Om nadenkend te leef: kantaantekeninge by ’n paar gedigte van Antjie Krog

  • 4

...
Om van haar gedigte te verstaan, moet mens wel iets van die geskiedenis van hierdie land weet en ook weet dat sy deel is van ’n geslag wat nie vrede gehad het met die ideologie van apartheid nie.
...
  1. Inleiding

Antjie Krog het verlede jaar 70 jaar oud geword. Ek het haar die eerste keer “ontmoet” toe ek haar twee digbundels Dogter van Jefta (1970) en Mannin (1975) tydens my studentejare op Stellenbosch gekoop het. Ek was ingeskryf vir ’n BA en moes onder andere Grieks en Hebreeus studeer omdat ek teologie wou studeer. Hierdie twee digbundels het my aandag getrek omdat die titels daarvan verband hou met verhale in die Ou Testament (Rigters 11 en Genesis 2). Sy het my geflous omdat die gedigte daarin nie uitsluitlik godsdienstige temas aanroer nie, maar haar belewenis as jong meisie (Dogter van Jefta) en getroude vrou (Mannin) verwoord.

Sedert daardie jare het ek altyd bewus gebly van Antjie se doen en late en wat sy geskryf en gepubliseer het. Nie dat ek alles wat sy al gepubliseer het, gekoop en gelees het nie. Ek het wel die twee versamelbundels van haar gedigte, naamlik Digter wordende: ’n keur uit die gedigte van Antjie Krog (2009) en ’n Vry vrou: gedigte van Antjie Krog (2020) aangekoop, omdat ek aanklank vind by haar wyse van omgaan met die lewe. Later het ek ook die digbundels Kleur kom nooit alleen nie (2000), Mede-wete (2014) en Plunder (2022) aangekoop.

Heelwat van haar gedigte spreek van nadenke oor menswees, oor ons hierwees in Afrika, oor godsdiens, veroudering, dood en ons verhouding met die Aarde en alles daarop.

Wat ek hier aanbied, is nie ’n diepgaande en uitgebreide bespreking van al Antjie Krog se digwerk nie. Dis slegs ’n vertelling waarin ek uitspel waarom sommige van haar gedigte my aanspreek. Om van haar gedigte te verstaan, moet mens wel iets van die geskiedenis van hierdie land weet en ook weet dat sy deel is van ’n geslag wat nie vrede gehad het met die ideologie van apartheid nie.

Die paar gedigte wat ek bespreek, hou verband met vier periodes in haar lewe. Dis waarskynlik nie vier periodes wat sy vir haarself sou identifiseer nie, maar dis my ervaring van en blik op haar digterskap.

 

  1. Vier periodes

 2.1 Eerste periode: nadenke oor vrouwees en eerste tekens van verset (1970–1990)

Antjie, oftewel Anna Elizabeth Krog, is op 23 Oktober 1952 in Kroonstad gebore. Sy is die oudste van vyf kinders van Willem Krog en die bekende Afrikaanse skryfster Dot Serfontein. Haar ouers het op die plaas Middenspruit in die distrik Kroonstad geboer. Haar ma het ’n lywige boek, Keurskrif vir Kroonstad (1990), oor die geskiedenis van Kroonstad geskryf, want die familiegeskiedenis van daardie tak van die Serfonteins was ten nouste verweef met die geskiedenis van Kroonstad. Antjie se oupagrootjie aan moederkant, Danie Serfontein, was ná die Anglo-Boereoorlog volksraadslid van die distrik Kroonstad. In die boek vertel Dot die geskiedenis van Kroonstad vanuit ’n blanke perspektief. Antjie het haar ma ’n keer daaroor gekonfronteer en gevra waarom sy nie ook die verhaal van die swart inwoners van die dorp en distrik vertel het nie. Dot se antwoord was glo: “Hulle moet maar self ’n keer hulle verhaal vertel.” Wat hierdie kort gesprek tussen Dot en Antjie vertel, is dat haar ma volkome tuis was binne die Afrikaner-denke en -filosofie van daardie tyd. Hierdie denke en filosofie kan mens tipeer as paternalisties en eksklusivisties: Óns, die Afrikaanssprekendes, teenoor húlle, die Engelssprekendes. Óns, die mense van Europese afkoms, teenoor húlle, die mense van Afrika. Óns, die gereformeerdes, teenoor húlle, die Katolieke en Anglikane. Die gereformeerde tradisie van die Christelike godsdiens het die nodige onderbou vir hierdie soort denke en lewensingesteldheid voorsien.

