Antjie Krog (bo) is op Vrydag 7 Oktober 2022 by die Tuin van Digters op Wellington gehuldig. Frieda van den Heever het die huldigingsrede geskryf en Johan Myburg (onder) het dit voorgelees.
...
Ek sê dankie dat van die mees hartroerende woorde in Afrikaans vloei uit die rou materiaal van die lewe: vuil doeke droogmaak, etes voorberei, saam om ’n tafel sit, my seun groet … dat jy poësie maak uit die dinge rondom jou, die enigste 24 uur wat jy daagliks tot jou beskikking het.
...
Ek is deeglik bewus daarvan dat hierdie skrywe van my in iemand se mond gaan lê wat woorde veel beter kan inspan as ek self. Ek weet ook dat die ore waarop dit gaan val, gewoond is aan literêre gesprekke en groot idees wat dikwels in akademiese terme verhaal word. Ook, en veral: dat die vrou oor wie en vir wie ek skryf, meer hulde verdien as wat ek ooit in woorde kan probeer omskryf. Steeds skryf ek, maar ek gaan skiet uit die heup, uit my hart, en nie hoofsaaklik uit my harsings nie.
Ek kan net skryf uit wat ek weet, of ten minste ken. Ek is ’n vrou, het ’n gesin, is ’n ma wat twee seuns alleen probeer grootmaak en liefhê, kind van die vlaktes wat hier onder die berg leef, iemand wat ’n lewe maak uit woorde, klank en stories, nêrens anders wil bly as in hierdie land van genade en verdriet nie, en elke dag leer om dieper en meer innig te leef met verlies saam. Antjie Krog het my hand kom vat in al hierdie fasette van my lewe sonder dat ons hande al ooit aan mekaar geraak het. Sy leer my om my lewe – hierdie een, wilde, kosbare lewe wat myne is – daagliks beter te bewoon.
Ek het vir ’n paar jaar die voorreg gehad om byna weekliks ook as deel van my werk by RSG op Vers en klank haar gedigte te kon lees en toe te laat dat haar gedigte my lees. Soos ek hier skryf, sit ek by die Voortrekkermonument ’n uur voor Antoinette Kellermann en The Ancient Voices die oerkluts kwyt gaan open by Aardklop. Die ironie ontgaan niemand nie. Ek het hierdie jaar die voorreg gehad om hierdie teks te kon saamstel uit Antjie se omvattende oeuvre en die regie van die produksie te behartig. En niet is ek opgekrog. Ek vind elke keer weer iets anders, iets meer wat met my praat. Wat my beter laat praat. Wat meer waar word. Deur gewaarwording. En die enigste waarheid staan gevel in klank.
Ek kan my nie my lewe as vrou, lover, ma, kunstenaar, meelewer – mens – indink sonder Krog-bundels as handboeke nie. Sy het die rare vermoë om die onvermoë van menswees uit te druk, om die goed wat anderkant sê lê, te uiter, om die eggo’s van die onweetlike te laat hoor en in ’n sagte mede-wete te laat land.
Toko-pa Turner skryf so in Belonging: Remembering ourselves home:
There is a wild woman under our skin who wants nothing more than to dance until her feet are sore, sing her beautiful grief into the rafters, and offer the bottomless cup of her creativity as a way of life.
And if you are able to sing from the very wound that you’ve worked so hard to hide, not only will it give meaning to your own story, but it becomes a corroborative voice for others with a similar wounding.
Die wilde vrou onder Antjie Krog se vel het my en vele ander al menigmaal deur haar woorde aangespoor om die lewe bloots te ry en dat daar dinge is wat eenvoudig nie met handskoene aangepak kan word nie, doekies wat nie omgedraai behoort te word nie.
The Vernon Spring het ’n song met die naam “Waves know shores”, en die hoofsaaklik instrumentele lied eindig met die woorde: “I suggest you love like love's no loss.” Die somtotaal van die lirieke. Antjie Krog se gedigte, artikels, toesprake en boeke, bo en behalwe die feit dat dit my geleer dink het, het aan my dié voorstel gerig: om lief te hê asof liefhê nie verlies is nie. Uit die longe uit. Asof my lewe daarvan afhang. Omdat dit inderdáád daarvan afhang. My bestaan, my besittings en my beleggings is geheel en al verbonde aan joune. Ek is omdat ons is.
Dis baie maklik om vandag op ’n afstand te bly van mense, standpunte, debatte, gebeure, selfs kuns. Om bloot waar te neem sonder om ingetrek te word. Om onderdompel te word … die Here behoed ons. Ek leef, as waarnemer, ook dikwels so. Ek hou daarvan as my hele huis vol mense is en ek nie ’n woord hoef te sê nie, net kan luister en inneem. Antjie Krog se werk hou egter nie daardie “luukse” aan my voor nie. Ek word opgeneem daarin, ek kan daar nie los van kom nie – ’n gesprek begin en die werk kry gestalte binne-in my. My meegevoelers word uitgesteek of ek nou daarvoor gevra het of nie. En so word ek keer op keer herinner: My naam is Saam (soos ons sê waar ek vandaan kom as jy inwillig om iets mee te doen).
Antjie Krog, ek eer elke tree wat jy moes gee tot vandag. Al die elke keer wat jy in jouself moes tuiskom om jouself ook te buite te kon gaan, vir ons onthalwe. Vir my onthalwe. In elke fase van my lewe. Ek sê dankie dat van die mees hartroerende woorde in Afrikaans vloei uit die rou materiaal van die lewe: vuil doeke droogmaak, etes voorberei, saam om ’n tafel sit, my seun groet … dat jy poësie maak uit die dinge rondom jou, die enigste 24 uur wat jy daagliks tot jou beskikking het.
I am not interested in what Bourdieu, or Kristeva, has to say about grief. I don’t want a grid, I want arms. I don’t want a theory; I want the poem inside me. I want the poem to unfurl like a thousand monks chanting inside me. I want the poem to skewer me, to catapult me into the clouds. I want to sink into the rhythm of your weeping, I want to say, my grief is turning and I have no way to remain still. (Sina Queyras, "Water, water everywhere")
Ek draai na jou as ek keelvol is van teorie en tellings. Ek is, soos Sina Queyras, nie geïnteresseerd in om te voel “by proxy” nie; en jy bring my keer op keer terug na myself. My diep, ongepoetste self van waar ek ander ook werklik kan ont-moet. Waar gees gees gewaar. Mens met mekaar.
Hartbevlek en opwaarts.
Tot hiertoe en verder huis, Antjie.
- Foto’s: Izak de Vries