Wanneer gode slaap deur Erwin Mortier: ’n FMR-resensie

  • 0

Wanneer gode slaap
Erwin Mortier
(uit die Nederlands vertaal deur Fanie Olivier)

.......

As jy vanjaar net één Afrikaanse roman lees, kies dan hierdie meesleurende herinneringe aan die Duitse besetting van België tydens die Eerste Wêreldoorlog.

.........

As jy vanjaar net één Afrikaanse roman lees, kies dan hierdie meesleurende herinneringe aan die Duitse besetting van België tydens die Eerste Wêreldoorlog. Wanneer gode slaap word bestempel as ’n “sielkundige oorlogsroman”, maar inderwaarheid is dit ’n bespiegeling oor hóé herinneringe ontketen en geteken word, want die gebeure speel af op die raakvlak tussen die groot geskiedenis en die klein menswees; tussen taal en wêreld; tussen verbeelding en werklikheid en tussen geskiedskrywing en verhalende prosa.

Erwin Mortier is in 1965 in Hansbeke, Oos-Vlaandere, gebore. Volgens hom is hy as kind deur sy grootouers saamgesleep na die jaarlikse Ijzertoren-byeenkoms wat die Groot Oorlog herdenk en het hy geruime tyd gedink aan ’n roman wat afspeel in die hede sowel as die belle époque, die Franse kulturele bloeitydperk van 1871–1914. Geleidelik het hy besef dat die Groot Oorlog onvermybaar is aangesien dit die kulturele, maatskaplike en politieke klimaat van sy land diepgaande verander het, en tog het daar geen groot Belgiese roman daaroor bestaan nie – vermoedelik omdat die land té getraumatiseerd, verniel en geplunder was vir sy inwoners om daarna te wíl terugkyk. Hy het toe besluit sy boek moet dié ontbrekende roman wees – “’n geskenk aan ons kollektiewe geheue”.

Godenslaap is Mortier se vyfde roman en is in 2008 met die gesogte AKO Literatuurprys bekroon. Die titel verwys na die verteller se besef aan die einde van haar lewe (311): “Die grootste gedeelte van ons gees is ’n Indiese god wat hom uitstrek in die wakker slaap van ’n kat, met stomheid geslaan, maar allesbehalwe doof, en alsiende as dit moet.” Sy verwys waarskynlik na die Hindoe-god Vishnu, wat beskou word as die bewaarder van die heelal. Tydens die reënseisoen, of Chaturmaas, wanneer die aarde nat, donker en hartseer is, verval Vishnu in ’n diepe slaap terwyl die Daityas, oftewel demone, oorneem – soos die besetters wat die koringlande tydens aanhoudende reëns tot ’n modderslagveld bombardeer en die oorstroomde loopgrawe waarin lewendes en dooies saam verdrink. Modder vorm gevolglik ’n sterk metafoor en leitmotief dwarsdeur die roman.

Volgens Mortier het Helena Demont, ’n amper-honderdjarige weduwee, haarself vroeg in die skryfproses as verteller aangemeld. Ná sy aanvanklike verbasing het hy besef dat ’n oumens kon regverdig waarom hy dié roman nou eers skryf en dat ’n vroueverteller hom sou toelaat om ’n sekere afstand te skep, aangesien ’n vrou die oorlog anders as ’n soldaat sou ervaar het. Helena verklaar die akronologiese aanbod wanneer sy sê sy wil soos die skilders ook ’n taal hê wat jy nie soseer moet lees nie, maar moet “bekyk met die geletterdheid van die oog”. Dan sou sy daardie woorde en verhale nie tuisbring in ’n boek nie, maar in ’n soort album of sketsboek.

........

Wanneer gode slaap word bestempel as ’n “sielkundige oorlogsroman”, maar inderwaarheid is dit ’n bespiegeling oor hóé herinneringe ontketen en geteken word, want die gebeure speel af op die raakvlak tussen die groot geskiedenis en die klein menswees; tussen taal en wêreld; tussen verbeelding en werklikheid en tussen geskiedskrywing en verhalende prosa.

.........

