Donkerbos: ’n TV-resensie

  • 0

Donkerbos   (Showmax)
Met Erica Wessels en Thoko Ntshinga  
Regisseur en skrywer: Nico Scheepers

Die kyker verdwaal dikwels in die donkerte van die Limpopo-bos; nie noodwendig omdat selfs die maan verskans word deur die digte boomtakke nie, maar omdat geskende siele wat steeds hardkoppig asemhaal, daar spook. As daar nie lig in jou lewe is nie, waar kry jy die ligbron om op die hart van ’n moordsaak te skyn en die derms raak te sien?

Van die karakters is so gekwets deur die lewe, ook in die huidige chaotiese en korrupte Suid-Afrika, dat hulle net met die allergrootste deursettingsvermoë hul daaglikse pligte afhandel. Elemente wat Chris Lotz in sy atmosferiese kinematografie van die bos rondom Magoebaskloof telkens uitmuntend belig.

............
In sy dapper, uitstekend-gekonstrueerde draaiboek werk Nico Scheepers op verskeie vlakke. Hy kyk sonder vrees na die haglike maatskaplike omstandighede waaronder mense moet oorleef wanneer chaos die botoon voer.
..............

In sy dapper, uitstekend-gekonstrueerde draaiboek werk Nico Scheepers op verskeie vlakke. Hy kyk sonder vrees na die haglike maatskaplike omstandighede waaronder mense moet oorleef wanneer chaos die botoon voer. Ook wanneer swak bestuur en korrupsie om elke hoekie en draai uitloer. Dit gaan ook om kinderverwaarlosing en -mishandeling wat die teelaarde skep vir ’n reeksmoordenaar wat na hartelus in sulke donker tye funksioneer. Is hy (óf sy) die produk van ’n korrupte, siek samelewing, of ’n laksman?

Voeg tussenin geharde speurders en polisiemanne/-vroue wat al so dikwels deur die lewe gekwets is dat daar nie meer ’n stukkie vel sonder letsels oor is nie, en Scheepers skep ’n reeks waarin donkerte deursoekend priem na lig dwarsdeur insekte en modder. Maar sal die gefolterde mense wat deel is van ’n sisteem sonder geld of genoeg mannekrag daardie flitslig van rede in die bos van verwarring kan skyn en fokus?

’n Mens moet egter ook versigtig wees vir ’n oormaat lofgesange, want dit skep verwagtings by kykers waaraan ’n reeks nie altyd kan voldoen nie, en die resensent word dikwels eweneens oorweldig in ’n poging om reg aan ’n storie te laat geskied sonder om dit na ’n goue kalf te laat klink waarom daar aanbiddend neergeval moet word. Dan raak dit bloot ’n rits byvoeglike naamwoorde wat die kern misvat.

Daarom, op ’n meer nugtere vlak ... Die sterk punte van ’n reeks wat (soos Nêrens, Noord-Kaap) uiteindelik reg aan televisie as kunsvorm laat geskied, is: Hier is geen gerieflike stelle wat lyk of g’n mens daarin woon nie, geen pratende koppe wat bladsye se onnodige dialoog aframmel om gehore te plesier nie, geen mooi prentjies wat eintlik in ’n middelblad tuishoort nie. Net feite wat tussen die slyk uitsypel soos uit ’n moeras.

Al wat sigbaar word, is die harde, ongesensorde werklikheid. Jy kyk dus na ’n grepie uit die waarheid wat die Suid-Afrika van vandag uitbeeld sonder om te verfraai of polities korrek te wees of verskoning te vra. Scheepers en sy span takel vandag se probleme soos twee ramme wat mekaar storm. En dit is daardie klapgeluid van koppe stamp vol waarheid wat wérk.

Dit gaan oor ’n speurder, Fanie (Erica Wessels), wat van buite af speurwerk doen. Sy is iemand wat baie skerp kyk, wat nie toelaat dat sy deur enigiets of enigiemand beïnvloed word nie, en wat dwarsdeur maskerades of leuens sien. Wessels lewer seker een van die mees realistiese en briljante, deurleefde en onselfbewuste vertolkings in jare op televisie. Sy bly vroulik, maar onafhanklik en gepantser teen valsheid en skynwaarheid.

Sy sal byvoorbeeld op ’n misdaadtoneel aankom en self eers rondkyk en haar eie gevolgtrekkings maak voordat sy beïnvloed word deur wat ander sê. Haar gesin ly ook onder haar werk. Haar man (’n gesaghebbende Jacques Bessenger) en haar seun Kallie (’n verrassende en doodnatuurlike Steph van der Merwe) is planete wat dit nooit te naby haar son waag nie. Verblydend dat ons hier kinders sien en nie volwassenes wat probeer om soos kinders te praat en te wees nie. Jy sien die onskuld wat gekorrupteer kan word in elke toneel in die bedaarde spel.

https://stories.showmax.com/originals/donkerbos/

Uiteraard, tematies gesproke, lê die onskuld nog vlak in die kinders soos Kallie met ontblote slagare waarin vampiere hul slagtande kan slaan. Sal hy sterk genoeg wees om te bly leef en dit te weerstaan? Of verwaarloos die ouers die kinders sonder dat hulle dit besef en maak van hulle ook slagoffers? Die res van die episodes sal leer.

Dan duik Stian Bam op sonder enig stereotipering as die swakkeling Wolf vir wie ’n quickie in ’n motor hom sy werk kan kos, maar ai, ’n man moet die spanning darem verlig. En Nicola Hanekom, wat in elke rol wat sy aanpak drie emosies of onderduimsheid in een kyk kan laat deurskemer. Ook die indrukwekkende Thoko Ntshinga as die kaptein wat aan die hoof van die ondersoek staan en meer waarneem as wat sy wys. Sodoende word sy nie beïnvloed nie. Maar wanneer sy besluite neem, is dit die korrektes.

Sanda Shandu, so goed in die toneelstuk Who’s afraid of Virginia Woolf, se oë neig aanvanklik om net ’n bietjie te skerp en aggressief te priem. Dit verdwyn egter in latere tonele wanneer hy met die gemeenskap te doen kry. Maar hy is van meet af aan duidelik ontuis in hierdie polisiekantoor.

En dan ’n feitlik onherkenbare Leandie du Randt wat seker dankbaar moes gewees het om nie weer die mooi leëkop-poppie te speel met ’n broekie korter as ’n politieke gewete nie. Sy blink uit.

Midde-in hierdie kookpot floreer ’n reeksmoordenaar wat skynbaar aan die okkulte verbind is en veral klein kindertjies voor die voet vermoor en vermink. Wie is dit en waarom die uittartende tekeninge en embleme wat agtergelaat word? Hier is duidelik ’n moord-skaakspel aan die gang. Maar hy/sy gaan hoom/haar vasloop teen ’n gedugte span waarvan elke karakter so duidelik afgeëts is soos ’n rots in die vallei, omdat hulle self verlies verstaan en verwerk het.

’n Mens wil nie te veel oor die reeks tekere gaan nie, want onthou ook: Dit beweeg stadig en deeglik, en berus nie op die gewone bla-bla-bla-dialoogryke tonele nie. Die krag lê in wat nie gesê word nie. Dis nie ’n gemaksugtige lekkerkykreeks nie.

Baie sterk aanbeveel, met ’n episode per week op Showmax.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top