
Foto van Erica Wessels in Donkerbos met toestemming van Showmax gebruik
Maart is Mensregtemaand en Nico Scheepers praat met Naomi Meyer oor Donkerbos, ’n Showmax-reeks waarvan die laaste episode ’n paar weke gelede gestroom is. (Die reeks is steeds beskikbaar op Showmax.)
Nico, ek het baie goeie dinge van Donkerbos gehoor, maar toe ek dit self begin kyk het, besef dat hierdie ’n reeks is om van kennis te neem. Waar het dit vir jou, die skrywer hiervan, begin? Hoekom die storie, hoekom die omgewing, waarvandaan die karakters?
Ons sou die eerste seisoen van Nêrens, Noord-Kaap in Julie 2020 begin skiet het. Die tekste was op ’n goeie plek, en al die beplanning was op dreef – maar natuurlik het die wêreld in Maart daardie jaar gesluit. Ek is toe werkloos, moedeloos en vreeslik alleen in ’n skoenboks in Kaapstad, en soos enige sielsgesonde mens verslind ek toe ek die donkerste stories waarop ek my hande kon kry om sin te maak van die wêreld.
Ek was bang om misdaad aan te pak, en daarom moes ek dit doen. Bang, want dit is eerstens ’n genre wat ek diep lief het maar self nog nooit in gewerk het nie, en tweedens, goeie misdaadfiksie is moeilik.
..........
Ek was bang om misdaad aan te pak, en daarom moes ek dit doen. Bang, want dit is eerstens ’n genre wat ek diep lief het maar self nog nooit in gewerk het nie, en tweedens, goeie misdaadfiksie is moeilik.
...........
Hoe dra ek iets nuuts by tot die mees volop genre op televisie? So die eerste ding wat ek vir seker geweet het, is dat die verhaal hom in Limpopo sou afspeel. Ek is daar gebore en het daar grootgeword, in Louis Trichardt, ongeveer 100 km van waar Donkerbos afspeel. Ek wou nie nog ’n storie bydra tot Afrikaans wat afspeel in ’n kusdorpie of in die Karoo nie – daarvan het ons genoeg. En in Limpopo is ’n baie spesifieke konkoksie taal- en kultuurgroepe, asook die rasseverhoudings – en ’n beeldskone oerwoudstreek in Magoebaskloof. Vir die res van die land is Limpopo net die Wildtuin, jagplase en kremetartbome. Hier was ’n geleentheid om ’n noir-riller in die nat humiditeit van ’n subtropiese woudstreek op ons eie agterstoep te skep. Die heel eerste vraag waar ek by opgekom het, was toe die haak waaraan die hele storie hang: Kan ek ’n karakter skep wat onmenslike dade pleeg, maar steeds empatie verdien? Vandaar die skepping van die eerste karakter, ons moordenaar. Alles het by hom begin. Ek het die storie agteruit beplan – die mausoleum rondom die lyk gebou. Baie mense vra my of Fanie – ons speurder – ’n vrou is om by te hou by die hedendaagse vlaag vroulike speurders. Maar die antwoord het organies, en duidelik, gekom: As die storie gaan oor die moord van kinders, dan móét my speurder ’n ma wees – en ’n goeie een. En dis met daardie twee karakters – Fanie en die moordenaar, asook die rede vir die moorde – dat ons (ek en my vervaardigers by Nagvlug Films) toe die projek aan Showmax voorlê en die skryfkontrak ontvang. Ek het die eerste drafts klaargemaak en toe moes Donkerbos eers bietjie in ’n laai wag terwyl ons in Maart 2021 begin skiet aan Nêrens, Noord-Kaap. In Oktober 2021 (toe die naproduksie op NNK afsluit) het ek weer pen opgetel vir hierdie.
Ek kan nie anders as om jou hieroor te vra nie. Dis weer Menseregtedag en die land was lanklaas so sinies oor menseregte, in al sy gedaantes. Dink jy ’n storie kan iemand se lewe verander? Of skryf jy ’n storie om ’n storie te skryf en mense iewers gedurende die verhaal, as jy hulle diep in die woud ingesleep het, te laat besef: Hmmm, ek is nou hier ingedra en nou sien ek dinge vir die eerste keer (anders)? Wat is jou oogmerk as jy ’n draaiboek skryf of ’n teaterstuk of TV-reeks skryf?
Ek dink om iets te skep met die uitgangspunt van verandering in die gehoor is storiedood. My verantwoordelik is nie om die naald te beweeg vir die kyker nie, maar vir die karakters.
..........