Die Christelike God, so het vele Afrikaansprekendes destyds geglo, het die Afrikaners geroep om die gereformeerde godsdiens (die enigste ware godsdiens) hier aan die suidpunt van Afrika te vestig en te versprei. Die feit dat Afrikaners van die twee Boererepublieke die Anglo-Boereoorlog oorleef en Afrikaners die bestuur van die land in 1948 oorgeneem het, het hierdie eksklusivistiese lewenshouding versterk.

In van haar gedigte verwoord Antjie ’n ander lewensingesteldheid as dié van haar ma en die breë Afrikanergemeenskap van die vyftiger-, sestiger- en sewentigerjare. Alhoewel sy in hierdie dampkring grootgeword het, wou sy meer inklusief leef. “My mooi land” is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Hierdie gedig het in 1970, in haar matriekjaar, in die Hoërskool Kroonstad se jaarblad verskyn en lui só:

Kyk, ek bou vir my ’n land
waar ’n vel niks tel nie
net jou verstand.
Waar geen bokgesig in ’n parlement
kan spook om dinge permanent
verkramp te hou nie.
Waar ek jou kan liefhê
langs jou in die gras kan lê
sonder om in ’n kerk “ja” te sê.
Waar swart en wit hand aan hand
vrede en liefde kan bring
in my mooi land.

’n Mens kan nie anders nie as om te wonder hoe die Krog-gesin (en spesifiek haar ma en pa) die gedig ontvang en beleef het. Verskeie koerante het glo daaroor verslag gelewer en Antjie moes vir seker hierna versigtig trap – nie dat sy bekend is vir versigtig trap nie. Die gedig is nie in haar vroegste digbundels opgeneem nie en het ook nie in André P Brink se Groot verseboek 2000 verskyn nie. Dit het grootliks in die vergetelheid geraak totdat iemand dit rondom die bewindsoorname in 1994 weer in herinnering geroep het. Dis waarskynlik om dié rede dat die gedig in die versamelbundel Digter wordende: ’n keur uit die gedigte van Antjie Krog (2009) opgeneem is.

Na matriek studeer sy aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en behaal ’n BA-graad met Afrikaans, Engels en wysbegeerte as hoofvakke. Daarna sit sy haar studie voort en doen ’n BA Honneurs-graad in Engels. In 1983 behaal sy ’n MA-graad aan die Universiteit van Pretoria met ’n verhandeling getiteld “Familiefigure in die poësie van DJ Opperman”. Haar inklusiewe lewensingesteldheid vind onder andere uitdrukking daarin dat sy vir ’n paar jaar onderwys gee aan ’n hoërskool vir bruin kinders in Kroonstad en later jare verbonde was aan die Universiteit van Wes-Kaapland, waar sy Afrikaans doseer het.

Ek het reeds vermeld dat sy my geflous het met die titels van haar eerste digbundels. In haar vroeë digbundels verwoord sy wat dit is om ’n jong meisie, ’n getroude vrou en ook moeder te wees. Hierdie vroeë digbundels illustreer hoedat sy vroeg reeds nadenkend met die lewe omgaan. Sy is nie skaam om oor haar ontwakende seksualiteit en verliefdheid te skryf nie. Ook nie oor hoe sy haar eerste swangerskap en moederskap beleef het nie. ’n Gedig uit ’n latere digbundel weerspieël dat sy as oudste kind (en ook dogter) dit soms moeilik gevind het om die voorbeeldige een te wees. Die gedig “om in ’n dogtertjie se kamer te slaap” spieël na my mening haar eie kinderjare en is vir my ’n besonder mooi gedig:

Tannie kan sien hoe netjies jy is
hoe presies alles in jou kamer
gepak is    hoe jy jou bes doen

hoe jy jou rooster by jou studietafel plak
hoe sorgvuldig jy jou wekker stel hoe
jy as oudste kind net jou bes doen

altyd jou bes doen jou heel
beste bes soos wat jy
beste besdoen verstaan

maar vanoggend toe jy jou sap omstamp
sien Tannie vir ’n oomblik hoe angs uit
die hoeke van jou gesmelte groen oë flikker

die angs dat bes nie tel nie     dat bes niks
bring of uiteindelik tot niks lei nie dat
bes ander se beheer oor jou is     en veral

dat jy dalk net ’n gewone dogtertjie is    hierdie
tannie weet hoe besdoen jou vir die res
van jou lewe hiermee ongelukkig gaan maak

