Nêrens, Noord-Kaap op kykNET: ’n onderhoud met Nico Scheepers

  • 2

https://kyknet.dstv.com/program/nerensnoordkaap/seisoen/1

Nico Scheepers praat met Naomi Meyer oor Nêrens, Noord-Kaap, op die TV.

Nico, jy is die skrywer van Amper, Vrystaat en Nêrens, Noord-Kaap. En nog baie ander teaterproduksies. Ek noem hierdie twee want dit is suster- en broerproduksies. Ek het hulle gesien soos wat hulle in ’n kort tydjie op ’n verhoog voor ’n lewende gehoor afgespeel het. En nou is Nêrens, Noord-Kaap ’n TV-reeks. Hoe het dit gekom? 

Uit al my teaterstukke is hierdie twee baie naby aan my hart. Nie net omdat dit saam met vriende ontwikkel is nie, maar ook omdat die stories so deurdrenk is van my mense en taal. Karen Meiring self het die verhoogstuk by een van die feeste gesien en my geskakel met die idee dat dit ’n reeks moet word – en só ’n perd, toegedraai in blou linte, sê mens nie nee voor nie. Dis die tipe geleentheid wat mens jou lewe lank voor baklei. Die vryheid wat aan my gegee is in die skryfproses, die vertroue, sal ek altyd voor dankbaar wees.

Die teaterstuk handel oor drie broers. En die verhouding tussen hulle almal en met hul pa (en hul ma). Maar op die verhoog is almal nie daar nie. Hoe het jy die stuk aangepas vir TV? Hoe kry mens dit reg om steeds “wys, moenie vertel nie” toe te pas – deur juis nou vir die kyker meer te wys?  

.......

Dit is baie interessant wat bykom in die verwerking, en hoe mens die storie moet verander in dié vertelling. Die mediums verskil so baie – dis soos om ’n boek vir televisie te verwerk.

........

Dit is baie interessant wat bykom in die verwerking, en hoe mens die storie moet verander in dié vertelling. Die mediums verskil so baie – dis soos om ’n boek vir televisie te verwerk. Op die verhoog, waar ons net die drie beties teenwoordig het, is dit met die skuif van die lens ’n baie eng perspektief, uit die oogpunt van slegs hierdie drie. Maar in die televisiereeks moet daardie lens wyer kyk – ons is nou ’n kamera, buitestanders tot die groter verhaal. Hoe verbreed ons hierdie perspektief in vertelling sonder om die intimiteit van die verhoogstuk te verloor? 

Die TV-reeks toon beelde van die Noord-Kaap. Die teaterstuk roep hierdie beelde op in die gehoor se kop. Dit is tog andersoortig. Watter ander verskille het jy teëgekom toe jy van teaterstuk moes verwerk na TV?

.......

Teater draai in dieselfde magiese ruimte as literatuur, in die sin dat die beelde deur elke gehoorlid/leser self oopgedroom word ná die kuns wat hulle inneem. In televisie gaan dit meer oor een spesifieke visie van ’n verhaal waarin jy jouself kan verloor.

.........

Teater draai in dieselfde magiese ruimte as literatuur, in die sin dat die beelde deur elke gehoorlid/leser self oopgedroom word ná die kuns wat hulle inneem. In televisie gaan dit meer oor een spesifieke visie van ’n verhaal waarin jy jouself kan verloor. Mense wat die verhoogstuk gesien/gelees het, gaan nou kennis maak met hoe die verhaal in my kop lyk. Op die verhoog moet ’n woord of die draai van ’n frase jou hartsnare roer; hier kan  die sweef van ’n kamera deur die veld ’n gedig word.

Vertel vir ons kykers van die storie – die TV-stuk s’n. 

Die ruggraat van die verhaal is dieselfde as die verhoogstuk – ek wou nie mors met ’n storie wat al soveel treë gegee het nie. Maar ek kon elkeen van die boeties se wêrelde uitbrei en verdiep, en lekker in hulle inklim om die narratief te verken. Daar is karakters van wie ons in die verhoogstuk gehoor het en nuwe karakters wat die storiewêreld volmaak. Soos die meeste klassieke verhale is die storie baie eenvoudig – familieplaas, groot hartseer, groot geluk, verlossing – maar die narratief is net ’n fondasie vir die unieke, meesleurende karakters – mense wat ons kén – om  deur hulle vreugdes en smart die pad huis toe te vind.

En vertel ons van die storie, as jy kans sien – hoe jou eie storie dit beïnvloed het. 

.........

Alles wat mens skryf is jou eie storie. Dit dra net ander gesigte en loop in ander huise rond. Mens kom op ’n punt waar die fiksie en die waarheid so vermeng is jy weet self nie waar die een begin en die ander eindig nie, en dan weet jy dit werk, want die storie begin homself vertel.

