tefies". Hier het sy haar ma in haar hoek.

Reeds met die derde gedig, "Jirre waa’s my ma" kry ons ’n aanduiding van dit waarom die hele bundel draai, naamlik die afwesige ma wat altyddeur teenwoordig is. Een van die ma se tekortkominge word onthutsend direk gestel in "lae lewens": "sy het my geleer/ hoe om nie lief te wees/ vir myself nie."

In "Nathan" is daar die aandoenlike toneel van die ma se sterfte in die hospitaal: "Vandag was veronderstel/ om ‘n boring dag te wees/ ek en my ma was van plan/ om my babaklere uit/ die laybye te gaan haal."

In "Trouplanne" word die ma se trouringe ter wille van oorlewing verpand/verkoop: "sy is my ma/ sy moet my help." Hier is dit opvallend dat "is" en nie "was" nie, gebruik word. Haar sterfte ten spyt, ís die ma steeds.

Een van die aangrypendste tonele verskyn in "As seer nie meer seer is nie". Die ma kom soek vertroosting by die dogter: "die Sondagaand kom sit sy/ met haar teddybear nighty/ en blou rollers in haar hare/ op my bed."

Dan is daar die dogter wat die ma probeer troos deur haarself terselfdertyd teen die sentimentaliteit en haar eie weerloosheid te verset: "ek sê net/ is okay Hammie daai’s ou kak." Maar dan tog toegee: "want as ‘n ma sorry sê/ is dit asof die Here afkom aarde toe/ en vir jou kroon op jou kop sit".

In "Slapende honde", waarvan die titel aan dié van haar eerste bundel, Noudat slapende honde, herinner, is daar die afwysing van mense se neiging om die lyding van die digter te verromantiseer: "'n tipe Jonker, Krog, Bukowski mash-up". En dan haar oordeel: "omdat ek weet/ hoe mense is/ hulle is kak/ hulle hou van ‘n vrou/ in pyn/ hulle hou van ‘n dronk suicidal/ teef." Tussendeur word die ongemaklike verhouding met wit mense aangesny in gedigte soos "Tale", "Volkspele" en "Apartheid".

Maar dit is altyd weer die teenwoordigheid van die afwesige ma wat keer op keer by ons spook in gedigte soos: "Ek koop vir my ma nice goed al is sy nie meer hier nie".

Telkens is dit die "middle-aged anties" wat die herinnering aan die ma melankolies wakker maak. Die tweeledige gedig "antie Gerty, suster Kamfer, antie Trui" handel oor die ma se begrafnis. In die eerste deel lui een reël: "en my ma se lewe speel voor my af." Die verskeie aspekte van die ma word uitgebeeld: "dié is wie sy was/ nie die vrou in die huis nie/ sy was die vrou in die spice-fabriek." Dan word die vertelling onderbreek deur ‘n dramatiese terugflits: na die oomblik van haar dood: "Hammie, Hammie, skrik wakker,". Die gedig eindig amper doodluiters met: "en ek is sorry/ek het gedink/ sy gaan okay wees."

Vir my as iemand wat self ook gedigte skryf was die lees van Hammie ‘n besonderse ervaring. Ek hoop en glo dat hierdie bundel vir baie lesers van meer tradisionele poësie ‘n venster op beide ‘n ander en tog ‘n herkenbare wêreld sal laat oopgaan.

Hammie is ‘n belangrike toevoeging tot ons poëtiese en literêre skat.

Annemarié van Niekerk het by die US Woordfees 2016 met Ronelda Kamfer oor Hammie gesels (foto: Gerrit Rautenbach)

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top