"om te roei sonder hawe"

  • 1

LitNet se Stemme | Voices | Amazwi is ’n reeks van 15 kort, kragtige monoloë deur gevestigde en opkomende dramaturge geskryf, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, NATi en die ATKV.

In “om te roei sonder hawe”, ’n voorheen ongepubliseerde gedig van Antjie Krog, is Lady Anne Barnard aan die woord oor die vooruitsig van ’n ontmoeting met Samuel Johnson. Hannah Borthwick vertolk Krog se teks onder regie van Nicole Holm.

Hannah Borthwick en Nicole Holm verduidelik hoekom hulle ’n fisieketeater-benadering gevolg het in die vertolking van Antjie Krog se “om te roei sonder hawe”.

“om te roei sonder hawe”

om die Swart Dik tuisgebroude Kragsop van Sparta te ontkom
moes ek dikwels aansit by die tafels van mans deur vrouens vir mans
om uitgestal te word aangebied as maagdelike baarmoeder
vir welgestelde adellikes wat bie om my bloed te meng
met dié van hertog of markies

& hulle kom, o ja, hulle het gekom
die hooghede stormloop soos antilope
& hoewel my hart dit werd is, was my kop verward
(ouer mans gebruik mos die double entendre,
wat beteken ek is nie veronderstel om hul ontugtige
opmerkings te snap nie, en mag dus ook geen beswaar hê nie)

gelukkig:

ek het gou geleer

& slaag met gemak daarin om
            die beskroomde te bevry van inkennigheid
            die weifelende te lok die ydele tot verstomming te koketteer
            die egoïs te ontwrig die gevatte te plesier
            die beledigende te ontpit en die meester uit te oorlê

dus was ek gereed toe die Werklik-Belangrike Man opdaag
aan Huis van die Skotse Ete-rati: die Engelse taal
se Mursus Major se Kollos se Intellektuele Knater

geplaas links oorkant hom
kon ek my uitkyk aan sy beroemde profiel –
’n berg van grillige scrofula-wanstaltigheid
sy vel dofgeel sy bewegings paraplegies
sy houding selfingenome
sy sinne uitgespreek asof almal dit wil herhaal

vir ’n uur en ’n half was hy stil
soos hy met gepaste venyn die dierlike in homself voed

vanselfsprekend het ek toe reeds geweet wat die hitte van sy brein geskryf het hoe sy woordeskat kan fluweel die verruklike kan blootlê hoe donker hy kan verpels ook die angswekkende die diepgevreesde kan aftas hoe hy sy werk onverklaarbaar verras met beginsels hoe hy wedersydse brooswees wedersydse uithou verstaan en nooit versag word deur skoonheid of oorweldig deur status nie sy werk hou my gevange dus vind ek grasie in sy wanstaltigheid so vol uitgeslape strategieë om te verbyster en aandag te ontvoer

ek wag dus my kans af
wakkergemaak deur die Leeu self vra ek ongevraagd ’n vraag
wat soos ’n blou visvanger oor die tafel flits
hy draai sy volle aandag stadig na my toe
gluur na my met sy soetskeel oog deur die hare van sy pruik
peil my waarde terwyl hy die mes onhandig in sy hand om en om rol

maar die dikbek-dier in hom is gewek
     ek moet vinnig vlei
     & gebruik sy begaafdheid om sy nederige geboorte skoon te vee:
“would not the Son have excused the Sin, Doctor?” vra ek
die dosis skop in & hy word oordadig toegeeflik

ek het nog nooit weer aan daardie aand gedink nie, tot nou
            – hier in Afrika langs ’n watervalpoel die kleur van bier
dit het gisteraand gereën
& die poel, ag die poel stort oor en storm halsoorkop af in die vallei van weligheid –
ek het inderdaad my eie irritasie vergeet
     oor die belaglike moeite met die tafelrangskikkings
die kos, die na-ete konsert
& hoe die mans altyd effe ergerlik inkom
omdat hulle gesprekke onderbreek is
& hoe as vrou
jy jou sintuie kloof om vas te stel:
waarvan sal hy hou? wat sal hom bekoor?
wat sal jou uniekheid na hom oorbring?
wat sal sorg dat hy nie sy rug op jou draai nie?
wat sal hom laat oogkontak maak?

wat is dit wat maak dat mans met soveel gemak planete op hulle vingerpunte spil?

ek het eintlik nie weer aan dié aand gedink voor nou nie

’n verlate, diepberoofde vrou hier tussen groot geelhoutbome
fynbos tarentale olyflysters en ’n malagietgroen jangroentjie
soos ’n juweelhangertjie in die blare
ek probeer die Ou Beer omvat vashou aan sy volheid
sy totale vertroue dat hy iets onweerlegbaars beteken in die lewe

vir my as uitgeskuifde/vervangde is dit nie meer moontlik nie

alle hoop het my verlaat

ek staan op en stap die watervalpoel binne as ’n laaste kontinent
ingestel dat dit die einde is in hierdie groot rooskleurige vloedklipbak
bokant my knak een blou-verinnigde bergkrans in die ander
ek buig my knieë
      & gee die water my verslae inhoud
stadig sak ek af
afgeslote deur ’n bruisende basaltgebedde stilte
my mond word water
my elmboë leem
uit my oë wrong donker oranjekleurige modder
ek vly my neer op die stroombed
      my arms omhels ’n rots as my dodebark
hou my! vat my! vernietig my vir altyd!
dat hierdie maalkolk van begeer van selfvermorsing kan oorgaan
dat die angel van oorgawe die finale inperking binnepriem …

 

… agheregod bars ek die oppervlak uit in doodsangs en woede
selfveragting en woede woede woede woede

my stem brul oor die water waar vinkneste soos snikke hang

(Ontmoeting tussen Lady Anne Barnard en Samuel Johnson vanuit notas aan Kaap Goeie Hoop)

 

Stemme | Voices | Amazwi is supported by the National Arts Council.

Stemme | Voices | Amazwi is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.

Al die monoloë is op hierdie blad beskikbaar:

Stemme | Voices | Amazwi

Kyk hier na LitNet en die Suidoosterfees se eerste Stemme-reeks wat in 2021 aangebied is:

Stemme

  • 1

Kommentaar

  • Breyten Breytenbach

    Dis werklik ‘n baie besonderse teks. En ´n byna onomvatbare saambind van die "geskiedenis", wat ‘n (dikwels gruwelike) proses is in woorde. Dankie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top