2.2 Tweede periode: nadenke oor ideologie en mag (1990–2000)

Antjie het vroeg afskeid geneem van hierdie “besdoen”. Hierdie leefwyse waar jy jou eie identiteit prysgee en leef soos ander wil hê dat jy moet leef. Die Christelik-Nasionale Onderwys-filosofie van destyds was daarop ingestel om jongmense te vorm wat eendersdenkend is en wat hulle bes doen vir die Afrikanersaak. Almal moes daarom Christengelowiges wees en hulle onderwerp aan die besluite van gesagsfigure soos die Tien gebooie dit voorskryf. “Eer jou vader en moeder” is so uitgelê dat dit ander gesagsfigure ook ingesluit het. En vergeet nie Paulus se voorskrif in Romeine 13:1 nie: “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is deur die beskikking van God.” Maar daar was toe reeds ’n handvol kinders (gebore kort na die Nasionale Party se bewindsaanvaarding in 1948) wat besluit het dat hulle nie maar alles gaan aanvaar en alles vir soetkoek gaan opeet nie. Daar was ’n stille rebelsheid aan die broei. Antjie verwoord hierdie verset goed in “1995”. Alhoewel die datum 1995 boaan die gedig staan, het sy waarskynlik reeds vroeër ’n wrewel ontwikkel in hoe die politiek in Suid-Afrika bedryf is. Maar dit kan ook wees dat sy tydens die onderhandelinge gesien het hoedat mans (daar was min vroue teenwoordig) politieke magspeletjies speel. Die gedig lui:

ek sê dit vooruit
hard
ek staan vir niks
ek skaar by nêrens
niemand kom my naby

almal lyk dieselfde
almal is mans almal
is nekke almal
peule van mag

die generale en brigadiere en ministere
en hoofmangenerale sit en piele vleg
en bebliksem ’n hele land met die omruilbare gesigte
van politiek en geweld
almal is slu
almal voel fokkol

Here waar kom ons hulp vandaan?
in die wandelgange lê glas
stopstrate van vleis
taxi’s word bloedgargoyles

en almal wil hê
en almal wil hou

tussen niemand word niks êrens heel nie
tussen nêrens en niemand bly niks oor nie
niemand bied niks
niks
soos wasem
niks
balsems
niks   iets
helends
iets sagsinnig
iets milddadig mens

ek sê vooruit
ek staan vir niks
ek skaar by niemand

ek weersin volkome

Anders as Chris Louw wat in 2000 ’n ope brief aan Willem de Klerk geskryf het, het Antjie reeds in 1995 haar woede en weersin deur middel van ’n gedig verwoord. Chris se brief het ’n verstommende effek gehad. Verskeie ouddienspligtiges het gereageer. Só is die “Boetman-is-die-bliksem-in”-koerantbriewe en -artikels gebore. Maar Antjie was die Boetmanne eintlik vooruit en ek wonder hoeveel van hulle hierdie gedig van haar ken. Die slotwoorde van die gedig (“ek weersin volkome”), waarin sy ’n selfstandige naamwoord ombuig en daarvan ’n werkwoord maak, is só skerpsinnig en treffend dat mens na die lees daarvan die woorde nooit kan vergeet nie. Sy het die Boetmanne se woorde oortref.

Gedurende die sittings van die Waarheid-en-versoeningskommissie tree sy op as joernalis en doen sy verslag oor die getuienis van slagoffers en familielede van slagoffers. Haar aanhoor van die vertellinge en haar belewenis van die rou emosies wat sy tydens die verhore aanhoor, lei daartoe dat sy Country of my skull (1998) publiseer. Hierdie verhore stimuleer haar ook tot die publikasie van die digbundel Kleur kom nooit alleen nie (2000).

2.3 Derde periode: nadenke oor die nuwe bestel (2000–2010)

Die oorgang na die nuwe bestel in 1994 het ons met hoop vervul dat al die burgers van hierdie land nou in vrede met mekaar sal saamwoon. Maar ons woon in ’n land met ’n bevolking wat geweldig divers is. Ons het 11 amptelike tale, verskeie koningshuise en tradisionele leiers.