Die roman is in vyf genommerde dele verdeel. Dele I en V speel hoofsaaklik in die hede af en vorm ’n raamvertelling vir Helena se herinneringe en mymeringe. Dié struktuur vind weerklank in talle verwysings na harde uiterlikes met sagte innerlikes – byvoorbeeld bros wafels “met ’n hart van witwarm deeg”, stywe korsette wat letterlik sagte lywe ingord en figuurlik eng denke voorstel, gewonde skedels en liggame wat sagte harsings en ingewande blootlê, ens.

Die ruimte van die raamvertelling is Helena se slaapkamer op die boonste verdieping van haar “kolos van ’n huis ’n ent buite die stad met ’n groot tuin langs ’n rivier” in Vlaandere, waar sy bedags beurtelings versorg word deur die deernisvolle Frans-Marokkaanse Rachida en die ongevoelige “moddervet teef”, Christine – waarskynlik ’n metafoor vir die Duitse besetters wat “varke” genoem is.

Snags word die bejaarde Helena oorval deur “taallose beelde” wat dan die verskeidenheid ruimtes van die binneverhaal as ’t ware “beset”, naamlik die Vlaandere van haar jeug, haar oom Théo se landgoed in Noord-Frankryk waar hul jaarlikse somervakansies deurgebring is en waar sy deur die oorlog vasgekeer word; die slagvelde en oorspoelde loopgrawe waarvan haar broer, Edgard, vertel; die grafte en geplunderde dorpe wat haar man, Matthew, fotografeer; en dan ook die innerlike ruimte van Helena se filosofieë en emosies wat sy in haar notaboeke opteken.

Helena beskryf haarself as ’n bejaarde vrou met vertederende selfspot – ’n “gevreet met die gryns van ’n mummie wat my elke oggend in die badkamerspieël met my eie vergeelde tande uitlag. Daardie karkas wat bespotlik genoeg nog steeds die luste van ’n meisie herberg en by die sien van die ruitwassers in hulle hysbak voor die vensters nog steeds na hulle kruis loer soos ’n bakvis na ’n suigstokkie” (21). Asof ons saam deur haar album blaai, leer ken ons haar Franssprekende Katolieke ma, ’n edelvrou wat met ’n droë altstem staccato bevele snou, en haar sjarmante pa, vasgevang tussen die gegoede klas wat op hom as kruidenier neersien en die “altyd honger” sosialisties-geïndoktrineerde werkersklasklante wat hy vrees.

Helena is op háár beurt vasgeknel tussen ’n meedoënlose ma en ongeërgde dogter met eenderse korsetbekrompenheid. Wanneer Helena byvoorbeeld as kind filosofeer oor dinge soos die dood, God en boeke wat “naamloos deur die wêreld behoort te waai”, sê haar ma (19): “Die lewe is eenvoudig. Ek het geen groot woorde daarvoor nodig nie. Dis soos om skottelgoed te was. ’n Mens maak borde vuil, was hulle skoon, droog hulle af, bêre hulle en haal hulle weer uit die kas, en op ’n dag val die hele spul uit jou hande.” Sy geniet dit om haar ma te irriteer, maar besef dan as oumens (38): “Dit is vreeslik dat ek myself nou eers, noudat sy al jare onder die sooie lê, kan omdraai om haar skim te verwelkom in die ryk van die feilbares, en myself met daardie selfde gebaar absolusie kan skenk vir die feit dat ek ’n mens is.”

Die pseudoadellike leefstyl van haar ma se familie in hul halfgebakte herehuis in Noord-Frankryk weerspieël die klasverskille tussen die houtgeruste grondeienaars in die fluweelbedekte leefvertrekke en hul wrewelige bediendes in die kelderkombuis met sy ongepleisterde mure en skoongeskropte hout. Dan breek die oorlog onverwags uit en word Helena en haar ma in Frankryk vasgekeer terwyl die 18-jarige Edgard op die front gaan veg.

In 1914 kyk die opgeskote Helena met ’n teleskoop na die soldate wat op ’n afstand na die front beweeg. Die volgende jaar ry sy en haar ma op pad dorp toe deur ’n soldatekamp en word die gebou waar hulle oornag, deur ’n bomaanval geruk. Helena word egter gerusgestel deur ’n Britse oorlogsfotograaf, Matthew Herbert, haar toekomstige man.