...........

Alles wat mens skryf is jou eie storie. Dit dra net ander gesigte en loop in ander huise rond. Mens kom op ’n punt waar die fiksie en die waarheid so vermeng is jy weet self nie waar die een begin en die ander eindig nie, en dan weet jy dit werk, want die storie begin homself vertel. ’n Paar keer in die skryfproses het my karakters my verras deur dinge te sê en te doen wat ek glad nie beplan het nie, wat vir my ’n goeie teken was.

Jou karakters kom ’n pad saam met jou. Hulle was die teaterspelers en nou is hulle ook in die TV-produksie. Vertel my van hulle, asseblief? 

De Klerk, Albert en Geon was van die begin af die Adendorffs, en as ons een van hulle sou moes vervang het vir die reeks, sou dit my hart gebreek het. Die kaliber werk wat hulle hier doen is van internasionale kwaliteit. Hulle ken hierdie karakters so goed. Hulle was ankers vir die nuwe gesigte in hierdie storiewêreld, rotse vir die res van ons om aan vas te hou. Die vier van ons loop nou al sedert 2017 met hierdie storie, en dit is vir my mooi dat dit al so ver gekom het.

Daar het ook nuwe karakters tasbaar bygekom. Dalk kan jy vertel wie hulle is en hoe hulle die dinamika beïnvloed of die storie verander het? 

Ek sal eerder nie te veel verklap oor die nuwe karakters nie. Dit was heerlik om hulle te skep en die storiewêreld vol te maak met die gesigte van Nêrens. Ek hoop die kykers raak net so lief vir hierdie mense soos wat ek is.

Die kunste moet aanpasbaar wees, en soms, as mens besef mens het nie ’n keuse nie, kan dit ook vreugde bied. Wat was die lekkerste gedeelte om aan die TV-produksie te werk? 

Wat vir my die lekkerste van die TV-produksie was, is die feit dat jy die ding eintlik drie keer maak. Wanneer jy aan die draaiboek werk – ’n baie persoonlike, alleenreis deur die storie – maak jy die eerste weergawe van die verhaal. Wanneer jy uiteindelik op stel kom en die ding moet verfilm word, kry dit ’n hele ander lewe van keuses en kompromie en samewerking wat dit heeltemal verander. En dan wanneer dit by die redigering kom, vat jy die rou materiaal, en jy skryf die ding ’n derde keer, maar nou met video en klank en musiek in plaas van woorde. So gaan die storie deur ’n kreatiewe smeltkroes om uiteindelik te word wat dit wil wees.

Hoeveel episodes is daar, en wat is die praktiese tye vir die uitsendings? 

Die reeks bestaan uit 13 episodes van ’n uur elk. Dit het vanaf 31 Augustus op Dinsdagaande om 20:00 op kykNET kanaal 144 begin uitsaai. Dit is ’n vervolgverhaal, so moenie dink jy gaan in die middel inskakel en weet wat gaan aan nie. Maar die episodes sal ook op CatchUP en Showmax beskikbaar wees.

Daar is ’n sinergie wat tussen TV en teater plaasvind en ek dink sommer nou vinnig aan die Woordfees wat vanjaar op kykNET uitgesaai gaan word. Dink jy die inperkings het hierdie bal aan die rol gesit, of dink jy daar is ’n natuurlike konneksie tussen skerm en verhoog? 

Daar is al vir baie jare sinergie tussen die kunstefeeste (die hartklop van teater in hierdie land) en die Afrikaanse kanale. Die ondersteuning wat kykNET aan Afrikaanse teater bied, ken geen einde nie. Want hulle weet dis oor die verhoog waar die stories gebore word en die akteurs hulle tande slyp.

  • Nêrens, Noord-Kaap het vanaf 31 Augustus op Dinsdagaande om 20:00 op kykNET kanaal 144 begin uitsaai. Die episodes sal ook op CatchUP en Showmax beskikbaar wees.

Lees ook:

Nêrens, Noord-Kaap by US Woordfees 2017: ’n onderhoud

  • 2

Kommentaar

  • Nêrens Noord-Kaap ... raak my hart. 3 Seuns. My werklike lewe lyk soos Nêrens. Ek huil onbeskaamd in my hande, daar waar niemand sien nie ... en praat soos Frans op sy knieë! Dis so aangrypend.😇

  • Marezelda Combrinck

    Hierdie is ONGELOOFLIK MOOI!!!!! As ma besef jy wat 'n groot rol jy in die huis, jou kinders (en man) se lewe speel. Lief hierdie reeks.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top