Nêrens, Noord-Kaap: ’n Juweel in Suid-Afrika se TV-kroon

  • 4

In 2017 debuteer Nico Scheepers met Nêrens, Noord-Kaap by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein. Op die verhoog is drie spelers: Geon Nel, Albert Pretorius en De Klerk Oelofse. Die teks bestaan uit monoloë en die stel is eenvoudig: drie matjies waarop die spelers staan en ’n kollig wat skyn op die een wat praat. Op papier lyk dit heel eenvoudig: ’n toneelstuk oor drie broers van ’n plaas in die Noord-Kaap.

Maar toe die laaste woorde gesê word en die ligte gaan aan, was daar ’n gewyde stilte in die Scanea-teater. Hier en daar was daar ’n snuffel; iemand wat ’n handsak nader trek om ’n snesie te soek. Een vir een het die gehoor opgestaan en die drie akteurs toegejuig.

Daarna trek Nêrens, Noord-Kaap van fees na fees, dorp na dorp, en elke keer is die reaksie dieselfde: ’n emosionele gehoor wat keer op keer op keer die spelers staande toejuig.

Op 31 Augustus 2021 word die eerste episode van die gelyknamige reeks op kykNET uitgesaai. Dinsdagaande om 20:00, die tradisionele tydgleuf vir die kanaal se dramareekse. Die afgelope jare het kykers bederf geraak met uitstekende reekse soos Afgrond, Die byl, Die boekklub, Dwaalster, Alles Malan en Spoorloos, om net ’n paar te noem.

Nêrens, Noord-Kaap was egter ’n waagkans.

“’n Lekker stukkie drama,” het Frank Opperman, wat die rol van die patriarg Lourens Adendorff speel, dit in ’n onderhoud genoem. En wat ’n lekker stukkie drama is dit nie. Maar dit is nie kitsdrama nie. Dis soos ’n legkaart met ’n duisend stukke wat stadig maar seker gebou moet word. ’n Reeks wat geduld vra en waar daar episode vir episode meer ontbloot word om die volle prentjie te kry. Die agtste van dertien episodes is op 19 Oktober uitgesaai, so daar lê nog ’n pad voor, maar o, wat ’n heerlike vooruitsig.

https://kyknet.dstv.com/program/nerensnoordkaap/ontmoet-die-karakters-nerens-noord-kaap/nuus

Net eers oor die rolverdeling. Toe Nico deur kykNET genader is om die toneelstuk in ’n drama te ontwikkel, het hy op een voorwaarde ingestem: Hy doen dit net as Geon, Albert en De Klerk die Adendorff-broers kan speel. Geon is Frans, die oudste broer wat nog altyd swaar aan die verantwoordelikheid van sy rang in die familie gedra het. Albert is Ronnie, die loskop met ’n liefde vir die bottel, ’n wheeler dealer wat net nie sy lewe agtermekaar kan kry nie. De Klerk is Andries, die jongste boetie wie se voete nie rus kan vind nie – alewig reisend, soekend met ’n hartseer wolk wat hom oral volg.

Ilse Klink is Maggie, jare lange huishoudster van die Adendorffs. Haar seun, Jan-Jan, word deur Dean Balie vertolk. Jan-Jan, kind van die grond sonder die geboortereg. Die reeks speel oor twee tydvakke af en die drie jonger Adendorffs is Thommi Swanepoel (Frans), Lehan Swanepoel (Ronnie) en Johannes Jordaan (Andries). Tinarie Van Wyk Loots is die seuns se ma, Katja. Die kykers weet reeds sy is op ’n jong ouderdom oorlede, maar weet nog nie hoe nie. Net nog een van die lae wat afgeskil moet word sodat ons kan weet hoe die Adendorffs en almal in hulle lewe gekom het waar hulle vandag is.

Elk van die broers het iewers ’n geliefde of amperse geliefde – Frans se Lorrie (Shana Mans), Ronnie se Suzette (Daneel van der Walt) en Fleur (Melissa Willering). Dan is daar Lourens junior, Ronnie se seun uit sy eerste (mislukte) huwelik, vertolk deur die jong Arnold Swart.

Ons weet nou al dat ou Lourens nooit oor Katja se dood gekom het nie. Nie een van die seuns weet wat om met die liefde te maak wat hulle ma hulle geleer het nie, die liefde wat hulle pa ná hulle ma se dood nie vir hulle kon wys nie. Frans sê selfs vir Lorrie: “Ek is te swaar vir jou.” Maggie is die gom wat alles bymekaar probeer hou en Jan-Jan is as’t ware die vierde seun op die plaas. Lourens se verhouding met sy seuns is problematies, om die minste te sê. Frans en Ronnie kan volgens hom niks reg doen nie en Andries, oënskynlik die gunsteling, is reeds 12 jaar aan’t reis met ’n rugsak en ’n klomp van sy ma se koekblikke.

......

Daar is nie een enkele swak skakel in die rolverdeling nie.

.......

Daar is nie een enkele swak skakel in die rolverdeling nie. Elkeen van hulle – van veterane soos Frank Opperman (in die rol van sy loopbaan) en Ilse Klink tot die kinders – is uitstekend. Daneel, Shana en Melissa se toekoms gaan blink hierna. Deurbrake as daar ooit was. Ek sal selfs sê dat die Suzette-karakter nog jare hierna as een van die grootste karakters in ’n Afrikaanse TV-reeks gesien sal word. Pluimpie vir elkeen van hulle. Dan is daar Geon, Albert en De Klerk. Wat hulle met hulle onderskeie rolle gedoen het, is niks minder as merkwaardig nie. Daar was tye waar ek weer ’n episode sonder klank sou kyk net om nog meer waardering vir hulle spel te kry.