Soos die oorlogsellende vererger, word die leser toenemend betrek totdat Helena ons direk aanspreek en aandring dat ons kyk hoe ’n spelende dogtertjie deur ’n bomskerf getref en op ’n koue klipaltaar uitgelê word. Nou kyk ons met ’n “geletterde oog” na die verslaentheid van die modderbesmeerde soldate en sug ons verlig saam met die vroue by wie oom Théo, die bode van die doodstyding, dié keer verbystap. En ons kyk hoe Helena en Matthew in die puin van ’n verwoeste gebou liefde maak – en hoe sy tydens ’n vrolike fotonemery besef sy en haar broer bemin dieselfde man.

Wanneer die oorlog ná vier jaar van skaakmatgevegte sonder oorwinnaars beëindig word, keer Helena en Matthew terug na België. Edgard oorleef die oorlog met leë oë en ’n letsel dwarsoor sy lyf wat op koue dae spookpyne veroorsaak en lewenslank só jeuk dat hy dit krap totdat dit weer bloei. As gay man was hy vir Helena “altyd in ’n spottende geheimsinnigheid gehul”, maar ná die oorlog gaan wys hy haar die pleine waar oudsoldate hul gewonde en verminkte lywe verkoop. Matthew neem haar saam om slagvelde en oorlogsgrafte af te neem. Helena kyk vererg hoe “routoeriste” oor die loopgrawe klouter en merk sinies op dat die grafskrifte eufemismes is omdat dit verswyg dat die grafte net liggaamsbrokke bevat. Matthew verwoord die futiliteit van oorlog dalk die skreiendste met sy opmerking oor die oorlogsmedalje wat hy ontvang nadat hy gly en sy arm breek: “They hand ’em out like cookies these days.”.

Tussen twee wêreldoorloë het Helena getrou, ma geword, geskiedenis studeer, gereis en van al haar geliefdes afskeid geneem. Sy en Matthew het steeds elke somer die familiehuis in Frankryk besoek totdat sy vyf jaar na sy dood finaal van die toe bouvallige plek afskeid geneem het met die woorde: “Maar ek het nie gekom om verstom rond te kyk nie. Ek het gekom om te rou, daardie huis is my grafkapel, die bêreplek van al my dooies, wat ek net daar kon beween.”

Die roman eindig met Rachida se slaaptydstorie oor haar oeroupa Saïd al Amrani wat as soldaat in die Noorde gesneuwel het en sy seun, ’n mynwerker, se eed dat hy hom in die grond sal vind en boontoe sal bring – net soos Helena die geskiedenis met hierdie verhaal wou uitgrawe en na die oppervlak bring. En dan trek Rachida die gordyn oop sodat Helena na die sterre kan kyk terwyl sy aan die slaap raak.

Hoewel Godenslaap in Nederlands geskryf is, is dit volgens Mortier geanker in die belle époque van Helena se jeug toe daar hoofsaaklik in Frans geskryf is. Hy wou dus die frankofiele kultuur in die Nederlandse atmosfeer “insuig” om ’n roman te skryf wat “eg Belgies” is. Fanie Olivier se sensitiewe vertaling maak hierdie grootse roman toeganklik vir Afrikaanse lesers en hy sê tereg (Voertaal, 24 September 2020): “Dit is die wyse waarop Mortier sy hoofkarakter in taal gestalte laat kry wat hierdie roman ’n onvergeetlike ervaring maak. […] Maar ek dink nie ek het ooit iets probeer ver-Suid-Afrikaans om dit ’makliker’ of ’verstaanbaarder’ te maak nie. ’n Roman van hierdie statuur verdien dít nie.” En dáárvoor is die Afrikaanse literatuurskat hom groot dank en erkenning verskuldig.

Ns. Vir treffende visuele agtergrondmateriaal kan lesers gerus op YouTube kyk na die video getiteld “Passchendaele: The bloodiest battle of World War I”.

  • FMR Boekkeuse, aangebied deur Amanda Botha. Uitgesaai in Mei 2021.

Lees ook:

"Wanneer gode slaap": Fanie Olivier deel sy ervaring van vertaalwerk aan ’n groot Belgiese Eerste Wêreldoorlog-roman

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top