Die regering van Nelson Mandela (1994–1999) het die ganse wêreld aanvanklik beïndruk en ons het saam met Chris de Burgh destyds gesing “We are riding on a rainbow”. Ons het vir ’n kort periode wel gelukkig saamgewoon en mekaar lewensruimte gegun, maar toe Thabo Mbeki (1999–2008) aan bewind kom, het die krake begin wys. Hy het na die Europeërs in die land verwys as “colonialists of a special kind”. Om wit te wees in Suid-Afrika het mense skielik ontuis laat voel. Antjie, wat so graag inklusief wou leef, het die skielike vervreemding aangevoel en ook treffend verwoord in die gedig “ná ground-invasions in Zimbabwe”.

sal ek altyd wit wees
maak nie saak waarvoor ek staan
by wie ek skaar    wat ek doen
wie my ondersteun nie?

sal ’n swart man op ’n dag in my gesig gil
Voetsek! Fôkôf! en my huis oorvat
en my President bly stil en sy Kabinet
en die oorblywende wit comrades?

sal ek op ’n dag forseer word om te besef
swart en wit het niks gemeen nie
nie waardes nie    nie medemenslikheid nie
selfs en veral nie geslag nie

is kleur die allesbepalende faktor    ek kan hoe
liefhê    hoe hoort    wit-wit wit-wit klop my hart?

Onder die regering van Jacob Zuma (2009–2018) het verval, korrupsie, geslagsgeweld en selfverryking hand oor hand toegeneem. Na die Zondo-kommissie se ondersoeke weet ons hoe sleg dit eintlik tydens Zuma se bewind gegaan het. Die ANC-leiers het eenvoudig ander pad gekyk terwyl die land geplunder is en werkloosheid en armoede toegeneem het. Staatshospitale het verval, Suid-Afrikaanse Lugdiens is in sy kanon, ons spoorinfrastruktuur is daarmee heen, ons posdiens staan op sy laaste bene, ons paaie met hulle baie slaggate lyk soos ’n maanlandskap, terwyl ons elke dag die negende Egiptiese plaag vrees – drie dae algehele duisternis. Oor die verval in die staatshospitale skryf Antjie “Geheue 3”:

“Die ontvangs is sleg hier. Is dit jy, Ma?”

“Ja, ek wonder sommer vanoggend hoe dit met jou gaan?”

Sy stem kom afgemeet.
“Ek sit hier buitekant Volksrust in my kar.
Ek het van die pad af getrek hier by ’n hoogtetjie.
Vanoggend by ongevalle het ’n dogtertjie ingekom
– so drie vier maande oud.
Ek het ’n pypie longe toe nodig gehad, ’n dunnetjie
– standaard-equipment in enige hospitaal.
Die personeel het dit nooit gecheck nie.
Die babatjie is dood. Aangesien Ma nou vra.”

ek onthou hoe ek laas sy oë sien verswelg tussen die luidpratende
voetslepende traagbewegende personeel in die vuil gange van Boitumelo.

my kind is 24. ’n mens het aan sy hande doodgegaan.
’n swart mens in ’n swart hospitaal. hy moet hiermee saamleef.

2.4 Vierde periode: nadenke oor godsdiens, veroudering, dood, en ons één-wees met die heelal (2010–2022)

Antjie se inklusiwiteit lei ook daartoe dat sy ook anders oor die Christelike godsdiens begin dink en dig het. Haar vroeëre digbundels wek die indruk dat sy tuis is binne die gereformeerde Christelike geloof. Sy haal immers uit die Bybel aan en verwys na Bybelkarakters en -verhale. Maar ’n onlangse gedig weerspieël ’n verskuiwing. Sy is duidelik nie meer tuis in die gereformeerde Christelike tradisie van haar jeugjare nie en ook nie meer tuis binne die tradisionele Christelike geloof nie. Sy verwoord dit soos volg in “ongelowig is nie die regte woord nie”:

ek’s gevul met geloof maar nie ’n Christen
nie     ek glo nie aan sonde of die hiernamaals
of Christus nie              ek glo nie aan God soos hy
vertel word deur die Bybel of die kerke nie

ons drink almal soos babas aan ’n bors ons
voel die tepel tussen ons tandvleise en sê: dis
God – voel die ooreenkoms! die bors, dan sê ons:
Christus! teologies bely ons die melk as Gees

intussen skiet vanuit die tepel ’n hele bos
buise ’n onverklaarbare klierstelsel in fact
nog ’n bors en daaragter ’n hele liggaam eie

lewe     dimensies     denke maar ons bly korrel
na die tepel met ons breintjie en
ongekoördineerde oë: ghoe    ghoe-ghoe