......

’n Reeks soos hierdie kan egter nie gebeur sonder ’n uitsonderlike draaiboek nie, en dit het Nico Scheepers meesterlik reggekry.

.......

’n Reeks soos hierdie kan egter nie gebeur sonder ’n uitsonderlike draaiboek nie, en dit het Nico Scheepers meesterlik reggekry. Hy het karakters geskep wat so eie aan Suid-Afrika is as kokerbome aan die Noord-Kaap. In elkeen van hulle is daar iets of iemand wat jy sal erken. Eg. Aards. Eerlik. Die dronkgat-oom wat soos ’n jakkals vir die maan huil. Die bywonerkind wat hoop op ’n stukkie grond en ’n beter toekoms vir sy kinders. Die seun wat sy hele lewe lank na sy oorlede ma sal soek. Die oudste wat boer omdat dit van hom verwag word. Basta met jou eie drome. Boer sal jy boer. Die droewigheid van mense wat nooit oor die dood van ’n geliefde sal kom nie. Egskeiding, boelies, drankmisbruik en ’n 12-jarige seun wat ’n las dra wat veel, veel te swaar vir sy jong skouers is.

Nico en Johan Cronjé (wat beïndruk het met onder meer die speelfilm Wonderlus) is mederegisseurs. Chris Lotz se kinematografie is meesleurend, Chris Joubert verdien spesiale vermelding vir sy kunsregie, en die oorspronklike klankbaan deur Franco Prinsloo wys waarom daar altyd, maar altyd, genoeg begroot moet word wanneer dit by musiek kom.

Daar gaan nie ’n week verby waar die kommentaar op sosiale media nie vol lof is nie. Daar gaan ook nie ’n week verby waar kykers erken hulle huil snot en trane nie. En nie net vroue nie. So ná die derde, vierde episode het ’n kyker gewonder of ons juis in hierdie tyd ’n reeks nodig het wat mens so laat huil. Juis nóú, het ek besluit nadat ek vir ’n ruk daaroor gedink het. Ons het die afgelope tyd so afgestomp geraak deur slegte nuus dat dit begin moeilik raak het om te huil. Daarom is Nêrens, Noord-Kaap die regte ding om weer die sluise oop te maak sodat ons almal minstens een keer week ’n lekker ou huilsessie kan deurwerk.

Nêrens, Noord-Kaap is eg Suid-Afrikaans, eg Afrikaans. Maar is die verhaal nie universeel nie? Van liefde en verlies, grond en die plek waar jy hoort. Van die lewe en die draaie wat dit loop en die mense wat jou pad kruis. Is hierdie nie moontlik die eerste Afrikaanse dramareeks wat internasionaal uitgesaai kan word en net soveel golwe wêreldwyd kan maak nie?

Daar lê nog episodes voor voordat ons die mense van Nêrens, Noord-Kaap moet groet, maar daar is reeds vrae oor ’n tweede reeks. Dit móét eenvoudig net. Waar die eerste reeks die Adendorffs gehelp het om die sweer te laat oopbars, moet die tweede reeks heling bring. Want soos Leonard Cohen gesê het, “There is a crack in everything, that’s how the light gets in.”

Ns. As vryskutjoernalis doen ek heelwat werk vir kykNET. Ek het onder meer van die persverklarings vir Nêrens, Noord-Kaap geskryf, kry die episodes voor die tyd om te kyk, en skryf elke week vyf hoogtepunte uit elke episode. Hierdie resensie is op versoek van LitNet geskryf en ek staan by elke woord. Ek is onbeskaamd ’n NNK-groupie.

Lees ook:

Nêrens, Noord-Kaap by US Woordfees 2017: ’n onderhoud

Nêrens, Noord-Kaap op kykNET: ’n onderhoud met Nico Scheepers

  • 4

Kommentaar

  • Frank Opperman probeer nou al jare lank om sy 'ouboet'-persona af te skud. In hierdie reeks kom ek vir die eerste keer agter dat hy daarin geslaag het.
    Die kinders is ook weer dié wat ly onder die wandade van grootmense. Ek kan nie daarin slaag om een akteur uit te sonder nie. Hulle lewer almal spel van die hoogste gehalte. Ek is nie iemand wat sommer maklik huil nie maar, na elke episode voel dit tog of daar in my binneste 'n swaar klip lê

  • Leone Tiemensma

    Hierdie reeks sny tot op die been en laat 'n mens opnuut besef dat elke mens 'n storie het. Ek kyk nie baie televisie nie, maar hierdie verhaal se egte karakters boei enduit. Dit is 'n skitterende reeks en uitsondelike akteurs. Bravo!

  • Ek volg die storie omdat ek wil sien hoe dit uitspeel.
    Ek wed jou dit gaan eindig met Afrikaners as "simpletons".

  • Absoluut puik! Karakters geloofwaardig. Agtergrondmusiek skep atmosfeer. Die beste produksie tot op hede! Baie geluk aan almal wat daarby betrokke is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top