Ek dink om iets te skep met die uitgangspunt van verandering in die gehoor is storiedood. My verantwoordelik is nie om die naald te beweeg vir die kyker nie, maar vir die karakters.
............
Nes elke akteur op stel hul eie bagasie en unieke, totaal verskillende lewenservaring in die storie inbring en deel maak daarvan, so ook gaan elke mens wat die storie ervaar, anders daarna kyk. Ons kyk nie die storie van die hele mensdom nie, maar van ’n handjievol gebroke mense iewers in Limpopo. Suid-Afrikaners, van elke kleur en taal, wat sukkel met dieselfde probleem: Wie staan tussen ons en die donkerte? Die nihilisme is die gif wat ons land stadig opvreet, en niemand weet waar die antwoorde vandaan gaan kom nie. Ons sukkel verskriklik met gender-based violence, veral teen vrouens en kinders. Elke keer as ek iets verskrikliks in die tekste geskryf het, en getwyfel het, was daar iets ergers op die nuus – nog ’n artikel van kinderverkragting, nog ’n sinnelose moord op ’n ou vrou ... So my grootste verantwoordelikheid was om nie te lieg nie. Om ’n storie te vertel van regte Suid-Afrikaners wat oor dieselfde goed bekommerd is as die res van ons – geen oorsese wendings en clichés en glansutopieë waarin lugkopkarakters ronddwaal nie. Regte mense, met hulle voete in bloed en modder nes die res van ons. Ek dink ook dis hoekom misdaad so ’n gewilde genre is – om te weet, te móét glo dat daar steeds ’n handjievol mense is wat namens ons teen die donkerte baklei.
...........
Regte mense, met hulle voete in bloed en modder nes die res van ons. Ek dink ook dis hoekom misdaad so ’n gewilde genre is – om te weet, te móét glo dat daar steeds ’n handjievol mense is wat namens ons teen die donkerte baklei.
...........
Ek het aan baie reekse gedink terwyl ek die afgelope tyd besig was om Donkerbos te kyk: The killing, The bridge, Dark (die Duitse reeks), Mare of East Town. Ek het gedink dat Donkerbos totaal op sy eie bene staan en ook met hierdie internasionale reekse kan kompeteer. Hoeveel inspirasie put jy uit internasionale TV as jy ’n reeks skryf?
Ek het al die reekse wat jy noem, verslind. Ek kyk heeltemal te veel televisie en flieks, en jou brein werk seker maar soos jou maag – wat jy inneem, kom uit jou uit in woorde. Die inspirasie van wonderlike verhale soos daardie is onuitputbaar, en ’n North Star in moeilike tye as die ink opdroog. Jy steel nie, jy het jou eie kompas; dis net goed om te weet daar is geselskap op die pad. Jy leer by die mense wat dit voor jou gedoen het. Skryf is ’n baie eensame beroep – en jou mentors praat deur hulle werk.
Wat ek baie goed vind, is dat jy die verhaal afskop met die speurder wat een misdaad moet oplos, maar sy ontdek in die proses van die reis al hoe meer misdade en ’n hele samelewingsprobleem wat uitkring en groter word, so die program bly nie net by een saak nie. Dis ongelukkig baie realisties in hierdie land. Hoe baie speurwerk en huiswerk moes jy oor misdade doen voordat jy die reeks begin skryf het? Of is die land se misdaad so baie dat jy nie juis nodig gehad het om huiswerk te doen meer as om die koerant aanlyn te lees nie?
Daar is ’n baie ou grappie wat ek self kan sê baie waar is: Ná die skryfproses op Donkerbos lyk my Google search history soos dié van ’n gesertifiseerde psigopaat – alles van die spesifieke kleur van verrotting in slagare tot hoe presies mens ’n liggaam moet preserveer. Navorsing is ’n ongelooflike wapen in jou arsenaal – en heeltemal gratis. Niemand het ’n groter bullshit filter as ’n kyker/gehoorlid nie, so jy moet baie seker wees van jou saak.
........
Navorsing is ’n ongelooflike wapen in jou arsenaal – en heeltemal gratis. Niemand het ’n groter bullshit filter as ’n kyker/gehoorlid nie, so jy moet baie seker wees van jou saak.
...........
Ons het die reeks geskiet met voertuie en uniforms van die regte SAPD, met offisiere altyd op stel as dit by die polisiebesigheid kom. Dit was ongelooflik om hulle raad te kon vra oor die taalgebruik, uitleg en prosesse van ’n misdaadtoneel, om dit so eerlik moontlik uit te beeld. Om jou vraag te beantwoord oor huiswerk: Die meeste beplanning was vir episode 1 – hy was deeglik gestruktureer en uitgewerk voor ek begin het; die ander episodes net losweg. Ek het geweet wat die groot draaipunte gaan wees, maar nie noodwendig wanneer hulle gaan gebeur nie (behalwe vir episode 7, wat op sy eie staan). Ek is nie ’n skrywer wat hou van te veel beplanning nie, want vir my moet die storie homself vertel. Veral in die eerste draft.