Sy vind voorts aanklank by die nuwe Groter Verhaal (op Engels Big History) wat begin by die oerknal, die ontstaan van sterre, sterrestelsels en planete om uiteindelik te fokus op die Aarde en lewe op Aarde totdat die verhaal afsluit met die mensdom en die mensdom se kreatiewe en vernietigende handelinge. In hierdie verhaal beklee die mens nie meer die sentrale plek soos in die Christelike verhaal nie, maar is hy/sy part en deel van alles wat op Aarde leef en al geleef het.

Sy verwoord dit mooi in “’n eland staan by ’n kuil”:

’n eland staan by ’n kuil      dit is winter

net toe ek daar verbyry buig
haar kop af na die water
die water weerkaats die lug
die lug pewter aan die klein-karoo wolke

ek sien skielik die oneindig-littekenlose lug
die grasvlakte onteensaamd ek sien
die eland, die opdonkerende water en
die bergreeks pruimblou skik aan sy glooiings

ek hou stil: die eland die water die vlakte
die berg brand in op my retina       ek kan voel
hoe iets in my probeer oopgaan wat soek hoe
die eland die water die berge deel is

van ’n geheue van oneindigende voortglippendheid

hoe wéét hulle van mekaar?

sterf hulle ooit as newe-wêrelde af van mekaar
of stort keelvel en klip soomloos mekaar
binne? was die eland berg voordat sy wolk
was? was gras eens eland? bedroef sit ek

en kyk na die eland die berg en die lug so niks
kan ek onthou van die ontniks waaruit ek kom
so niks verstaan ek van die niksheidsnoute waarheen
ek op pad is – haglik in hiernamaalsflardes krap-

krap ek toevallende gaatjies na die Groot Goddelike Niets

Waar die vorige gedig nog ruimte gelaat het vir die Groot Goddelike Iets, is hier slegs sprake van die Groot Goddelike Niets. Oor God of die goddelike kan ons weinig – indien enigiets sinvols – sê. In die Groter Verhaal word godsdienste kulturele skeppings. Dis mense wat hulle gode skep, daarom dat godsdienste kom en gaan. Gééneen bestaan vir ewig nie en gééneen kan op absoluutheid aanspraak maak nie.

Dit bring Antjie uiteindelik daartoe dat sy oor haar eie eindigheid nadink. Ons verskyn vir ’n oomblik en verdwyn van die toneel sonder dat die heelal ’n traan daaroor stort. Sy veroorloof haar ’n kort meditasie hieroor en ook dit het met inklusiwiteit te doen, want ons word gebore en sterf soos alles in die heelal. Sterre word gebore en sterf, planete word gebore en sterf, alle lewende organismes op Aarde word gebore en sterf. Maar om daarmee vrede te maak, vra nadenke. Die gedig “Bergmeditasie. Sondag 22 junie” is een van haar meditasies oor die tema:

niks kom nie. my keel klem.
’n gelate verdriet brand rokend
op in my bors. my hart
kerm aan haar skarniere. ek wil
iets aanraak, iets vashou,
die heelheid opwek wat eens myne

was. ek wil terugkeer
met my voormalige liggaam. ek
is nie sonder my
liggaam nie. slegs deur my liggaam kan
ek die aarde bewoon
my siel is volledig my liggaam

my liggaam beliggaam
wat ek is. moenie teen my draai nie
moet my nie verlaat nie
moenie rondom my ingee nie. moet
nie van my wegstort nie
moenie van my afsterf nie, moet my nie

onbetuig laat nie. ek
het ’n liggaam, daarom is ek. tree
vir my in die bresse –
jy’s my heel enigste mandaat om
die aarde lief te hê

Antjie weet dat dit goed was om die lewe te kon geleef en beleef het. Om ’n gesonde liggaam te kon gehad het wat haar in staat gestel het om met al haar sintuie waar te neem, daaroor te kon nadink en skryf. Nou breek die sewentigerjare aan waarvan die psalmdigter sê: “Die getal van ons jare is sewentig en as ons baie sterk is tagtig ...” (Psalm 90:10). Hoe die lewe vir haar vorentoe sal verloop, weet sy nie, maar sy weet dat sy haar oudword kan beleef as rypword. Hieraan gee sy uitdrukking in “o lyf. o liggaam”:

o lyf. o liggaam

daar is geen eggo van lied
geen soom van lig
geen nabyste klank of sleutelbeen van sterre
wat jy nie oor die jare na my toe bymekaargemaak het nie

nou, hier in my sewentigste jaar
draai my ore na binne en vind tekens
dat jy besig is om ons te verlaat

in die paar jare wat oor is
moet ons ons vestig in vrede
ons vreugdevol plooi en krimp terwyl ons kyk
lank en eerbiedig soos ’n oudagmens moet kyk
na die brandend ondergaande son

Rypword word in die natuur sigbaar in onder andere die herfsseisoen waaroor Boerneef so mooi dig:

Niks hang so rooi soos wingerdblaar by Hexrivier
niks staan so geel soos herfspamplier by Dwarsrivier
         op Ceres
slaan rem aan hou julle asem in en kyk en kyk
lank en eerbiedig soos ’n mens na so ’n herfs moet kyk
laat dit inbrand in jou vir later tyd
die warm geel en rooi vir latenstyd

Dis vir my so duidelik soos daglig dat die slotstrofe van Antjie se gedig op Boerneef se herfsgedig sinspeel:

in die paar jare wat oor is
moet ons ons vestig in vrede
ons vreugdevol plooi en krimp terwyl ons kyk
lank en eerbiedig soos ’n oudagmens moet kyk
na die brandend ondergaande son.

Eendag sal die son vir ons almal ondergaan. Hopelik sal ander die sonsondergang aanskou en ons bestaan in herinnering roep en sê: “Dit was mooi en dit was genoeg.”

 

  1. ’n Lys van Antjie Krog se werke
  1. Dogter van Jefta (Human & Rousseau, 1970)
  2. Januarie-suite (Human & Rousseau, 1972)
  3. Beminde Antarktika (Human & Rousseau, 1975)
  4. Mannin (Human & Rousseau, 1975)
  5. Otters in Bronslaai (Human & Rousseau, 1981)
  6. Jerusalemgangers (Human & Rousseau, 1985)
  7. Gedigte 1989–1995 (Hond, 1995)
  8. Lady Anne (Human & Rousseau, 1989). Vertaal as Lady Anne: a chronicle in verse (Bucknell University Press, 2017)
  9. Kleur kom nooit alleen nie (Kwela, 2000). Vertaal as Down to my last skin (Random House, 2000)
  10. Met woorde soos met kerse (Kwela, 2002)
  11. Die sterre sê “tsau” (Kwela, 2004). Vertaal as The stars say “Tsau” (2004)
  12. Verweerskrif (Umuzi, 2006). Vertaal as Body bereft (2006)
  13. Mede-wete (Human & Rousseau, 2014). Vertaal as Synapse (2014)
  14. Plunder (Human & Rousseau, 2022). Vertaal as Pillage (2022)
  15. Mixtape van die liefde (LAPA, 2022). (Samesteller)

Versamelbundels

  1. Om te kan asemhaal(1999). Robert Dorsman vertaal van haar gedigte in Nederlands en publiseer dit onder dié titel.
  2. Digter wordende: ’n keur uit die gedigte van Antjie Krog (Human & Rousseau, 2009)
  3. Skinned: selected poems (2013)
  4. ’n Vry vrou: Gedigte van Antjie Krog (Human & Rousseau, 2020)

Kinderpoësie

  1. Mankepank en ander monsters (1985)
  2. Voëls van anderste vere (1992)
  3. Fynbosfeetjies (2007)
  4. Vetplantfeetjies (2022)

 

Lees ook:

Huldigingsrede: Antjie Krog, 7 Oktober 2022

Antjie Krog (1952–)

"om te roei sonder hawe"

Antjie Krog gehuldig by vanjaar se Tuin van Digters

  • 4

Kommentaar

  • Johan van der Merwe

    Wow, begin ek my kommentaar, wat ’n wonderlike vrou, mens, digter en opsommende "gees". Dit is ’n baie opbouende verhaal, en sonder dat ek kon keer, skryf ek ’n gedig van ’n nederige weergawe van myself, ek wat ook nie oor "kleurgrense" gestruikel het nie, maar gespring het. Ongelooflike artikel oor ’n ongelooflike, amper bo-natuurlike mens, met eerlikheid wat trots om haar nek hang.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top