Ek vind jou storie-elemente ook fassinerend. Die ruimte van die woud, en ’n donker bos (die ware woud en die woud as metafoor) daarby. Die woud en die bome wat diep gewortel is, die menslike psige en die ondeurgrondelikheid van alles. En tog is die reeks steeds net ’n storie wat die kyker intrek, en as jy liggies spot met ’n aansitterige bibliotekaresse in die biblioteek, besef die kyker jy is besig met iets meer diepsinnig as net ’n dorpie in die middel van nêrens waar daar baie bome groei. Ken jy mense van daardie omgewing? Hoe het jy jou huiswerk oor die ruimte gedoen?
Soos genoem, is ek ’n boorling van daardie wêreld. Ek ken hierdie mense beter as dié in die Kaap waar ek nou woon. Dis in my murg. Toe die hele span uiteindelik om een tafel kon sit en ons hardop deur die tekste lees, het Erica (Wessels) teen episode 6 hardop gegil: "Hierdie mense braai die hele tyd!" Welkom in Limpopo. 🙂
Ek het nagedink oor baie dinge terwyl ek na die reeks gekyk het. Hoe om taal te hanteer – ’n plofbare onderwerp in hierdie land. Watter taal sal jou spreker praat? Daar is onderskrifte, so enige kyker kan hierdie reeks in enige land kyk. Maar die Suid-Afrikaanse kyker kan maklik hierna kyk en voel asof dit natuurlik aangewend en gebruik word. Hoe het jy besluit hoe en wat jou akteurs sal praat, as jy aan die taal dink wat hulle moes praat?
Die baie spesifieke keuse van die drietaligheid was noodsaaklik. Op die plaas, in die dorp, waar ek grootgeword het, wissel mense tussen Afrikaans, Engels en Venda, partykeer in die middel van ’n sin. Dis hoe ons praat, en ek wou nie lieg nie. En ook die gebruik van woorde vir mense wat nie die regte platteland ken nie ... Ek het ná die uitsaai van die reeks ’n baie interessante gesprek met ’n joernalis gehad wat wou weet of dit regtig in 2023 nodig is om woorde soos "baas" en "miesies" op televisie te sit. Ek moes diep hieroor nadink – nie omdat ek dink sy’s reg nie – ons móét ’n spieël ophou teen die werklikheid, en dit is in die monde van almal wat daar woon. Ek dink wel die ongemak kom van die feit dat karakters soos Marietjie, en Sara wat vir haar werk ... Ons hóú van hierdie karakters, en ons verstaan dat hulle – op ’n sekere manier – geen kwade gevoelens teenoor mekaar het nie. Hierdie is die woorde wat hulle gebruik, want dit is hoe die wêreld vir hulle werk – so verkeerd of hartverskeurend soos dit is. Ons kan net die waarheid praat, en vir die kyker wys wie hulle is.
Besef jy dat jy as skrywer van ’n doodgewone TV-reeks jou kykers nie net laat onvlug nie, maar hulle absoluut laat nadink oor iets so aktueel soos menseregte in ’n land waar mense net wil braai en ontvlug ... enigiets anders as om oor iets soos menseregte na te dink? Wat is jou plig en taak en verantwoordelikheid as skrywer?
My verantwoordelikheid as die skrywer en regisseur is om ’n storie te vertel so goed soos ek kan, niks meer of minder nie. Die dinge wat die storie aangrypend maak, dra by tot die diskoers, maar dit is nie die uitgangspunt nie. Vertel die storie reg, laat die mense iets voel, en hulle sál lank daaroor nadink.
Wat is volgende? Wat skryf jy nou? (En is daar ’n Donkerbos 2 wat iewers in die toekoms wink?)
Ek is tans besig met die tekste vir Nêrens, Noord-Kaap deel II. Dit is ’n lang, moeilike proses om karakters wat ek so diep lief het, se verhaal reg af te sluit. Die druk is groot, maar die woorde vloei, so dis goed.
Ek het ook ander baie opwindende projekte in die pyplyn, en sien daarna uit om weer teater te maak. Dit is my eerste liefde en sal dit altyd wees.
Lees ook:
Nêrens, Noord-Kaap op kykNET: ’n onderhoud met Nico Scheepers

